Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

JOB 9:4-14 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JOB 9:4-14 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die wysheid en krag van God is groot: wie kan Hom teëstaan en niks oorkom nie? Hy verskuif berge sonder dat hulle dit self agterkom; in sy toorn maak Hy hulle tot niet. Hy laat die aarde ruk, weg van sy fondamente af, en sy pilare bewe. Hy gee opdrag aan die son en dit kom nie op nie, Hy verseël die sterre en hulle skyn nie. Hy het die hemel soos 'n tent gespan, Hy alleen, en Hy hou die golwe van die see in bedwang. Hy het die Beer en Orion gemaak, die Sewester en die sterrebeelde in die suide. Wat Hy doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder. “As Hy by my verbygaan, gewaar ek Hom nie, Hy sweef verby, maar ek kom dit nie agter nie. As Hy op iets beslag wil lê, wie sal Hom keer? Wie sal vir Hom sê: ‘Wat doen U?’ God hou sy toorn nie terug nie: Rahab se helpers lê platgeslaan voor Hom. Sou ek kon antwoord op wat Hy vra? Hoe sou ek my woorde teen Hom kies?

JOB 9:4-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly? Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat hulle omkeer in sy toorn; wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril; wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter 'n seël wegsluit; wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see; wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide; wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal. Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk. Sleep Hy weg — wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U? God wend sy toorn nie af nie; onder Hom moet die helpers van Rahab kruip. HOEVEEL minder sal ék Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom

JOB 9:4-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

God is so wys en so magtig. Wie sal ooit Hom kan teenstaan en ’n saak teen Hom wen? Sonder waarskuwing verskuif Hy berge, keer Hy hulle om in sy woede. Hy skud die aarde uit sy plek, en sy fondamente bewe. “Op sy bevel sal die son nie opkom en die sterre nie skyn nie. Hy alleen sprei die hemele uit, Hy wandel op die golwe van die see. Hy maak al die sterre: die Beer, Orion, Sewester en al die sterrebeelde in die suidelike hemelruim. Sy groot werke is te wonderlik om te verstaan. Hy bewerk ontelbare wonders. Wanneer Hy by my kom, sien ek Hom nie. Ek sien Hom nie wanneer Hy verbygaan nie. As Hy deur die dood iemand wegvat, wie kan Hom keer? Wie sal dit waag om te sê: ‘Wat doen U nou?’ God hou sy toorn nie terug nie, Hy vernietig die helpers van die groot seemonster. “Wie is ek dan om God te antwoord of met Hom te redeneer?

JOB 9:4-14 DB (Die Boodskap)

Die Here weet baie en Hy is ontsettend sterk. Daar is nie ’n mens wat teen Hom kan opstaan en dit oorleef nie. “Voordat die berge nog weet dit gaan gebeur, skuif God hulle. As Hy kwaad word, keer Hy hulle sommer onderstebo. Hy skud die aarde dat dit voel of die aarde nie meer op sy ou plek staan nie. Hy laat die fondamente van die aarde bewe. Hy sê vir die son om nie meer te skyn nie, en dan kom die son nie op nie. Hy keer ook dat die lig van die sterre deurkom. Hy het die hemel alleen soos ’n doek uitgesprei. As Hy wil, loop Hy sommer op die branders van die see. Hy het al die sterre gemaak. Hy het die Beer en Orion gemaak. Dan ook nog die Sewester en die Suiderkruis. Mense kan nie die groot dinge verstaan wat die Here doen nie. Dit is bokant hulle vuurmaakplek. Hy doen ook so baie wonders, dit kan nie eens getel word nie. Die Here gaan hier by my verby, en ek sien Hom nie eens nie. Ek sal nie eers daarvan weet as Hy verder gaan nie. As Hy iets wil wegruk, is daar niemand wat in sy pad kan staan nie. Wie sal waag om Hom te vra: ‘Wat doen U?’ God hou nie sy woede in toom nie. Hy verbrysel selfs sterk magte wat teen Hom in opstand kom.” Job het gevra: “Wie is ek sodanig dat ek vir die Here sal probeer antwoorde gee? Ek kan nie eens dink ek moet met Hom stry nie.

JOB 9:4-14 ABA (Bybel vir almal)

God het wysheid en Hy is baie sterk. Wie was opstandig teen Hom en het geslaag? Niemand. Hy skuif berge, en hulle weet dit nie, Hy gooi berge om wanneer Hy kwaad is. Hy skud die aarde, dit bly nie waar dit is nie, en die pilare van die aarde bewe. Wanneer Hy sê die son moet ophou om te skyn, dan hou dit op om te skyn. Hy laat ook die sterre stilstaan. Net Hy trek die hemel styf soos 'n tent, net Hy loop op die branders van die see. Hy het die Beer en Orion gemaak, die Sewe-ster en die sterre wat suid in die lug is. God doen groot dinge, mense verstaan dit nie, Hy doen so baie wonderwerke dat niemand dit kan tel nie. Julle moet dit weet: Wanneer Hy by my verbygaan, dan kan ek Hom nie sien nie. Wanneer Hy verder loop, dan weet ek dit nie. Ja, wanneer Hy iets wil wegvat, dan kan niemand Hom keer nie. Wie mag vir God vra: ‘Wat doen U nou?’ Hy hou nie op om kwaad te wees nie, almal wat vir Rahab wou help, moes buig voor Hom. Hoe kan ek Hom antwoord? Wat moet ek sê wanneer ek met Hom praat?

JOB 9:4-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

God wat wys van hart en sterk in vermoë is – wie was al in verset teen Hom en het ongedeerd daarvan afgekom? Hy is die een wat berge verskuif sonder dat hulle dit agterkom, wat hulle in sy toorn omkeer; Hy wat die aarde uit sy plek skud, sodat sy pilare bewe; Hy wat die son aanspreek, sodat dit nie skyn nie, en wat so die sterre verseël; wat die hemel oopspan, Hy alleen, wat op die see se rûe trap; wat die sterrebeeld van die Leeu, Orion en die Sewester gemaak het, ook die kamers van die suide; wat groot en ondeurgrondelike dinge, ontelbare wonders, doen. Kyk, Hy kom langs my verby, maar ek sien Hom nie raak nie. Hy gaan verby, maar ek gewaar Hom nie. Kyk, Hy ruk weg; wie kan Hom teenhou? Wie kan vir Hom sê, ‘Wat doen U?’ God wend nie sy toorn af nie – onder Hom kruip die helpers van Rahab. Hoe kan ék my dan teen Hom verweer, my woorde in verweer teen Hom kies

JOB 9:4-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Hy is wys van hart en sterk van krag; wie het hom teen hom verhard en voorspoedig gegaan? wat die berge versit, en hulle weet nie; wat hulle in sy toorn omkeer. Wat die aarde uit sy plek laat bewe, en sy pilare bewe. Wat die son beveel, en hy gaan nie op nie; en verseël die sterre. Wat alleen die hemel uitsprei en op die golwe van die see trap. Wat Arcturus, Orion en Plejades en die kamers van die suide maak. Wat groot dinge doen wat nie uitgevind is nie; ja, en wonders sonder getal. Kyk, hy gaan by my verby, en ek sien hom nie; hy gaan ook verder, maar ek sien hom nie. Kyk, Hy neem weg, wie kan hom verhinder? wie sal vir hom sê: Wat doen jy? As God sy toorn nie terugtrek nie, buk die trotse helpers onder hom. Hoeveel minder sal ek hom antwoord en my woorde uitkies om met hom te redeneer?