JOB 27:1-23
JOB 27:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Job het weer begin praat. Hy het gesê: “God het nie reg gedoen aan my nie, die Allerhoogste God het my laat swaarkry, Hy het my lewe bitter gemaak. Maar so seker soos God lewe, ek sal niks sê wat verkeerd is nie, ek sal nie lieg nie, so lank soos ek lewe, so lank soos God vir my lewe gee. Ek sal nooit kan sê dat julle reg is nie, ek sal aanhou sê dat ek onskuldig is, so lank soos ek lewe. Ek sal aanhou sê dat ek reg gelewe het, ek sal nie anders praat nie. Ek sal nie jammer wees oor enige iets wat ek in my lewe gedoen het nie.” “Ek bid dat dit met my vyande sal gaan soos met mense wat verkeerde dinge doen, ek bid dat dit met die mense wat téén my is, sal gaan soos met mense wat slegte dinge doen. Want die mens wat nie vir God wil dien nie, kan nie hoop dat dit goed sal gaan wanneer hy moet sterf nie, hy kan niks hoop wanneer God hom laat sterf nie. God sal nie luister wanneer dit sleg begin gaan met daardie mens, en wanneer hy skree en vra dat God hom moet red nie. Die mens wat nie vir God wil dien nie, hou nie van die Almagtige nie en hy bid nooit tot Hom nie.” “Ek wil vir julle leer wat God kan doen, ek wil vir julle reguit sê wat Hy besluit het. Julle weet dit, julle almal het dit self gesien. Daarom, hoekom hou julle aan om nonsens te praat?” “Ek sal vir julle sê wat God besluit het, ek sal vir julle sê wat sal gebeur met die mense wat verkeerd doen. Dit is wat die Almagtige sal doen aan die mense wat altyd vir ander mense wil seermaak en doodmaak: Hulle sal miskien baie seuns kry, maar die seuns sal nooit genoeg kos hê om te eet nie en hulle sal in oorlog sterf. As daar dan nog seuns lewe, dan sal hulle sterf van pes, en hulle weduwees sal nie rou oor hulle nie. Die mens wat verkeerd lewe, sal miskien baie silwer bymekaarmaak, so baie soos stof. Hy sal miskien baie hope klere hê, so baie soos klei. Maar die mense wat reg lewe, sal daardie klere dra. Mense wat nie verkeerd gedoen het nie, sal die silwer tussen hulle verdeel. Die mens wat verkeerd doen se huis kan hom nie beskerm nie. Hy is soos 'n wurmpie in sy nes, of soos 'n wag in 'n huisie van takke, sy huis kan hom nie beskerm nie. Hy is 'n ryk man wanneer hy gaan slaap, maar wanneer hy sy oë oopmaak, dan is alles weg, hy is nie meer ryk wanneer hy weer gaan slaap nie. Hy word skielik baie bang, so bang soos wanneer water oor hom spoel, die stormwind waai hom weg in die nag. Die oostewind waai hom uit sy huis en hy is weg. Die wind is nie jammer vir hom nie, hy probeer vlug, maar die wind waai hom weg. Die wind is bly oor wat met hom gebeur, dit blaas hom weg uit sy plek.”
JOB 27:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Job het verder sy spreuk aangehef en gesê: So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het — want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus — my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie! Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie. Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie. MY vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener. Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny — as God sy siel wegneem? Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom? Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep? EK sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie. Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan 'n ydele hoop? Dít is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang: as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie. Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie. As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder — hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer. Hy het sy huis gebou soos 'n mot en soos 'n skerm wat die oppasser maak. Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en — is nie meer nie. Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer 'n stormwind hom weg. Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek. En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug. Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek.
JOB 27:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Job het voortgegaan en gesê: “So seker as God leef, Hy wat my reg van my af weggeneem het, die Almagtige wat my die bitter lyding aangedoen het: so lank as daar lewe in my is, so lank as die asem van God in my is, sal ek niks sê wat verkeerd is nie en sal daar geen onwaarheid uit my mond kom nie. Daarom kan ek nooit toegee dat julle reg het nie: tot my dood toe sal ek volhou dat ek onskuldig is. Ek bly daarby dat ek reg het, ek sal daarvan nie afsien en my my lewe lank daaroor verwyt nie. Mag dit met my vyande gaan soos met die goddeloses, met my teëstanders soos met dié wat onreg doen. Watter hoop het die godlose as sy lewe afgesny word, as God sy lewe opeis? Sal God sy hulpgeroep hoor as rampe hom oorval? Vind hy vreugde in die Almagtige? Roep hy God altyd weer aan? Ek wil julle iets leer oor die mag van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie. Julle het dit tog almal al gesien, waarom dan die sinlose gepraat? “Dit is die lot wat God uitmeet vir die goddeloses, dit is wat die geweldenaars ontvang van die Almagtige. Hoe baie hulle kinders ook al is, hulle is vir die swaard bestem, hulle nakomelinge sal altyd honger ly. Dié wat van hulle oorbly, sal deur die pes verteer word, en hulle weduwees sal nie oor hulle treur nie. Al hoop hulle hulle geld op soos stof, en al is hulle klere so volop soos klei, wat hulle bymekaargemaak het, sal deur die regverdiges gedra word, en onskuldiges sal die goddeloses se geld onder mekaar verdeel. Die goddelose se huis is tydelik, soos 'n kokon vir 'n mot, soos 'n skerm wat deur 'n wagter gebou is. Die goddelose gaan slaap as ryk man, maar hy doen dit nie weer nie: as hy sy oë oopmaak, is alles weg. Die angs oorval hom soos 'n vloed, 'n orkaan voer hom weg in die nag. Die oostewind lig hom op, en weg is hy, dit waai hom weg uit sy plek. Dit storm op hom af sonder genade, hy moet vlug vir die geweld van die wind. Die wind klap sy hande van blydskap terwyl hy die goddelose uit sy plek wegblaas.”
JOB 27:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Job het toe verder gegaan met sy betoog en gesê: “ So waar as wat God leef, Hy wat my regsaak ter syde gestel het, die Almagtige, wat my met 'n verbitterde siel gelaat het, ja, solank as wat my asem nog in my is, die lewensasem wat God gee, nog in my neus is – my lippe sal geen onreg spreek nie, en my tong geen bedrog kwytraak nie. Ek sal julle nooit gelyk gee nie! Totdat ek te sterwe kom, sal ek nie van my onberispelike optrede afsien nie. Aan my onskuld hou ek vas, ek sal dit nie laat los nie; my gewete pla my nie oor enige van my lewensdae nie. “ Mag my vyand as die skuldige daar staan, die een wat my teenstaan, as die boosdoener; want watter hoop het die godlose as God sy lewe kortknip, dit opeis? Sal God sy hulpkrete hoor as benoudheid hom oorval? Of sal hy vreugde vind by die Almagtige? Sal hy God enige tyd kan aanroep? Ek sal julle onderrig oor God se hand; wat die Almagtige in gedagte het, sal ek nie verberg nie. Kyk, julle almal het dit self gesien; waarom hou julle dan aan met hierdie nuttelose gepraat? Dit is die erfdeel wat 'n goddelose mens van God kry; dit is die erfenis van geweldenaars wat hulle van die Almagtige ontvang: As sy seuns vermeerder, is hulle vir die swaard bestem; sy nakomelinge sal nie versadig word met brood nie. Dié onder hulle wat vrykom, word deur die dood begrawe; hulle weduwees sal nie huil nie. Al hoop hy silwer op soos stof, en stapel hy klere op soos hope klei – hy stapel wel op, maar 'n regverdige sal dit dra, en die silwer sal deur 'n onskuldige verdeel word. Sy huis is gebou soos dié van 'n mot, soos 'n takskerm wat 'n wag opgerig het. Hy gaan skatryk lê, maar hy sal dit nie weer kan doen nie; hy hou sy oë oop, maar hy is nie meer daar nie. Soos vloedwaters oorval verskrikkinge hom; snags voer 'n stormwind hom mee; die oostewind lig hom op, en daar gaan hy! Dit voer hom weg uit sy woonplek, genadeloos gooi dit hom neer; halsoorkop vlug hy vir die geweld daarvan. Bo hom klap die wind spottend hande, en sis vir hom, uit sy woonplek.”
JOB 27:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verder het Job sy gelykenis voortgesit en gesê: So waar as God leef, wat my oordeel weggeneem het; en die Almagtige wat my siel gekwel het; Die hele tyd is my asem in my, en die gees van God is in my neus; My lippe sal geen goddeloosheid spreek nie, en my tong sal geen bedrog uitspreek nie. God verhoed dat ek jou regverdig sou maak; totdat ek sterwe, sal ek my onkreukbaarheid nie van my wegneem nie. My geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart sal my nie smaad so lank as wat ek lewe nie. Laat my vyand wees soos 'n goddelose, en hy wat teen my opstaan soos 'n onregverdige. Want wat is die hoop van die huigelaar, al het hy gewen, as God sy siel wegneem? Sal God sy geroep hoor as daar benoudheid oor hom kom? Sal hy hom verlustig in die Almagtige? sal hy God altyd aanroep? Ek sal julle deur die hand van God leer: wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie. Kyk, julle het dit almal self gesien; waarom is julle dan heeltemal ydel? Dit is die deel van 'n goddelose by God en die erfdeel van die verdrukkers wat hulle van die Almagtige sal ontvang. As sy kinders vermenigvuldig word, is dit vir die swaard, en sy nageslag sal nie versadig word van brood nie. Die wat van hom oorbly, sal in die dood begrawe word, en sy weduwees sal nie ween nie. Al versamel hy silwer soos die stof, en berei hy klere soos klei; Hy kan dit berei, maar die regverdige moet dit aantrek, en die onskuldige moet die silwer deel. Hy bou sy huis soos 'n mot en soos 'n hutte wat die wagter maak. Die ryk man sal gaan lê, maar hy word nie versamel nie; hy maak sy oë oop, en hy is nie. Verskrikkinge gryp hom soos waters, 'n storm sluip hom weg in die nag. Die oostewind dra hom weg, en hy gaan weg, en soos 'n storm stoot hom uit sy plek uit. Want God sal op hom werp en nie spaar nie; hy wil graag uit sy hand vlug. Die manne sal vir hom hande klap en hom uit sy plek fluit.
JOB 27:1-23 Die Boodskap (DB)
Job het verder gepraat en gesê: “God het nie reg met my gemaak nie. Hy is magtiger as alles en almal, maar Hy het my lewe bitter gemaak. Hy is ’n lewende God en by sy Naam wil ek ’n eed neem. So lank as wat ek leef en God vir my asem gee, sal ek die waarheid praat. Daar sal nie ’n leuen oor my lippe kom nie. Maar dit kan julle weet, daar is nie ’n manier dat ek sal toegee dat julle reg is nie. So lank as wat ek leef, sal ek die feit verdedig dat ek onskuldig is. Ek sal bly sê dat my saak reg is en daarby hou ek. My gewete is skoon oor elke dag van my lewe. “My vyande is sleg en my opponente is onregverdige mense. Hulle moet daarvoor gestraf word. Daar is geen hoop vir mense wat God nie wil ken nie. Hy laat hulle doodgaan. Sal God na hulle luister as hulle na Hom roep wanneer hulle in die moeilikheid is? Sal hulle aan die Here kan dink en sal die gedagtes oor Hom wat by hulle opkom, hulle bly maak? Sal hulle die vrymoedigheid hê om enige tyd na die Here te roep? “Ek sal julle oor God se mag leer. Ek sal niks oor Hom wegsteek nie. Maar eintlik hoef ek dit nie te doen nie, want julle het almal al gesien hoe God dinge doen. Wat ek nie verstaan nie, is dat julle steeds al hierdie sinnelose dinge kwytraak. “God het besluit dat Hy slegte mense sal straf. So sal Hy hulle straf: as hulle baie kinders het, sal hierdie kinders óf in ’n oorlog óf van honger doodgaan. Die mense wat dit sal oorleef, sal van siektes in die graf beland. Hulle weduwees sal nie eers oor hulle treur nie. “Baie slegte mense het so baie geld dat hulle dit nie eers kan tel nie. Hulle het ook hope klere. Maar dit help niks nie, want eendag sal van die mense wat reg leef, daardie klere dra. Hulle sal ook hierdie slegte mense se geld onder hulle verdeel. Die huise wat hierdie kwaaddoeners gebou het, is soos ’n spinnekopweb of ’n skerm van takke. Dit is nie baie stewig nie en hou nie baie lank nie. “Die kwaaddoeners gaan slaap nog in die aand as ryk mense. Maar as hulle opstaan, ontdek hulle dat al hulle rykdom verdwyn het. Hulle word deur rampe getref wat soos vloedwater oor hulle spoel. In die nag word hulle deur ’n stormwind weggewaai. Die oostewind sal hulle gryp en hulle van hulle huise af wegwaai. Die wind tref hulle genadeloos. Hulle moet vlug vir die groot krag van die wind. Dit is of die wind hande klap en fluit van blydskap oor wat met hulle gebeur.”
JOB 27:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Job het die gesprek voortgesit: “So seker as wat God leef, Hy wat my regte van my weggeneem het, die Almagtige wat my verbitter het, solank ek leef, solank God my laat asemhaal, sal ek niks verkeerds sê nie. Ek sal nie leuens vertel nie. Daarom kan ek nooit erken dat julle reg is nie. Tot ek sterf, sal ek my onskuld verdedig. Ek hou vol dat ek onskuldig is. My gewete is skoon solank ek leef. “Mag my vyande gestraf word soos die kwaaddoeners, my teenstander soos bose mense. Want watter hoop het die goddelose mens wanneer God hom afsny en sy lewe wegneem? Sal God luister na hom wanneer ’n ramp hom tref? Kan hy hom verlustig in die Almagtige? Kan hy enige tyd na God roep? “Laat ek julle iets vertel oor God se mag. Ek sal niks verswyg oor die Almagtige nie. Maar dis ook nie nodig nie, want julle het alles self gesien. Tog hou julle aan om hierdie nuttelose goed vir my te sê. “Dit is wat die kwaaddoeners van God gaan ontvang, dit is hulle erfdeel van die Almagtige. Al hulle baie kinders sal sterf in die oorlog of doodgaan van honger. Dié wat oorleef, sal deur die pes na hulle graf toe gaan. Niemand sal oor hulle treur nie, nie eens hulle vroue nie. Bose mense besit dalk al die geld in die wêreld en kan berge van klere opgaar, maar die regverdige sal die klere dra, en die onskuldiges sal die geld tussen hulle verdeel. Die huise van bose mense is broos soos ’n spinnerak, so wankelrig soos ’n skuiling van takke. Die kwaaddoener gaan slaap in rykdom, maar sal dit nie behou nie. Hy ontwaak in armoede. Angs oorweldig hulle soos ’n vloed en die storm waai hulle weg in die nag. Die oostewind waai hulle ver weg, en hulle is nie meer nie. Sonder genade kom die wind op hulle af. Hulle probeer wegkom van die storm se geweld. Almal is bly oor hulle ondergang en spot met hulle.”