JOB 24:1-25
JOB 24:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Waarom word vaste tye nie opsy gesit deur die Almagtige nie, en waarom sien dié wat Hom ken, nooit sy dae nie? Mense verskuif grense, hulle buit troppe vee en laat dit wei. Hulle jaag die donkie van vaderlose kinders weg, en neem die bees van 'n weduwee as pand. Hulle druk behoeftiges van die pad af; saam skuil magteloses van die land. Kyk, soos wildedonkies in die woestyn trek hulle uit vir hulle daaglikse werk – op soek na iets te ete. Die Araba voorsien kos vir hulle en hulle kinders. In die veld maak hulle voer bymekaar; in die wingerde van goddeloses maak hulle die naoes bymekaar. Halfkaal bring hulle die nag deur, sonder 'n bokleed, met geen bedekking teen die koue nie. Hulle is deurnat van die reën in die berge, en staan styf teen 'n rots aangedruk, sonder skuilplek. 'n Vaderlose kind word van die bors weggeskeur; wat aan die magtelose is, word as pand geneem. Halfkaal loop hulle rond, sonder bokleed; honger, dra hulle gerwe. Tussen goddeloses se terrasmure pars hulle olywe; hulle trap parskuipe, terwyl hulle dors ly. In die stad kreun sterwendes, die kele van gewondes roep om hulp; maar God slaan nie ag op die ongerymdheid nie. “ Daar is dié wat in opstand is teen die Lig; hulle erken nie sy weë nie, hulle is nie tuis op sy paaie nie. Teen ligdag staan die moordenaar op; hy maak magteloses en behoeftiges dood, en snags is hy soos 'n dief. Die egbreker hou die skemer in die oog en sê, ‘Geen oog sal my sien nie’; en dan plaas hy 'n bedekking oor sy gesig. Hulle breek in die donker by huise in. Bedags sluit hulle hulleself toe, hulle ken die lig nie. Ja, vir hulle almal saam is stikdonkerte soos die môrelig; hulle is immers vertroud met die verskrikkinge van 'n stikdonker nag. “ Mag hulle vinnig wegdryf op die water! Mag hulle erfdeel in die land in 'n vervloeking gebruik word; mag hulle nie in die rigting van die wingerde gaan nie. Droë grond en hitte raap sneeuwater weg, net soos die •doderyk hulle wat gesondig het. Mag die moederskoot hulle vergeet; mag die maaiers hulle soet vind; mag hulle nie meer onthou word nie. Mag die onreg soos 'n stuk hout gebreek word – hulle wat 'n onvrugbare sonder kinders kaal stroop, aan 'n weduwee niks goeds doen nie. God sal die magtiges wegsleep deur sy krag. Al staan hulle op, is hulle lewens nie seker nie. Hy gee aan hulle veiligheid, en daarop steun hulle; maar sy oë hou hulle paaie dop. Vir 'n kort rukkie verhef hulle hulleself, maar dan is hulle nie meer daar nie. Hulle sink neer soos alle dinge, en word bymekaargemaak; soos die hoogste koringaar word hulle afgesny. As dit nie so is nie, wie sal my tot leuenaar maak, en my woorde as niksseggend afmaak?”
JOB 24:1-25 Bybel vir almal (ABA)
Job het gesê: “Hoekom besluit die Allerhoogste God nie wanneer Hy wil oordeel nie? Hoekom moet die mense wat Hom ken, aanhou wag vir daardie tyd? Mense vat ander mense se grond, hulle steel skape en bokke en laat hulle wei saam met hulle eie diere. Hulle vat die weeskind se donkie, hulle hou die weduwee se bees vir hulleself omdat die weduwee geld skuld vir hulle. Hulle gee nie vir die arm mense 'n plek om te lewe nie, die mense in die land wat niks het nie, moet wegkruip. Die arm mense moet soos wildedonkies lewe, hulle moet in die woestyn kos gaan soek vir hulleself en vir hulle kinders. Hulle moet gras bymekaarmaak om te eet, hulle moet die druiwe steel wat oorgebly het in die wingerde van die ryk mense, die mense wat verkeerd doen. Die arm mense moet kaal slaap, sonder klere, hulle het nie komberse wanneer dit koud is nie. Hulle word waternat wanneer dit hard reën in die berge, hulle probeer om agter die rotse weg te kruip. Mense gryp die arm mense se kinders uit hulle ma's se arms, hulle maak die arm mense se kinders hulle slawe. Die arm mense loop kaal, hulle het nie klere nie, die arm mense bring die ryk mense se koring uit die land, maar hulle self bly honger. Hulle stamp olywe stukkend tussen die mure, hulle trap die druiwe in die parskuipe, maar hulle kry nie iets om te drink nie. Arm mense wat sterf, kla en huil in die stad, hulle het baie seerplekke en hulle skree en vra dat God hulle moet help, maar God luister nie. “Slegte mense hou nie van die lig nie, hulle wil nie hê dat mense moet sien wat hulle doen nie. Die moordenaar staan op voordat dit lig word, en hy vermoor mense wat hulleself nie kan help nie, hy vermoor arm mense en hy steel wanneer dit nag is. Die persoon wat egbreuk wil pleeg, wag totdat dit donker word, hy dink niemand sal hom sien nie en hy sit 'n sluier oor sy gesig. Diewe wat inbreek, werk in die donker en hulle kruip weg in die dag, hulle wil nie die lig sien nie. Vir daardie mense is die donker soos die oggend, hulle weet hoe dit is om in die nag bang te wees.” “Hierdie slegte mense is soos dinge wat lig is en vinnig op die water wegdryf. God het hulle grond vervloek, niemand gaan werk in hulle wingerde nie. Wanneer dit droog en warm is, dan smelt en verdwyn die sneeu. Dit is dieselfde met sondaars, hulle verdwyn in die doderyk. Die sondaar se eie ma vergeet hom, die wurms hou daarvan om hom te vreet, niemand dink nog aan hom nie. Die mens wat slegte dinge doen, breek soos 'n stuk hout, want hy het die goed gesteel van die vrou wat nie kinders kon kry nie, hy het nooit goed gedoen aan 'n weduwee nie. Maar God is sterker as sterk mense. Wanneer Hy besluit om iets te doen, dan kan die mens wat slegte dinge doen, nie aanhou lewe nie. God laat daardie mens veilig voel, hy dink dat God hom help, maar God sien alles wat hy doen. Mense wat verkeerde dinge doen, is net 'n kort tydjie belangrik, maar dan verdwyn hulle. God laat hulle sterf soos al die plante wat droog word en verlep, hulle sterf soos koring-are wanneer mense dit afsny. Dit is waar, niemand kan sê dat ek nie die waarheid praat nie.”
JOB 24:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAAROM het die Almagtige vir Hom geen geregstye voorbehou nie, en sien die wat Hom ken, nie sy geregsdae nie? Grenslyne verlê hulle; 'n trop vee roof hulle en laat dit wei. Die esel van die wese dryf hulle weg, die bees van die weduwee neem hulle as pand. Hulle stoot die behoeftiges van die pad af; die ellendiges van die land kruip almal saam weg. Kyk, soos wilde-esels in die woestyn trek hulle uit na hul werk, terwyl hulle soek na voedsel; die wildernis lewer brood vir hulle, vir die kinders. Op die veld gaan hulle voer haal, en in die wingerd van die goddelose hou hulle na-oes. Naak bring hulle die nag deur, sonder klere, en hulle het geen bedekking teen die koue nie. Van die stortbui van die berge word hulle nat; en by gebrek aan skuiling druk hulle hul teen die rotse vas. Hulle ruk die weeskind van die bors af; en wat die arme aan het, verpand hulle. Naak gaan hulle heen, sonder klere; en terwyl hulle honger het, dra hulle gerwe aan. Tussen die mure van dié mense pars hulle olie, trap die parskuipe terwyl hulle versmag van dors. Uit die stad kerm die manne, en die siel van die gewondes roep om hulp; tog gee God geen ag op die ongerymdheid daarvan nie. SULKE mense behoort by die vyande van die lig: hulle ken nie die weë daarvan nie en bly nie op die paaie daarvan nie. Teen dagbreek staan die moordenaar op, hy maak die arme en behoeftige dood, en in die nag is hy soos die dief. En die oog van die owerspeler neem die skemeraand waar en sê: Geen oog kan my sien nie; en hy sit 'n sluier voor sy gesig. In die duisternis breek hulle in die huise in; bedags sluit hulle hul op; hulle ken nie die lig nie. Want vir hulle saam is die stikdonker 'n môrestond, want hulle ken die verskrikkinge van die stikdonker. Gou dryf hul voort op die oppervlakte van die water; hulle stuk grond word vervloek in die land; hulle begeef hul nie meer op pad na die wingerde nie. Droogte, ook hitte, roof die sneeuwater weg — so die doderyk die wat gesondig het. Die moederskoot vergeet hom; die wurms eet smaaklik aan hom; aan hom word nie meer gedink nie: so word dan die onreg gebreek soos 'n stuk hout — hy wat die onvrugbare plunder wat nie baar nie, en aan die weduwee geen weldaad bewys nie. Tog laat Hy deur sy krag die magtiges lank lewe; hy wat al van sy lewe nie seker was nie, staan weer op. God gee hom veiligheid, en hy steun daarop; en sy oë is op hulle weë. Hulle het hul verhef — 'n kort rukkie, dan is hulle daar nie meer nie; en hulle word verneder; soos almal sterwe hulle; en soos die boonste van 'n halm word hulle afgesny. En is dit nou nie so nie, wie sal my van 'n leuen beskuldig en my rede tot niet maak?
JOB 24:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Waarom stel die Almagtige nie tye vas vir afrekening nie? Waarom moet dié wat Hom ken, tevergeefs uitsien na sulke dae? Mense verskuif grenslyne, hulle steel troppe vee en laat hulle by hulle eie vee wei, hulle vat die weeskind se donkie en lê beslag op die bees van die weduwee, hulle druk die armes van die pad af; die behoeftiges van die land moet wegkruip. Soos wildedonkies moet die armes in die woestyn gaan kos soek, die dorre wêreld moet vir hulle kinders kos voorsien. Hulle oes veevoer op die land om dit self te eet, hulle soek oorskiettrossies in die wingerde van die goddeloses. Hulle moet die nag kaal deurbring, sonder klere, hulle het geen beskutting teen die koue nie. Hulle is deurnat van die reëns in die berge, daar is geen skuiling nie, hulle hurk agter die rotse. Die weeskind word weggeruk van die bors waaraan hy drink, die armes word vir skuld verpand. Hulle loop kaal rond, sonder klere, hulle dra gerwe uit, maar ly honger, hulle trek die olyfpers, hulle trap die parskuipe, maar bly dors. In die stad kerm die sterwendes, dié wat aangerand is, roep om hulp, maar God slaan nie ag op die onreg nie.” “Daar is mense wat nie die daglig verdra nie, wat niks te doen wil hê met wat in die dag gebeur nie, wat nie van die dag se paaie hou nie: die moordenaar staan op net voor ligdag, hy vermoor die weerlose en die arme, in die nag steel hy; die egbreker wag vir die donker, hy dink geen oog sal hom sien nie, hy vermom homself; die dief breek by huise in as dit donker is, bedags kruip hy weg, hy wil niks met die lig te doen hê nie. Vir elkeen van hulle is die donker soos die oggend, hulle is tuis by die verskrikkings van die donker. “Maar hulle spoel vinnig weg op die water; wat hulle besit, staan onder 'n vloek, niemand werk meer in hulle wingerde nie. Soos droogte en hitte sneeu wegsmelt, so maak die graf 'n einde aan die sondaar. Sy eie ma vergeet hom, hy is kos vir die wurms, daar word nie meer aan hom gedink nie. Wie onreg doen, word soos 'n stuk hout gebreek. Hy het die kinderlose vrou geplunder en nooit goed gedoen aan 'n weduwee nie. Maar God onderwerp die sterkes deur sy mag; as Hy optree, het hulle geen sekerheid meer in die lewe nie. Hy gee miskien vir hulle 'n gevoel van sekerheid waarop hulle kan steun, maar Hy hou dop wat hulle doen. Net 'n kort tydjie is hulle belangrik, dan is daar niks van hulle oor nie, hulle stort inmekaar en sterf soos almal, hulle word soos koringare afgesny. Is dit nie so nie? Wie kan my tot leuenaar maak? Wie kan my woorde weerlê?”
JOB 24:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Waarom word vaste tye nie opsy gesit deur die Almagtige nie, en waarom sien dié wat Hom ken, nooit sy dae nie? Mense verskuif grense, hulle buit troppe vee en laat dit wei. Hulle jaag die donkie van vaderlose kinders weg, en neem die bees van 'n weduwee as pand. Hulle druk behoeftiges van die pad af; saam skuil magteloses van die land. Kyk, soos wildedonkies in die woestyn trek hulle uit vir hulle daaglikse werk – op soek na iets te ete. Die Araba voorsien kos vir hulle en hulle kinders. In die veld maak hulle voer bymekaar; in die wingerde van goddeloses maak hulle die naoes bymekaar. Halfkaal bring hulle die nag deur, sonder 'n bokleed, met geen bedekking teen die koue nie. Hulle is deurnat van die reën in die berge, en staan styf teen 'n rots aangedruk, sonder skuilplek. 'n Vaderlose kind word van die bors weggeskeur; wat aan die magtelose is, word as pand geneem. Halfkaal loop hulle rond, sonder bokleed; honger, dra hulle gerwe. Tussen goddeloses se terrasmure pars hulle olywe; hulle trap parskuipe, terwyl hulle dors ly. In die stad kreun sterwendes, die kele van gewondes roep om hulp; maar God slaan nie ag op die ongerymdheid nie. “ Daar is dié wat in opstand is teen die Lig; hulle erken nie sy weë nie, hulle is nie tuis op sy paaie nie. Teen ligdag staan die moordenaar op; hy maak magteloses en behoeftiges dood, en snags is hy soos 'n dief. Die egbreker hou die skemer in die oog en sê, ‘Geen oog sal my sien nie’; en dan plaas hy 'n bedekking oor sy gesig. Hulle breek in die donker by huise in. Bedags sluit hulle hulleself toe, hulle ken die lig nie. Ja, vir hulle almal saam is stikdonkerte soos die môrelig; hulle is immers vertroud met die verskrikkinge van 'n stikdonker nag. “ Mag hulle vinnig wegdryf op die water! Mag hulle erfdeel in die land in 'n vervloeking gebruik word; mag hulle nie in die rigting van die wingerde gaan nie. Droë grond en hitte raap sneeuwater weg, net soos die •doderyk hulle wat gesondig het. Mag die moederskoot hulle vergeet; mag die maaiers hulle soet vind; mag hulle nie meer onthou word nie. Mag die onreg soos 'n stuk hout gebreek word – hulle wat 'n onvrugbare sonder kinders kaal stroop, aan 'n weduwee niks goeds doen nie. God sal die magtiges wegsleep deur sy krag. Al staan hulle op, is hulle lewens nie seker nie. Hy gee aan hulle veiligheid, en daarop steun hulle; maar sy oë hou hulle paaie dop. Vir 'n kort rukkie verhef hulle hulleself, maar dan is hulle nie meer daar nie. Hulle sink neer soos alle dinge, en word bymekaargemaak; soos die hoogste koringaar word hulle afgesny. As dit nie so is nie, wie sal my tot leuenaar maak, en my woorde as niksseggend afmaak?”
JOB 24:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Waarom, siende tye is nie vir die Almagtige verborge nie, sien die wat Hom ken, nie sy dae nie? Sommige verwyder die landmerke; hulle neem kleinvee met geweld weg en wei. Hulle jaag die esel van die wees weg, hulle neem die bees van die weduwee as pand. Hulle wend die behoeftiges van die weg af; die armes van die aarde kruip saam weg. Kyk, soos wilde-esels in die woestyn, gaan hulle uit na hulle werk; opstaan tydig vir 'n buit: die woestyn gee voedsel vir hulle en vir hulle kinders. Hulle maai elkeen sy koring in die land, en hulle samel die oes van die goddelose in. Hulle laat die naaktes sonder klere vernag, sodat hulle geen bedekking in die koue het nie. Hulle is nat van die stortreën van die berge, en hulle omhels die rots omdat hulle geen skuiling het nie. Hulle ruk die wees uit die bors en neem 'n pand van die armes. Hulle laat hom naak sonder klere gaan, en hulle neem die gerf van die hongeriges weg; wat olie maak binne hulle mure en hulle parskuipe trap en dors ly. Mense sug uit die stad, en die siel van die gewondes roep uit; Hulle is van die wat teen die lig in opstand kom; hulle ken nie sy weë nie en bly nie in sy paaie nie. Die moordenaar wat saam met die lig opstaan, maak die armes en behoeftiges dood, en in die nag is hy soos 'n dief. En die oog van die egbreker wag op die skemer en sê: Geen oog sal my sien nie, en verbloem sy aangesig. In die donker grawe hulle deur huise wat hulle bedags vir hulle gemerk het; hulle ken nie die lig nie. Want die môre is vir hulle soos 'n doodskaduwee; as iemand hulle ken, is hulle in die verskrikkinge van die doodskaduwee. Hy is vinnig soos die waters; hulle deel is vervloek op die aarde; hy sien die weg van die wingerde nie. Droogte en hitte verteer die sneeuwaters, so ook die doderyk die wat gesondig het. Die moederskoot sal hom vergeet; die wurm sal hom soet voed; aan hom sal nie meer gedink word nie; en goddeloosheid sal verbreek word soos 'n boom. Hy smeek die onvrugbare wat nie baar nie, en doen nie goed aan die weduwee nie. Hy trek ook die helde met sy krag; hy staan op, en niemand is seker van die lewe nie. Al is dit hom gegee om veilig te wees, waarop hy rus; tog is sy oë op hulle weë. Hulle is vir 'n kort tydjie verhef, maar is weg en verneder; hulle word soos al die ander uit die pad gehaal en afgesny soos die toppe van die are. En as dit nie nou so is nie, wie sal my tot leuenaar maak en my spraak niks werd maak nie?
JOB 24:1-25 Die Boodskap (DB)
“Hoekom sê die Here nie presies wanneer dit tyd gaan wees om met mense af te reken nie? Want selfs die mense wat Hom ken, weet nie wanneer dit gaan gebeur nie. Hierdie slegte mense vat ander mense se grond deur die landmerke te verskuif. Hulle steel ander se vee en laat hulle tussen hulle eie vee wei. Hulle vat sommer ’n weeskind se donkie af. Of hulle vat ’n weduwee se bees as waarborg vir die geld wat sy hulle skuld. Hulle sal ’n arm mens soos niks uit die pad stamp. Party van die mense met wie dit ellendig gaan, sien dit is beter om liewer weg te kruip. Die armes moet soos wilde donkies in die woestyn loop en soek vir kos. Hulle moet hard werk om vir hulle kinders iets in die woestyn te ete te kry. Hulle tel koringare op ander mense se lande op wat reeds afgeoes is. Hulle pluk druiwe van ’n slegte mens se wingerd wat daar agtergebly het nadat die druiwe reeds afgeoes is. In die nag lê hulle sonder klere aan en slaap in die koue. Hulle het niks om hulle mee toe te maak nie. As dit in die berge reën, word hulle sopnat. Hulle klou aan die rotse vas, want daar is nie ander skuiling vir hulle nie. “Daar is misdadigers wat ’n weduwee se suigelingbaba steel. Party ryk mense sal arm mense se kind vat omdat hulle in die skuld is by hulle. Hierdie arm mense moet dan sonder klere loop en werk op die lande en dit terwyl hulle honger is. Hulle moet olie van olywe maak en druiwe trap by die wynpers. Intussen is hulle dood van die dors. ’n Mens kan die gekreun van mense in die stede hoor. Daar is ook mense wat gewond is wat roep dat iemand hulle moet kom help. Maar die Here steur Hom nie aan hierdie mense se gebede nie.” Job het verder gesê: “Daar is mense wat niks van die lig hou nie. Hulle wil nie doen wat in die lig aanvaarbaar is nie. Hulle doen oneerlike dinge in die geheim. Die moordenaar gaan net voor dagbreek uit en maak arm en behoeftige mense dood. In die nag steel hy. Die egbreker wag dat dit skemer moet word, want hy sê: ‘Niemand sal my dan sien nie.’ Hy maak ook sy gesig toe sodat niemand hom sal herken nie. In die nag breek hulle by huise in en in die dag kruip hulle weg. Hulle is nie vriende van die lig nie. Hulle voel baie gemaklik in die donker. Dit is vir hulle soos oggend. Hulle ken die gevare van die nag, maar dit pla hulle nie. “Hierdie slegte mense sal baie vinnig verdwyn. Dit sal wees asof hulle vinnig deur water weggespoel is. Hulle grond is verwens, dit sal nie vir hulle geluk bring nie. Niemand sal naby hulle wingerde wil kom nie. Die doderyk ruk so ’n slegte mens weg net soos droogte en hitte sneeu laat smelt. Selfs sy eie ma sal van hom vergeet. Die wurms sal hom eet. Niemand sal hom eens meer onthou nie. So ’n slegte mens word soos ’n boom gebreek. Hy teer op vroue wat nie kinders kan hê nie. Hy is ook nie goed vir die weduwees nie. “Maar die Here is baie sterk. Hy raak ontslae van die vername mense. Hulle dink dalk dat hulle uitgestyg het, maar hulle lewe is nie seker nie. Die Here kan hulle miskien laat voel dat hulle veilig is, maar Hy hou fyn dop hoe hulle lewe. Hulle is nou vir ’n rukkie op die kruin van die golf. Belangrike mense! Maar in ’n oogwink kan dit verby wees met hulle. Dan kom hulle hard af aarde toe en gaan net soos ander mense dood. Hulle word soos koring afgesny. Is daar iemand wat kan bewys dat dit nie so is nie? Wie kan bewys dat ek ’n leuenaar is? Wie gaan my woorde weerlê?”
JOB 24:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Waarom het die Almagtige nie ’n dag van afrekening vir die kwaaddoener nie? Waarom wag die regverdige tevergeefs op Hom? Bose mense steel grond deur grenslyne te verskuif. Hulle steel skape en laat hulle wei op hulle eie weiveld. Hulle vat selfs donkies van die weeskind. Hulle vat die weduwee se bees as borg. Hulle druk die armes uit die pad. Die behoeftiges in die land moet vir hulle wegkruip. Die armes moet soos wildedonkies in die woestyn sukkel om liggaam en siel aan mekaar te hou. Hulle soek kos in die woestyn vir hulle en hulle kinders. Hulle versamel veevoer op ’n ander se landerye en oes oorskiettrossies in die wingerde van die kwaaddoener. Snags lê hulle sonder klere in die koue, sonder iets om hulle toe te maak. Hulle is deurweek deur reën uit die berge en bondel almal saam teen die rotse vir skuiling. Weeskinders word weggeruk van die bors waaraan hulle drink. Die baba van die arme word as borg vir skuld geneem. Armes loop kaal, sonder klere. Hulle dra kos aan vir ander, terwyl hulle self honger ly. Hulle pars olyfolie, sonder om self daarvan te proe, hulle trap die wynpers, terwyl hulle self dors is. “Die gekerm van sterwendes klink op uit die stad, en die gewondes roep om hulp, maar God steur Hom nie aan die skreiende onreg nie. “Kwaaddoeners kom in opstand teen die lig. Hulle wil niks te doen hê met wat in die lig gebeur nie. Hulle loop nie op sy pad nie. Moordenaars staan op voor dagbreek om die arme en behoeftige dood te maak. In die nag is hy ’n dief. Die egbreker wag tot dit skemer is, want hy sê: ‘Niemand sal my nou sien nie.’ Hy dra ’n masker sodat niemand hom herken nie. In die nag breek hulle in by huise; in die dag slaap hulle. Hulle wil niks weet van die lig nie. Vir hulle is die donker soos die oggend. Hulle is bondgenote met die verskrikking van die duisternis. “Maar hulle sal van die aarde verdwyn, so vinnig soos skuim wat deur ’n rivier weggevoer word. Alles wat hulle besit, is vervloek sodat niemand meer in hulle wingerde kom nie. Soos droogte en hitte sneeu laat smelt, so word sondaars deur die dood verteer. Selfs hulle ma’s vergeet van hulle. Hulle is kos vir die wurms. Niemand wil hulle onthou nie. Bose mense breek in stukke soos ’n boom in ’n storm. Hulle het die kinderlose vrou uitgebuit. Hulle weier om weduwees te help. God sleep die sterkes weg deur sy mag. Al is hulle gevestig, hulle het geen sekerheid in die lewe nie. God laat hulle miskien veilig woon, maar Hy hou hulle altyd goed dop. Al word hulle vir ’n tydjie baie belangrik, hulle sal almal vergaan. Soos al die ander mense word hulle bymekaargemaak en soos koring afgesny. “Is dit nie so nie? Wie kan my verkeerd bewys en my woorde ignoreer?”