JOB 20:1-29
JOB 20:1-29 Bybel vir almal (ABA)
Sofar van die land Naäma het weer gepraat. Hy het gesê: “Job, luister na my, ek dink ek moet praat, ek voel dat ek móét praat. Ek hoor dat jy vir my wil leer maar jy beledig vir my. Ek verstaan nie wat jy dink wanneer jy my nie antwoord nie. Jy weet dit goed, dit was lank gelede so, dit was so vandat God mense op die aarde gesit het: Wanneer mense juig wat verkeerd doen, dan kan hulle dit nie lank doen nie. Iemand wat nie vir God wil ken nie, kan net 'n kort tydjie bly wees. So iemand word miskien baie belangrik, hy is hoogmoedig en hy loop met sy neus in die lug, maar hy sal so vinnig verdwyn soos sy mis. Mense wat hom voorheen gesien het, sal vra: ‘Waar is hy?’ Hy sal weggaan soos 'n droom, en jy sal hom nie kry nie. Mense sal hom vergeet, soos hulle vergeet wat hulle gesien het toe hulle gedroom het. Niemand sal hom weer sien nie, hy sal nooit weer wees waar hy was nie. Hy sal self die goed moet teruggee wat hy bymekaargemaak het, en sy kinders sal rente moet betaal op alles wat hy gevat het van arm mense. Hy sal nog sterk en gesond wees, maar hy sal in sy graf moet gaan lê. Dit was vir hom lekker om verkeerd te doen, hy het dit geniet soos lekker kos wat hy in sy mond hou en stadig insluk. Maar daardie kos sal verander in sy maag, dit sal so bitter word soos 'n slang se gal. Hy het baie goed bymekaargemaak, maar hy sal dit verloor soos kos wat 'n mens opbring wanneer hy naar is. God sal dit met hom laat gebeur. Hy sal die gif van 'n slang moet insuig, 'n adder se tong sal hom laat sterf. Hy sal niks kan geniet nie, ook nie as daar riviere vol heuning en dikmelk is nie. Hy sal alles moet teruggee wat hy gekry het toe hy gewerk het, hy sal dit nie kan gebruik nie. Hy sal koop en verkoop en ryk word, maar hy sal dit nie geniet nie. Want hy het op arm mense getrap en hy het hulle nie gehelp nie. Hy het huise vir homself gevat wat ander mense gebou het. Hy kry nooit genoeg nie, hy wil altyd meer hê. Wanneer hy eet, dan bly daar niks oor nie, en dit is hoekom dit nie sal aanhou goed gaan met hom nie. Hy het baie goed, meer as wat hy nodig het, maar dit sal skielik sleg gaan met hom, hy sal baie swaar kry. Hy sal iets anders moet eet en hy sal vol word daarvan. God sal kwaad word en God sal hom straf, dít sal die kos wees wat daardie mens moet eet. Die slegte dinge sal op hom val soos reën. Wanneer hy vlug vir 'n vyand met 'n yster-swaard, dan sal 'n vyand met 'n brons-boog hom raakskiet. Wanneer hy die pyl uittrek uit sy rug, die blink punt van die pyl wat deur sy gal gegaan het, dan sal hy bang wees, want hy sal weet dat hy sterf. Die donker wag vir hom en vir alles wat hy het, 'n vuur sal brand, niemand het dit aangesteek nie, en alles wat hy het, sal verbrand. Die hemel en die aarde sal getuig teen hom. Wanneer God kwaad word en Hy wil die persoon straf, dan verloor daardie persoon alles. Dit is wat God laat gebeur met die mens wat verkeerd doen.”
JOB 20:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê: Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my. 'n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my. WEET jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is: dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir 'n oomblik? Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke — soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy? Soos 'n droom vlieg hy weg, sodat 'n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos 'n naggesig. Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie. Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee. Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof. AL smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong, al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte — tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste. Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg. Die gif van adders suig hy in, die tong van 'n slang maak hom dood. Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie. Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie. Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; 'n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie. Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie. Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie. By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom. OM sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel. Hy sal vlug vir die ysterwapens — 'n koperboog sal hom deurboor. Hy trek — daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom! Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; 'n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly. Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op. Weggevoer word die opbrings van sy huis — goed wat wegspoel op die dag van sy toorn. Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God.
JOB 20:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Sofar die Naämatiet vir Job: “Ontsteltenis dwing my om te antwoord, dit maak my haastig om te praat. Ek hoor 'n teregwysing wat my beledig, maar ek wil verstandig daarop antwoord: Weet jy wat vroeër gebeur het, van die tyd af toe die mens op die aarde geplaas is? Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose van korte duur is, dat die blydskap van die godlose net 'n oomblik duur? Al sou sy trots tot in die hemel reik en sy kop aan die wolke raak, sal hy soos sy eie uitwerpsel vir altyd vergaan. Dié wat hom geken het, sal vra: ‘Waar is hy?’ Hy verdwyn soos 'n droom, hy is nêrens te vind nie, hy raak weg soos 'n gesig in die nag. Die oog wat hom gesien het, sal hom nie weer sien nie, sy plek is vir altyd leeg. Sy kinders sal die armes moet vergoed, met sy eie hande sal hy sy rykdom moet teruggee. Die jeugdige krag van sy liggaam gaan saam met hom die graf in. Hoewel die onreg soet smaak in sy mond en hy dit wegsteek onder sy tong, dit opgaar en nie wil laat vaar nie, dit teen sy verhemelte vasdruk, gaan sy kos omdraai in sy maag en in hom word soos die gif van 'n slang. Die ryk kos wat hy verslind het, gaan hy opgooi; God sal hom dit laat opbring. Wat hy drink, is soos slanggif, dit maak hom dood soos die pik van 'n adder. Hy sal nie die strome water geniet nie, nie die strome heuning en dikmelk nie. Wat hy met moeite verwerf het, moet hy teruggee, hy kan dit nie geniet nie, hy sal hom nie verlustig aan die weelde wat hy deur sy besigheid verkry het nie. Hy verdruk mos die armes en los hulle net so, hy vat sommer vir hom 'n huis, hy bou dit nie self nie. Daar is geen einde aan sy gulsigheid nie, hy kom nie vry van sy hebsug nie. Niks ontsnap sy vraatsug nie, daarom hou sy voorspoed nie stand nie. Met sy oorvloed en al tref 'n ramp hom, kom die swaarkry met volle krag op hom af. Terwyl hy hom nog so vol eet, laat God die woede van sy toorn oor hom losbreek, oorval God hom met oorlog. Hy vlug nog vir 'n ysterwapen, dan deurboor 'n bronspyl hom. Terwyl hy dit uit sy rug uit trek, die glansende punt uit sy gal, oorval die doodsvrees hom. Al sy skatte is bestem om vernietig te word, 'n vuur verteer hom, selfs al word dit nie aangeblaas nie. Dit verbrand wat in sy huis oorbly. Die hemel ontbloot sy sonde, die aarde kom teen hom in opstand. Vloedwater spoel sy huis weg, waterstrome op die dag van God se toorn. Dit is die lot van die mens wat skuldig is voor God, die deel van die een wat hom teen God verset.”
JOB 20:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sofar uit Naäma het hierop gereageer en gesê: “My verontrustende gedagtes laat my dan nou antwoord, op grond van die ongeduld in my: 'n Teregwysing wat my verneder, moes ek aanhoor; hy antwoord my met 'n gesindheid buite my begrip. Dit weet jy tog: Van die vroegste tye af, vandat God die mens op aarde geplaas het, is die gejuig van goddeloses van korte duur, en die vreugde van 'n godlose net vir 'n oomblik. Al styg sy selfverheffing ten hemele, en raak sy kop aan die wolke, soos sy eie ontlasting gaan hy vir altyd tot niet; dié wat hom gesien het, sal vra, ‘Waar is hy?’ Soos 'n droom vlieg hy weg, sonder om weer gevind te word; hy word verdryf soos 'n naggesig. Die oog wat hom raakgesien het, sien hom nie meer nie, en sy plek merk hom nie meer op nie. Sy kinders moet die armes vergoed; sy eie hande gee sy rykdom terug. Sy liggaam was vol van sy jeugdige krag, maar saam met hom lê dit in die stof. “ Al smaak die kwaad soet in sy mond, al steek hy dit onder sy tong weg, al gaar hy dit op en gee dit nie prys nie; al hou hy dit terug in sy mond, word sy kos in sy ingewande verander; dit is die gif van kobras in sy binneste. Die rykdom wat hy ingesluk het, sal hy opgooi; God sal dit uit sy maag dryf. Die gif van kobras suig hy op, die tong van 'n adder maak hom dood. Laat hy nie met vreugde kyk na die spruite, na die riviere, die strome heuning en dikmelk nie. Wat moeisaam verwerf is, gee hy telkens terug; hy sluk dit nie in nie. Sy handelswins sal hy nie geniet nie, omdat hy armes mishandel het, hulle in die steek gelaat het; op huise wat hy nie gebou het nie, het hy beslag gelê. Omdat sy maag nie tevredenheid ken nie, sal hy nie met sy kosbaarhede wegkom nie. Niks ontkom aan sy vraatsug nie; daarom sal sy voorspoed nie duur nie. Ten spyte van al sy oorvloed raak hy in die noute; die volle krag van teenspoed kom op hom af. Om sy maag vol te maak, stuur God sy brandende toorn teen hom, Hy laat dit op hom neerreën, op sy liggaam. Vlug hy weg van ysterwapens, deurboor 'n bronspyl hom. Hy trek dit uit; en kom dit uit sy rug uit, blink dit van sy gal. Skrikbeelde oorval hom dan. Volledige duisternis lê gereed vir wat hy weggesit het; 'n vuur wat nie aangeblaas is nie, sal dit verteer. Oorlewendes in sy tent kom sleg daarvan af. Die hemel ontbloot sy sondeskuld, en die aarde kom teen hom in opstand. Vloedwaters sal sy huis wegvoer, waterstrome op die dag van God se toorn. Van God se kant af is dít die erfdeel van 'n goddelose mens, die erfenis deur God aan hom toegesê.”
JOB 20:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe antwoord Sofar, die Naämatiet, en sê: Daarom laat my gedagtes my antwoord, en daarom maak ek gou. Ek het gehoor wat my smaad is, en die gees van my verstand het my laat antwoord. Weet jy dit nie van ouds af nie, aangesien die mens op die aarde geplaas is, Dat die oorwinning van die goddelose kort is en die vreugde van die huigelaar maar vir 'n oomblik? Al styg sy hoogheid tot in die hemel en sy hoof reik tot by die wolke; Maar hy sal vir ewig soos sy eie mis omkom; die wat hom gesien het, sal sê: Waar is hy? Hy sal wegvlieg soos 'n droom en nie gevind word nie; ja, hy sal weggejaag word soos 'n naggesig. Ook die oog wat hom gesien het, sal hom nie meer sien nie; en sy plek sal hom nie meer aanskou nie. Sy kinders sal probeer om die armes te behaag, en sy hande sal hulle goed teruggee. Sy gebeente is vol van die sonde van sy jeug, wat saam met hom in die stof sal lê. Al is goddeloosheid soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong; Al spaar hy dit en laat dit nie in die steek nie; maar hou dit stil in sy mond: Maar sy vleis in sy ingewande is omgedraai, dit is die gal van adders binne-in hom. Hy het rykdom verslind, en hy sal dit weer uitspuug; God sal dit uit sy buik uitwerp. Hy sal die gif van adders suig, die tong van die adder sal hom doodmaak. Hy sal die riviere, die strome, die strome heuning en botter nie sien nie. Wat hy voor gewerk het, sal hy teruggee en dit nie insluk nie; volgens sy goed sal die vergoeding wees, en hy sal hom nie daarin verheug nie. Omdat Hy die armes verdruk en verlaat het; omdat hy 'n huis wat hy nie gebou het nie, met geweld weggeneem het; Waarlik, hy sal geen stilte in sy buik voel nie, hy sal nie behalwe wat hy begeer nie. Daar mag niks van sy spys oorbly nie; daarom sal niemand sy goed soek nie. In die volheid van sy genoegsaamheid sal hy benoud wees: elke hand van die goddelose kom oor hom. Wanneer hy op die punt staan om sy buik vol te maak, sal God die grimmigheid van sy toorn op hom werp en dit op hom laat reën terwyl hy eet. Hy sal vlug vir die ysterwapen, en die staalboog sal hom deurslaan. Dit word getrek en gaan uit die liggaam uit; ja, die glinsterende swaard kom uit sy gal; verskrikkinge is oor hom. Alle duisternis sal verborge wees in sy skuilplekke; 'n vuur wat nie aangeblaas word nie, sal hom verteer; dit sal sleg gaan met hom wat in sy tabernakel oorgebly het. Die hemel sal sy ongeregtigheid openbaar; en die aarde sal teen hom opstaan. Die opbrings van sy huis sal weggaan, en sy goed sal wegvloei op die dag van sy toorn. Dit is die deel van 'n goddelose man van God, en die erfdeel wat deur God aan hom bestem is.
JOB 20:1-29 Die Boodskap (DB)
Sofar het Job geantwoord en gesê: “Ek moet jou antwoord, want ek is omgekrap oor wat jy gesê het. Jou kritiek op wat ek gesê het, is ’n belediging vir my. Ek dink ek weet hoe ek jou daarop moet antwoord. “Ek is seker jy weet dat vandat die eerste mens op die aarde gesit is, die slegte mense se geluk nie lank hou nie. Dit is ook so dat die blydskap van ’n mens wat God nie wil ken nie, net ’n kort rukkie hou. Al sou ’n goddelose mens dink dat hy beter as gewone mense is, en met sy kop in die wolke loop, sal daar op die ou einde tog niks van hom oorbly nie. Hy sal soos sy eie ontlasting net verdwyn. Mense wat hom ken, sal vra: “Wat het van hom geword?” Hy sal soos ’n droom of ’n gesig wat hy in die nag sien, net wegraak. Sy vriende en familie sal hom nooit weer sien nie. Sy kinders sal by die arm mense bedel, want hy sal sy rykdom moet teruggee. Hy is eintlik nog jonk en sterk, maar hy is op pad graf toe. “Hy hou daarvan om verkeerde dinge te doen. Dit is soos om iets lekkers onder jou tong te laat smelt. Hy hou dit so lank moontlik in sy mond. Maar die kos in sy maag word bitter. Dit is soos dodelike gif in sy maag. Hy sal die rykdom wat hy ingesluk het, weer uitbraak. God sal dit uit sy maag laat uitkom. Hy sal die gif van slange suig. ’n Adder sal hom doodpik. Hy is baie ryk, maar dit help hom niks nie. Hy sal nie die riviere van olie sien nie. Hy sal ook nie oorvloed van melk en heuning geniet nie. Hy sal nie vir sy harde werk betaal word nie. Sy rykdom sal hom ook nie bly maak nie. Hy het die arm mense uitgebuit en hulle in hulle ellende gelos. Hy het ander mense se huise wat hy nie gebou het nie, afgevat. Hy was baie gulsig, hy kon net nooit genoeg kry nie. Hy het van baie dinge gedroom, maar hy sal niks daarvan oorhou nie. As hy eet, bly daar gewoonlik niks oor nie. Net so sal sy voorspoed ook nie aanhou nie. Dit sal verdwyn. “Hy sal nog so in weelde leef en sy rykdom geniet, dan tref die ongeluk hom. Ellendes sal hom tref soos hy nie gedink het dit kan nie. Hy sal nog so sy maag vol eet, dan tref God se vreeslike woede hom. Sy woede sal soos reën op hom val. Hy sal probeer wegvlug van ’n wapen wat van yster gemaak is, maar dan tref ’n koperpyl hom. Die pyl sal deur sy lyf gaan en in sy ingewande vassteek. As hulle die pyl uittrek, sal ’n doodsvrees hom skielik oorval. Sy besittings sal in ’n groot, donker gat verdwyn. ’n Vuur wat nie deur enigiemand aangeblaas is nie, sal hom verbrand. Die vuur sal alles opvreet wat in sy blyplek oor is. Die hemel sal al die verkeerde goed wys wat hy gedoen het. Die aarde sal teen hom getuig. Alles wat in sy huis is, sal weggespoel word wanneer God se woede hom soos ’n vloed sal tref. Dit is wat met slegte mense gaan gebeur. Die Here het besluit dit is wat moet gebeur.”
JOB 20:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sofar die Naämatiet het Job geantwoord: “Ek kan nie anders nie, ek moet antwoord, want ek is baie ontsteld. Ek luister nou al lank na jou beledigings! Nou moet ek jou antwoord. “Jy moet besef dat dit nog altyd so was: Vandat die mens op aarde is, was die gejuig van die kwaaddoener van korte duur en die vreugde van die goddelose net tydelik. Al reik die trots van ’n goddelose tot in die hemel en al is sy kop in die wolke, tog vergaan hy vir altyd, weggegooi soos sy eie uitwerpsel. Dié wat hom geken het, sal vra: ‘Waar is hy?’ Hy sal vervaag soos ’n droom. Jy kan hom nêrens kry nie. Hy verdwyn soos ’n visioen in die nag. Die wat hom eens op ’n tyd gesien het, sal hom nooit weer sien nie. Sy plek sal hom nie meer ken nie. Sy kinders bedel by die armes, want hy sal self sy rykdom teruggee. Hy is nog maar ’n jong man, maar sy beendere lê in die stof. “Hulle het dit geniet om slegte dinge te doen. Dit was vir hulle so lekker soos soetigheid op die tong. Hulle het dit geproe, en draai dit om en om in hulle mond. Maar die soetigheid sal skielik suur word, soos die gif van ’n slang in hulle maag. Die rykdom wat hy verorber het, sal hy alles uitbraak. God sal hom dit nie laat behou nie. Hy drink die gif van slange. ’n Adder sal hom doodmaak. Hy sal nooit weer die oorvloed van olyfolie, die riviere van melk en heuning kan geniet nie. Sy harde werk word nie beloon nie. Sy rykdom bring hom geen vreugde nie. Want hy het die armes verdruk en hulle verwaarloos. Hy vat vir hom huise wat hy nie gebou het nie. “Daar is geen einde aan sy gulsigheid nie. Daar bly niks oor van alles wat hulle opgegaar het nie. Niks het oorgebly as hulle klaar geëet het nie. Daarom sal hulle voorspoed nie voortduur nie. Te midde van oorvloed tref moeilikheid hom, en hy word deur rampe verwoes. Terwyl hy versadig is, oorval God se oordeel hom. God laat sy straf op hom neerdaal. Al probeer hy ontsnap van ’n ysterwapen, ’n koperpyl sal hom deurboor. Terwyl hy die pyl trek uit sy rug en die glansende punt uit sy gal, word hy oorval deur die verskrikking van die dood. Sy skatte is verlore in die duisternis. ’n Vuur wat nie deur mense aangesteek is nie verteer hom, alles wat hy nagelaat het, word verbrand. Die hemel ontbloot sy skuld, en die aarde getuig teen hom. ’n Vloed sal sy huis wegspoel. God se woede reën op hom. Dit is die lot wat wag vir die kwaaddoener. Dit is die erfenis deur God bepaal.”