JOB 18:1-21
JOB 18:1-21 Bybel vir almal (ABA)
Bildad van die land Suag het weer gepraat. Hy het gesê: “Hoe lank wil julle aanhou praat? Julle moet eers goed dink en dán moet julle praat. Hoekom hou Job aan om te maak of ons diere is? En hoekom dink hy dat ons dom is? Job, jy is so kwaad dat jy jouself wil stukkend skeur. Moet al die mense op die aarde verdwyn? Moet 'n rots wegskuif uit sy plek sodat jy tevrede kan wees? Dit ís waar, die mens wat verkeerd doen, sterf, ja, sy lig gaan uit, sy vuur hou nie aan om te brand nie. Dit word donker in sy tent, sy lamp gaan dood. Die treë wat hy loop, was voorheen lank, maar dit word nou korter, hy besluit self wat hy wil doen, en daarom val hy. Sy voete bring hom in 'n vangnet, hy loop reguit in die net in. Die net vang hom aan sy voet, dit gryp hom vas. Hy sien nie die tou voor hom nie, hy sien nie die vangstrik op sy pad nie. Daar is baie dinge wat hom laat skrik, dinge wat hom na al die kante toe jaag. Dit gaan gou sleg met hom, sy probleme is altyd naby. Siekte vreet sy vel weg, sy vingers, sy arms, sy tone en sy bene sterf en val af. Hy dink dat hy veilig is in sy tent, maar hy moet daar weggaan, almal is bang vir die plek waarnatoe hy gaan. Niks bly oor in sy tent nie, mense gooi swael oor sy woonplek en hulle steek dit aan die brand. Hy is soos 'n boom wanneer die boom se wortels droog word en sy blare verlep. Niemand sal onthou dat daar so 'n mens was nie, die mense op die straat sal nie sy naam ken nie. Mense jaag hom weg van die lig na die donker, hulle jaag hom weg uit die wêreld. Hy sal nie 'n nageslag hê nie, niemand sal aanhou lewe waar hy gewoon het nie. Al die mense van al die plekke sal bang word wanneer hulle sien wat met hom gebeur. Ja, so sal dit gaan met die woonplek van 'n slegte mens, dit is wat sal gebeur met 'n persoon wat nie vir God wil ken nie.”
JOB 18:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê: Hoe lank wil julle jaag agter woorde? Word verstandig, en daarna sal ons spreek. Waarom word ons as vee gereken, is ons dom in julle oë? Jy, iemand wat homself verskeur in sy toorn — sal om jou ontwil die aarde verlate wees of 'n rots uit sy plek versit word? JA, die lig van die goddelose gaan dood, en die vlam van sy vuur bly nie flikker nie. Die lig in sy tent word duisternis, en sy lamp bo hom gaan dood. Sy geweldige treë word ingekort, en sy eie plan gooi hom omver. Want hy raak in 'n net deur sy eie voete, en hy loop oor die vlegwerk van 'n vangkuil. 'n Vangnet gryp sy hakskeen, 'n strik hou hom vas. 'n Tou is vir hom verberg in die grond en 'n valstrik vir hom op die pad. Verskrikkinge beangstig hom aan alle kante en jaag hom so ver as hy gaan. Sy onheil het honger, en die ondergang staan gereed vir sy val. Die eersgeborene van die dood verteer die lede van sy liggaam, hy verteer sy lede. Weggeruk word hy uit sy tent, die voorwerp van sy vertroue; en dit laat hom aanstap na die koning van die verskrikkinge. DAAR woon in sy tent iets wat hom nie toebehoort nie; swawel word gestrooi oor sy woning. Onder verdroog sy wortels, en bo verwelk sy tak. Sy gedagtenis vergaan van die aarde af, en hy het geen naam op die wye veld nie. Hulle stoot hom uit die lig in die duisternis, en uit die wêreld verjaag hulle hom. Hy het geen kroos of nageslag onder sy volk en niemand wat oorbly in sy wonings nie. Oor sy dag staan die mense van die Weste verskrik, en siddering gryp die mense van die Ooste aan. Sekerlik, so gaan dit met die wonings van die kwaaddoener en so met die plek van hom wat God nie ken nie.
JOB 18:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Bildad die Suagiet vir Job: “Hoe lank gaan jy nog aanhou praat? Kom eers tot ander insigte dan kan ons verder praat. Waarom word ons as diere beskou? Is ons dan so dom in jou oë? Jy is soos iemand wat homself in sy woede verskeur. Moet alle mense van die wêreld af verdwyn om jou tevrede te stel? Moet die rotse uit hulle plek losgeruk word? “Die goddelose se lig sal beslis uitgedoof word, die vlam van sy vuur sal ophou brand, die lig in sy huis sal doodgemaak word en die lamp langs hom uitgedoof word. Sy kragtige treë sal al onsekerder word, sy slim planne sal hom tot 'n val bring. Hy sal aan sy voete gevang word deur 'n strik, hy sal in 'n valstrik inloop. 'n Wip sal hom aan die hakskeen vang, 'n vangnet sal hom vasgryp. 'n Lus is vir hom op die grond weggesteek, daar is 'n vanggat op sy pad. Hy word van alle kante af met gevaar bedreig, dit volg hom net waar hy gaan. Die onheil wag hom gretig in, die ongeluk wag vir hom. 'n Dodelike siekte sal sy vel wegvreet en sy liggaamsdele verteer. Hy sal uitgeruk word uit sy veilige huis, hy sal weggelei word na waar die groot vrees heers. Niks wat hy het, sal in sy woning oorbly nie, oor sy woonplek sal brandende swael gestrooi word. Sy wortels sal van onder af verdroog en sy blare bo verlep. Elke herinnering aan hom sal van die aarde af verdwyn, sy naam sal nêrens meer bekend wees nie. Hy sal uit die lig die duisternis in gestoot word, hy sal uit die bewoonde wêreld verjaag word. Hy sal geen kind of nakomeling onder sy mense hê nie, en daar sal niemand in sy woonplek oorbly nie. Oor sy lot sal die mense van die ooste en die weste die hande van verbasing saamslaan en met vrees vervul wees. Só sal dit gaan met die huis van die slegte mens, só sal die plek lyk van iemand wat nie vir God erken nie.”
JOB 18:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê: “Hoe lank gaan julle nog tyd bestee aan woorde? Kom tot insig! Dan kan ons praat. Waarom word ons as vee beskou? Waarom is ons stompsinnig in julle oë? Jy, 'n mens wat homself verskeur in sy toorn – moet die aarde ter wille van jou verlate lê, rotse uit hulle plek verskuif word? “ Boonop, die lig van goddeloses word uitgedoof; die vlam van hulle vuur gee nie meer 'n gloed af nie. Die lig in sy tent raak donker, sy lamp bo hom word uitgedoof. Sy kragtige treë word belemmer, sy eie raad bring hom tot 'n val. Ja, hy word deur sy eie voete in 'n vangnet ingelei; hy loop heen en weer oor die latwerk bo 'n vanggat. 'n Valstrik gryp hom aan die hakskeen, 'n strik vang hom vas. 'n Vangriem is vir hom op die grond versteek, 'n lus lê vir hom in die voetpad. Van alle kante af maak verskrikkinge hom beangs, dit sit op sy hakke. Sy krag is uitgeput, teenspoed staan gereed vir sy val. Dit verteer sy vel broksgewys; hierdie eersgeborene van die dood verteer hom broksgewys. Uit sy tent, waar hy hom veilig voel, word hy weggeruk; dit dryf hom na die koning van verskrikkinge. Niks van sy besittings sal in sy tent oorbly nie; swael sal oor sy woonplek uitgestrooi word. Aan die onderkant verdroog sy wortels, aan die bokant verwelk sy takke. Sy nagedagtenis verdwyn van die aarde af; hy het nie meer 'n naam op straat nie. Hulle dryf hom uit die lig na die donker, van die aarde af verdryf hulle hom. Hy het geen kind of nageslag by sy mense nie, geeneen wat oorbly in sy blyplekke nie. Oor sy dag staan die mense in die weste verslae, en is die mense in die ooste met afgryse vervul. Ja, so is die woonplekke van 'n boosdoener, so is die plek van hom wat God nie geken het nie.”
JOB 18:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe antwoord Bildad, die Suhiet, en sê: Hoe lank sal dit duur voordat julle 'n einde aan woorde maak? merk, en daarna sal ons praat. Waarom word ons as vee gereken en word ons as gemeen in u oë beskou? Hy verskeur homself in sy toorn: sal die aarde vir jou verlaat word? en sal die rots uit sy plek verwyder word? Ja, die lig van die goddelose sal uitgedoof word, en die vonk van sy vuur sal nie skyn nie. Die lig sal donker wees in sy tabernakel, en sy lamp sal by hom gedoof word. Die trappe van sy krag sal benoud wees, en sy eie raad sal hom neerwerp. Want hy word deur sy eie voete in 'n net gegooi, en hy loop in 'n strik. Die jenewer sal hom aan die hakskeen gryp, en die rower sal hom oorwin. Die strik word vir hom in die grond gelê en vir hom 'n strik op die pad. Verskrikkinge sal hom van alle kante verskrik en hom op sy voete dryf. Sy krag sal uitgehonger word, en vernietiging sal gereed wees aan sy sy. Dit sal die sterkte van sy vel verteer; selfs die eersgeborene van die dood sal sy krag opeet. Sy vertroue sal uit sy tabernakel uitgeroei word, en dit sal hom na die koning van verskrikkinge bring. Dit sal in sy tent woon, omdat dit nie een van syne is nie; swawel sal oor sy woning gestrooi word. Sy wortels sal onder verdroog, en bo sal sy tak afgesny word. Sy gedagtenis sal van die aarde af vergaan, en hy sal geen naam hê op die straat nie. Hy sal uit die lig in die duisternis gedryf en uit die wêreld verdryf word. Hy mag geen seun of broerskind onder sy volk hê nie, en ook geen oorblyfsel in sy wonings nie. Die wat ná hom kom, sal verbaas wees oor sy dag, soos die wat voorgegaan het, beangs was. Waarlik, so is die wonings van die goddelose, en dit is die plek van hom wat God nie ken nie.
JOB 18:1-21 Die Boodskap (DB)
Bildad het Job geantwoord en gesê: “Hoe lank gaan jy nog aanhou praat, Job? Dink ’n slag mooi oor wat jy sê, dan praat ons weer. Dink jy ons is ’n klomp beeste? Dink jy ons is dom? Jy maak jouself vreeslik seer omdat jy kwaad is. Maar sê my, moet al die mense van die aarde padgee ter wille van jou? Moet ’n rots ter wille van jou uit sy plek geskuif word?” “Dit is waar dat die lig van die slegte mense sal doodgaan. Hulle vlammetjies sal nie meer brand nie. Daar sal nie meer lig in hulle blyplekke skyn nie. Hulle lampe sal ook ophou brand. Die slegte mense sal nie meer so vol selfvertroue rondloop nie. Hulle eie planne sal hulle laat ondergaan. Hierdie kwaaddoeners sal in ’n net vasloop. Hulle sal in ’n vanggat val wat in die pad gegrawe is. Hulle sal in ’n wip trap wat hulle aan die hakskeen sal vasvang. ’n Lus is vir hulle op die grond weggesteek wat hulle nie sal kan sien nie. Oral om hulle is daar gevare wat hulle bangmaak en hulle wil oorval. Omdat hulle honger is, het hulle nie veel krag nie. Onheil kan nie wag dat hulle moet val nie. Daar is siektes wat hulle vel laat wegkrimp. Die dood eet hulle ledemate weg. Hulle sal uit die veiligheid van hulle woonplekke uitgeruk word. Hulle sal dan na die koning van alle onheil gebring word. Daar sal niks in hulle huise oorbly nie, want brandende swael sal daaroor gegooi word. Hulle wortels sal uitdroog en hulle takke sal heeltemal verlep. Niemand sal ooit eens onthou of weet dat hulle op die aarde geleef het nie. Hulle sal uit die lig in die donker gegooi word. Hulle sal uit hierdie wêreld gejaag word. Hulle sal nie kinders of kleinkinders hê nie. Niemand sal oorleef om in hulle land agter te bly nie. Die mense in die weste en in die ooste sal geskok wees oor wat met hulle gebeur. Hulle sal sê: ‘Dit moet die huise wees van mense wat God nie geken het nie en hulle nie aan Hom gesteur het nie.’ Dieselfde sal met jou gebeur, Job, omdat jy opstandig is.”
JOB 18:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Bildad die Suagiet het Job geantwoord: “Wanneer gaan jy ophou om so te praat? Praat met insig, dan sal ons jou antwoord. Dink jy ons is soos diere? Dink jy ons is baie dom? Jy pluk jou hare uit in woede. Dink jy die aarde sal tot niet gaan ter wille van jou, en ’n rots van die kranse afval? “Die waarheid is: Die lig van die kwaaddoener sal gedoof word. Hulle vuur se vlam brand nie lank nie. Die lig in hulle tent verduister. Die lamp sal skielik doodwaai. Die vaste tred van die kwaaddoener sal wankel. Hulle eie planne sal hulle ondergang wees. Hulle sal val in ’n vangnet voor hulle voete, hulle sal vasval in ’n net. Hulle struikel oor ’n strik. ’n Strop trek vas om hulle. ’n Vangtou lê begrawe in die grond op hulle pad. ’n Tou lê opgerol in hulle pad. Gevaar omring die kwaaddoener en elke tree is gevaarlik. Honger maak hulle swak. Rampe wag vir hulle. Siekte vreet aan sy vel. Die ergste dood verorber sy bene. Hulle word weggesleep uit ’n veilige huis en hulle buig voor die koning van verskrikking. Die huis van die kwaaddoeners sal verbrand word, en oor alles wat hulle het, sal swael gestrooi word. Hulle wortels verdroog en hulle blare verwelk. Alles wat herinner aan hulle bestaan, sal verdwyn van die aarde. Niemand sal hulle name onthou nie. Hulle sal uit die lig in die duisternis gegooi word, uitgedryf uit die wêreld. Geen kind of kleinkind, of enige naasbestaande, sal in hulle land oorleef nie. In die weste is mense geskok oor hulle lot. In die ooste is almal met afgryse gevul. Hulle sal sê: ‘Dit was die huis van ’n bose mens, die plek van iemand wat deur God verwerp is.’”