JOB 1:1-3
JOB 1:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man in die land Us. Sy naam was Job. Hy was 'n goeie man, hy was eerlik, hy het God gedien en hy het nie verkeerd gedoen nie. Job het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy het 7 000 skape en bokke gehad, 3 000 kamele, 1 000 beeste, 500 donkies en baie slawe. Hierdie man was ryker as al die Oosmense.
JOB 1:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAR was 'n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad. En vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore. Daarby was sy besitting seweduisend stuks kleinvee en drieduisend kamele en vyfhonderd paar beeste en vyfhonderd eselinne en 'n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste.
JOB 1:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man.
JOB 1:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy. Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en 'n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste.
JOB 1:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar was 'n man in die land Us met die naam van Job; en daardie man was volmaak en opreg, en een wat God gevrees en afgewyk het van die kwaad. En vir hom is sewe seuns en drie dogters gebore. En sy besitting was sewe duisend stuks kleinvee en drie duisend kamele en vyf honderd paar beeste en vyf honderd esels en 'n baie groot huisgesin; sodat hierdie man die grootste was van al die manne van die Ooste.
JOB 1:1-3 Die Boodskap (DB)
Daar was ’n man met die naam Job wat in die land Us gebly het. Hy het ’n skoon en eerlike lewe geleef. Hy het God gedien en het nie verkeerde dinge gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Verder het hy ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 1 000 beeste en 500 donkies gehad. ’n Groot klomp slawe het ook vir hom gewerk. Om die waarheid te sê, hy was die rykste mens in die hele Ooste.
JOB 1:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man met die naam Job. Hy het in die land Us gewoon. Hy het onberispelik geleef en was ’n man met integriteit. Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy het ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 spanne trekosse, 500 donkiemerries en baie slawe gehad – sowel mans as vroue. Hy was die rykste man in daardie omgewing.