JOHANNES 9:1-12

JOHANNES 9:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus verder loop, het Hy 'n man gesien wat blind was vandat hy gebore is. Die dissipels het vir Jesus gevra: “ Rabbi, wie se skuld is dit dat hierdie man blind was toe hy gebore is? Is dit hý wat sonde gedoen het of is dit sy ouers wat sonde gedoen het?” Jesus het gesê: “Nee, dit is nie hierdie man of sy ouers wat sonde gedoen het nie. Hy is blind, want God wil hom gebruik om vir die mense te wys wat God kan doen. God het My na die wêreld gestuur. Hy wil hê ons moet vir die mense wys wat Hy kan doen terwyl dit nog dag is. Die nag kom en in die donker kan niemand werk nie. Terwyl Ek by die mense in die wêreld is, is Ek die lig vir hulle.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en Hy het klei gemaak met die spoeg. Hy het die klei aan die blinde man se oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die Siloam-dam.” Die woord Siloam beteken “God het Iemand gestuur.” Die blinde man het gegaan en hy het homself gewas. Toe hy terugkom, kon hy sien. Die mense wat langs die blinde man gewoon het en die ander mense wat hom geken het toe hy 'n bedelaar was, het gevra: “Is dit die man wat altyd gesit en bedel het?” Party mense het gesê: “Ja, dit is hy.” Ander mense het gesê: “Nee, dit is iemand anders wat lyk soos die blinde man.” Toe sê die blinde man: “Dit is ek!” Die mense het vir hom gevra: “Wat het gebeur dat jy kan sien?” Die man het gesê: “'n Man het klei gemaak en hy het dit aan my oë gesmeer. Die man se naam is Jesus. Toe het hy vir my gesê ek moet my in die Siloam-dam gaan was. Ek het dit gedoen en toe kon ek sien.” Hulle het vir hom gevra: “Waar is daardie man?” Hy sê toe: “Ek weet nie.”

JOHANNES 9:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is. Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?” Party van hulle het gesê: “Dit is hy!” Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.” “Dit is ek!” het hy self gesê. Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?” En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!” “Waar is hy nou?” vra hulle hom toe. “Ek weet nie,” was sy antwoord.

JOHANNES 9:1-12 Die Boodskap (DB)

In die verbygaan sien Jesus ’n man wat blind gebore is. “Wie se skuld is dit dat hierdie man blind gebore is?” vra sy dissipels Hom. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?” “Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen. Ons almal moet saamwerk om te wys wat God vir mense kan doen terwyl ons nog kan. Daarvoor het Hy My mos gestuur. Daar gaan ’n stadium kom wanneer ons dit nie meer sal kan doen nie. Terwyl Ek hier by julle is, kan Ek vir die mense wys wat God regtig wil hê en wat nie.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Hy meng ’n bietjie spoeg en grond. Hierdie modderigheid smeer Hy toe op die blinde se oë en sê: “Toe, jy kan maar loop. Gaan was jou in die bad by die Siloamfontein.” (“Siloam” beteken: hy wat gestuur is.) Die blinde het dit gedoen. Na ’n rukkie kom hy weer daar aan, maar hierdie keer kon hy alles sien! Baie mense het hom geken, want hy het dikwels daar gesit en bedel. Hierdie mense, asook die mense wat naby hom gebly het, kon hulle oë nie glo toe hulle hom sien nie. “Is dit nie sowaar dieselfde man wat altyd hier gesit en bedel het nie?” “Ja, sowaar,” het party gesê. Ander was minder geesdriftig: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” “Kan julle nie sien nie, dit ís ek!” roep die man uit. “Maar hoe het dit gebeur dat jy nou kan sien?” vra hulle hom. Die man vertel hulle toe alles: hoe Jesus modder gemaak en dit op sy oë gesmeer het; hoe Jesus hom na die Siloambad toe gestuur het om te was, en nou kan hy sien! Die mense vra toe opgewonde: “Waar’s daardie man? Ons wil hom sien.” “Ek weet ongelukkig nie,” was sy antwoord.

JOHANNES 9:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word. Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie. Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien! Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?” Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.” Die man het toe self reageer: “Dit is ék!” Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!” “Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra. “Ek weet nie,” het hy geantwoord.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid