JOHANNES 7:45-52
JOHANNES 7:45-52 Bybel vir almal (ABA)
Die wagte het teruggegaan na die priesterleiers en die Fariseërs. Die priesterleiers en die Fariseërs het vir die wagte gevra: “Hoekom het julle nie vir Jesus gebring nie?” Die wagte het gesê: “Ons het nog nooit iemand hoor praat wat soos Jesus gepraat het nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Jesus het vir julle ook gelieg, en julle het dit geglo. Glo een van die leiers of die Fariseërs in Jesus? Nee, niemand nie! Maar hierdie mense wat in Jesus glo, ken nie die Ou Testament nie. God sal hulle straf.” Nikodemus wat vroeër in die nag na Jesus toe gekom het, was een van die Fariseërs. Hy sê toe vir die Fariseërs en die priesterleiers: “Ons wette sê ons moet eers na iemand luister en ons moet presies weet wat hy gedoen het, dan kan ons hom oordeel.” Die Fariseërs sê toe vir Nikodemus: “Jy praat nou soos iemand wat uit die provinsie Galilea kom. Gaan lees in die Ou Testament en jy sal sien dat 'n profeet nooit uit die provinsie Galilea kom nie.”
JOHANNES 7:45-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die dienaars kom toe by die owerpriesters en die Fariseërs, en dié sê vir hulle: Waarom het julle Hom nie gebring nie? Die dienaars antwoord: Nooit het 'n mens so gespreek soos hierdie mens nie. En die Fariseërs antwoord hulle: Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek! Nikodémus — hy wat in die nag na Hom gegaan het, wat een van hulle was — sê vir hulle: Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen? Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is tog nie ook uit Galiléa nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.
JOHANNES 7:45-52 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Is julle tog nie ook mislei nie? Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs? Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!” Nikodemus, wat voorheen na Jesus toe gekom het en wat een van hulle was, sê toe vir hulle: “Volgens ons wet kan ons mos nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.” Hulle sê toe vir hom: “Jy kom tog nie ook van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.”
JOHANNES 7:45-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het die tempelwag teruggegaan na die leierpriesters en •Fariseërs, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die tempelwag het geantwoord: “Nog nooit het 'n mens só gepraat nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Nie een van die leierpriesters of van die Fariseërs het tog in hom geglo nie? Maar hierdie spul wat die wet nie ken nie, vervloek is hulle!” Nikodemus, die een wat voorheen na Hom gekom het, en een uit hulle geledere, sê toe vir hulle: “Ons wet oordeel tog nie 'n persoon tensy hy eers aangehoor is en daar verneem is wat hy doen nie?” Hulle het hom geantwoord: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Gaan dit maar na, jy sal sien: Geen profeet is afkomstig uit Galilea nie! ”
JOHANNES 7:45-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het die dienaars na die owerpriesters en Fariseërs gekom; en hulle sê vir hulle: Waarom het julle hom nie gebring nie? Die beamptes het geantwoord: Nooit het 'n mens soos hierdie man gepraat nie. Toe antwoord die Fariseërs vir hulle: Is julle ook mislei? Het enige van die owerstes of van die Fariseërs in Hom geglo? Maar hierdie volk wat die wet nie ken nie, is vervloek. Nikodemus sê vir hulle: Hy wat in die nag na Jesus gekom het, een van hulle, Veroordeel ons wet iemand voordat dit hom verhoor en weet wat hy doen? Hulle antwoord en sê vir Hom: Is jy ook van Galilea? Ondersoek en kyk, want uit Galilea het geen profeet opgestaan nie.
JOHANNES 7:45-52 Die Boodskap (DB)
Die polisie het Jesus net daar gelos. Hulle gaan rapporteer toe by die Fariseërs en die priesters, wat dadelik wou weet: “Waar’s hy?” Die polisie sê toe: “Het julle hom miskien al gehoor praat? Ons het nog nooit so iets gehoor nie; dit was uit ’n ander wêreld!” Die Fariseërs vlieg hulle toe in: “Is julle ook nou heeltemal deurmekaar? Weet julle ook nou nie meer wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie? Maak oop julle oë! Sien julle miskien een enkele Joodse leier of Fariseër wat dink hierdie man praat die waarheid? Nou toe! Al mense wat Hy kan beïndruk, is net die dom klomp daar buite. G’n wonder nie, want hulle weet niks van God se wil af nie.” Nikodemus (wat daardie een aand met Jesus kom praat het) was ook ’n Fariseër. Hy sê toe: “Nie so haastig nie. Ons wet sê mos dat iemand eers skuldig is as hy skuldig bevind word. Laat ons die saak eers verder ondersoek.” “Ja-nee, so ’n opmerking kan ’n mens ook net verwag van iemand wat uit Galilea kom,” kap die ander terug. “Gaan lees jou Bybel mooi. Dan sal jy sien dat Galilea nie ’n plek is waar profete nou juis vandaan kom nie.”
JOHANNES 7:45-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gevolglik het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gesê: “Waarom het julle hom nie saamgebring nie?” Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het ’n mens só gepraat soos hierdie man nie.” Die Fariseërs antwoord hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die geledere van die leiers of uit die Fariseërs miskien tot geloof in hom gekom? Nee, dit is net hierdie skare mense wat nie vertroud is met die wet nie; vervloek is hulle!” Nikodemus, wat Jesus vroeër opgesoek het, een uit hulle kring, sê toe vir hulle: “Ons wet veroordeel nie ’n mens as ons nie eers na hom geluister het en agtergekom het wat hy doen nie.” Hulle het dadelik reageer: “Jy kom tog nie ook uit Galilea nie? Gaan doen navorsing en jy sal sien dat daar geen profeet uit Galilea na vore tree nie.”