JOHANNES 16:1-33

JOHANNES 16:1-33 Bybel vir almal (ABA)

“Ek het dit alles vir julle gesê sodat julle nie moet ophou glo nie. Die mense sal julle wegjaag uit die sinagoges. Daar sal 'n tyd kom wanneer die mense julle sal doodmaak en dan sal hulle dink hulle dien God. Hulle sal dit doen, want hulle ken nie die Vader nie en ook nie vir My nie. Ek sê dit alles vir julle, want wanneer die tyd kom en hulle doen dit, dan wil Ek hê julle moet onthou Ek het gesê dit sal gebeur.” Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Ek het nie al hierdie dinge in die begin vir julle gesê nie, want Ek was by julle. Nou gaan Ek terug na die Vader wat My na die wêreld gestuur het, maar nie een van julle vra vir My waarnatoe Ek gaan nie. Julle het baie hartseer geword omdat Ek al hierdie dinge vir julle gesê het. Maar Ek vertel vir julle die waarheid: Dit is goed vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, dan sal die Helper, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek weggaan, dan sal Ek Hom na julle toe stuur. Wanneer die Helper kom, dan sal Hy vir die mense van die wêreld bewys dat hulle verkeerd dink oor sonde, en oor wie reg is voor God, en oor die oordeel van God. Hulle dink verkeerd oor sonde, want hulle glo nie in My nie. Hulle dink verkeerd oor wie reg is voor God, want Ek gaan na die Vader toe en julle sal My nie meer sien nie. Hulle dink verkeerd oor die oordeel van God, want God het klaar die Satan, die leier van die mense van die wêreld, ge-oordeel. “Daar is nog baie ander dinge wat Ek vir julle wil sê, maar dit is te moeilik vir julle om nou te verstaan. Wanneer die Helper kom, die Heilige Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is, dan sal Hy vir julle alles vertel van die waarheid. Hy sal nie self dink wat Hy vir julle moet vertel nie. Nee, Hy sal vir julle vertel wat Hy by My en by die Vader hoor. Hy sal julle help om die dinge te verstaan wat nog met julle sal gebeur. Die Helper sal wys dat Ek God is, want alles wat Hy vir julle sal sê, kom van My. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My. Dit is hoekom Ek sê alles wat die Heilige Gees vir julle sal sê, kom van My.” Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Dit sal nie meer lank wees nie, dan sal julle My nie sien nie. Daarna sal dit ook nie lank wees nie, dan sal julle My weer sien.” Party van Jesus se dissipels het vir mekaar gesê: “Ons verstaan nie wat Jesus sê nie. Hy sê dit sal nie meer lank wees nie, dan sal ons Hom nie sien nie, en daarna sal dit nie lank wees nie, dan sal ons Hom weer sien. Wat beteken dit wanneer Hy sê Hy gaan na die Vader toe? Hy sê ‘nie lank nie.’ Wat beteken dit? Ons verstaan dit nie.” Jesus het geweet wat hulle vir Hom wil vra. Hy het toe vir hulle gevra: “Vra julle vir mekaar wat dit beteken dat dit nie lank sal wees nie, dan sal julle My nie sien nie en dat dit daarna nie lank sal wees nie, dan sal julle My weer sien? Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal huil en treur, maar die mense van die wêreld sal bly wees. Julle sal eers hartseer wees, maar later sal julle nie meer hartseer wees nie, julle sal bly wees. Wanneer 'n vrou 'n kind kry, dan het sy pyn, want dit is die tyd wanneer haar baba moet kom. Maar wanneer die baba klaar gebore is, dan dink sy nie meer aan die pyn nie, want sy is bly dat sy ma geword het. Julle het ook nou pyn, maar wanneer Ek julle weer sien, dan sal julle bly wees. Dan sal niemand julle weer ongelukkig kan maak nie. “Daardie dag sal julle nie meer vir My iets vra nie. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daardie dag kan julle vir die Vader enige iets vra omdat julle aan My behoort, en Hy sal dit vir julle gee. Julle mag enige iets vra omdat julle aan My behoort. Tot nou toe het julle nog niks gevra nie. Julle moet vra, en julle sal kry. Dan sal julle regtig baie bly wees. Voorheen het Ek voorbeelde gebruik wanneer Ek iets vir julle verduidelik het, maar daar sal 'n tyd kom wanneer Ek nie meer voorbeelde sal gebruik nie. Dan sal Ek vir julle reguit van die Vader vertel. Daardie dag sal julle self vir die Vader dinge vra, omdat julle aan My behoort. Ek sal dit nie vir die Vader vra nie, dit sal nie nodig wees nie. Die Vader self is lief vir julle, want julle is lief vir My en julle glo dat Ek van God kom. Ek het weggegaan van die Vader en Ek het na die mense van die wêreld toe gekom. Nou gaan Ek weer weg van die mense van die wêreld, Ek gaan terug na die Vader toe.” Die dissipels het vir Jesus gesê: “Nou praat U reguit. U gebruik nie voorbeelde nie. Nou weet ons dat U alles weet. Dit is nie nodig dat ons vir U vrae moet vra nie. Ons glo nou dat U van God kom.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle sê julle glo nou, maar daar kom 'n tyd wanneer julle sal swaarkry. Daardie tyd is klaar hier. Die mense sal julle jaag na al die kante toe en julle sal na julle huise vlug. Julle sal My alleen los, maar Ek sal nie regtig alleen wees nie, want die Vader is by My. Ek sê dit alles vir julle sodat julle vrede kan hê omdat julle aan My behoort. Die mense van die wêreld sal julle laat swaarkry, maar julle moenie moedeloos word nie. Ek het die wêreld klaar oorwin.”

JOHANNES 16:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

HIERDIE dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom 'n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was. En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie? Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul. Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is. Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan. Sommige van sy dissipels het toe onder mekaar gevra: Wat is dit wat Hy vir ons sê: 'n Klein tydjie, en julle sien My nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Ek gaan na die Vader? Hulle het dan gevra: Wat is dit wat Hy sê: 'n Klein tydjie? Ons weet nie wat Hy sê nie. En Jesus het gemerk dat hulle Hom wou vra, en Hy sê vir hulle: Ondervra julle mekaar daaroor dat Ek gesê het: 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 'n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat 'n mens in die wêreld gebore is. Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie. En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom 'n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader. Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie. Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

JOHANNES 16:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie. Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs 'n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.” “Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel. “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” “Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.” Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê. Jesus het gemerk dat hulle dit vir Hom wou vra, en Hy sê toe vir hulle: “Praat julle met mekaar daaroor dat Ek gesê het: Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien? Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” “Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

JOHANNES 16:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie. Hulle sal julle uit die •sinagoges ban. Daar kom 'n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. En hulle sal dit doen, omdat hulle die Vader nie ken nie, en My ook nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer hulle tyd aanbreek, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het.” “Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was. Maar nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het, en nie een van julle vra My, ‘Waarheen gaan U?’ nie. Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van •geregtigheid en van oordeel: “Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie; van geregtigheid, omdat Ek na die Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld reeds geoordeel is. “ Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.” “ Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien.” Van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit wat Hy vir ons sê, ‘Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien’ en, ‘Ek gaan na die Vader’?” Hulle het daarom bly sê: “Wat is hierdie kort tydjie waarvan Hy praat? Ons verstaan nie wat Hy sê nie.” Jesus het geweet dat hulle dit vir Hom wou vra, en sê toe vir hulle: “Is dit waaroor julle mekaar uitvra, omdat Ek gesê het: Nog net 'n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer 'n kort tydjie, en dan sal julle My weer sien? Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. 'n Vrou ervaar pyn wanneer sy kraam, omdat haar tyd aangebreek het. Maar wanneer sy aan die kindjie geboorte skenk, onthou sy nie meer die swaarkry nie – uit blydskap dat 'n mens in die wêreld gekom het. Daarom ervaar julle nou ook pyn; maar Ek sal julle weer sien, en dan sal julle harte bly wees, en niemand sal julle blydskap wegneem nie. En op daardie dag sal julle My niks meer vra nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wat julle die Vader in my Naam vra, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Vra, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. ” “Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse vir julle gesê. Daar kom 'n tyd dat Ek nie meer deur gelykenisse met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Daarmee sê Ek nie vir julle dat Ek tot die Vader vir julle sal bid nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik en vertel nie gelykenisse nie. Nou weet ons dat U alles weet, en dat niemand U nog hoef uit te vra nie. Daarom glo ons dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin. ”

JOHANNES 16:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, dat julle nie aanstoot mag neem nie. Hulle sal julle uit die sinagoges verdryf; ja, die tyd kom dat elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy God dien. En hierdie dinge sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader en My nie geken het nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die tyd kom, julle kan onthou dat Ek julle daarvan vertel het. En hierdie dinge het Ek van die begin nie vir julle gesê nie, omdat Ek by julle was. Maar nou gaan ek na Hom toe wat my gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan jy heen? Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul. Nogtans vertel Ek julle die waarheid; Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle toe kom nie; maar as ek weggaan, sal ek hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld van sonde en van geregtigheid en van oordeel teregwys. Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie; van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan, en julle sien My nie meer nie; Van oordeel, want die owerste van hierdie wêreld word geoordeel. Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit homself spreek nie; maar alles wat hy hoor, dit sal hy spreek; en hy sal julle die toekomstige dinge te kenne gee. Hy sal My verheerlik, want Hy sal van Myne ontvang en dit aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy van Myne sal neem en dit aan julle openbaar. 'n Klein tydjie en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan. Toe sê sommige van sy dissipels onder mekaar: Wat is dit wat Hy vir ons sê: 'n Klein tydjie en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Omdat Ek na die Vader gaan? Hulle sê toe: Wat is dit wat hy sê: 'n Klein tydjie? ons kan nie sê wat hy sê nie. En Jesus het geweet dat hulle Hom wou vra en sê vir hulle: Vra julle onder mekaar dat Ek gesê het: 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein rukkie, en julle sal My sien? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en weeklaag, maar die wêreld sal bly wees; en julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander word. 'n Vrou het droefheid as sy baar, want haar uur het gekom; maar sodra sy van die kind gebaar is, dink sy nie meer aan die angs nie, uit die vreugde dat 'n man in die wêreld gebore is. En julle het dan nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien, en julle hart sal bly wees, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie. En in dié dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader in my Naam sal vra, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie; bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Hierdie dinge het Ek tot julle gespreek in spreuke, maar die tyd kom wanneer Ek nie meer met julle in spreuke sal spreek nie, maar julle duidelik van die Vader sal verkondig. In dié dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader vir julle sal bid nie. Want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad het en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom; weer verlaat Ek die wêreld en gaan na die Vader. Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U reguit en spreek geen spreekwoord nie. Nou is ons seker dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U vra nie; hierdeur glo ons dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? Kyk, die uur kom, ja, dit is nou, dat julle verstrooi sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, want die Vader is met My. Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed; Ek het die wêreld oorwin.

JOHANNES 16:1-33 Die Boodskap (DB)

“Ek vertel hierdie dinge vir julle sodat julle reg kan wees vir die moeilike tye wat kom. Praat van gevaarlike tye - die Jode sal julle uit hulle byeenkomste jaag en julle verbied om weer daar te kom. En dit is nie al nie! In ’n stadium sal hulle julle selfs doodmaak en dan mekaar gelukwens met die groot guns wat hulle vir God gedoen het. Hulle sal hulle met sulke dinge besig hou omdat hulle nie weet wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. Wees gewaarsku. Moenie julle onkant laat vang wanneer hierdie dinge gebeur nie, want julle weet nou daarvan. Kry julle reg. Ek vertel julle nou eers daarvan, want dit was nie nodig om dit vroeër vir julle te sê nie. Ek was mos die hele tyd by julle.” “Maar Ek is op pad weg, na my Vader toe wat My gestuur het. En sowaar, nie een van julle vra eens: ‘Waarheen gaan U?’ nie. “Dit lyk My julle is te hartseer oor alles wat Ek vir julle gesê het. Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy sorg dat die wêreld drie dinge waterpas in die oë moet kyk. Dit het te doen met hulle sonde en God se oordeel oor hulle. “In die eerste plek sal hulle nie daarvan kan loskom dat hulle sonde gedoen het nie. Hulle wou mos nie in My glo nie. “In die tweede plek sal hulle besef dat die reg aan my kant is. Ek gaan na my Vader toe. Julle sal My nie meer met die blote oog kan sien nie. “In die derde plek sal niemand die finale oordeel van God kan keer nie. Die duiwel, wat hier op aarde probeer baasspeel, het hom al klaar in God se straf vasgeloop. “O, Ek het soveel dinge om nog vir julle te sê, maar dit is nie nou die regte tyd nie. Julle is nog nie ryp daarvoor nie. Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het. “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle My nie meer sal sien nie. Maar dit gaan nie vir lank wees nie. Na ’n rukkie sal julle My weer sien.” Sy dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Waarvan praat Hy? Wat is al hierdie praatjies van nou sien en dan weer nie sien nie, of dat Hy na sy Vader toe gaan? En wat bedoel Hy met die ‘tyd wat nader kom’? Ons wens ons het geweet, want ons verstaan nie wat hier aangaan nie.” Jesus het agtergekom dat hulle brand om te hoor wat Hy hieroor te sê het. “Wonder julle oor wat Ek vir julle gesê het? Laat Ek julle so ’n bietjie meer vertel. Dan sal julle beter verstaan. Julle gaan eers baie hartseer wees; so hartseer dat die trane oor julle wange gaan loop. Dan gaan die ongelowiges hande klap van blydskap. Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander. Weet julle hoe dit gaan wees? Dit sal wees soos ’n vrou wat ’n baba kry. Terwyl sy besig is om die baba te kry, is dit baie seer. Maar as die baba eers eenmaal daar is, is sy die ene glimlag en blydskap oor haar kind. Sy dink nie eens weer aan al die pyn nie. Net so is dit met julle. Julle voel nou baie hartseer omdat Ek weggaan. Maar na ’n rukkie sal julle My weer sien. Dan sal daar geen keer wees aan julle blydskap nie. Niemand sal julle meer hartseer kan maak nie. Wanneer dit eers gebeur, sal van al julle vrae nie een meer oorbly nie. Luister mooi. Julle sal ander dinge begin vra. Wat julle ook al van my Vader vra om my saak in hierdie wêreld te bevorder, sal God vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nooit so iets gevra nie. Neem vrymoedigheid en vra! Julle blydskap sal geen einde hê nie.” “Ek gebruik heelwat beelde om alles te verduidelik. Oor ’n ruk sal dit nie eens meer nodig wees nie. Ek sal sommer reguit vir julle kan sê wat Ek bedoel wanneer Ek oor my Vader praat. Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is. Ek sal dan nie meer nodig hê om allerhande dinge vir julle by die Vader te vra nie. Hy voel oor julle net soos Ek oor julle voel. Hy het julle lief. Hy voel so oor julle omdat julle my goeie vriende is. Julle het aanvaar dat Ek van God af kom. Dit is wat gebeur het: Ek het van my Vader af na julle mense toe gekom. Nou gaan Ek van julle af terug na my Vader toe.” “Nou praat U reguit, op die man af, sonder allerhande beelde,” sê sy volgelinge. “Ons besef al hoe meer hoeveel U weet. Ja-nee, wat daar te wete is, weet U. U hoef nie by ander mense te gaan aanklop nie. Watter beter bewys is daar dat U regtig van God af kom? Ons is in alle geval seker daarvan.” Jesus sê toe: “Is julle regtig so seker van julle saak? Oppas, die tyd kom nou vir My nader - wag, dit is eintlik nou al hier. Julle sal van skrik alles los en weghardloop. Sonder om links of regs te kyk sal julle net maak dat julle by die huis kom. En die ergste is, julle gaan My net so alleen los. Maar heeltemal alleen sal Ek nooit wees nie. My Vader is en bly altyd by My. Ek vertel hierdie dinge vir julle met ’n goeie rede. As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles. Die ongelowiges sal alles wel vir julle probeer moeilik maak. Moenie dat hulle julle ontstel nie. Troos julle daaraan: Ek het bewys dat Ek sterker is as enigiets of enigiemand in hierdie wêreld. Ek en niemand anders nie is die regte Wenner.”

JOHANNES 16:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Ek het hierdie dinge nou vir julle uitgespel sodat julle nie struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ’n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink hy bewys ’n besondere guns aan God. Hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie My of die Vader geken het nie. Ek het dit nou vir julle gesê sodat, wanneer hulle uur ook al slaan, julle moet onthou dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die heel begin af vir julle gesê nie omdat Ek nog heeltyd saam met julle was.” “Nou is Ek op pad terug na Hom toe wat My gestuur het; tog vra niemand van julle vir My: ‘Waarheen gaan U?’ nie. Omdat Ek dit egter vir julle gesê het, het hartseer julle harte oorweldig. Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel, en dat die oordeel hier is. Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie; van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie; van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is. “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel. Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: ‘Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.’” “Nog net ’n kort tydjie, en julle sien My nie meer nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien.” Sommige van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog net ’n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? Hierdie ‘kort tydjie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit tog? Ons verstaan nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê. Jesus het agtergekom dat hulle Hom daaroor wou uitvra, en Hy sê toe vir hulle: “Probeer julle onder mekaar agterkom wat Ek bedoel het met: ‘Nog ’n kort tydjie, dan sien julle My nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’? Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander. ’n Vrou het pyn wanneer sy geboorte skenk omdat haar tyd gekom het. Wanneer die baba egter gebore is, onthou sy nie meer die swaarkry nie vanweë die groot blydskap dat daar ’n mens in die wêreld gekom het. Julle ondervind ook nou hartseer. As Ek julle egter weer sien, sal julle harte oorloop van blydskap, en niemand sal dié blydskap weer van julle af wegneem nie. En op daardie dag sal julle My niks meer uitvra nie. Ek verseker julle, wat julle ook al van die Vader vra in my Naam, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volledig kan wees. “Dit het Ek met behulp van beeldspraak aan julle verduidelik. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer met behulp van beeldspraak met julle sal praat nie, maar openlik die Vader aan julle sal verkondig. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Ek sê nie dat Ek die Vader sal raadpleeg oor julle nie, want die Vader self het julle lief omdat julle My lankal reeds liefgehad het, en vas glo dat Ek van God af gekom het. Ek het van die Vader af gekom en bevind My nou in hierdie wêreld. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader toe.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik, en U doen dit sonder enige beeldspraak. Ons besef ook nou dat U alles weet en niemand hoef U verder uit te vra nie. Daardeur is ons oortuig dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaargedryf sal word, elkeen op sy eie, terwyl julle My alleen agterlaat. Tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”