JOHANNES 15:18-20
JOHANNES 15:18-20 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook vir die dissipels gesê: “As die mense van die wêreld julle haat, dan moet julle onthou hulle het My gehaat voordat hulle julle gehaat het. As julle mense is wat lief is vir die wêreld, dan sal die ander mense van die wêreld lief wees vir julle, want dan is julle soos hulle. Maar julle is nie mense van die wêreld nie. Ek het julle gekies uit die mense van die wêreld. Daarom haat die mense van die wêreld julle. Julle moet onthou, Ek het vir julle gesê 'n slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Die mense van die wêreld het slegte dinge gedoen aan My, en daarom sal hulle ook slegte dinge doen aan julle. Hulle het nie geluister na wat Ek sê nie, en daarom sal hulle ook nie luister na wat julle sê nie.
JOHANNES 15:18-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: 'n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.
JOHANNES 15:18-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
“As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem.
JOHANNES 15:18-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle. Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde gehoorsaam het, sal hulle ook julle woorde gehoorsaam.
JOHANNES 15:18-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As die wêreld julle haat, weet julle dat hy my voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eie liefhê; maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: Die dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg; as hulle my woord bewaar het, sal hulle joune ook bewaar.
JOHANNES 15:18-20 Die Boodskap (DB)
Jesus het verder gegaan: “Mense wat nie Christene is nie, gaan die wêreld vir julle baie moeilik maak. Maar troos julle daaraan: hulle het dit al met My gedoen. Hulle hou net van mense wat soos hulle is en doen wat hulle doen. Julle is nie soos hulle nie. Julle behoort aan My. Ek het julle gekies om aan my kant te kom staan. Daarvan hou die ongelowiges niks en daarom gaan julle dit ontgeld. Julle onthou mos nog wat Ek vir julle gesê het: ‘Die baas is belangriker as die werker.’ Daarom is dit logies dat as hulle hulle bes probeer om dit vir My so sleg moontlik te maak, hulle mos dieselfde met julle sal probeer doen. “As hulle nie luister na wat Ek vir hulle sê nie, sal hulle mos ook nie na julle luister nie.
JOHANNES 15:18-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het. As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle. “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my boodskap ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.