JOHANNES 13:1-17

JOHANNES 13:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het. Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?” En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.” Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.” En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.” Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

JOHANNES 13:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Dit was amper tyd vir die Paasfees. Jesus het geweet dit was tyd om weg te gaan van hierdie wêreld en terug te gaan na sy Vader toe. Alles wat Jesus tot daardie dag gedoen het, het gewys dat Hy lief was vir die mense wat aan Hom behoort het en wat in die wêreld was. Jesus het tot die einde sy liefde vir hulle gewys, Hy het dit heeltemal gewys toe Hy aan die kruis gesterf het. Jesus en die dissipels was besig om te eet. Die duiwel het toe al klaar vir Judas die plan gegee om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader gesê het Jesus mag oor alles en almal regeer. Jesus het ook geweet Hy self kom van God en Hy gaan weer terug na God toe. Daarom het Jesus opgestaan van die tafel. Hy het sy bo-kleed uitgetrek en Hy het 'n doek vasgemaak om sy lyf. Slawe het dit altyd gedoen wanneer hulle mense bedien het. Toe gooi Jesus water in 'n bak. Hy het begin om die dissipels se voete te was. Hy het ook hulle voete afgedroog met die doek wat om sy lyf was. Jesus wou Petrus se voete ook was, maar toe vra Petrus vir Hom: “Here, wil Ú mý voete was?” Jesus het vir Petrus gesê: “Jy verstaan nie nou wat Ek doen nie, maar jy sal later verstaan.” Petrus het vir Jesus gesê: “U mag nooit my voete was nie.” Jesus het vir hom gesê: “As Ek nie jou voete was nie, dan kan jy nie my dissipel wees nie.” Simon Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dan moet U my voete en my hande en my kop was.” Jesus het vir hom gesê: “Wanneer 'n mens klaar gebad het, dan is jou liggaam klaar skoon. Dan is dit net jou voete wat jy moet was. Julle wat hier by My is, is skoon, maar nie almal nie.” Jesus het geweet Judas sal Hom verraai. Daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” Toe Jesus die dissipels se voete klaar gewas het, het Hy sy bo-kleed aangetrek. Hy het weer by die tafel gaan sit en Hy het vir die dissipels gevra: “Verstaan julle wat dit beteken dat Ek julle voete gewas het? Julle noem My ‘Meneer’ en ‘Here.’ Dit is reg, want dit is wat Ek is. Ek is julle Here en julle Meneer, maar Ek het julle voete gewas. Daarom moet julle ook mekaar se voete was. Ek is vir julle 'n voorbeeld. Julle moet ook doen wat Ek vir julle gedoen het. Ek sê vir julle, en dit is seker: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. 'n Boodskapper is ook nie belangriker as die man wat hom gestuur het nie. Julle het nou gehoor wat Ek sê. As julle dit doen, dan sal julle gelukkig wees.

JOHANNES 13:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe. En gedurende die maaltyd — die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai — het Jesus, omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan, van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en 'n doek geneem en dit om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in 'n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was en afdroog met die doek wat Hy omgehad het. Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was? Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan. Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie. Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof. Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie. Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie. Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, 'n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en 'n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.

JOHANNES 13:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Voor die Fees van die Pasga het Jesus reeds geweet dat sy uur aangebreek het dat Hy van hierdie wêreld na die Vader sou oorgaan. Daarom, omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, het Hy hulle liefgehad tot aan die einde. Gedurende die aandete het die Duiwel dit reeds in die hart van Judas, seun van Simon Iskariot, gelê om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het, en dat Hy van God gekom het en weer na God terugkeer. Daarom het Hy van die ete opgestaan, sy boklere uitgetrek, 'n linnedoek geneem en dit om Hom vasgebind. Toe gooi Hy water in die waskom en begin om die voete van die dissipels te was en dit met die linnedoek wat om Hom gebind was, af te droog. Toe Hy by Simon •Petrus kom, sê dié vir Hom: “Here, gaan U my voete was?” Jesus het hom geantwoord: “Wat Ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar hierna sal jy verstaan. ” Petrus sê toe vir Hom: “U sal beslis nie my voete was nie – tot in ewigheid nie!” Jesus het hom geantwoord: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Toe sê Simon Petrus vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.” Maar Jesus sê vir hom: “Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is. En julle is skoon, maar nie almal nie.” Want Jesus het geweet wie Hom sou verraai, en daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” Toe Hy hulle voete klaar gewas het en weer sy boklere aangetrek en aangeleun het om te eet, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem my Meester en Here, en julle sê dit tereg, want Ek is dit. As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het immers vir julle 'n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos wat Ek gemaak het. Amen, amen, Ek sê vir julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. As julle dit begryp, gelukkig is julle as julle dit doen.

JOHANNES 13:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En voor die fees van die pasga, toe Jesus geweet het dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld na die Vader sou gaan, omdat Hy sy eie mense liefgehad het wat in die wêreld was, het Hy hulle liefgehad tot die einde toe. En toe die maaltyd geëindig het, het die duiwel nou in die hart van Judas Iskariot, die seun van Simon, gegee om hom te verraai; Jesus weet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God gegaan het; Hy staan op van die maaltyd en het sy klere uitgelê; en hy het 'n handdoek geneem en hom omgord. Daarna het Hy water in 'n skottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en dit af te vee met die handdoek waarmee Hy omgord was. Toe kom Hy by Simon Petrus, en Petrus sê vir Hom: Here, was U my voete? Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, weet jy nie nou nie; maar jy sal hierna weet. Petrus sê vir hom: Jy sal nooit my voete was nie. Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie. Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop. Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het nie nodig nie, behalwe om sy voete te was, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie. Want hy het geweet wie hom sou verraai; daarom het hy gesê: Julle is nie almal rein nie. Nadat Hy dan hulle voete gewas en sy klere geneem het en weer gaan sit het, sê Hy vir hulle: Weet julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle sê goed; want so is ek. As Ek dan, julle Here en Meester, julle voete gewas het; julle behoort ook mekaar se voete te was. Want Ek het vir julle 'n voorbeeld gegee, sodat julle kan doen soos Ek aan julle gedoen het. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die dienskneg is nie groter as sy heer nie; ook hy wat gestuur is nie groter as hy wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen.

JOHANNES 13:1-17 Die Boodskap (DB)

Die paasfees was net om die draai. Jesus het besef die tyd het gekom om terug te gaan na sy Vader toe. Dit was nie vir Hom maklik nie. Hy het baie geheg geraak aan sy getroue volgelinge hier op aarde. Hy was baie lief vir hulle. Daardie aand het Jesus saam met sy groepie getrouste volgelinge geëet. Die duiwel het toe al klaar vir Judas oortuig om Jesus in die rug te steek. Dit het Jesus nie bang gemaak nie. Hy het van God af gekom en moes nou teruggaan. Boonop het Hy alles onder beheer gehad. Daarvoor het God gesorg. Jesus staan toe op en bind ’n handdoek om sy middel vas. Hy maak toe ’n bak vol water en begin sy volgelinge se voete een vir een was. Met die handdoek om sy lyf droog Hy hulle voete af. Hy kom toe by Simon Petrus. Voor Hy nog kon begin, val Petrus weg: “Here, wil U nou regtig my voete staan en was?” “Petrus, dit mag nou vir jou snaaks lyk dat Ek so iets wil doen,” sê Jesus, “maar gee ’n bietjie kans; al hierdie dinge sal wel later vir jou sin begin maak.” “Moet asseblief nie aan my voete raak nie,” vra Petrus, “nie nou nie en ook nie later nie.” “Wel,” antwoord Jesus hom, “as Ek nie jou voete was nie, beteken dit dat jy nie een van ons is nie. Dan gaan jy ook nie kry wat Ek vir jou kan gee nie.” “Here, as dit die geval is, moet dan asseblief nie by my voete stop nie. Was my hande; was my kop - sommer alles!” Jesus sê toe: “Jy het mos vanoggend gebad. Dit is nou eers genoeg om net jou voete te was; dan is jy weer heeltemal skoon. Maar nie almal van julle sal skoon word nie, al was Ek almal se voete.” Hierdie laaste sin was op Judas gemik. Jesus het mos geweet Judas gaan Hom verraai. Jesus het voortgegaan en almal se voete gewas. Daarna gaan sit Hy weer op sy plek. “Maak dit sin wat Ek vir julle gedoen het? Wel, laat Ek dit so vir julle verduidelik. Hoe praat julle oor My? Julle noem My mos ‘die Een wat alles vir ons leer’ of ‘ons Leier vir wie ons onvoorwaardelik volg’. Julle is natuurlik reg. Ek is al hierdie dinge. Nou maar goed. As Ek, die Een wat julle leer en lei, julle voete was, wat sê dit vir julle? Net een ding: julle behoort mekaar se voete net so te was. Ek het nou vir julle ’n goeie voorbeeld gegee: volg daardie voorbeeld. Doen aan mekaar wat Ek aan julle gedoen het. Dit kan nie anders nie, want die werker skryf mos nie vir die baas voor wat om te doen nie. As jy iemand stuur, vertel die een wat gestuur word nie vir jou wat jy wil hê nie. Dit werk mos andersom! Dit weet julle tog. As julle regtig gelukkig wil wees, moet julle doen wat Ek nou net vir julle gesê het.

JOHANNES 13:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Voor die viering van die paasmaaltyd het Jesus reeds geweet dat sy tyd aangebreek het om van hierdie wêreld af na die Vader toe oor te gaan. Jesus was lief vir sy eie mense wat in die wêreld gewoon het. Hy het hulle enduit liefgehad. Gedurende die aandete het die duiwel alreeds ’n saadjie in die hart van Judas, die seun van Simon Iskariot, geplant om Jesus uit te lewer. Jesus het geweet dat die Vader alles tot sy beskikking gestel het, en dat Hy van God gekom het en weer na God teruggaan. Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy bo-klere uitgetrek, ’n doek gevat en dit om Hom vasgebind. Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was. Hy kom toe by Simon Petrus, wat vir Hom sê: “Here, gaan U mý voete was?” Jesus antwoord hom: “Wat Ek besig is om te doen, verstaan jy nie nou nie, maar wanneer alles verby is, sal jy dit verstaan.” Petrus se onmiddellike reaksie was: “U sal tot in ewigheid nooit mý voete was nie!” Jesus antwoord hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Simon Petrus vra Jesus toe: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en kop.” Jesus sê vir hom: “Iemand wat klaar gebad het, is heeltemal skoon, behalwe om nog sy voete te was. En julle is mos reeds skoon – nee, tog nie almal nie.” Jesus het goed geweet wie Hom sou uitlewer; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” Nadat Jesus hulle voete klaar gewas het, het Hy sy bo-klere aangetrek en weer aangelê by die ete. Hy sê toe vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My Leermeester en Here, en tereg só, want Ek is dit. As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Hoe waar is dit tog nie: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie en ’n gestuurde ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle geseënd wees as julle dit ook doen.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid