JOHANNES 11:1-7 - Compare All Versions

JOHANNES 11:1-7 ABA (Bybel vir almal)

Lasarus was siek. Hy het in Betanië gewoon. Betanië was 'n dorpie waar Lasarus se susters Maria en Marta ook gewoon het. Dit was Maria wat lekkerruik-olie op die Here se voete uitgegooi het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Haar broer Lasarus was siek. Die twee susters het iemand gestuur om vir Jesus te sê dat Lasarus siek is, Lasarus vir wie Jesus lief was. Toe Jesus hoor dat Lasarus siek is, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie vir Lasarus doodmaak nie. God sal sy siekte gebruik om te wys dat Hy God is. Dan sal die mense kan sien dat Ek, die Seun van God, ook God is.” Jesus was lief vir Marta en haar suster en vir Lasarus. Jesus het gehoor dat Lasarus siek is, maar Hy het nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan weer na Judea.”

JOHANNES 11:1-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN daar was 'n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was. Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek. En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan.

JOHANNES 11:1-7 AFR83 (Afrikaans 1983)

'n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

JOHANNES 11:1-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daar was 'n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die •Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.”

JOHANNES 11:1-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En 'n sekere man was siek, met die naam van Lasarus, van Betanië, die stad van Maria en haar suster Marta. (Dit was daardie Maria wat die Here met salf gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was.) Daarom het sy susters na Hom gestuur en gesê: Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek. Toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood nie, maar tot eer van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. En Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe hy dan hoor dat hy siek was, het hy nog twee dae op dieselfde plek gebly waar hy was. Daarna sê Hy vir sy dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan.

JOHANNES 11:1-7 DB (Die Boodskap)

In Betanië, so drie kilometer van Jerusalem af, het Lasarus met sy twee susters, Marta en Maria, gebly. Dit was dieselfde Maria wat die duur olie oor Jesus uitgegooi en toe Jesus se voete met haar hare afgedroog het. Jesus het baie van hulle almal gehou. Hy het ’n baie spesiale plekkie vir hulle gehad. Lasarus word toe baie siek. Sy susters het Jesus dadelik daarvan laat weet. Toe Jesus die nuus hoor, sê Hy: “Hierdie siekte beteken nie Lasarus se einde nie. Dit beteken wel dat mense sal kan sien hoe sterk God regtig is. En as mense dit sien, sal hulle sommer ook besef hoe belangrik die Seun van God is.” Daarom het Jesus besluit om eers twee dae later Betanië toe te gaan. Na ’n paar dae sê Hy vir sy volgelinge: “Kom, ons gaan na Lasarus-hulle toe.”

JOHANNES 11:1-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

’n Sekere man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die tuisdorpie van Maria en haar suster, Marta. Dit was Maria wat die Here met aromatiese olie gesalf het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Dit is haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het toe iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” Jesus het die boodskap gehoor en gesê: “Hierdie siekte gaan nie op die dood uitloop nie, maar vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak sodat die Seun van God daardeur verheerlik word.” Jesus was lief vir Marta, haar suster en vir Lasarus. Toe Jesus gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy nog twee dae oorgebly op die plek waar Hy was. Eers hierna het Hy vir sy dissipels gesê: “Laat ons weer ’n keer Judea toe gaan.”