JOHANNES 10:36-42
JOHANNES 10:36-42 Bybel vir almal (ABA)
God het My gekies om 'n spesiale werk te doen. Hy het My na die wêreld gestuur. Hoekom sê julle Ek praat verkeerd teen God wanneer Ek sê Ek is die Seun van God? Die Vader het vir My gesê wat Ek moet doen. As Ek dit nie doen nie, dan moet julle nie in My glo nie. Maar as Ek die dinge doen wat die Vader vir My gesê het, dan moet julle glo wat Ek doen, ook as julle nie in My wil glo nie. Dan sal julle regtig weet die Vader is by My en Ek is by die Vader.” Toe het die Jode weer probeer om Jesus te vang, maar hulle kon nie, want Hy het weggegaan. Jesus het weer oor die Jordaan-rivier gegaan, na die plek waar Johannes voorheen die mense gedoop het. Jesus het daar gebly. Baie mense het na Jesus toe gegaan. Hulle het gesê: “Johannes het nooit 'n wonderteken gedoen nie, maar alles wat hy oor Jesus gesê het, is waar.” Baie mense het daar in Jesus begin glo.
JOHANNES 10:36-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik — omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie; maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom. Toe het hulle weer probeer om Hom gevange te neem, en Hy het uit hulle hand ontkom. En Hy het weer oor die Jordaan gegaan na die plek waar Johannes eers gedoop het; en Hy het daar gebly. En baie het na Hom gekom en gesê: Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar. En baie het daar in Hom geglo.
JOHANNES 10:36-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.” Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.” Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.
JOHANNES 10:36-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
hoe sê julle dan van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het, ‘Jy laster,’ omdat Ek gesê het, ‘Ek is die •Seun van God’? As Ek nie die dade van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie. Maar as Ek dit doen en julle My tog nie glo nie, glo dan my dade, sodat julle kan besef en steeds weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is. ” Hulle het toe weer probeer om Hom te arresteer, maar Hy het uit hulle hande ontglip. Daarop het Hy weer teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes tevore gedoop het, en daar vertoef. En baie het na Hom gekom; hulle het gesê: “Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor Hom gesê het, is waar. ” En talle het daar in Hom begin glo.
JOHANNES 10:36-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sê julle van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het: U laster; omdat ek gesê het: Ek is die Seun van God? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, glo My nie. Maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, sodat julle kan weet en glo dat die Vader in My is en Ek in Hom. Daarom het hulle weer probeer om hom te neem, maar hy het uit hulle hand ontsnap, En weer weggegaan oorkant die Jordaan na die plek waar Johannes eers gedoop het; en daar het hy gebly. En baie het na Hom toe gekom en gesê: Johannes het geen wonderwerk gedoen nie, maar alles wat Johannes van hierdie man gespreek het, was waar. En baie het daar in Hom geglo.
JOHANNES 10:36-42 Die Boodskap (DB)
Nou goed, as dit so is, waarom gaan julle so te kere asof Ek God so beledig? Immers, die Vader self het My spesiaal toegerus en My na die mense in die wêreld toe gestuur. Hier het Ek net kom sê: ‘Ek is God se Seun,’ en julle sê sommer Ek beledig God. Wel, as dit wat Ek doen God ongelukkig maak, ja, nie is wat Hy graag wil hê nie, dan kan julle dit sê. Maar julle weet dit is nie so nie. As julle dink dat wat Ek sê nie waar is nie, kyk dan na wat Ek doen. Julle sal agterkom dat Ek presies doen wat God in so ’n situasie sou doen. Ons tree soos ’n onverbeterlike span saam op.” Die Joodse leiers sit toe weer aan die polisie om Jesus te vang. Voor hulle hulle egter kom kry, was Jesus al weer weg. Die mense het Hom opgespoor by die plek waar Johannes begin doop het (oos van die Jordaan). Hy is ’n rukkie lank soontoe. Die mense wou Hom net nie met rus laat nie. Hulle het gesê: “Johannes het nou wel nie wonders gedoen nie, maar alles wat hy van Jesus gesê het, kan ’n mens maar glo.” Baie mense het juis daar Christene geword.
JOHANNES 10:36-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
hoe sê julle dan dat Hy wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is, laster omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle ophou om in My te glo. Maar as Ek dit doen en julle sou nie in Mý glo nie, glo dan die werke sodat julle kan begryp en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.” Hulle het weer ’n nuwe poging aangewend om Je-sus te arresteer, maar Hy het hulle ontduik. Hy het weer teruggegaan na die omgewing oorkant die Jordaan waar Johannes aanvanklik gedoop het, en daar oorgebly. Baie mense het na Jesus toe gekom en gesê: “Johannes het geen wonderteken gedoen nie, maar al die dinge wat Johannes oor hierdie man gesê het, was die waarheid.” En baie mense het op daardie plek in Jesus begin glo.