JEREMIA 9:3-9
JEREMIA 9:3-9 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Hulle maak mense seer met wat hulle sê, soos pyle uit 'n boog mense seermaak. Hulle word sterk in die land, maar hulle is baie vals, hulle dien nie hulle God nie. Hulle hou aan om slegte dinge te doen, meer en meer, hulle maak of hulle My nie ken nie. Hulle moet oppas vir mekaar, hulle kan mekaar nie glo nie, want almal bedrieg mekaar en praat sleg van mekaar. Almal is vals en lieg vir mekaar. Hulle het geleer om aan te hou lieg, hulle kan nie ophou om verkeerd te doen nie. Hulle hou aan om mense te verdruk en te bedrieg. Hulle wil My nie ken nie.” Dit het die Here gesê. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Omdat hulle dit alles doen, sal Ek hulle straf. Dit sal wees soos wanneer iemand metaal in vuur gooi en dit smelt. Ek kan nie anders met my volk doen nie. Wat hulle sê, is soos pyle wat mense wil doodmaak. Hulle sê hulle wil vrede hê met mekaar, maar hulle is vals, hulle wag net vir die regte tyd om mekaar te laat swaarkry. Daarom moet Ek hulle straf, dit is reg dat Ek hierdie volk straf.”
JEREMIA 9:3-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE. Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery. En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery. Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE. Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk? Hulle tong is 'n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne. Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie?
JEREMIA 9:3-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle woorde tref mense soos pyle: bedrog het die oorhand in die land, nie die waarheid nie. Hulle gaan van kwaad tot erger, en My ken hulle nie, sê die Here. Wees selfs vir 'n vriend op jou hoede, moenie eens 'n broer vertrou nie. Elke broer is 'n onderkruiper en elke vriend 'n kwaadsteker. Hulle bedrieg mekaar, hulle praat nooit die waarheid nie, hulle is gewoond om te lieg, hulle kan nie ophou sonde doen nie. Verdrukking volg op verdrukking, bedrog op bedrog, hulle weier om My te erken, sê die Here. Daarom, so sê die Here die Almagtige, sal Ek hulle deur die smeltkroes laat gaan. Hoe kan Ek anders maak met my volk? Hulle tong is 'n dodelike pyl, dit lieg en bedrieg. Hulle praat met mekaar asof niks verkeerd is nie, maar in hulle binneste beplan hulle mekaar se ondergang. Sou Ek nie hieroor rekenskap van hulle eis nie? sê die Here. Sou Ek My nie wreek op so 'n nasie nie?
JEREMIA 9:3-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle span hulle tong soos 'n boog; met leuens, en nie met betroubaarheid nie, word hulle helde in die land. Ja, van boosheid na boosheid gaan hulle voort, en My ken hulle nie,” is die uitspraak van die HERE. “Wees op julle hoede, elkeen vir sy vriend! Moenie enige broer vertrou nie; want elke broer is 'n bedrieër, en elke vriend gaan rond as 'n kwaadstoker. Elkeen verkul sy vriend; die waarheid praat hulle nie. Hulle rig hulle tonge af om leuens te praat. Hulle dwaal; hulle is nie in staat om terug te keer nie. Verdrukking volg op verdrukking, bedrog volg op bedrog; hulle weier om My te erken,” is die uitspraak van die HERE. Daarom, so sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Kyk, Ek gaan hulle smelt en toets. Want wat anders kan Ek doen oor die dogter van my volk? Dodelike pyle is hulle tonge – dit uiter bedrog. Met sy mond praat iemand vrede met sy vriend, maar in sy binneste stel hy vir hom 'n hinderlaag. Sou Ek daaroor nie van hulle rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die HERE. “Of sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?”
JEREMIA 9:3-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle span hul tong soos hul boog vir leuens, maar hulle is nie dapper vir die waarheid op die aarde nie; want hulle gaan van kwaad tot kwaad uit, en hulle ken My nie, spreek die HERE. Pas op vir elkeen van sy naaste en vertrou op geen broer nie, want elke broer sal heeltemal verdring, en elke naaste sal met lastering wandel. En hulle sal elkeen sy naaste bedrieg en nie die waarheid praat nie; U woning is te midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE. Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sal ek met die dogter van my volk doen? Hulle tong is soos 'n pyl wat uitgeskiet is; dit spreek bedrog: 'n mens spreek in vrede met sy naaste met sy mond, maar in die hart lê hy sy wag. Sal ek hulle nie vir hierdie dinge besoek nie? spreek die HERE: Sal my siel nie gewreek word op so 'n nasie soos hierdie nie?
JEREMIA 9:3-9 Die Boodskap (DB)
“My volk se leuens tref mense soos pyle. Hulle sorg nie dat die waarheid wen nie, maar die leuens. Die verkeerde goed wat hulle doen, word net al hoe erger. Hulle gee niks meer vir My om nie,” sê die Here. “Pas op vir jou vriende! Moenie jou familie of jou volksgenote enigsins vertrou nie! Hulle is almal rugstekers en versprei vals stories oor mekaar. Vriende lieg en bedrieg mekaar. ’n Mens kry net nie meer iemand wat die waarheid praat nie. Dit is al ’n tweede natuur vir hulle om nie die waarheid te praat nie. Baie van hulle is al so vasgevang in hulle valsheid dat hulle nie meer kan ophou om verkeerd te doen nie. Hulle hou net aan om leuen op leuen te vertel. So ver as wat hulle gaan, bedrieg hulle mense. Hierdie mense is veronderstel om my mense te wees, maar hulle weier om enigiets met My te doen te hê,” sê die Here. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal hulle toets vir suiwerheid soos ’n mens met metaal maak wat jy deur ’n smeltoond laat gaan. Ek kan niks anders doen as my volk so verkeerd maak nie. Hulle tong is soos giftige pyle. Met hulle leuens bedrieg hulle ander mense. Hulle praat met mekaar asof hulle vriende is, maar in hulle hart maak hulle planne om van mekaar ontslae te raak. Behoort Ek hulle nie oor hierdie manier van dink en doen te straf nie?” vra die Here. “Ja, Ek sal wraak neem op hierdie nasie.”
JEREMIA 9:3-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hulle span hulle tong soos ’n boog om leuens af te vuur. Hulle praat nie die waarheid nie. Die onreg wat hulle doen, raak net al hoe erger en erger. Hulle gee niks meer om vir My nie,” sê die HERE. “Pas op vir jou vriende! Moenie jou familie of volksgenote vertrou nie! Hulle is almal rugstekers en versprei vals stories oor mekaar. Vriende lieg en bedrieg mekaar en praat nie die waarheid nie; hulle het hulle tonge geleer lieg. Hulle kan nie ophou sondig nie. Hulle hou net aan om leuen op leuen te vertel. Hulle weier om enigiets met My te doen te hê,” sê die HERE. Daarom sê die HERE, die Almagtige: “Ek sal hulle in ’n smeltoond sit en hulle suiwer soos metaal. Eintlik laat my volk My geen ander keuse as om dit te doen nie. Hulle tonge is soos giftige pyle. Hulle praat baie vriendelik met hulle vriende, maar in hulle harte beplan hulle hulle ondergang. Behoort Ek hulle nie daaroor te straf nie?” vra die HERE. “Behoort Ek My nie op ’n nasie soos hierdie te wreek nie?”