JEREMIA 7:22-23
JEREMIA 7:22-23 Bybel vir almal (ABA)
Toe Ek julle voorvaders uit Egipte gebring het, het Ek nie gesê brand-offers en ander offers is die belangrikste nie. Die belangrikste wat Ek vir hulle gesê het, is: Julle moet gehoorsaam wees aan My, dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Julle moet altyd lewe soos Ek wil hê, dan sal dit goed gaan met julle.
JEREMIA 7:22-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.
JEREMIA 7:22-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.
JEREMIA 7:22-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ja, Ek het nie, op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, met julle voorouers soseer gepraat of opdrag gegee oor brandoffers of maaltydoffers nie, maar eintlik hierdie saak aan hulle opgedra, ‘Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees! Loop die hele pad wat Ek julle beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.’
JEREMIA 7:22-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want Ek het nie met julle vaders gespreek en hulle nie bevel gegee op die dag toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het oor brandoffers of slagoffers nie. Maar hierdie ding het ek hulle beveel en gesê: Luister na my stem, en Ek sal julle God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel in al die weë wat Ek julle beveel het, dat dit met julle goed kan gaan.
JEREMIA 7:22-23 Die Boodskap (DB)
Toe Ek julle voorouers uit Egipte gelei het, was dit nie allerhande offers wat Ek van hulle verwag het nie. Wat Ek van hulle verwag het, was bloot die volgende: Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.
JEREMIA 7:22-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Ek julle voorouers uit Egipte uitgelei het, het Ek nie brandoffers en ander offers van hulle verwag nie. Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.’