JEREMIA 38:14-28
JEREMIA 38:14-28 Bybel vir almal (ABA)
Koning Sedekia het die profeet Jeremia laat haal om na hom toe te kom. Die koning was in die derde ingang na die tempel. Hy het vir Jeremia gesê: “Ek wil vir jou iets vra, en jy moet alles vir my vertel.” Jeremia het vir Sedekia gesê: “As ek alles vir jou vertel, dan sal jy my doodmaak, dit is seker. En as ek vir jou sê wat om te doen, dan sal jy nie na my luister nie.” Koning Sedekia het met Jeremia gepraat waar niemand anders dit kon hoor nie, en hy het vir Jeremia belowe: “So seker soos die Here lewe wat vir ons die lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie, en ek sal jou nie vir die manne gee wat jou wil doodmaak nie.” Toe sê Jeremia vir Sedekia: “Die Here, die God wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: As jy uitgaan na die amptenare van die koning van Babel, dan sal jy aanhou lewe en dan sal hulle nie hierdie stad verbrand nie. Jy en jou huisgesin sal aanhou lewe. Maar as jy nie uitgaan na die amptenare van die koning van Babel nie, dan sal Ek hierdie stad vir die Galdeërs gee, en hulle sal dit verbrand. En jy sal nie kan wegvlug van hulle nie.” Koning Sedekia het vir Jeremia gesê: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs weggeloop het om saam met hulle te veg. Die Galdeërs sal my vir daardie Judeërs gee, en hulle sal my aanval en seermaak.” Jeremia het gesê: “Die Galdeërs sal jou nie vir daardie mense gee nie. Koning Sedekia, jy moet asseblief luister en doen wat die Here sê. Dan sal dit goed gaan met jou en jy sal aanhou lewe. Maar die Here het vir my gewys wat sal gebeur as jy nie wil uitgaan nie: Al die vroue wat oorgebly het in die paleis van die koning van Juda, sal uitgaan na die amptenare van die koning van Babel en hulle sal sê: “ ‘Jou vriende het jou bedrieg, hulle het jou verkeerd laat besluit, nou sal jou voete wegsak in die modder, en jou vriende het gevlug.’ “Al jou vroue en jou seuns sal moet uitgaan na die Galdeërs toe, en jy sal ook nie vry kan wegkom nie. Ja, hulle sal jou vang en vir die koning van Babel gee, en hulle sal hierdie stad verbrand.” Sedekia het vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand sê wat ons gepraat het nie, dan sal jy nie sterf nie. As die amptenare hoor dat ek met jou gepraat het, dan sal hulle na jou toe kom en hulle sal vir jou sê: ‘Vertel asseblief vir ons wat jy vir die koning gesê het. Jy moet alles vir ons vertel, dan sal ons jou nie doodmaak nie.’ Hulle sal ook vir jou vra wat die koning vir jou gesê het. Dan moet jy vir hulle sê: ‘Ek het vir die koning kom soebat dat hy my nie moet terugstuur na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ” Al die amptenare het toe na Jeremia toe gekom en vir hom gevra wat hulle gepraat het. Hy het hulle geantwoord soos die koning gesê het, en hulle het hom gelos, want niemand het gehoor wat hy en die koning gepraat het nie. Jeremia het in die binneplaas van die wagte gebly tot die dag toe die Galdeërs Jerusalem oorwin het.
JEREMIA 38:14-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe stuur koning Sedekía en hy laat die profeet Jeremia na hom bring in die derde ingang wat by die huis van die HERE was; en die koning het vir Jeremia gesê: Ek wil jou iets vra; steek vir my niks weg nie. Maar Jeremia het Sedekía geantwoord: As ek u dit te kenne gee, sal u my nie sekerlik doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u na my nie luister nie. Toe sweer koning Sedekía vir Jeremia in die geheim en sê: So waar as die HERE leef wat aan ons hierdie lewe verleen het — ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie! Daarop sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: As u vrywillig uitgaan na die vorste van die koning van Babel, sal u siel lewe en sal hierdie stad nie met vuur verbrand word nie; en u sal lewe, u en u huis. Maar as u nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee word, en hulle sal dit met vuur verbrand; en u self sal uit hulle hand nie vryraak nie. Toe sê koning Sedekía vir Jeremia: Ek is bevrees dat hulle my in die hand van die Jode wat na die Chaldeërs oorgeloop het, sal oorgee en dat dié met my die spot sal drywe. Maar Jeremia antwoord: Hulle sal u nie oorgee nie. Luister tog na die stem van die HERE in wat ek aan u sê; dan sal dit goed met u gaan en u siel sal lewe. Maar as u weier om uit te gaan — dit is die woord wat die HERE my laat sien het: Kyk, al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda oorgebly het, is uitgelei na die vorste van die koning van Babel, terwyl hulle gesê het: Die manne met wie u vriendskap gehou het, het u verlei en u oorweldig; toe u voete in die modder ingesak het, het hulle agteruitgewyk. Hulle sal dan al u vroue en u kinders na die Chaldeërs uitlei; ook sal u self uit hulle hand nie vryraak nie; maar u sal deur die hand van die koning van Babel gevang word, en hierdie stad sal met vuur verbrand word. Toe sê Sedekía vir Jeremia: Laat niemand van hierdie woorde weet nie, dat jy nie sterwe nie. En as die vorste hoor dat ek met jou gespreek het en by jou kom en aan jou sê: Vertel ons tog wat jy met die koning gespreek het; steek dit nie vir ons weg nie, en ons sal jou nie doodmaak nie; en wat het die koning met jou gespreek? — dan moet jy hulle antwoord: Ek het my smeking eerbiedig voor die koning gebring, dat hy my nie moet laat terugbring in die huis van Jónatan, om daar te sterwe nie. Toe het al die vorste by Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het aan hulle mededeling gedoen volgens al hierdie woorde wat die koning hom beveel het. Toe het hulle hom met rus gelaat; want die saak het nie bekend geword nie. EN Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is. En toe Jerusalem ingeneem is
JEREMIA 38:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe laat haal. Die koning het by die derde ingang van die huis van die Here gesit en vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra, maar jy moet my die waarheid vertel.” Maar Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim 'n eed afgelê en vir Jeremia gesê: “So seker as die Here leef, Hy wat die lewe aan ons gee, ek sal jou nie doodmaak nie en ek sal jou ook nie uitlewer aan die mense wat jou wil doodmaak nie.” Jeremia het vir Sedekia gesê: “So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: As jy uitgaan na die koning van Babel se offisiere toe, sal jy jou lewe red en hierdie stad sal nie verbrand word nie. Jy en jou familie sal bly lewe. Maar as jy nie na die koning van Babel se offisiere toe uitgaan nie, sal hierdie stad oorgegee word in die mag van die Galdeërs en hulle sal dit verbrand. Dan sal jy nie uit hulle mag vrykom nie.” Koning Sedekia het vir Jeremia geantwoord: “Ek is bang vir ons volksgenote wat na die Galdeërs toe oorgeloop het. Die Galdeërs kan my dalk aan daardie volksgenote uitlewer, en hulle kan my dalk aanrand.” Maar Jeremia het vir die koning gesê: “U sal nie uitgelewer word nie. Luister tog na die woord van die Here soos ek dit vir u meegedeel het. Dan sal dit goed gaan met u, en u lewe sal gespaar bly. Maar as u weier om uit te gaan, dit is wat die Here my laat sien het: al die vrouens wat nog oor is in die koning van Juda se paleis, sal uitgelei word na die koning van Babel se offisiere toe, en hulle sal sê: “ ‘Die koning van Israel se beste vriende het hom mislei, hulle het hom omgepraat; hulle het hom van die wal af in die sloot gehelp en hom toe in die steek gelaat.’ “Al u vrouens en al u seuns sal uitgelei word na die Galdeërs toe en u sal nie uit hulle mag vrykom nie, want u sal deur die koning van Babel self gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word.” Sedekia het vir Jeremia gesê: “Niemand moet van hierdie gesprek weet nie. Dan sal jy nie doodgemaak word nie. As my amptenare uitvind dat ek met jou gepraat het en hulle kom sê vir jou: ‘Vertel vir ons wat jy en die koning gepraat het, moenie iets vir ons wegsteek nie, ons sal jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ moet jy vir hulle sê: Ek het by die koning kom pleit om my nie weer in die huis van Jonatan te sit om daar te sterf nie.” Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom en hom uitgevra, maar hy het vir hulle gesê net soos die koning hom beveel het. Hulle het vir Jeremia toe met rus gelaat, want hulle kon niks uitvind nie. Jeremia het in die binneplaas van die paleiswag gebly totdat Jerusalem ingeneem is.
JEREMIA 38:14-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe ontbied by die derde ingang van die huis van die HERE. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek gaan jou iets vra; moet niks vir my wegsteek nie!” Jeremia het egter vir Sedekia gesê: “As ek u inlig, sal u my nie sonder twyfel doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u tog nie na my luister nie!” Koning Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia 'n eed afgelê: “So waar as die HERE leef wat vir ons hierdie lewe moontlik maak: Ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!” Toe sê Jeremia vir Sedekia: “So sê die HERE, die God van alle magte, die God van Israel, ‘As jy wel uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, sal jou lewe behoue bly, en hierdie stad sal nie afgebrand word nie. Jy en jou huisgesin sal leef. Maar as jy nie uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië nie, sal hierdie stad oorgegee word in die hand van die Galdeërs, en hulle sal dit afbrand. En jy, jy sal nie uit hulle hand vrykom nie. ’ ” Toe sê koning Sedekia vir Jeremia: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs oorgeloop het, dat hulle my in hulle hand sal oorgee en dat hulle my sal martel.” Maar Jeremia het gesê: “Hulle sal u nie oorgee nie. Luister asseblief net na die stem van die HERE, na dit wat ek vir u sê! Dan sal dit met u goed gaan; u sal u lewe behou. Maar as u bly weier om uit te gaan, is dít wat die HERE my laat sien het: Kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, word uitgeneem na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, terwyl die vroue sê, “ ‘Jou vertroude vriende het jou mislei en die oorhand oor jou gekry. Toe jou voete weggesink het in die slyk, het hulle teruggetree.’ “Al u vroue en kinders gaan uitgebring word na die Galdeërs, en u self sal nie vrykom uit hulle hand nie, maar deur die koning van Babilonië sal u gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word. ” Daarop sê Sedekia vir Jeremia: “Niemand mag van hierdie gesprek weet nie, anders sterf jy! As die hoë amptenare hoor dat ek met jou gepraat het en by jou kom en vir jou sê, ‘Vertel asseblief vir ons wat jy met die koning gepraat het. Moenie vir ons iets wegsteek nie, dan sal ons jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ dan moet jy vir hulle sê, ‘Ek het my smeekbede voor die koning gelê, dat hy my nie moet laat terugkeer na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ” Al die hoë amptenare het toe na Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het hulle al hierdie woorde meegedeel, net soos die koning hom beveel het. Hulle het hom toe met rus gelaat, want die saak het nie rugbaar geword nie. Jeremia het in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is.
JEREMIA 38:14-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het koning Sedekía gestuur en die profeet Jeremia na hom geneem in die derde ingang wat in die huis van die HERE is; en die koning het vir Jeremia gesê: Ek sal jou iets vra; steek niks vir my weg nie. Toe sê Jeremia vir Sedekía: As ek dit aan jou verkondig, sal jy my dan nie sekerlik doodmaak nie? en as ek jou raad gee, sal jy nie na my luister nie? Toe het koning Sedekia vir Jeremia in die geheim gesweer en gesê: So waar as die HERE leef wat hierdie siel vir ons gemaak het, ek sal jou nie doodmaak nie, en ek sal jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie. Toe sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel; As jy sekerlik uitgaan na die vorste van die koning van Babel, dan sal jou siel lewe, en hierdie stad sal nie met vuur verbrand word nie; en jy sal lewe en jou huis. Maar as jy nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, dan sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs gegee word, en hulle sal dit met vuur verbrand, en jy sal nie uit hulle hand ontvlug nie. Toe sê koning Sedekía vir Jeremia: Ek is bevrees vir die Jode wat vir die Chaldeërs geval het, dat hulle my nie in hulle hand oorgee en met my spot nie. Maar Jeremia sê: Hulle sal jou nie red nie. Luister tog na die stem van die HERE wat ek met jou spreek; so sal dit met jou goed gaan en jou siel lewe. Maar as jy weier om uit te gaan, dit is die woord wat die HERE my laat sien het: En kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, sal na die vorste van die koning van Babel gebring word, en daardie vroue sal sê: Jou vriende het jou aangepak en jou oorwin; jou voete het gesink in die modder, en hulle het teruggedraai. Daarom sal hulle al jou vroue en jou kinders na die Chaldeërs uitbring; en jy sal nie uit hulle hand ontvlug nie, maar deur die hand van die koning van Babel gegryp word; en jy moet hierdie stad met vuur verbrand. Toe sê Sedekia vir Jeremia: Laat niemand van hierdie woorde weet nie, en jy sal nie sterwe nie. Maar as die vorste hoor dat ek met jou gespreek het, en hulle na jou toe kom en vir jou sê: Verklaar nou vir ons wat jy aan die koning gesê het, steek dit nie vir ons weg nie, en ons sal jou nie doodmaak nie; ook wat die koning vir jou gesê het: Dan moet jy vir hulle sê: Ek het my smeking voor die koning gebring, dat hy my nie sou laat teruggaan na die huis van Jónatan om daar te sterf nie. Toe het al die vorste na Jeremia gekom en hom gevra, en hy het hulle vertel volgens al hierdie woorde wat die koning beveel het. En hulle het opgehou om met hom te spreek; want die saak is nie raakgesien nie. Jeremia het toe in die voorhof van die gevangenis gebly tot die dag toe Jerusalem ingeneem is, en hy was daar toe Jerusalem ingeneem is.
JEREMIA 38:14-28 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het koning Sedekia Jeremia laat haal. Hulle het mekaar toe by die derde ingang van die tempel gekry. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.” Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia belowe: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorgee aan die mense wat jou dood wil sien nie.” Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: As u u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Die stad sal dan ook nie verbrand word nie. Maar as u nie wil oorgee nie, is daar geen kans vir u om weg te kom nie. Jerusalem sal in die hande van die Babiloniërs val. Hulle sal die stad aan die brand steek.” Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs gee my dalk oor aan die Jode wat reeds na hulle toe oorgeloop het. Hulle sal my mishandel.” Jeremia het geantwoord: “Hulle sal u nie oorgee nie. As u doen wat ek sê, sal u aan die Here gehoorsaam wees. Dit sal dan met u goed gaan. U lewe sal gespaar word. Die Here het vir my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee: Al die vroue wat nog in die paleis oor is, sal uitgebring word na die offisiere van die Babiloniese koning. Hulle sal sê: ‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat. Hulle het u mislei. Noudat u in die moeilikheid beland het, waar is u vriende nou?’ “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitbring. U self sal ook nie kan ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en hierdie stad afbrand.” Sedekia het toe vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood! My amptenare mag nie hoor dat ek met jou gepraat het nie. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy nie vir ons wil sê nie, sal ons jou doodmaak.’ Jeremia, as dit wel so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.” Soos verwag, was dit nie lank nie of die amptenare het by Jeremia uitgekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom gevra het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Daar was niemand van hulle wat gehoor het wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie. Jeremia het in die wagte se gedeelte van die paleis gebly totdat Jerusalem die dag ingeneem is.
JEREMIA 38:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n dag het koning Sedekia die profeet Jeremia laat haal. Hulle het mekaar by die derde ingang van die tempel ontmoet. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou ’n vraag vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.” Jeremia het Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia gesweer: “So seker as die HERE leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorlewer aan die mense wat jou dood wil sien nie.” Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: As u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Hulle sal dan ook nie die stad met vuur verbrand nie. Maar as u weier om oor te gee aan die offisiere van die Babiloniese koning, sal u nie ontsnap nie! Die stad sal in die mag van die Babiloniërs val en hulle sal dit aan die brand steek.” Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs lewer my uit aan die Judeërs wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. En wat sal hulle dan aan my doen?” Jeremia het geantwoord: “U sal nie aan hulle uitgelewer word nie. Wees gehoorsaam aan die HERE en doen wat ek sê. Dit sal dan met u goed gaan en hulle sal u lewe spaar. Die HERE het my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee: Hulle sal al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda agtergebly het, vir die offisiere van die Babiloniese koning gee. En hulle sal u dan spot: “‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat! Hulle het u mislei. Noudat u voete in die modder gesink het, waar is u vriende nou?’ “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitlei. U sal self ook nie ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en die stad afbrand.” Sedekia sê toe vir Jeremia: “Jy moet niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood! My amptenare kan daarvan te hore kom dat ek met jou gepraat het. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy ons nie wil vertel nie, sal ons jou doodmaak.’ As dit so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.” Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom beveel het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Niemand het gehoor wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie. Jeremia het in die wagkwartiere van die paleis gebly tot Jerusalem die dag ingeneem is.