JEREMIA 38:1-28

JEREMIA 38:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja, en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die hele volk sê, toe hy vir hulle gesê het: So sê die Here: Elkeen wat in hierdie stad woon, sal deur oorlog of deur hongersnood of deur pes omkom, maar elkeen wat oorloop na die Galdeërs toe, sal lewe. Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom. Die Here het verder gesê: Hierdie stad sal beslis in die mag van die koning van Babel oorgegee word en hy sal dit inneem. Die koning se amptenare het vir hom gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word, want hy maak die soldate wat nog in die stad oor is en die hele volk moedeloos deur so met hulle te praat. Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.” Toe sê koning Sedekia vir sy amptenare: “Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie.” Hulle vat toe vir Jeremia en gooi hom in die koning se seun Malkija se put in die binneplaas van die paleiswag. Hulle het vir Jeremia met toue laat afsak in die put waarin nie water was nie, net modder, en hy het in die modder ingesak. Maar Ebed-Melek, 'n Kussiet wat ontman was en in die paleis gewerk het, het gehoor dat Jeremia in die put gesit is. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit, en Ebed-Melek het uit die paleis uit na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit die Koning, die mense het die profeet Jeremia sleg behandel: hulle het hom in 'n put gegooi en hy sal daar van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie.” Die koning het toe die Kussiet Ebed-Melek beveel: “Vat drie man van hier af saam en trek die profeet Jeremia op uit die put voordat hy sterf.” Ebed-Melek het toe drie man saamgevat en hy is na die paleis se klerekas toe waar hy stukke klere, vodde, gevat het. Hy het dit na Jeremia toe in die put laat afsak met toue en vir hom gesê: “Sit die stukkende klere, die vodde, onder jou armholtes onder die toue.” Jeremia het dit gedoen en hulle het hom met die toue uit die put getrek. Daarna het hy in die binneplaas van die paleiswag gebly. Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe laat haal. Die koning het by die derde ingang van die huis van die Here gesit en vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra, maar jy moet my die waarheid vertel.” Maar Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim 'n eed afgelê en vir Jeremia gesê: “So seker as die Here leef, Hy wat die lewe aan ons gee, ek sal jou nie doodmaak nie en ek sal jou ook nie uitlewer aan die mense wat jou wil doodmaak nie.” Jeremia het vir Sedekia gesê: “So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: As jy uitgaan na die koning van Babel se offisiere toe, sal jy jou lewe red en hierdie stad sal nie verbrand word nie. Jy en jou familie sal bly lewe. Maar as jy nie na die koning van Babel se offisiere toe uitgaan nie, sal hierdie stad oorgegee word in die mag van die Galdeërs en hulle sal dit verbrand. Dan sal jy nie uit hulle mag vrykom nie.” Koning Sedekia het vir Jeremia geantwoord: “Ek is bang vir ons volksgenote wat na die Galdeërs toe oorgeloop het. Die Galdeërs kan my dalk aan daardie volksgenote uitlewer, en hulle kan my dalk aanrand.” Maar Jeremia het vir die koning gesê: “U sal nie uitgelewer word nie. Luister tog na die woord van die Here soos ek dit vir u meegedeel het. Dan sal dit goed gaan met u, en u lewe sal gespaar bly. Maar as u weier om uit te gaan, dit is wat die Here my laat sien het: al die vrouens wat nog oor is in die koning van Juda se paleis, sal uitgelei word na die koning van Babel se offisiere toe, en hulle sal sê: “ ‘Die koning van Israel se beste vriende het hom mislei, hulle het hom omgepraat; hulle het hom van die wal af in die sloot gehelp en hom toe in die steek gelaat.’ “Al u vrouens en al u seuns sal uitgelei word na die Galdeërs toe en u sal nie uit hulle mag vrykom nie, want u sal deur die koning van Babel self gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word.” Sedekia het vir Jeremia gesê: “Niemand moet van hierdie gesprek weet nie. Dan sal jy nie doodgemaak word nie. As my amptenare uitvind dat ek met jou gepraat het en hulle kom sê vir jou: ‘Vertel vir ons wat jy en die koning gepraat het, moenie iets vir ons wegsteek nie, ons sal jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ moet jy vir hulle sê: Ek het by die koning kom pleit om my nie weer in die huis van Jonatan te sit om daar te sterf nie.” Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom en hom uitgevra, maar hy het vir hulle gesê net soos die koning hom beveel het. Hulle het vir Jeremia toe met rus gelaat, want hulle kon niks uitvind nie. Jeremia het in die binneplaas van die paleiswag gebly totdat Jerusalem ingeneem is.

JEREMIA 38:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Sefatja, seun van Mattan, Gedalja, seun van Pasgur, Jugal, seun van Selemja, en Pasgur, seun van Malkija, het die woorde gehoor wat Jeremia vir die hele volk bly sê het: “So sê die HERE, ‘Wie in hierdie stad bly, sal sterf deur die swaard, hongersnood en epidemie, maar wie uitgaan na die Galdeërs, sal leef; hy sal sy lewe vir homself as buit behou en bly leef;’ ” en ook: “So sê die HERE, ‘Hierdie stad sal beslis oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Babilonië, en hy sal dit inneem.’ ” Die •hoë amptenare sê toe vir die koning: “Hierdie man moet tog doodgemaak word! Op stuk van sake is hy besig om die hande van die krygsmanne wat nog in hierdie stad oor is, en die hande van die hele volk, lam te maak deur hierdie woorde vir hulle te sê. Ja, dié man soek nie vrede vir hierdie volk nie, maar teenspoed.” Daarop het koning Sedekia gesê: “Kyk, hy is in julle hande. Die koning kan immers niks aan julle doen nie.” Hulle het Jeremia gevat en hom laat afsak in die opgaarput wat in die binnehof van die wagte se kwartiere was, wat aan Malkija, seun van die koning, behoort het. Hulle het Jeremia met toue laat afsak. Daar was nie water in die opgaarput nie, maar modder, en Jeremia het in die modder ingesak. Ebed-Meleg, die Kussiet, 'n eunug wat in die paleis was, het gehoor dat hulle Jeremia in die opgaarput geplaas het. Terwyl die koning in die Benjaminpoort sit, het Ebed-Meleg uit die paleis gegaan en vir die koning gaan sê: “My heer die koning, hierdie manne het verkeerd opgetree in alles wat hulle aan die profeet Jeremia gedoen het deurdat hulle hom in die opgaarput laat afsak het. Hy sal, waar hy ook al is, van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie. ” Die koning het Ebed-Meleg, die Kussiet, toe opdrag gegee: “Neem hiervandaan dertig man met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die opgaarput voordat hy sterf!” Ebed-Meleg het die manne met hom saamgeneem en by die paleis na die kelder onder die stoorkamer gegaan. Hy het daaruit vodde van verslete en geskeurde klere geneem en dit met toue laat afsak na Jeremia in die opgaarput. Ebed-Meleg, die Kussiet, het vir Jeremia gesê: “Sit tog die vodde van verslete en geskeurde klere onder jou armholtes, onder die toue in.” Jeremia het toe so gemaak, en hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die opgaarput laat kom. Jeremia het daarna in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly. Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe ontbied by die derde ingang van die huis van die HERE. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek gaan jou iets vra; moet niks vir my wegsteek nie!” Jeremia het egter vir Sedekia gesê: “As ek u inlig, sal u my nie sonder twyfel doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u tog nie na my luister nie!” Koning Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia 'n eed afgelê: “So waar as die HERE leef wat vir ons hierdie lewe moontlik maak: Ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!” Toe sê Jeremia vir Sedekia: “So sê die HERE, die God van alle magte, die God van Israel, ‘As jy wel uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, sal jou lewe behoue bly, en hierdie stad sal nie afgebrand word nie. Jy en jou huisgesin sal leef. Maar as jy nie uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië nie, sal hierdie stad oorgegee word in die hand van die Galdeërs, en hulle sal dit afbrand. En jy, jy sal nie uit hulle hand vrykom nie. ’ ” Toe sê koning Sedekia vir Jeremia: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs oorgeloop het, dat hulle my in hulle hand sal oorgee en dat hulle my sal martel.” Maar Jeremia het gesê: “Hulle sal u nie oorgee nie. Luister asseblief net na die stem van die HERE, na dit wat ek vir u sê! Dan sal dit met u goed gaan; u sal u lewe behou. Maar as u bly weier om uit te gaan, is dít wat die HERE my laat sien het: Kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, word uitgeneem na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, terwyl die vroue sê, “ ‘Jou vertroude vriende het jou mislei en die oorhand oor jou gekry. Toe jou voete weggesink het in die slyk, het hulle teruggetree.’ “Al u vroue en kinders gaan uitgebring word na die Galdeërs, en u self sal nie vrykom uit hulle hand nie, maar deur die koning van Babilonië sal u gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word. ” Daarop sê Sedekia vir Jeremia: “Niemand mag van hierdie gesprek weet nie, anders sterf jy! As die hoë amptenare hoor dat ek met jou gepraat het en by jou kom en vir jou sê, ‘Vertel asseblief vir ons wat jy met die koning gepraat het. Moenie vir ons iets wegsteek nie, dan sal ons jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ dan moet jy vir hulle sê, ‘Ek het my smeekbede voor die koning gelê, dat hy my nie moet laat terugkeer na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ” Al die hoë amptenare het toe na Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het hulle al hierdie woorde meegedeel, net soos die koning hom beveel het. Hulle het hom toe met rus gelaat, want die saak het nie rugbaar geword nie. Jeremia het in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is.

JEREMIA 38:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir al die mense gesê het. Jeremia het gesê: “Die Here sê: Elkeen wat in hierdie stad bly, sal sterf in die oorlog of van honger of van pes. Maar elkeen wat na die Galdeërs toe gaan, sal aanhou lewe. Hy sal niks anders hê nie, maar hy sal lewe. Die Here sê: Ek gee hierdie stad vir die soldate van die koning van Babel. Hulle sal dit oorwin, dit is seker.” Die amptenare het vir die koning gesê: “Asseblief, hierdie man moet sterf, want hy sê hierdie dinge en dit maak die manne moedeloos wat oorgebly het in die stad. Hy maak ook al die ander mense moedeloos. Hy wil nie hê dit moet goed gaan met hierdie mense nie, hy wil hê dit moet sleg gaan.” Koning Sedekia het gesê: “Julle mag met Jeremia doen wat julle wil, ek kan julle nie stop nie.” Toe het die amptenare vir Jeremia gevat en hulle het hom met toue in 'n put laat afsak. Die put het behoort aan Malkihu, die seun van die koning. Daar was nie water in die put nie, daar was modder, en Jeremia het in die modder ingesak. Die Kussiet Ebed-Melek, 'n paleisbediende, het gehoor dat hulle vir Jeremia in die put gesit het. Die koning het in die Benjamin-poort gesit, en Ebed-Melek het uit die paleis gegaan en vir die koning gaan sê: “Meneer die koning, hierdie manne het 'n slegte ding gedoen met Jeremia. Hulle het hom in 'n put gegooi sodat hy daar van honger moet sterf, want daar is nie meer kos in die stad nie.” Toe het die koning vir die Kussiet Ebed-Melek gesê: “Jy moet gaan en jy moet drie manne saam met jou neem. Julle moet vir Jeremia uit die put optrek voordat hy sterf.” Ebed-Melek het die manne saamgeneem en hulle het ou, stukkende klere uit die stoorkamer van die paleis gevat. Hy het dit met toue laat afsak na Jeremia in die put. Hy het vir Jeremia gesê: “Jy moet die lappe onder jou arms sit sodat die toue jou arms nie seermaak nie.” Jeremia het dit gedoen, en hulle het hom met die toue uit die put opgetrek. Hy het in die binneplaas van die wagte gebly. Koning Sedekia het die profeet Jeremia laat haal om na hom toe te kom. Die koning was in die derde ingang na die tempel. Hy het vir Jeremia gesê: “Ek wil vir jou iets vra, en jy moet alles vir my vertel.” Jeremia het vir Sedekia gesê: “As ek alles vir jou vertel, dan sal jy my doodmaak, dit is seker. En as ek vir jou sê wat om te doen, dan sal jy nie na my luister nie.” Koning Sedekia het met Jeremia gepraat waar niemand anders dit kon hoor nie, en hy het vir Jeremia belowe: “So seker soos die Here lewe wat vir ons die lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie, en ek sal jou nie vir die manne gee wat jou wil doodmaak nie.” Toe sê Jeremia vir Sedekia: “Die Here, die God wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: As jy uitgaan na die amptenare van die koning van Babel, dan sal jy aanhou lewe en dan sal hulle nie hierdie stad verbrand nie. Jy en jou huisgesin sal aanhou lewe. Maar as jy nie uitgaan na die amptenare van die koning van Babel nie, dan sal Ek hierdie stad vir die Galdeërs gee, en hulle sal dit verbrand. En jy sal nie kan wegvlug van hulle nie.” Koning Sedekia het vir Jeremia gesê: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs weggeloop het om saam met hulle te veg. Die Galdeërs sal my vir daardie Judeërs gee, en hulle sal my aanval en seermaak.” Jeremia het gesê: “Die Galdeërs sal jou nie vir daardie mense gee nie. Koning Sedekia, jy moet asseblief luister en doen wat die Here sê. Dan sal dit goed gaan met jou en jy sal aanhou lewe. Maar die Here het vir my gewys wat sal gebeur as jy nie wil uitgaan nie: Al die vroue wat oorgebly het in die paleis van die koning van Juda, sal uitgaan na die amptenare van die koning van Babel en hulle sal sê: “ ‘Jou vriende het jou bedrieg, hulle het jou verkeerd laat besluit, nou sal jou voete wegsak in die modder, en jou vriende het gevlug.’ “Al jou vroue en jou seuns sal moet uitgaan na die Galdeërs toe, en jy sal ook nie vry kan wegkom nie. Ja, hulle sal jou vang en vir die koning van Babel gee, en hulle sal hierdie stad verbrand.” Sedekia het vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand sê wat ons gepraat het nie, dan sal jy nie sterf nie. As die amptenare hoor dat ek met jou gepraat het, dan sal hulle na jou toe kom en hulle sal vir jou sê: ‘Vertel asseblief vir ons wat jy vir die koning gesê het. Jy moet alles vir ons vertel, dan sal ons jou nie doodmaak nie.’ Hulle sal ook vir jou vra wat die koning vir jou gesê het. Dan moet jy vir hulle sê: ‘Ek het vir die koning kom soebat dat hy my nie moet terugstuur na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ” Al die amptenare het toe na Jeremia toe gekom en vir hom gevra wat hulle gepraat het. Hy het hulle geantwoord soos die koning gesê het, en hulle het hom gelos, want niemand het gehoor wat hy en die koning gepraat het nie. Jeremia het in die binneplaas van die wagte gebly tot die dag toe die Galdeërs Jerusalem oorwin het.

JEREMIA 38:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE Sefátja, die seun van Mattan, en Gedálja, die seun van Pashur, en Jugal, die seun van Selémja, en Pashur, die seun van Malkía, die woorde hoor waarmee Jeremia die hele volk bly toespreek het, naamlik: So spreek die HERE: Wie in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood of die pes, maar wie na die Chaldeërs uitgaan, sal lewe, en sy siel sal vir hom 'n buit wees, en hy sal lewe. So spreek die HERE: Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die mag van die leër van die koning van Babel, en hy sal dit inneem. Toe het die vorste aan die koning gesê: Laat hierdie man tog gedood word, want so maak hy die hande van die krygsmanne slap wat in hierdie stad nog oor is en die hande van die hele volk deur sulke woorde tot hulle te spreek; want dié man soek nie die vrede van hierdie volk nie, maar die onheil. En koning Sedekía het gesê: Kyk, hy is in julle mag, want die koning kan niks teen julle doen nie. Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkía, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak. En toe Ebed-Meleg, die Kusiet, 'n hofdienaar wat in die paleis van die koning was, hoor dat hulle Jeremia in die put gegooi het — die koning het toe in die Benjaminspoort gesit — het Ebed-Meleg uit die paleis van die koning gegaan en met die koning gespreek en gesê: My heer die koning, hierdie manne het verkeerd gehandel in alles wat hulle die profeet Jeremia aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het; hy sal tog sterwe van honger op die plek waar hy is; want daar is geen brood meer in die stad nie. Toe gee die koning aan Ebed-Meleg, die Kusiet, bevel en sê: Neem hiervandaan dertig manne met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die put op voordat hy sterwe. Daarop het Ebed-Meleg die manne met hom saamgeneem en ingegaan in die paleis van die koning onder die voorraadkamer en daarvandaan verslyte en geskeurde lappe geneem wat hy na Jeremia in die put met toue laat afsak het. En Ebed-Meleg, die Kusiet, het vir Jeremia gesê: Sit tog die verslyte en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue; en Jeremia het so gedoen. En hulle het Jeremia aan die toue opgetrek en hom uit die put uitgehaal. En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly. Toe stuur koning Sedekía en hy laat die profeet Jeremia na hom bring in die derde ingang wat by die huis van die HERE was; en die koning het vir Jeremia gesê: Ek wil jou iets vra; steek vir my niks weg nie. Maar Jeremia het Sedekía geantwoord: As ek u dit te kenne gee, sal u my nie sekerlik doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u na my nie luister nie. Toe sweer koning Sedekía vir Jeremia in die geheim en sê: So waar as die HERE leef wat aan ons hierdie lewe verleen het — ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie! Daarop sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: As u vrywillig uitgaan na die vorste van die koning van Babel, sal u siel lewe en sal hierdie stad nie met vuur verbrand word nie; en u sal lewe, u en u huis. Maar as u nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee word, en hulle sal dit met vuur verbrand; en u self sal uit hulle hand nie vryraak nie. Toe sê koning Sedekía vir Jeremia: Ek is bevrees dat hulle my in die hand van die Jode wat na die Chaldeërs oorgeloop het, sal oorgee en dat dié met my die spot sal drywe. Maar Jeremia antwoord: Hulle sal u nie oorgee nie. Luister tog na die stem van die HERE in wat ek aan u sê; dan sal dit goed met u gaan en u siel sal lewe. Maar as u weier om uit te gaan — dit is die woord wat die HERE my laat sien het: Kyk, al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda oorgebly het, is uitgelei na die vorste van die koning van Babel, terwyl hulle gesê het: Die manne met wie u vriendskap gehou het, het u verlei en u oorweldig; toe u voete in die modder ingesak het, het hulle agteruitgewyk. Hulle sal dan al u vroue en u kinders na die Chaldeërs uitlei; ook sal u self uit hulle hand nie vryraak nie; maar u sal deur die hand van die koning van Babel gevang word, en hierdie stad sal met vuur verbrand word. Toe sê Sedekía vir Jeremia: Laat niemand van hierdie woorde weet nie, dat jy nie sterwe nie. En as die vorste hoor dat ek met jou gespreek het en by jou kom en aan jou sê: Vertel ons tog wat jy met die koning gespreek het; steek dit nie vir ons weg nie, en ons sal jou nie doodmaak nie; en wat het die koning met jou gespreek? — dan moet jy hulle antwoord: Ek het my smeking eerbiedig voor die koning gebring, dat hy my nie moet laat terugbring in die huis van Jónatan, om daar te sterwe nie. Toe het al die vorste by Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het aan hulle mededeling gedoen volgens al hierdie woorde wat die koning hom beveel het. Toe het hulle hom met rus gelaat; want die saak het nie bekend geword nie. EN Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is. En toe Jerusalem ingeneem is

JEREMIA 38:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja, en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die hele volk sê, toe hy vir hulle gesê het: So sê die Here: Elkeen wat in hierdie stad woon, sal deur oorlog of deur hongersnood of deur pes omkom, maar elkeen wat oorloop na die Galdeërs toe, sal lewe. Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom. Die Here het verder gesê: Hierdie stad sal beslis in die mag van die koning van Babel oorgegee word en hy sal dit inneem. Die koning se amptenare het vir hom gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word, want hy maak die soldate wat nog in die stad oor is en die hele volk moedeloos deur so met hulle te praat. Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.” Toe sê koning Sedekia vir sy amptenare: “Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie.” Hulle vat toe vir Jeremia en gooi hom in die koning se seun Malkija se put in die binneplaas van die paleiswag. Hulle het vir Jeremia met toue laat afsak in die put waarin nie water was nie, net modder, en hy het in die modder ingesak. Maar Ebed-Melek, 'n Kussiet wat ontman was en in die paleis gewerk het, het gehoor dat Jeremia in die put gesit is. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit, en Ebed-Melek het uit die paleis uit na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit die Koning, die mense het die profeet Jeremia sleg behandel: hulle het hom in 'n put gegooi en hy sal daar van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie.” Die koning het toe die Kussiet Ebed-Melek beveel: “Vat drie man van hier af saam en trek die profeet Jeremia op uit die put voordat hy sterf.” Ebed-Melek het toe drie man saamgevat en hy is na die paleis se klerekas toe waar hy stukke klere, vodde, gevat het. Hy het dit na Jeremia toe in die put laat afsak met toue en vir hom gesê: “Sit die stukkende klere, die vodde, onder jou armholtes onder die toue.” Jeremia het dit gedoen en hulle het hom met die toue uit die put getrek. Daarna het hy in die binneplaas van die paleiswag gebly. Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe laat haal. Die koning het by die derde ingang van die huis van die Here gesit en vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra, maar jy moet my die waarheid vertel.” Maar Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim 'n eed afgelê en vir Jeremia gesê: “So seker as die Here leef, Hy wat die lewe aan ons gee, ek sal jou nie doodmaak nie en ek sal jou ook nie uitlewer aan die mense wat jou wil doodmaak nie.” Jeremia het vir Sedekia gesê: “So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: As jy uitgaan na die koning van Babel se offisiere toe, sal jy jou lewe red en hierdie stad sal nie verbrand word nie. Jy en jou familie sal bly lewe. Maar as jy nie na die koning van Babel se offisiere toe uitgaan nie, sal hierdie stad oorgegee word in die mag van die Galdeërs en hulle sal dit verbrand. Dan sal jy nie uit hulle mag vrykom nie.” Koning Sedekia het vir Jeremia geantwoord: “Ek is bang vir ons volksgenote wat na die Galdeërs toe oorgeloop het. Die Galdeërs kan my dalk aan daardie volksgenote uitlewer, en hulle kan my dalk aanrand.” Maar Jeremia het vir die koning gesê: “U sal nie uitgelewer word nie. Luister tog na die woord van die Here soos ek dit vir u meegedeel het. Dan sal dit goed gaan met u, en u lewe sal gespaar bly. Maar as u weier om uit te gaan, dit is wat die Here my laat sien het: al die vrouens wat nog oor is in die koning van Juda se paleis, sal uitgelei word na die koning van Babel se offisiere toe, en hulle sal sê: “ ‘Die koning van Israel se beste vriende het hom mislei, hulle het hom omgepraat; hulle het hom van die wal af in die sloot gehelp en hom toe in die steek gelaat.’ “Al u vrouens en al u seuns sal uitgelei word na die Galdeërs toe en u sal nie uit hulle mag vrykom nie, want u sal deur die koning van Babel self gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word.” Sedekia het vir Jeremia gesê: “Niemand moet van hierdie gesprek weet nie. Dan sal jy nie doodgemaak word nie. As my amptenare uitvind dat ek met jou gepraat het en hulle kom sê vir jou: ‘Vertel vir ons wat jy en die koning gepraat het, moenie iets vir ons wegsteek nie, ons sal jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ moet jy vir hulle sê: Ek het by die koning kom pleit om my nie weer in die huis van Jonatan te sit om daar te sterf nie.” Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom en hom uitgevra, maar hy het vir hulle gesê net soos die koning hom beveel het. Hulle het vir Jeremia toe met rus gelaat, want hulle kon niks uitvind nie. Jeremia het in die binneplaas van die paleiswag gebly totdat Jerusalem ingeneem is.

JEREMIA 38:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Sefatja, seun van Mattan, Gedalja, seun van Pasgur, Jugal, seun van Selemja, en Pasgur, seun van Malkija, het die woorde gehoor wat Jeremia vir die hele volk bly sê het: “So sê die HERE, ‘Wie in hierdie stad bly, sal sterf deur die swaard, hongersnood en epidemie, maar wie uitgaan na die Galdeërs, sal leef; hy sal sy lewe vir homself as buit behou en bly leef;’ ” en ook: “So sê die HERE, ‘Hierdie stad sal beslis oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Babilonië, en hy sal dit inneem.’ ” Die •hoë amptenare sê toe vir die koning: “Hierdie man moet tog doodgemaak word! Op stuk van sake is hy besig om die hande van die krygsmanne wat nog in hierdie stad oor is, en die hande van die hele volk, lam te maak deur hierdie woorde vir hulle te sê. Ja, dié man soek nie vrede vir hierdie volk nie, maar teenspoed.” Daarop het koning Sedekia gesê: “Kyk, hy is in julle hande. Die koning kan immers niks aan julle doen nie.” Hulle het Jeremia gevat en hom laat afsak in die opgaarput wat in die binnehof van die wagte se kwartiere was, wat aan Malkija, seun van die koning, behoort het. Hulle het Jeremia met toue laat afsak. Daar was nie water in die opgaarput nie, maar modder, en Jeremia het in die modder ingesak. Ebed-Meleg, die Kussiet, 'n eunug wat in die paleis was, het gehoor dat hulle Jeremia in die opgaarput geplaas het. Terwyl die koning in die Benjaminpoort sit, het Ebed-Meleg uit die paleis gegaan en vir die koning gaan sê: “My heer die koning, hierdie manne het verkeerd opgetree in alles wat hulle aan die profeet Jeremia gedoen het deurdat hulle hom in die opgaarput laat afsak het. Hy sal, waar hy ook al is, van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie. ” Die koning het Ebed-Meleg, die Kussiet, toe opdrag gegee: “Neem hiervandaan dertig man met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die opgaarput voordat hy sterf!” Ebed-Meleg het die manne met hom saamgeneem en by die paleis na die kelder onder die stoorkamer gegaan. Hy het daaruit vodde van verslete en geskeurde klere geneem en dit met toue laat afsak na Jeremia in die opgaarput. Ebed-Meleg, die Kussiet, het vir Jeremia gesê: “Sit tog die vodde van verslete en geskeurde klere onder jou armholtes, onder die toue in.” Jeremia het toe so gemaak, en hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die opgaarput laat kom. Jeremia het daarna in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly. Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe ontbied by die derde ingang van die huis van die HERE. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek gaan jou iets vra; moet niks vir my wegsteek nie!” Jeremia het egter vir Sedekia gesê: “As ek u inlig, sal u my nie sonder twyfel doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u tog nie na my luister nie!” Koning Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia 'n eed afgelê: “So waar as die HERE leef wat vir ons hierdie lewe moontlik maak: Ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!” Toe sê Jeremia vir Sedekia: “So sê die HERE, die God van alle magte, die God van Israel, ‘As jy wel uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, sal jou lewe behoue bly, en hierdie stad sal nie afgebrand word nie. Jy en jou huisgesin sal leef. Maar as jy nie uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië nie, sal hierdie stad oorgegee word in die hand van die Galdeërs, en hulle sal dit afbrand. En jy, jy sal nie uit hulle hand vrykom nie. ’ ” Toe sê koning Sedekia vir Jeremia: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs oorgeloop het, dat hulle my in hulle hand sal oorgee en dat hulle my sal martel.” Maar Jeremia het gesê: “Hulle sal u nie oorgee nie. Luister asseblief net na die stem van die HERE, na dit wat ek vir u sê! Dan sal dit met u goed gaan; u sal u lewe behou. Maar as u bly weier om uit te gaan, is dít wat die HERE my laat sien het: Kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, word uitgeneem na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, terwyl die vroue sê, “ ‘Jou vertroude vriende het jou mislei en die oorhand oor jou gekry. Toe jou voete weggesink het in die slyk, het hulle teruggetree.’ “Al u vroue en kinders gaan uitgebring word na die Galdeërs, en u self sal nie vrykom uit hulle hand nie, maar deur die koning van Babilonië sal u gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word. ” Daarop sê Sedekia vir Jeremia: “Niemand mag van hierdie gesprek weet nie, anders sterf jy! As die hoë amptenare hoor dat ek met jou gepraat het en by jou kom en vir jou sê, ‘Vertel asseblief vir ons wat jy met die koning gepraat het. Moenie vir ons iets wegsteek nie, dan sal ons jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ dan moet jy vir hulle sê, ‘Ek het my smeekbede voor die koning gelê, dat hy my nie moet laat terugkeer na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ” Al die hoë amptenare het toe na Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het hulle al hierdie woorde meegedeel, net soos die koning hom beveel het. Hulle het hom toe met rus gelaat, want die saak het nie rugbaar geword nie. Jeremia het in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is.

JEREMIA 38:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Sefatja, die seun van Mattan, en Gedalja, die seun van Pashur, en Jukal, die seun van Selemja, en Pashur, die seun van Malkía, die woorde gehoor wat Jeremia met die hele volk gespreek het en gesê het: So sê die HERE: Hy wat in hierdie stad oorbly, sal deur die swaard, deur die hongersnood en deur die pes sterwe; maar hy wat na die Chaldeërs uittrek, sal lewe; want hy sal sy lewe as 'n buit hê en sal lewe. So sê die HERE: Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Babel, wat dit sal inneem. Daarom het die vorste vir die koning gesê: Ons smeek u, laat hierdie man gedood word, want so verswak hy die hande van die krygsmanne wat in hierdie stad oorbly, en die hande van die hele volk, deur sulke woorde te spreek tot want hierdie man soek nie die welsyn van hierdie volk nie, maar die seerkry. Toe sê koning Sedekía: Kyk, hy is in jou hand, want dit is nie die koning wat iets teen jou kan doen nie. Toe het hulle Jeremia geneem en hom in die put van Malkía, die seun van Hammeleg, wat in die voorhof van die gevangenis was, gegooi; en hulle het Jeremia met toue laat sak. En in die put was daar geen water nie, maar modder; daarom het Jeremia in die modder gesink. En toe Ebed-Meleg, die Kusiet, een van die eunugs wat in die huis van die koning was, hoor dat hulle Jeremia in die put gesit het; die koning het toe in die poort van Benjamin gesit; Ebed-Meleg het uit die koning se huis uitgegaan en met die koning gespreek en gesê: My heer die koning, hierdie manne het kwaad gedoen in alles wat hulle aan die profeet Jeremia gedoen het, wat hulle in die put gegooi het; en hy is soos om te sterf van die honger op die plek waar hy is, want daar is geen brood meer in die stad nie. Toe het die koning vir Ebed-Meleg, die Kusiet, bevel gegee en gesê: Neem van hier af dertig man saam met jou en haal die profeet Jeremia uit die put op voordat hy sterf. Daarop het Ebed-Meleg die manne saamgeneem en in die huis van die koning onder die skatkis ingegaan en ou gegote kolle en ou vrot lappe daarvandaan geneem en dit met toue in die put na Jeremia laat afsak. En Ebed-Meleg, die Kusiet, sê vir Jeremia: Sit tog hierdie ou gegote lappe en vrot lappe onder jou armsgate onder die toue. En Jeremia het so gedoen. Hulle het toe vir Jeremia met toue opgetrek en hom uit die put opgeneem, en Jeremia het in die voorhof van die gevangenis gebly. Toe het koning Sedekía gestuur en die profeet Jeremia na hom geneem in die derde ingang wat in die huis van die HERE is; en die koning het vir Jeremia gesê: Ek sal jou iets vra; steek niks vir my weg nie. Toe sê Jeremia vir Sedekía: As ek dit aan jou verkondig, sal jy my dan nie sekerlik doodmaak nie? en as ek jou raad gee, sal jy nie na my luister nie? Toe het koning Sedekia vir Jeremia in die geheim gesweer en gesê: So waar as die HERE leef wat hierdie siel vir ons gemaak het, ek sal jou nie doodmaak nie, en ek sal jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie. Toe sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel; As jy sekerlik uitgaan na die vorste van die koning van Babel, dan sal jou siel lewe, en hierdie stad sal nie met vuur verbrand word nie; en jy sal lewe en jou huis. Maar as jy nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, dan sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs gegee word, en hulle sal dit met vuur verbrand, en jy sal nie uit hulle hand ontvlug nie. Toe sê koning Sedekía vir Jeremia: Ek is bevrees vir die Jode wat vir die Chaldeërs geval het, dat hulle my nie in hulle hand oorgee en met my spot nie. Maar Jeremia sê: Hulle sal jou nie red nie. Luister tog na die stem van die HERE wat ek met jou spreek; so sal dit met jou goed gaan en jou siel lewe. Maar as jy weier om uit te gaan, dit is die woord wat die HERE my laat sien het: En kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, sal na die vorste van die koning van Babel gebring word, en daardie vroue sal sê: Jou vriende het jou aangepak en jou oorwin; jou voete het gesink in die modder, en hulle het teruggedraai. Daarom sal hulle al jou vroue en jou kinders na die Chaldeërs uitbring; en jy sal nie uit hulle hand ontvlug nie, maar deur die hand van die koning van Babel gegryp word; en jy moet hierdie stad met vuur verbrand. Toe sê Sedekia vir Jeremia: Laat niemand van hierdie woorde weet nie, en jy sal nie sterwe nie. Maar as die vorste hoor dat ek met jou gespreek het, en hulle na jou toe kom en vir jou sê: Verklaar nou vir ons wat jy aan die koning gesê het, steek dit nie vir ons weg nie, en ons sal jou nie doodmaak nie; ook wat die koning vir jou gesê het: Dan moet jy vir hulle sê: Ek het my smeking voor die koning gebring, dat hy my nie sou laat teruggaan na die huis van Jónatan om daar te sterf nie. Toe het al die vorste na Jeremia gekom en hom gevra, en hy het hulle vertel volgens al hierdie woorde wat die koning beveel het. En hulle het opgehou om met hom te spreek; want die saak is nie raakgesien nie. Jeremia het toe in die voorhof van die gevangenis gebly tot die dag toe Jerusalem ingeneem is, en hy was daar toe Jerusalem ingeneem is.

JEREMIA 38:1-28 Die Boodskap (DB)

Toe Jeremia op ’n keer met die mense gepraat het, het van die amptenare die dinge gehoor wat hy gesê het. Hierdie amptenare was Sefatja die seun van Mattan, Gedalja die seun van Pasgur, Jukal die seun van Selemja en Pasgur die seun van Malkija. Jeremia het gesê: “Die Here sê: As mense in Jerusalem wil agterbly, sal hulle doodgaan as gevolg van die oorlog, of van honger, of van epidemies. Maar as die mense hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal hulle bly lewe. Ek, die Here, sê: Julle kan seker weet dat Jerusalem in die mag van die koning van Babel sal beland. Hy sal die stad inneem.” Die amptenare het vir die koning gesê: “Koning, Jeremia moet doodgemaak word. Hy het ’n slegte invloed op die soldate wat nog in die stad oor is. Die goed wat hy sê, breek die soldate se moed. Maar nie net die soldate s’n nie, ook dié van die gewone mense. Hierdie man se bedoelings is nie goed nie, hy doen net skade aan die mense.” Koning Sedekia het toegegee en gesê: “Dit is reg so, hy is in julle hande. Ek sal niks doen om julle te keer nie.” Die amptenare het toe vir Jeremia gevat en in ’n leë put laat afsak. Hulle het toue gebruik om hom te laat afsak. Die put was in die gedeelte van die paleis waar die wagte gebly het. Dit het aan Malkija behoort. Hy was deel van die koning se familie. Daar was nie water onder in die put nie, net modder. Jeremia het in hierdie modder ingesink. ’n Baie belangrike amptenaar in die paleis met die naam Ebed-Melek het gehoor dat Jeremia in die put was. Ebed-Melek het uit Afrika gekom. In daardie stadium het die koning in die Benjaminhek gesit. Ebed-Melek het van die paleis af na die hek waar die koning was, gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit, hierdie mans het ’n verskriklike ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal van die honger doodgaan. Omtrent al die brood in die stad is op.” Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 van my mense saam met jou en trek Jeremia uit die put uit op voordat hy doodgaan.” Ebed-Melek het toe van die mense na die paleis toe saamgevat. Hy het lappe uit die pakkamer gaan haal. Hy het ook ou klere daar gekry. Hy het hierdie lappe en ou klere na die put toe gevat en dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak. Hy het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat ons jou nie seermaak wanneer ons jou optrek nie.” Jeremia het toe so gemaak. Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis gebly, in die gedeelte waar die wagte gebly het. Op ’n dag het koning Sedekia Jeremia laat haal. Hulle het mekaar toe by die derde ingang van die tempel gekry. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.” Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia belowe: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorgee aan die mense wat jou dood wil sien nie.” Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: As u u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Die stad sal dan ook nie verbrand word nie. Maar as u nie wil oorgee nie, is daar geen kans vir u om weg te kom nie. Jerusalem sal in die hande van die Babiloniërs val. Hulle sal die stad aan die brand steek.” Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs gee my dalk oor aan die Jode wat reeds na hulle toe oorgeloop het. Hulle sal my mishandel.” Jeremia het geantwoord: “Hulle sal u nie oorgee nie. As u doen wat ek sê, sal u aan die Here gehoorsaam wees. Dit sal dan met u goed gaan. U lewe sal gespaar word. Die Here het vir my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee: Al die vroue wat nog in die paleis oor is, sal uitgebring word na die offisiere van die Babiloniese koning. Hulle sal sê: ‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat. Hulle het u mislei. Noudat u in die moeilikheid beland het, waar is u vriende nou?’ “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitbring. U self sal ook nie kan ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en hierdie stad afbrand.” Sedekia het toe vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood! My amptenare mag nie hoor dat ek met jou gepraat het nie. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy nie vir ons wil sê nie, sal ons jou doodmaak.’ Jeremia, as dit wel so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.” Soos verwag, was dit nie lank nie of die amptenare het by Jeremia uitgekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom gevra het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Daar was niemand van hulle wat gehoor het wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie. Jeremia het in die wagte se gedeelte van die paleis gebly totdat Jerusalem die dag ingeneem is.

JEREMIA 38:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die mense gesê het: “Die HERE sê: ‘Mense wat in hierdie stad agterbly, sal as gevolg van die oorlog, hongersnood of siektes sterf. Maar as mense hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal hulle met hulle lewe daarvan afkom.’ Ek, die HERE sê verder: ‘Julle kan verseker weet dat hierdie stad in die mag van die koning van Babel sal val. Hy sal die stad inneem.’” Die amptenare het vir die koning gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word! Die dinge wat hy sê, breek die moed van die soldate wat nog in die stad oor is asook van die gewone mense. Hierdie man se bedoelings is nie goed nie. Hy is ’n verraaier.” Koning Sedekia het toegegee en gesê: “Dit is reg so, hy is in julle hande. Ek sal niks doen om julle te keer nie.” Hulle het Jeremia toe gevat en hom in die put van Malkija seun van die koning gegooi. Die put was in die gedeelte van die paleis waar die wagte gebly het. Hulle het toue gebruik om Jeremia te laat afsak. Daar was nie water onder in die put nie, net modder. Jeremia het in die modder weggesink. ’n Baie belangrike amptenaar in die koning se paleis, Ebed-Melek die Etiopiër, het gehoor dat Jeremia in die put was. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit. Ebed-Melek het van die paleis af na die koning gegaan en vir hom gesê: “Meneer die koning, hierdie mans het ’n verkeerde ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal gou van honger doodgaan, want omtrent al die brood in die stad is op.” 586 vC. Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 mense saam met jou en trek Jeremia uit die put op voordat hy doodgaan.” Ebed-Melek het toe die manne saam met hom geneem na ’n pakkamer onder die stoorkamer van die paleis. Hulle het lappe en ou klere daar gevind, wat hulle na die put toe geneem het. Hulle het dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak. Ebed-Melek die Etiopiër het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat die toue jou nie seermaak nie.” Jeremia het toe so gemaak. Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis se gevangenis gebly. Op ’n dag het koning Sedekia die profeet Jeremia laat haal. Hulle het mekaar by die derde ingang van die tempel ontmoet. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou ’n vraag vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.” Jeremia het Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia gesweer: “So seker as die HERE leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorlewer aan die mense wat jou dood wil sien nie.” Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: As u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Hulle sal dan ook nie die stad met vuur verbrand nie. Maar as u weier om oor te gee aan die offisiere van die Babiloniese koning, sal u nie ontsnap nie! Die stad sal in die mag van die Babiloniërs val en hulle sal dit aan die brand steek.” Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs lewer my uit aan die Judeërs wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. En wat sal hulle dan aan my doen?” Jeremia het geantwoord: “U sal nie aan hulle uitgelewer word nie. Wees gehoorsaam aan die HERE en doen wat ek sê. Dit sal dan met u goed gaan en hulle sal u lewe spaar. Die HERE het my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee: Hulle sal al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda agtergebly het, vir die offisiere van die Babiloniese koning gee. En hulle sal u dan spot: “‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat! Hulle het u mislei. Noudat u voete in die modder gesink het, waar is u vriende nou?’ “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitlei. U sal self ook nie ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en die stad afbrand.” Sedekia sê toe vir Jeremia: “Jy moet niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood! My amptenare kan daarvan te hore kom dat ek met jou gepraat het. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy ons nie wil vertel nie, sal ons jou doodmaak.’ As dit so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.” Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom beveel het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Niemand het gehoor wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie. Jeremia het in die wagkwartiere van die paleis gebly tot Jerusalem die dag ingeneem is.