JEREMIA 31:32-33 - Compare All Versions
JEREMIA 31:32-33 ABA (Bybel vir almal)
Hierdie verbond sal nie wees soos die verbond wat Ek gemaak het met hulle voorvaders nie. Ek het hulle hande gevat om hulle uit die land Egipte te bring. Hulle het my verbond gebreek, maar hulle behoort nog aan My.” Die Here sê: “Die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees: Ek sal my wette op hulle harte skryf sodat dit binne-in hulle sal wees. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.
JEREMIA 31:32-33 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
JEREMIA 31:32-33 AFR83 (Afrikaans 1983)
Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.
JEREMIA 31:32-33 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die HERE. “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die HERE: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
JEREMIA 31:32-33 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; wat hulle my verbond verbreek het, al was Ek vir hulle 'n man, spreek die HERE. Maar dit sal die verbond wees wat Ek met die huis van Israel sal sluit; Ná dié dae, spreek die HERE, sal Ek my wet in hulle binneste gee en dit in hulle hart skrywe; en hulle sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
JEREMIA 31:32-33 DB (Die Boodskap)
Hierdie ooreenkoms sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het die ooreenkoms tussen ons verbreek. Dit het nie eens vir hulle saak gemaak dat Ek hulle liefgehad het soos ’n man sy vrou liefhet nie. Maar so sal die nuwe ooreenkoms lyk wat Ek later met Israel sal maak: Ek sal dit wat Ek van hulle verwag, in hulle gedagtes plant. Hulle sal in hulle hart weet wat Ek van hulle verwag. Dan sal Ek hulle God wees en hulle sal my eie mense wees.
JEREMIA 31:32-33 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die HERE. “Maar so sal die nuwe verbond wees wat Ek na hierdie tyd met Israel sal sluit,” sê die HERE. “Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.