JEREMIA 26:20-23 - Compare All Versions

JEREMIA 26:20-23 AFR83 (Afrikaans 1983)

Daar was nog iemand wat in die Naam van die Here as profeet opgetree het, Urija seun van Semaja uit Kirjat-Jearim. Hy het as profeet opgetree teen hierdie stad en teen hierdie land en dieselfde dinge as Jeremia gesê. Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat Urija sê, wou die koning hom doodmaak, maar Urija het dit te hore gekom en bang geword en Egipte toe gevlug. Koning Jojakim het toe vir Elnatan seun van Akbor en die manskappe by hom na Egipte toe gestuur, en hulle het vir Urija in Egipte gaan haal en na koning Jojakim toe gebring. Hy het toe vir Urija met 'n swaard om die lewe gebring en sy lyk in die plek gegooi waar die gewone mense begrawe is.

JEREMIA 26:20-23 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En daar was ook 'n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uría, die seun van Semája, van Kirjat-Jeárim; en hy het geprofeteer teen hierdie stad en teen hierdie land ooreenkomstig al die woorde van Jeremia. Maar toe koning Jójakim en al sy helde en al die vorste sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uría het dit gehoor en bevrees geword en gevlug en in Egipte gekom. Toe stuur koning Jójakim manne na Egipte, Élnatan, die seun van Akbor, en manne saam met hom, na Egipte toe. Dié het Uría uit Egipte weggevoer en hom by die koning Jójakim gebring; en hy het hom met die swaard verslaan en sy lyk op die grafte van die gewone mense gegooi.

JEREMIA 26:20-23 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

In dié tyd was daar ook ’n ander persoon wat namens die HERE geprofeteer het. Sy naam was Urija seun van Semaja, afkomstig uit Kirjat-Jearim. Sy boodskappe was ook teen hierdie stad en hierdie land, soortgelyk aan Jeremia se boodskappe. Toe koning Jojakim, van die offisiere van sy leër en van die leiers van Juda hoor wat hy sê, het die koning iemand gestuur om hom dood te maak. Maar toe Urija van die sameswering teen hom hoor, was hy baie bang. Hy het na Egipte toe gevlug. Toe het koning Jojakim Elnatan seun van Akbor saam met ’n paar ander mense Egipte toe gestuur. Hulle het Urija in Egipte gevang en na koning Jojakim toe teruggebring. Die koning het Urija laat teregstel en hom in ’n ongemerkte graf begrawe.

JEREMIA 26:20-23 DB (Die Boodskap)

In dié tyd was daar ook ’n ander man wat namens die Here boodskappe oorgedra het. Sy naam was Urija en hy was ’n seun van Semaja. Hy het van die dorp Kirjat-Jearim af gekom. Sy boodskappe was ook teen Jerusalem en hierdie land. Hy het baie dieselfde dinge as Jeremia gesê. Toe koning Jojakim, van die offisiere van sy leër en van die leiers van Juda hoor wat Urija te sê gehad het, het die koning iemand gestuur om hom dood te maak. Maar toe Urija van die sameswering teen hom hoor, was hy baie bang. Hy het toe Egipte toe gevlug. Maar koning Jojakim het Elnatan, wat ’n seun van Akbor was, Egipte toe gestuur. ’n Paar ander mense het saam met Elnatan gegaan om Urija te gaan aankeer. Hulle het hom in Egipte gevang en na koning Jojakim toe teruggebring. Die koning het Urija met ’n swaard laat doodmaak. Daarna het hy hom tussen die gewone mense begrawe.

JEREMIA 26:20-23 ABA (Bybel vir almal)

Maar daar was nog 'n man wat 'n boodskap van die Here gebring het. Dit was Urija seun van Semaja van die stad Kirjat-Jearim. Hy het soos Jeremia dieselfde dinge gesê teen hierdie stad en hierdie land. Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat hy sê, wou die koning hom doodmaak. Urija het dit gehoor en hy het bang geword en na Egipte gevlug. Maar koning Jojakim het vir Elnatan seun van Akbor en ander manne saam met hom na Egipte gestuur. Hulle het Urija uit Egipte gebring en hulle het hom na koning Jojakim geneem. Die koning het toe vir Urija doodgemaak en hy het Urija se liggaam in die graf van die gewone mense gegooi.

JEREMIA 26:20-23 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daar was ook 'n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uria, seun van Semaja, uit Kirjat-Jearim. Hy het teen hierdie stad en teen hierdie land profesieë uitgespreek wat ooreenkom met al die woorde van Jeremia. Toe koning Jojakim en al sy keurtroepe en die •aanvoerders sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uria het dit te hore gekom, bang geword, gevlug en in Egipte aangekom. Koning Jojakim het toe manne na Egipte gestuur; hy het Elnatan, seun van Agbor, en ander manne saam met hom, na Egipte gestuur. Hulle het Uria uit Egipte geneem en hom na koning Jojakim gebring. Dié het hom met die swaard neergevel en sy lyk in die begraafplek van gewone mense gegooi.

JEREMIA 26:20-23 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En daar was ook 'n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uria, die seun van Semaja, uit Kirjat-Jeárim, wat teen hierdie stad en teen hierdie land geprofeteer het volgens al die woorde van Jeremia. En toe koning Jójakim met al sy helde en al die vorste sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak; maar toe Uría dit hoor, het hy bang geword en gevlug en na Egipte gegaan; En koning Jójakim het manne na Egipte gestuur, naamlik Elnatan, die seun van Akbor, en sekere manne saam met hom na Egipte. En hulle het Uría uit Egipte gebring en hom na koning Jójakim gebring; wat hom met die swaard gedood het en sy lyk in die grafte van die gewone mense gegooi het.