JEREMIA 25:5-7 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JEREMIA 25:5-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
Hy het gesê: Julle moet julle bekeer van julle slegte lewe en van julle verkeerde dade. Dan sal julle bly woon in die land wat die Here lank gelede al vir altyd aan julle en julle voorvaders gegee het. Julle mag nie ander gode aanhang, dien en vereer nie. Julle mag My nie tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het nie, want dan sal Ek rampe oor julle bring. Maar julle het nie na My geluister nie, sê die Here. Julle het My bly tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het, en so het julle 'n ramp oor julleself gebring.
JEREMIA 25:5-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu; en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie. Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE — om My te terg met die werk van julle hande, julle tot skade.
JEREMIA 25:5-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die boodskap was: ‘Julle is op ’n verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het. Moenie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle maak My baie kwaad wanneer julle buig voor gode wat julle met julle eie hande gemaak het. As julle dit staak, sal Ek geen kwaad aan julle doen nie.’ “Maar julle het nie na My geluister nie,” sê die HERE. “Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle gemaak het. So het julle julleself skade aangedoen.
JEREMIA 25:5-7 DB (Die Boodskap)
Die boodskap was duidelik: Julle is op die verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het. Maar julle moenie agter ander gode aanloop nie. Moet hulle ook nie dien of voor hulle buig nie. Julle maak My baie kwaad as julle dit doen, want julle het hierdie gode met julle eie hande gemaak. As julle hierdie gode nie so vereer nie, sal Ek niks slegs aan julle doen nie. “Maar julle het nie na My geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle aanbid het. So het julle vir julleself moeilikheid gemaak.”
JEREMIA 25:5-7 ABA (Bybel vir almal)
Die Here het gesê: ‘Julle moet asseblief terugkom na My toe. Julle moet ophou om sleg te lewe en verkeerde dinge te doen. Dan sal julle altyd woon in die land wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het. Julle moenie ander gode dien en aanbid nie. Julle moenie vir My kwaad maak met beelde wat julle self gemaak het nie. As julle gehoorsaam is, dan sal Ek julle nie laat swaarkry nie. Maar julle het nie geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle self gemaak het, en daarom kry julle swaar.’
JEREMIA 25:5-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die boodskap was, ‘Draai tog om, elkeen weg van sy verkeerde pad, weg van julle bose dade, sodat julle kan bly woon op die grond wat die HERE van altyd af en vir altyd aan julle en julle voorouers gegee het. Moenie agter ander gode aanloop om hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig nie! Moet My nie tart met julle handewerk nie, sodat Ek julle nie kwaad aandoen nie. Maar julle het nie na My geluister nie,’ is die uitspraak van die HERE, ‘sodat julle My getart het met julle handewerk, tot julle eie nadeel.’
JEREMIA 25:5-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Hulle het gesê: Bekeer julle tog, elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en aan julle vaders gegee het vir ewig en altyd. En moenie agter ander gode aan loop om hulle te dien en hulle te aanbid nie en My nie terg met die werke van u hande nie; en Ek sal jou geen kwaad doen nie. Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE; sodat julle My kan terg deur die werke van julle hande tot julle skade.