JEREMIA 18:1-4
JEREMIA 18:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Jeremia, het gehoor die Here sê vir my: “Jy moet na die pottebakker se huis gaan. Ek sal daar met jou praat.” Ek het na die pottebakker se huis gegaan, en hy was toe besig om iets te maak. Maar die ding wat hy van klei gemaak het, was nie reg nie, en toe maak hy van die klei iets anders soos hy dit wou hê.
JEREMIA 18:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om 'n stuk werk op die skywe te maak. En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk — soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker — maar hy het daaruit weer 'n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
JEREMIA 18:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat. Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak. Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.
JEREMIA 18:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe 'n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak.
JEREMIA 18:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het en gesê het: Staan op en gaan af na die pottebakker se huis, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en kyk, hy het 'n werk aan die wiele gedoen. En die voorwerp wat hy van klei gemaak het, was in die hand van die pottebakker ontsier; daarom het hy dit weer 'n ander voorwerp gemaak soos dit goed was in die oë van die pottebakker om dit te maak.
JEREMIA 18:1-4 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Gaan na die ateljee van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.” Ek het toe na die ateljee van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerskyf te werk. Maar die pot wat hy besig was om te maak was nie reg volgens sy smaak nie. Hy het toe die klei weer inmekaargedruk totdat dit ’n bol was. Daarna het hy weer begin om ’n nuwe pot te vorm wat was soos hy dit wou hê.
JEREMIA 18:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Gaan na die werkplek van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.” Ek het toe na die werkplek van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk. Maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie. Hy het toe die klei inmekaargedruk en weer begin om ’n nuwe pot te vorm soos hy dit wou hê.