JEREMIA 16:1-13
JEREMIA 16:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Ek het gehoor die Here sê vir my: “Jy moenie trou en kinders kry in hierdie plek nie, want Ek sê die kinders wat op hierdie plek gebore word, en hulle ouers in hierdie land, sal baie siek word en sterf. Niemand sal oor hulle huil en rou en hulle begrawe nie. Hulle sal op die grond bly lê soos beesmis. Hulle sal sterf in oorlog of omdat hulle nie kos het nie, en die voëls en die diere sal hulle dooie liggame vreet.” Ja, die Here het gesê: “Jy moenie in 'n huis kom waar mense saam eet om te rou nie, en jy moenie saam gaan rou en vir hulle wys jy is jammer nie, want Ek sal dit nie meer laat goed gaan met hierdie volk nie. Ek is nie meer lief en jammer vir hulle nie. Die grootmense en die kinders in hierdie land sal sterf. Niemand sal hulle begrawe en oor hulle rou nie. Niemand sal homself stukkend sny of sy hare afskeer om te wys hy is hartseer oor hulle nie. Wanneer iemand oor sy pa of oor sy ma rou, dan sal niemand vir hom 'n stukkie brood gee of vir hom iets gee om te drink om hom te troos nie. En jy moenie in 'n eetkamer kom en saam met die mense eet en drink nie. Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Daar sal in hierdie plek nie meer partytjies wees waar mense vrolik en bly is nie, en hulle sal nie meer trou nie. Dit sal in julle tyd gebeur en julle sal dit sien. En wanneer jy dit alles vir hierdie mense gesê het, en hulle vra vir jou: ‘Hoekom het die Here gesê Hy sal dit so sleg laat gaan met ons? Wat het ons verkeerd gedoen? Watter sonde het ons gedoen teen ons God die Here?’ dan moet jy vir hulle sê: Die Here sê: ‘Dit is omdat julle voorvaders ander gode gaan dien het en hulle aanbid het, en weggegaan het van My, en nie gedoen het wat Ek gesê het nie. En júlle, julle het slegter dinge gedoen as julle voorvaders. Julle is hardkoppig, julle lewe soos julle self besluit, julle is nie gehoorsaam aan My nie. Ek sal julle ver weggooi uit hierdie land tot in 'n land wat julle en julle voorvaders nie geken het nie, en daar sal julle elke dag en elke nag vir ander gode werk, en Ek sal nie jammer wees vir julle nie.’ ”
JEREMIA 16:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Jy mag vir jou geen vrou neem nie, en jy mag geen seuns of dogters hê in hierdie plek nie. Want so sê die HERE van die seuns en die dogters wat in hierdie plek gebore word, en van hulle moeders wat hulle baar, en van hulle vaders wat hulle verwek in hierdie land: Aan dodelike siektes sal hulle sterwe, hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde. Want so sê die HERE: Kom nie in die klaaghuis en gaan nie om te rouklaag nie, en betuig geen deelneming met hulle nie; want Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE, die goedertierenheid en die barmhartigheid. Groot sowel as klein sal sterwe in hierdie land; hulle sal nie begrawe word nie, en niemand sal hulle beklaag en homself stukkend kerwe of vir hom 'n kaal plek skeer om hulle ontwil nie. Ook sal niemand vir hulle treurbrood breek om iemand te troos oor 'n dooie, of aan hulle die troosbeker gee om te drink oor iemand se vader of oor iemand se moeder nie. Kom ook nie in 'n huis van maaltye om met hulle saam aan te sit nie, om te eet en te drink nie. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek laat uit hierdie plek ophou voor julle oë en in julle dae die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid. En as jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak en hulle jou vra: Waarom het die HERE al hierdie groot onheile oor ons gespreek? En wat is ons ongeregtigheid en ons sonde wat ons teen die HERE onse God begaan het? — dan moet jy vir hulle sê: Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die HERE, en agter ander gode aan geloop en hulle gedien en hul daarvoor neergebuig het, maar My verlaat het en my wet nie gehou het nie, en julle nog erger gehandel het as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie. Daarom sal Ek julle wegslinger uit hierdie land na 'n land wat julle nie geken het, julle en julle vaders nie; en daar sal julle ander gode dien dag en nag, omdat Ek julle geen genade sal bewys nie.
JEREMIA 16:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here het tot my gekom: Moenie trou en kinders hê in dié plek nie, want so sê die Here oor die kinders wat in dié plek gebore word en oor die ouers wat in dié land kinders kry: Hulle sal sterf aan verskriklike siektes; niemand sal oor hulle treur en hulle begrawe nie; hulle sal op die grond bly lê soos hope mis; of hulle sal omkom in oorlog of deur hongersnood, en hulle lyke sal deur voëls en roofdiere opgevreet word. Die Here het gesê: Jy moenie in 'n huis ingaan waar daar getreur word oor iemand wat dood is nie, jy moenie saam treur nie en moenie meegevoel betuig nie, want Ek het my vrede weggevat van dié volk af: Ek het hulle nie meer lief nie en Ek ontferm My nie meer oor hulle nie, sê die Here. Groot en klein in dié land sal sterf; niemand sal hulle begrawe en oor hulle treur nie, niemand sal homself stukkend sny of sy kop kaalskeer om sy droefheid te wys nie; niemand sal 'n stukkie brood deel met 'n bedroefde om hom te troos oor iemand wat dood is nie, niemand sal vir hom iets te drinke aanbied om hom te troos nie, nie eens oor 'n vader of moeder nie. Jy mag ook nie in 'n huis ingaan waar daar feesgevier word en saam aansit en eet en drink nie, want, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, Ek gaan voor julle oë, in julle leeftyd, 'n end maak aan die klanke van vrolikheid en blydskap in hierdie plek, ook aan dié van huweliksfeeste. Wanneer jy dit alles vir hierdie volk sê, sal hulle vir jou vra: “Waarom sê die Here sal Hy al hierdie groot rampe oor ons bring? Hoe het ons teen die Here ons God oortree, wat het ons teen Hom gesondig?” Dan moet jy vir hulle sê: Julle voorvaders het My al verlaat, sê die Here. Hulle het agter ander gode aangeloop en dié gedien en geëer. Julle voorvaders het My verlaat en my wet nie onderhou nie, en julle het erger aangegaan as hulle, julle het elkeen sy eie harde kop gevolg en nie na My geluister nie. Daarom sal Ek julle uit hierdie land uitdryf na 'n land toe waarvan julle nie weet nie en waarvan julle voorvaders ook nie geweet het nie. Daar sal julle dag en nag ander gode dien. Ek het geen medelye meer met julle nie.
JEREMIA 16:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woord van die HERE het tot my gekom: “Jy mag nie vir jou 'n vrou neem nie, en jy mag nie seuns of dogters hê in hierdie plek nie.” Want so sê die HERE oor die seuns en dogters wat in hierdie plek gebore word, en oor hulle ma's wat hulle in die lewe bring, en oor hulle pa's wat hulle in hierdie land verwek: “Aan dodelike siektes sal hulle sterf, maar daar sal nie oor hulle gerou word nie, en hulle sal nie begrawe word nie. Hulle sal mis op die landerye word. Of hulle sal deur die swaard en hongersnood omkom, en dan sal hulle lyke kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde.” Ja, so sê die HERE: “Moenie 'n huis waar 'n begrafnismaaltyd gehou word, binnegaan nie; moenie daar ingaan om te rou nie, en moenie meegevoel met hulle betuig nie. Want Ek het my vrede aan hierdie volk onttrek,” is die uitspraak van die HERE, “my troue liefde en ontferming. Groot en klein sal sterf in hierdie land, sonder om begrawe te word. Mense sal nie oor hulle rou nie, en niemand sal homself stukkend kerf of sy kop kaal skeer vir hulle nie. Mense sal nie vir hulle brood breek by 'n rouseremonie om iemand te troos oor 'n dooie nie. Mense sal hulle nie laat drink uit 'n beker as troos oor 'n vader of moeder nie. “'n Huis waar fees gevier word, mag jy nie binnegaan om saam met hulle aan te sit om te eet en te drink nie.” Want so sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan in hierdie plek, voor julle oë en in julle lewensdae, die geluid van vrolikheid en vreugde, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, uitdoof. “ Wanneer jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak, sal hulle jou vra, ‘Waarom het die HERE al hierdie groot rampe oor ons aangekondig? Wat is ons sondeskuld en wat is ons sonde waarmee ons teen die HERE ons God gesondig het?’ Dan moet jy vir hulle sê, ‘Omdat julle voorouers My verlaat het,’ is die uitspraak van die HERE, ‘en agter ander gode aangeloop het, hulle gedien en voor hulle in aanbidding gebuig het. Hulle het My verlaat; my wet het hulle nie nagekom nie. En julle het julle nog slegter gedra as julle voorouers. Kyk, julle volg elkeen die verstoktheid van sy bose hart deur nie na My te luister nie! Ek sal julle dan wegwerp uit hierdie land na 'n land wat julle en julle voorouers nie geken het nie. Daar sal julle ander gode dien, dag en nag, want Ek sal nie deernis met julle hê nie.’
JEREMIA 16:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord van die HERE het ook tot my gekom en gesê: Jy mag vir jou geen vrou neem nie, en jy mag geen seuns of dogters in hierdie plek hê nie. Want so sê die HERE aangaande die seuns en oor die dogters wat in hierdie plek gebore is, en oor hulle moeders wat hulle gebaar het, en oor hulle vaders wat hulle in hierdie land verwek het; Hulle sal sterwe deur ernstige dood; hulle sal nie beklaag word nie; en hulle sal nie begrawe word nie; maar hulle sal wees soos mis op die aarde, en deur die swaard en deur hongersnood sal hulle verteer word; en hulle lyke sal voedsel wees vir die voëls van die hemel en vir die wilde diere van die aarde. Want so sê die HERE: Gaan nie in die huis van rou nie, gaan nie om te treur of betreur hulle nie; want Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE, die goedertierenheid en barmhartighede. Groot sowel as klein sal in hierdie land sterwe; hulle sal nie begrawe word nie, en hulle sal nie oor hulle kerm en hulleself nie sny of hulle kaal oor hulle maak nie. En 'n mens sal hulleself nie in rou vir hulle verskeur om hulle te troos oor die dooies nie; en 'n mens mag hulle die troosbeker nie gee om te drink vir hul vader of hul moeder nie. Jy mag ook nie in die huis van maaltyd ingaan om by hulle te sit om te eet en te drink nie. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek sal in julle oë en in julle dae uit hierdie plek die stem van vreugde en die stem van blydskap, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid laat ophou. En as jy hierdie volk al hierdie woorde te kenne gee, en hulle vir jou sal sê: Waarom het die HERE al hierdie groot onheil teen ons uitgespreek? of wat is ons ongeregtigheid? of wat is ons sonde wat ons teen die HERE onse God gedoen het? Dan moet jy vir hulle sê: Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die HERE, en agter ander gode aan gewandel en hulle gedien en hulle voor hulle neergebuig het en My verlaat het en my wet nie onderhou het nie; En julle het erger gedoen as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen volgens die versinsels van sy bose hart, dat hulle na My nie luister nie. Daarom sal Ek julle uit hierdie land verwerp na 'n land wat julle nie ken nie, nie julle en julle vaders nie; en daar moet julle ander gode dag en nag dien; waar Ek jou geen guns sal bewys nie.
JEREMIA 16:1-13 Die Boodskap (DB)
Die Here het weer vir my gesê: “Jeremia, jy moenie trou nie. Jy moet ook nie kinders hê in hierdie land nie. Laat Ek jou vertel wat met die kinders wat in hierdie land gebore word en met hulle ouers gaan gebeur: hulle sal van verskriklike siektes doodgaan. Daar sal niemand wees wat sal huil omdat hulle dood is nie. Niemand sal hulle ook begrawe nie. Hulle lyke sal soos mis op die grond bly lê. Hulle sal in oorloë sterf of van die honger doodgaan. Hulle lyke sal deur aasvoëls en roofdiere gevreet word.” Die Here het ook vir my gesê: “Moenie in ’n huis ingaan waar mense besig is om te treur oor iemand wat dood is nie. Moet ook nie saam met hulle huil of sê dat jy jammer is oor wat gebeur het nie. Ek sorg nie meer dat dit met my mense goed gaan nie. Om die waarheid te sê, Ek was altyd baie lojaal aan hulle omdat Ek vir hulle lief was. Ek sal nie langer lojaal wees of vir hulle jammer wees nie. Almal in die land sal doodgaan, of hulle nou belangrike mense of arm mense is. Niemand sal hulle begrawe of oor hulle huil nie. Hulle vriende sal nie maak soos hulle altyd maak as hulle oor iemand treur nie. Hulle sal nie hulleself met skerp voorwerpe sny of hulle hare afsny omdat hulle hartseer is nie. Niemand sal ook eens saam met ’n mens wie se vriend of familielid dood is, ’n stukkie brood eet of iets drink om die persoon te troos nie. Dit maak nie eens saak of dit so ’n persoon se ouers is wat dood is nie. Jeremia, jy moet ook nie na ’n huis gaan waar hulle partytjie hou nie. Moet glad nie saam met hulle eet of drink nie, want,” so sê die Here, die God van Israel, wat sterker as alles en almal is, “voor jy eendag doodgaan, sal jy sien wat Ek gaan doen. Ek sal sorg dat al die gesing en gelag in hierdie land ophou. Die vrolike stemme van bruide en bruidegomme sal ook stil word. “As jy al hierdie dinge vir die mense vertel, sal hulle vir jou vra: ‘Hoekom het die Here besluit dat sulke slegte dinge met ons moet gebeur? Wat het ons nou eintlik gedoen dat daar op so ’n slegte manier met ons gewerk word? Wat het ons sodanig gedoen waarvan die Here wat ons God is, nie hou nie?’ Dan moet jy vir hulle sê: Die Here sê dit is omdat julle voorouers nie lojaal aan My was nie. Hulle het ander gode vereer en hulle gedien. Hulle het skoon van My vergeet. Hulle was ongehoorsaam. Hulle het hulle nie gesteur aan die dinge wat Ek gesê het hulle moet doen of nie mag doen nie. Maar julle gedra julle nog erger as julle voorouers! Julle is hardkoppig en hou net aan om verkeerde dinge te doen. Julle luister nie na My nie. Daarom sal Ek sorg dat julle uit julle land gegooi word. Ek sal verder ook sorg dat julle na ’n vreemde land gevat word waar julle voorouers nog nooit was nie. As julle daar is, kan julle ander gode dien net soveel as wat julle wil. Julle moet geen gunsies van My verwag nie.”
JEREMIA 16:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het weer vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Jy moenie trou nie. Jy moet ook nie kinders in hierdie land hê nie. Laat Ek, die HERE, jou vertel wat met die kinders sal gebeur wat in hierdie land gebore word, en ook hulle ouers: Hulle sal aan dodelike siektes sterf. Niemand sal oor hulle huil of hulle begrawe nie. Hulle lyke sal soos mis op die grond bly lê. Hulle sal in oorloë sterf en van honger doodgaan, en hulle lyke sal kos vir die aasvoëls en roofdiere wees.” Die HERE het ook gesê: “Moenie in ’n huis ingaan waar daar getreur word oor iemand wat dood is nie. Moet ook nie saam met hulle huil of vir hulle simpatie hê nie. Want Ek het my beskerming en vrede van hierdie volk af weggeneem, sê die HERE. Ek sal ook nie langer lojaal wees of vir hulle genade hê nie. Almal in die land sal doodgaan, of hulle nou belangrike mense of arm mense is. Niemand sal hulle begrawe of oor hulle huil nie. Hulle vriende sal ook nie hulleself met skerp voorwerpe sny of hulle hare afskeer omdat hulle rou nie. Niemand sal ook kos gee vir mense wat rou of iets om te drink om hulle te troos nie. Dit maak nie saak of dit hulle eie ouers is wat gesterf het nie. “Jy moet ook nie na hulle feeste en partytjies gaan nie. Moet hoegenaamd nie saam met hulle eet of drink nie. Want so sê die HERE, die Almagtige, die God van Israel: Voor jy eendag doodgaan, sal jy sien wat Ek gaan doen. Ek gaan ’n einde maak aan al die vrolike gesing en gelag in hierdie land. Die vrolike stemme van bruid en bruidegom sal ook stil wees. “As jy al hierdie dinge vir die mense vertel, sal hulle vir jou vra: ‘Hoekom het die HERE al hierdie rampe oor ons aangekondig? Wat het ons gedoen om dit te verdien? Hoe het ons teen Hom gesondig?’ Dan moet jy vir hulle sê: ‘Die HERE sê dit is omdat julle voorouers nie lojaal aan My was nie. Hulle het ander gode vereer en hulle gedien. Hulle het van My vergeet. Hulle het nie my voorskrifte onderhou nie. Maar julle gedra julle nog erger as julle voorouers! Julle is hardkoppig en hou net aan om verkeerde dinge te doen. Julle luister nie na My nie. Daarom sal Ek julle uit hierdie land dryf na ’n vreemde land wat julle nie ken en waar julle voorouers nog nooit was nie. Daar kan julle net soveel afgode dien as wat julle wil. Julle moet geen guns van My verwag nie!’”