JEREMIA 11:18-23 - Compare All Versions
JEREMIA 11:18-23 AFR83 (Afrikaans 1983)
Dit is die Here wat my dit te kenne gegee het, daarom weet ek dit; U het my laat sien wat hulle doen. Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie besef dat hulle teen my saamsweer nie. Hulle het gesê: “Laat ons die boom met die sap in hom vernietig en hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat niemand meer aan hom dink nie.” Here, Almagtige, regverdige Regter, wat hart en verstand toets, laat my sien hoe U op hulle wraak neem, want ek het my saak aan U toevertrou. Daarom, so sê die Here oor die mense van Anatot wat jou lewe soek en sê: “Jy mag nie in die Naam van die Here as profeet optree nie, want dan sal ons jou doodmaak,” so sê die Here die Almagtige: Ek sal hulle straf. Hulle jongmanne sal sterf deur oorlog, hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger. Nie een van hulle sal oorbly nie, want Ek sal 'n ramp oor hulle bring wanneer Ek hulle straf.
JEREMIA 11:18-23 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN die HERE het my dit te kenne gegee, sodat ek dit weet. Toe het U my hulle handelinge laat sien. Maar ek was soos 'n mak lam wat hulle lei om te slag; en ek het nie geweet dat hulle planne teen my beraam het nie: Laat ons die boom met sy vrugte verwoes, en laat ons hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat aan sy naam nie meer gedink word nie! Maar, o HERE van die leërskare, regverdige Regter, wat niere en hart toets, laat my u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak toevertrou. Daarom, so spreek die HERE aangaande die manne van Ánatot wat jou lewe soek en sê: Jy mag nie profeteer in die Naam van die HERE nie, anders sal jy sterwe deur ons hand — daarom, so spreek die HERE van die leërskare: Kyk, Ek doen besoeking oor hulle; die jongmanne sal sterwe deur die swaard, hulle seuns en hulle dogters sal sterwe deur hongersnood, en hulle sal geen oorblyfsel hê nie; want Ek sal onheil bring oor die manne van Ánatot in die jaar van hulle besoeking.
JEREMIA 11:18-23 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die HERE het my toe ingelig dat my vyande besig was om ’n komplot teen my te smee. Ek was soos ’n lam wat hulle weggelei het om te slag. Ek was onbewus daarvan dat hulle van plan was om my dood te maak. Hulle het gesê: “Kom ons raak ontslae van hierdie boom en sy vrugte. Kom ons maak hom dood, dan sal niemand ooit onthou dat hy geleef het nie!” Maar, HERE, Almagtige, U tree altyd regverdig op. U ondersoek wat in ’n mens aangaan, U weet selfs wat ons dink. Laat ek sien hoe U wraak neem, want ek het my saak in u hande gelaat. Daarom sê die HERE van die mense van Anatot: “Hulle wil jou doodmaak, Jeremia, omdat jy namens My profeteer. Hulle sê hulle sal jou doodmaak as jy nie ophou om dit te doen nie.” Die HERE, die Almagtige, sê van hulle: “Ek gaan hulle straf! Hulle jong mans sal in gevegte sterf, hulle kinders sal van honger doodgaan. Nie een van hulle sal bly lewe nie. Ek gaan onheil oor die mense van Anatot bring. Die tyd om hulle te straf, het aangebreek.”
JEREMIA 11:18-23 DB (Die Boodskap)
Dit was eers toe die Here my dit vertel het dat ek besef het my vyande was besig om planne teen my te maak. Ek was soos ’n lam wat op pad was na die slagpale om geslag te word, salig onbewus van wat aan die gang was. Hulle was van plan om my dood te maak. Hulle het gesê: “Kom ons raak ontslae van hierdie man, dan is ons ook ontslae van die dinge wat hy sê! Kom ons maak hom dood, dan sal niemand ooit onthou dat hy geleef het nie!” Here, U is sterker as alles en almal. U tree altyd regverdig op. Ja, Here, U weet presies wat binne-in ’n mens aangaan. U weet selfs wat ons dink. Ek wil graag sien wat gebeur as U wraak neem op my vyande. Ek het my saak vir U gegee om te hanteer. Die Here sê oor die mense van Anatot: “Hulle wil jou doodmaak, Jeremia. Dit is omdat jy namens My praat. Hulle sê hulle sal jou doodmaak as jy nie ophou om dit te doen nie.” Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Ek gaan hulle straf! Die jongmans sal in gevegte met ’n vyand doodgemaak word. Hulle kinders sal van die honger doodgaan. Nie eens een van hulle sal bly lewe nie. Ek sal die mense van Anatot baie slegte dinge laat ervaar wanneer Ek hulle straf. Ek het reeds besluit wanneer dit sal wees.”
JEREMIA 11:18-23 ABA (Bybel vir almal)
Die Here het dit vir my gesê, en nou weet ek dit. Hy het my laat sien wat my vyande doen. Ek was soos 'n mak lam, hulle wou my slag, maar ek het dit nie geweet nie. Hulle het planne gemaak teen my en hulle het gesê: “Kom ons kap hierdie boom af saam met sy vrugte. Ons wil hom wegvat van die mense wat lewe. Niemand moet onthou dat hy gelewe het nie.” Here, U wat oor alles regeer, U is die Regverdige Regter, U weet wat mense dink. U moet vir my wys dat U my vyande straf, want ek het vir U vertel wat hulle gedoen het. Die Here het gesê: “Jeremia, die manne van die stad Anatot wil jou doodmaak. Hulle het gesê: ‘Jy mag nie 'n profeet wees nie, jy mag nie sê die Here het jou gestuur nie. As jy dit doen, dan sal ons jou doodmaak.’ ” Die Here wat oor alles regeer, het gesê: “Omdat hulle dit gedoen het, sal Ek hulle straf. Hulle jongmanne sal sterf in oorlog, hulle seuns en dogters sal sterf, want hulle sal nie kos hê om te eet nie. Nie een van hulle sal aanhou lewe nie. Dit sal sleg gaan met die manne van Anatot wanneer Ek hulle straf.”
JEREMIA 11:18-23 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die HERE self het my ingelig, sodat ek kon weet. Toe het U my laat sien waarmee hulle besig is. Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie geweet dat dit teen my is wat hulle planne beraam nie: “Laat ons die boom en sy lewensap vernietig; laat ons hom afsny van die land van die lewendes, sodat sy naam nie meer onthou word nie.” Maar HERE, Heerser oor alle magte, regverdige Regter wat hart en niere toets, laat ek u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak toevertrou. Daarom, so sê die HERE oor die manne van Anatot wat jou lewe soek en sê, “Jy mag nie profeteer in die Naam van die HERE nie, sodat jy nie deur ons hand sterf nie,” ja, so sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Kyk, Ek gaan van hulle rekenskap eis: Die jong manne sal sterf deur die swaard; hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger. Daar sal vir hulle niemand oorbly nie, want Ek bring onheil oor die manne van Anatot in die jaar waarin daar van hulle rekenskap geëis word.”
JEREMIA 11:18-23 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die HERE het my daarvan kennis gegee, en ek weet dit; Maar ek was soos 'n lam of 'n bees wat na die slag gebring word; en ek het nie geweet dat hulle planne teen my uitgedink het deur te sê: Laat ons die boom met sy vrugte vernietig en hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat sy naam nie meer gedink kan word nie. Maar, HERE van die leërskare, wat regverdig oordeel, wat die niere en die hart toets, laat my u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak bekend gemaak. Daarom, so sê die HERE van die manne van Anatot, wat jou lewe soek, en sê: Moenie profeteer in die Naam van die HERE nie, dat jy nie deur ons hand sterf nie. Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek besoek hulle; die jongmanne sal deur die swaard sterwe; hulle seuns en hulle dogters sal deur hongersnood sterf; En daar sal geen oorblyfsel van hulle wees nie, want Ek sal onheil oor die manne van Anatot bring, die jaar van hulle besoeking.