JEREMIA 1:17-19
JEREMIA 1:17-19 Bybel vir almal (ABA)
“Jeremia, jy moet nou begin, jy moet gereedmaak en vir die mense alles sê wat Ek vir jou sê. Jy moenie vir hulle skrik nie, want dan sal Ek jou baie meer laat skrik vir hulle. Wat Ek sal doen, is dit: Ek maak jou vandag sterk, so sterk soos 'n stad wat sterk mure het, soos 'n ysterpilaar en 'n muur van brons. Jy sal sterk wees teen die hele land, teen die konings, teen die amptenare en priesters van Juda, en teen al die belangrike mense in die land. Hulle sal met jou baklei, maar hulle sal jou nie wen nie, want Ek is by jou om jou te red.” Dit is wat die Here gesê het.
JEREMIA 1:17-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie. Want kyk, Ek maak jou vandag 'n versterkte stad en 'n ysterpilaar en kopermure teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land. En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.
JEREMIA 1:17-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë. Ek maak jou vandag 'n vestingstad, 'n ysterpilaar, 'n bronsmuur sodat jy staande kan bly teen die hele land, teen die koningshuis van Juda en al sy amptenare, teen sy priesters en teen die bevolking. Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red.
JEREMIA 1:17-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar jy, jy moet jou heupe omgord, gereedmaak en vir hulle alles gaan sê wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou 'n rede om vir hulle bang te wees. En Ek, kyk, Ek maak jou vandag 'n versterkte stad, 'n ysterpilaar en 'n koperstadsmuur teen die hele land – die konings van Juda, Jerusalem se hoë amptenare, haar priesters en die volk van die land. Hulle sal teen jou veg, maar sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want Ek is by jou,” is die uitspraak van die HERE, “om jou te red!”
JEREMIA 1:17-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jy dan omgord jou heupe en staan op en spreek met hulle alles wat Ek jou beveel; wees nie verskrik vir hulle aangesig nie, dat Ek jou nie voor hulle beskaam nie. Want kyk, Ek het jou vandag 'n beskutte stad gemaak en 'n ysterpilaar en kopermure teen die hele land, teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die mense van die land. En hulle sal teen jou veg; maar hulle sal jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou te red.
JEREMIA 1:17-19 Die Boodskap (DB)
“Maak klaar, Jeremia, en gaan sê vir die mense alles wat Ek te sê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou dalk ’n rede om bang te wees! Jy kan rustig wees, Ek maak jou so sterk soos ’n stad wat ’n muur om het om die mense te beskerm. Of Ek maak jou soos ’n ysterpaal wat vasgeplant is of so hard soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om al die aanvalle van mense op jou te oorleef. Dit maak nie saak of die aanvalle van die konings van Juda en hulle amptenare of die priesters of enige van die land se mense kom nie. Hulle sal jou definitief probeer onderkry, maar hulle sal dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en Ek sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe jou dit!”
JEREMIA 1:17-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Staan op en trek jou aan, en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders laat Ek jou dalk verleë voor hulle staan! Ek beskerm jou teen hulle. Ek maak jou soos ’n versterkte stad, so vasgeanker soos ’n ysterpaal of soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om jou teen die konings van Juda, hulle amptenare, hulle priesters en enige van die land se mense te handhaaf. Hulle sal jou probeer onderkry, maar dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en sal jou beskerm. Ek, die HERE, belowe dit!”