RIGTERS 14:12-20 - Compare All Versions

RIGTERS 14:12-20 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hy het vir hulle gesê: “Laat ek julle 'n raaisel vra. As julle my die raaisel se antwoord binne die sewe feesdae kan gee, sal ek vir julle dertig linnehemde en dertig stelle klere gee, maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my dertig linnehemde en dertig stelle klere gee.” Hulle het hom geantwoord: “Gee jou raaisel! Ons wil dit hoor!” Simson sê toe: “Uit 'n eter kom daar iets te ete, uit 'n sterke kom daar iets soets.” Die derde dag kon hulle nog nie die antwoord gee nie. Die sewende dag sê hulle toe vir Simson se vrou: “Haal jou man oor om die antwoord op die raaisel aan ons bekend te maak, anders verbrand ons jou en jou familie. Het jy ons hierheen genooi om ons kaal uit te trek?” Simson se vrou het by hom gehuil en gesê: “Jy haat my. Jy het my nie lief nie. Jy het my mense 'n raaisel gevra sonder om vir my te sê wat dit beteken.” Hy het vir haar gesê: “Hoe sou ek dit vir jou vertel? Ek het dit selfs nie vir my ouers vertel nie.” Sy het die hele sewe dae van die fees by hom geneul en op die sewende dag het hy dit vir haar vertel, want sy het hom bly lastig val. Sy het toe die antwoord op die raaisel vir haar mense gegee. Op die sewende dag, net voor sononder, sê die mense van die stad toe vir Simson: “Wat is soeter as heuning? Wat is sterker as 'n leeu?” Hy sê toe vir hulle: “Julle het met my kalf geploeg anders sou julle nie die antwoord op my raaisel gevind het nie!” Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak, en hy is af Askelon toe. Daar het hy dertig man doodgeslaan en hulle klere gevat en vir die mans gegee wat die raaisel uitgelê het. Hy was baie kwaad en is na sy pa se huis toe. Simson se vrou is toe aan die vriend gegee wat sy strooijonker was.

RIGTERS 14:12-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En Simson sê aan hulle: Laat my tog vir julle 'n raaisel opgee; as julle dit vir my reg uitlê gedurende die sewe dae van die maaltyd en dit uitvind, dan sal ek julle dertig hemde en dertig stel klere gee; maar as julle dit vir my nie kan uitlê nie, dan moet júlle my dertig hemde en dertig stel klere gee. Toe sê hulle vir hom: Gee maar jou raaisel op, dat ons dit hoor. En hy sê vir hulle: Spys het uit die eter uitgegaan, en soetigheid uit die sterke. En drie dae lank kon hulle die raaisel nie uitlê nie. En op die vierde dag sê hulle aan die vrou van Simson: Haal jou man oor dat hy die raaisel vir ons uitlê, anders verbrand ons jou en die huis van jou vader met vuur; het julle ons genooi om ons te berowe, of hoe? Toe huil die vrou van Simson by hom en sê: Jy haat my net en het my nie lief nie; jy het my volksgenote die raaisel opgegee, maar vir my het jy dit nie uitgelê nie. En hy antwoord haar: Kyk, vir my vader en my moeder het ek dit nie uitgelê nie, sou ek dit dan vir jou uitlê? Maar sy het die sewe dae wat hulle maaltyd geduur het, by hom gehuil; en op die sewende dag het hy dit vir haar uitgelê; want sy het hom gepers en so die raaisel vir haar volksgenote uitgelê. Daarop sê die manne van die stad aan hom op die sewende dag voor sonsondergang: Wat is soeter as heuning, en wat is sterker as 'n leeu? En hy antwoord hulle: As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle my raaisel nie geraai het nie. En die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword. Toe gaan hy af na Áskelon en slaan dertig man van hulle dood, en neem hulle uitrustings en gee die stelle klere aan die wat die raaisel uitgelê het; en hy het kwaad geword en opgegaan na die huis van sy vader. En sy vriend wat as sy bruidsjonker gedien het, het die vrou van Simson gekry.

RIGTERS 14:12-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Simson het vir hulle gesê: “Ek wil julle graag ’n raaisel vra. As julle binne die sewe dae van die fees vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir julle 30 hemde en 30 stelle klere gee. As julle dit nie kan oplos nie, gee julle vir my 30 hemde en 30 stelle klere.” Hulle stem toe in: “Goed, laat ons jou raaisel hoor.” Simson sê toe vir hulle: “Uit een wat eet, kom daar iets om te eet. Uit een wat sterk is, kom daar iets wat soet is.” Teen die derde dag kon hulle nog nie sê wat dit beteken nie. Op die vierde dag sê hulle vir Simson se vrou: “Oorreed jou man om die oplossing van die raaisel vir ons te gee. Anders sal ons jou doodmaak en jou pa se huis met vuur verbrand. Het jy ons uitgenooi om ons te verarm?” Simson se vrou het by hom gaan neul: “Jy het my nie regtig lief nie. Jy haat my. Jy het dan vir my mense ’n raaisel gegee en nie eers vir my gesê wat dit beteken nie!” Simson het vir haar gesê: “Ek het dit nie eers vir my eie ouers vertel nie. Hoekom sou ek dit vir jou gee?” Elke keer as hy by haar kom, het sy begin neul. So het dit die res van die tyd van die fees gegaan. Op die sewende dag het hy vir haar die oplossing gegee, want sy wou hom nie met rus laat nie. Sy het toe die oplossing vir haar mense gegee. Net voor sononder op die sewende dag het die mense van die stad vir Simson die antwoord kom gee: “Wat is daar wat soeter is as heuning? En wat is daar wat sterker is as ’n leeu?” Simson sê toe vir hulle: “As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle nooit die antwoord op my raaisel kon kry nie!” Die Gees van die HERE het in Simson gekom. Hy het afgegaan na Askelon en 30 van hulle mans doodgeslaan. Hy het hulle besittings afgevat en daaruit 30 stelle klere gevat vir die mans wat die raaisel uitgelê het. Hy was briesend. Hy is toe terug na sy pa se huis toe. Simson se strooijonker het toe met die vrou getrou.

RIGTERS 14:12-20 DB (Die Boodskap)

Simson sê toe vir hulle: “Kom ek vra julle ’n raaisel. As julle die raaisel binne die sewe dae wat die fees aanhou, kan oplos, sal ek vir julle 30 linnehemde en 30 stelle klere gee. Maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my 30 linnehemde en 30 stelle klere gee.” “Reg so,” het hulle gesê, “kom ons hoor wat is jou raaisel!” Hy sê toe: “Uit die een wat eet, kom iets te ete en uit die sterke kom iets soets.” Drie dae later kon hulle nog steeds nie met ’n antwoord na vore kom nie. Op die vierde dag het hulle vir Simson se vrou gesê: “Haal jou man oor om vir ons die raaisel se antwoord te gee. So nie, verbrand ons jou en jou familie. Of het julle ons dalk hierheen genooi om ons te beroof?” Simson se vrou het toe by hom gaan huil en gesê: “Jy het my nie lief nie, jy haat my! Jy het vir my vriende ’n raaisel gevra sonder om eers vir my te sê wat dit beteken.” “Maar ek het dit nie eens vir my pa-hulle vertel nie,” het hy vir haar gesê, “waarom sou ek vir jou die antwoord gee!” Sy het die hele feestyd by hom bly neul daaroor. Op die sewende dag was hy uiteindelik moeg daarvoor en het vir haar die antwoord gegee. Op die sewende dag van die fees, net voor sononder, het die mense van die dorp na Simson toe gekom en vir hom gesê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as ’n leeu?” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie by my vrou gaan neul het nie, sou julle nie die antwoord op die raaisel gekry het nie.” Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy is af na Askelon toe. Daar het hy 30 mans doodgemaak, hulle klere uitgetrek en dit vir die mans gegee wat die raaisel uitgelê het. Hy was so kwaad oor wat gebeur het dat hy terug is na sy ouerhuis toe om daar te gaan bly. Die vrou het toe getrou met die man wat Simson se strooijonker was.

RIGTERS 14:12-20 ABA (Bybel vir almal)

Simson het vir die mans gesê: “Ek wil vir julle 'n raaisel vra. Julle moet probeer uitvind wat die antwoord is, en as julle dit vir my kan sê voor die sewe dae van die fees verby is, dan sal ek vir julle elkeen 'n onderkleed en 'n mooi oorkleed gee. Maar as julle nie vir my die antwoord kan sê nie, dan moet julle elkeen vir my 'n onderkleed en 'n mooi oorkleed gee.” Die mans het vir Simson gesê: “Goed, vra vir ons die raaisel. Ons wil dit hoor.” Simson sê toe vir hulle: “Uit die een wat eet, kom iets wat jy kan eet, uit die een wat sterk is, kom iets wat soet is.” Die mans kon ná drie dae nog nie die antwoord van die raaisel vir Simson sê nie. Op die sewende dag het hulle vir Simson se vrou gesê: “Jy moet vir jou man vra wat die antwoord is en jy moet dit vir ons sê. As jy dit nie doen nie, dan sal ons jou en jou pa se familie verbrand. Het julle ons genooi om na die fees te kom sodat ons arm moet word? Ja of nee?” Simson se vrou het toe by hom gehuil en gesê: “Jy haat my, jy is nie lief vir my nie. Jy vra vir my mense 'n raaisel, maar jy sê nie vir my die antwoord nie.” Simson het vir haar gesê: “Ek het ook nie vir my ouers die antwoord gesê nie. Hoekom moet ek dit vir jou sê?” Sy het aangehou huil by hom, al die dae terwyl hulle feesgevier het, en op die sewende dag het hy vir haar die antwoord gesê, want sy het nie opgehou vra nie. Sy het toe die antwoord vir haar mense gesê. Voor die son op die sewende dag ondergegaan het, het die mense van die stad vir Simson gesê: “Wat is soeter as heuning, wat is sterker as 'n leeu?” Simson het vir hulle gesê: “Julle het die antwoord by my vrou gekry. Julle sou dit nooit self gekry het nie.” Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak. Simson het na die stad Askelon gegaan en daar het hy 30 mans doodgeslaan. Hy het hulle klere uitgetrek en die mooi oor-klere vir die mans gegee wat die antwoord van die raaisel vir hom gesê het. Hy was baie kwaad en hy het teruggegaan na sy pa se huis. Simson se vrou het toe getrou met een van die mans wat op die fees saam met Simson was.

RIGTERS 14:12-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Simson sê toe vir hulle: “Ek wil julle graag 'n raaisel vra. As julle dit vir my binne die sewe dae van die bruilofsfees volledig kan verklaar, ja, dit kan oplos, sal ek vir julle dertig stelle onderklere en dertig stelle feesklere gee. Maar as julle dit nie vir my kan verklaar nie, moet julle vir my dertig stukke onderklere en dertig stelle feesklere gee.” Hulle sê toe vir hom: “Vra jou raaisel, sodat ons dit kan hoor.” Hy sê vir hulle: “Uit die eter het iets te ete gekom; uit 'n sterke het iets soets gekom.” Drie dae lank kon hulle die raaisel nie verklaar nie. Op die sewende dag sê hulle vir Simson se vrou: “Praat jou man om, sodat hy die raaisel vir ons verklaar, anders verbrand ons jou en jou familie. Is dit om ons besittings af te neem dat julle ons genooi het, of nie? ” Simson se vrou het toe by hom gekerm en gesê: “Jy haat my net; jy het my nie lief nie. Jy het vir die jong manne van my mense 'n raaisel gevra, maar vir my het jy dit nie verklaar nie.” Hy sê toe vir haar: “Kyk, vir my pa en ma het ek dit nie eers verklaar nie; moet ek dit dan vir jou verklaar?” Maar sy het die sewe dae wat hulle bruilofsfees geduur het, by hom bly kerm. Op die sewende dag het hy dit vir haar verklaar, omdat sy so by hom geneul het. Sy het toe die raaisel vir die jong manne van haar mense verklaar. Die manne van die stad het op die sewende dag, net voor sononder, vir Simson gesê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as 'n leeu?” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie met my vers geploeg het nie, sou julle nie my raaisel kon oplos nie.” Die Gees van die HERE het van hom besit geneem en hy het afgegaan na Askelon. Hy het dertig man van hulle doodgeslaan, hulle uitrustings geneem en die klere vir dié wat die raaisel verklaar het, gegee. Hy was woedend en het opgegaan na sy vader se huis. Simson se vrou het toe die vrou geword van sy vertroueling wat vir hom opgetree het as vriend van die bruidegom.

RIGTERS 14:12-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe sê Simson vir hulle: Ek sal nou vir julle 'n raaisel voorlê; as julle dit sekerlik binne die sewe dae van die fees aan my kan verkondig en dit uitvind, dan sal ek vir julle dertig lakens en dertig kleredrag gee. Maar as julle dit vir my nie kan verklaar nie, moet julle vir my dertig lakens en dertig ander klere gee. En hulle sê vir hom: Stel jou raaisel voor, dat ons dit kan hoor. En Hy sê vir hulle: Uit die eter het daar vleis gekom, en uit die sterkes het soetheid voortgekom. En hulle kon die raaisel nie binne drie dae uitlê nie. En op die sewende dag het hulle vir Simson se vrou gesê: Verlok jou man, dat hy vir ons die raaisel kan verkondig, sodat ons jou en jou vader se huis nie met vuur verbrand nie; het jy ons geroep om te neem wat ons het? is dit nie so nie? En Simson se vrou het voor hom geween en gesê: Jy haat my maar en het my nie lief nie; jy het vir die kinders van my volk 'n raaisel gestel en dit vir my nie vertel nie. En hy sê vir haar: Kyk, ek het dit nie my vader en my moeder vertel nie, en sal ek dit vir jou vertel? En sy het die sewe dae lank voor hom geween, terwyl hulle fees geduur het; en op die sewende dag het hy haar dit meegedeel, omdat sy hom seergemaak het; en sy het die raaisel aan die kinders van haar volk vertel. Toe sê die manne van die stad vir hom op die sewende dag voor sonsondergang: Wat is soeter as heuning? en wat is sterker as 'n leeu? En hy sê vir hulle: As julle nie met my koei geploeg het nie, het julle my raaisel nie uitgevind nie. En die Gees van die HERE het oor hom gekom, en hy het na Askelon afgegaan en van hulle dertig man gedood en hulle buit geneem en klere aan die wat die raaisel uitgelê het, klere gegee. En sy toorn het ontvlam, en hy het opgegaan na sy vader se huis. Maar Simson se vrou is aan sy metgesel gegee, wat hy as sy vriend gebruik het.