RIGTERS 14:1-11 - Compare All Versions

RIGTERS 14:1-11 AFR83 (Afrikaans 1983)

Op 'n keer is Simson na Timna toe en daar het hy 'n vrou gesien. Sy was 'n Filistynse meisie. Hy het teruggegaan en vir sy ouers vertel: “Ek het 'n vrou in Timna gesien, 'n Filistynse meisie. Gaan kry haar vir my as vrou.” Maar sy ouers vra vir hom: “Is daar nie onder jou familie of onder al jou volksgenote 'n vrou nie dat jy na die heidene, die Filistyne, toe moet gaan om te trou?” Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my, want ek hou van haar.” Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou 'n geleentheid skep om die Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers. Simson en sy ouers is toe na Timna toe. By die wingerde van Timna het 'n jong leeu brullend op Simson afgestorm. Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur asof dit 'n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie. Hy het toe met die Filistynse vrou gaan praat, en hy het van haar gehou. Toe hy 'n ruk later terug is Timna toe om met haar te gaan trou, het hy afgedraai om na die geraamte van die leeu te gaan kyk. Daar was 'n swerm bye met heuning in die karkas. Hy het heuning in sy hand gevat en daarvan geloop en eet. Toe hy by sy ouers kom, het hy vir hulle ook gegee, en hulle het geëet, maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die karkas van 'n leeu gekry het nie. Toe sy pa-hulle by die vrou aankom, het Simson daar 'n feesmaal gehou: dit was 'n gewoonte onder die jongmanne. Toe die Filistyne hom sien, het hulle dertig vriende by hom laat bly.

RIGTERS 14:1-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

TOE Simson afgegaan het na Timna, sien hy in Timna 'n vrou uit die dogters van die Filistyne; en hy het opgegaan en dit aan sy vader en sy moeder vertel en gesê: Ek het 'n vrou uit die dogters van die Filistyne in Timna gesien; neem haar dan nou as vrou vir my. Maar sy vader en sy moeder sê vir hom: Is daar onder die dogters van jou broers en onder my hele volk nie 'n vrou, dat jy heengaan om 'n vrou uit die Filistyne, die onbesnedenes, te neem nie? En Simson sê aan sy vader: Neem haar vir my, want sy geval my. Maar sy vader en sy moeder het nie geweet dat dit van die HERE kom nie; want hy het rede gesoek teen die Filistyne; in dié tyd naamlik het die Filistyne oor Israel geheers. En Simson het met sy vader en sy moeder afgegaan na Timna; en toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar 'n jong leeu brullende op hom af. Maar die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword; en hy het dit verskeur soos 'n mens 'n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was; maar hy het sy vader en sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie. Toe gaan hy af en praat met die vrou; en sy het Simson geval. En 'n tyd daarna het hy teruggegaan om haar te gaan haal; en toe hy uitdraai om na die dooie leeu te kyk, was daar 'n swerm bye in die dooie liggaam van die leeu, en heuning. En hy het dit uitgehaal in sy hande en aldeur geloop en eet, en na sy vader en sy moeder gegaan en aan hulle gegee; en hulle het geëet, maar dat hy die heuning uit die dooie liggaam van die leeu uitgehaal het, vertel hy hulle nie. Daarop gaan sy vader na die vrou toe af, en Simson het daar 'n maaltyd berei; want so het die jongmanne gewoonlik gedoen. En toe hulle hom sien, neem hulle dertig vriende om by hom te wees.

RIGTERS 14:1-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Simson het afgegaan na Timna toe. Hy het daar ’n Filistynse meisie gesien. Toe hy teruggaan, het hy sy ouers van haar vertel: “Ek het in Timna ’n Filistynse meisie gesien. Gaan kry haar dat ek met haar kan trou.” Sy ouers vra toe vir hom: “Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense Filistyne ’n vrou vat?” Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my. Ek wil haar hê.” Sy ouers het nie agtergekom dat dit eintlik van die HERE af gekom het nie. Die Filistyne het op daardie stadium oor Israel geheers. God het na ’n geleentheid gesoek om iets aan die Filistyne te doen. Toe Simson en sy ouers op pad was na Timna toe, het ’n jong leeu hom naby die wingerde van Timna aangeval. Die Gees van die HERE het in hom gekom. Hy het met sy kaal hande die leeu se kake uitmekaargeskeur, soos ’n mens ’n bokkie verskeur. Simson het niks daarvan vir sy ouers gesê nie. Hy het in Timna gekom en met die vrou gaan praat. Hy het baie van haar gehou. Toe hy later weer vir die troue terugkom na Timna toe, het hy afgedraai om na die leeu se karkas te gaan kyk. ’n Swerm bye was besig om daarin heuning te maak. Hy het met sy hand van die heuning uitgehaal en langs die pad daaraan geloop en eet. Hy het ook vir sy ouers daarvan gegee. Hulle het ook daarvan geëet, maar nie geweet dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie. Sy pa is na die vrou se huis toe om reëlings te tref. Soos dit destyds die gewoonte was onder die jong mans, het Simson ’n onthaal gehou. Toe hulle hom sien, het haar ouers 30 Filistynse jong mans na die fees uitgenooi.

RIGTERS 14:1-11 DB (Die Boodskap)

Op ’n keer is Simson na ’n dorp met die naam Timna toe. Daar het ’n sekere Filistynse meisie sy oog gevang. Hy is terug huis toe waar hy vir sy pa-hulle gesê het: “Ek het ’n Filistynse meisie in Timna gesien met wie ek wil trou. Tref asseblief die nodige reëlings.” Hulle vra toe vir hom: “Is daar nie onder jou eie mense ’n vrou van wie jy dalk hou nie? Hoekom moet jy nou onder die heidense Filistyne vir jou ’n vrou gaan soek?” Maar Simson het vir sy pa gesê: “Ek hou van haar, ek wil met haar trou.” Sy ouers het nie besef dat die Here agter alles sit nie, want die Here het ’n geleentheid gesoek om die Filistyne op hulle plek te sit. In daardie stadium het die Filistyne oor die Israeliete regeer. Simson en sy ouers is toe weg Timna toe. By die wingerde naby Timna het ’n jong leeu op Simson afgestorm. Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak en hy het die leeu met sy kaal hande uitmekaargeskeur asof dit ’n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie. In Timna het hy met die Filistynse vrou gaan gesels en hy het sommer baie van haar gehou. Later, op pad terug Timna toe vir die troue, het Simson van die pad afgedraai om na die leeu se geraamte te gaan kyk. Daar kry hy toe ’n swerm bye wat in die karkas nes gemaak het met heuning daarin. Hy het van die heuning uitgehaal en dit geloop en eet. Toe hy by sy pa-hulle kom, het hy vir hulle ook van die heuning gegee om te eet. Hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie. Simson is toe van daar af na die vrou se huis toe, waar hy ’n groot bruilofsfees gehou het volgens die gebruik van die jongmans van daardie tyd. Die Filistyne het 30 jongmans gestuur om hom te kom help.

RIGTERS 14:1-11 ABA (Bybel vir almal)

Eendag het Simson na die stad Timna gegaan en daar het hy 'n vrou gesien. Sy was 'n Filistynse meisie. Toe hy terugkom, het hy vir sy ouers vertel van haar. Hy het gesê: “Ek het in Timna 'n vrou gesien, 'n Filistynse meisie. Nou wil ek hê julle moet met haar ouers gaan praat, want ek wil met haar trou.” Simson se pa en ma het vir hom gesê: “Is daar nie by jou eie mense en in ons hele volk 'n vrou vir jou nie? Hoekom wil jy 'n vrou gaan haal by die Filistyne? Hulle is nie die Here se mense nie.” Maar Simson het vir sy pa gesê: “Sy is die vrou wat julle vir my moet kry, want ek hou van haar.” Dit is die Here wat dit laat gebeur het, maar Simson se ouers het dit nie geweet nie. Die Here wou die Filistyne straf. Hulle het in daardie tyd oor die Israeliete regeer. Simson en sy ouers het na Timna gegaan, en toe hulle by die wingerde van Timna kom, was daar 'n leeu wat gebrul het en wat vir Simson wou vang. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak, en Simson het die leeu met sy kaal hande doodgemaak, so maklik soos 'n mens 'n bokkie doodmaak. Hy het nie vir sy ouers daarvan vertel nie. Simson het met die vrou gaan praat, en hy het van haar gehou. Later het Simson teruggegaan na Timna om met die vrou te trou. Hy het langs die pad gestop om te kyk na die geraamte van die leeu. Daar was 'n swerm bye binne-in die geraamte, en daar was heuning. Hy het die heuning in sy hand gekrap en hy het geloop en daarvan geëet. Toe hy by sy ouers kom, het hy vir hulle ook heuning gegee, en hulle het geëet. Hy het die heuning uit die leeu se geraamte gehaal, maar hy het dit nie vir sy ouers vertel nie. Hulle het by die vrou se familie aangekom, en Simson het daar 'n fees gehou. Jongmanne wat trou, het altyd so 'n fees gehou. Toe die Filistyne vir Simson sien, het hulle 30 mans gekies om by hom te bly totdat die fees klaar is.

RIGTERS 14:1-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Simson het afgegaan na Timna. In Timna het hy 'n vrou onder die Filistynse meisies raakgesien. Hy gaan toe op, en vertel dit vir sy vader en moeder. Hy het gesê: “Ek het 'n vrou onder die Filistynse meisies in Timna raakgesien. Kry haar dan nou vir my as vrou. ” Sy vader en moeder sê toe vir hom: “Is daar onder die meisies van jou volksgenote, ja, onder my hele volk dan nie 'n vrou nie, dat jy moet gaan om 'n vrou te kry onder die onbesnede Filistyne? ” Maar Simson het vir sy vader gesê: “Kry háár vir my, want in my oë is sy die regte een.” Sy vader en moeder het egter nie geweet dat dit van die HERE kom nie, want Hy wou 'n geleentheid teen die Filistyne vind. In dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers. Simson, sy vader en moeder het toe afgegaan na Timna. Toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar skielik 'n jong leeu al brullend op hom af. Maar die Gees van die HERE het van hom besit geneem, en hy het die leeu uitmekaar geskeur soos 'n mens 'n bokkie uitmekaar sou skeur. Daar was niks in sy hand nie. Hy het egter nie vir sy vader en moeder vertel wat hy gedoen het nie. Hy het toe afgegaan en met die vrou gepraat, en sy was die regte een in Simson se oë. Toe hy 'n ruk later teruggaan om met haar te trou, het hy afgedraai om na die oorskot van die leeu te kyk. En sowaar, daar was 'n swerm bye in die karkas van die leeu, en heuning. Hy het dit uitgekrap in sy hande en daarvan geloop en eet. Hy het na sy vader en moeder gegaan, vir hulle daarvan gegee en hulle het ook geëet. Maar hy het nie vir hulle vertel dat hy die heuning uit die karkas van die leeu gekrap het nie. Sy vader het na die vrou toe afgegaan. Simson het daar 'n •bruilofsfees gehou, want dit is wat die jong manne gedoen het. Toe die Filistyne hom sien, het hulle dertig van hulle vertrouelinge aangewys om by hom te bly.

RIGTERS 14:1-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En Simson het afgegaan na Timna en 'n vrou in Timna gesien uit die dogters van die Filistyne. En hy het opgekom en dit aan sy vader en sy moeder vertel en gesê: Ek het 'n vrou in Timna gesien uit die dogters van die Filistyne; neem haar dan nou vir my as vrou. Toe sê sy vader en sy moeder vir hom: Is daar nooit 'n vrou onder die dogters van jou broers of onder my hele volk, dat jy 'n vrou van die onbesnede Filistyne gaan neem nie? En Simson sê vir sy vader: Kry haar vir my; want sy behaag my goed. Maar sy vader en sy moeder het nie geweet dat dit van die HERE was dat hy 'n geleentheid teen die Filistyne gesoek het nie, want in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers. Toe het Simson en sy vader en sy moeder na Timna gegaan en by die wingerde van Timna gekom, en kyk, 'n jong leeu het teen hom gebrul. En die Gees van die HERE het kragtig oor hom gekom, en hy het hom geskeur soos hy 'n bokkie wou skeur, en hy het niks in sy hand gehad nie; maar hy het sy vader of sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie. En hy het afgegaan en met die vrou gepraat; en sy het Simson goed behaag. En ná 'n tyd het hy teruggekeer om haar te neem, en hy het weggedraai om die lyk van die leeu te sien; en kyk, daar was 'n swerm bye en heuning in die lyk van die leeu. En hy het daarvan in sy hande geneem en aangehou om te eet, en by sy vader en moeder gekom, en hy het hulle gegee, en hulle het geëet; maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die aas van die leeu geneem het nie. Sy vader het toe afgegaan na die vrou, en Simson het daar 'n maaltyd berei; want so het die jongmanne gebruik om te doen. En toe hulle hom sien, het hulle dertig metgeselle gebring om by hom te wees.