RIGTERS 13:1-25
RIGTERS 13:1-25 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, en die Here het die Filistyne gehelp om die Israeliete 40 jaar lank te verdruk. Daar was 'n man in Sora, sy naam was Manoag en hy was van die nageslag van Dan. Manoag se vrou kon nie kinders kry nie. Die Engel van die Here het na die vrou toe gekom en vir haar gesê: “Jy kon nie kinders kry nie, maar jy sal nou swanger word en jy sal 'n seun kry. Maar nou moet jy oppas, jy moenie wyn of bier drink nie en jy moenie iets eet wat onrein is nie. Ja, jy is swanger en jy sal 'n seun kry, en hy moenie sy hare laat afskeer nie, want hy sal 'n nasireër van God wees vandat hy gebore is. En dit is hy wat sal begin om die Israeliete te red van die Filistyne.” Die vrou het na haar man toe gegaan en vir hom gesê: “Iemand van God het na my toe gekom. Hy het gelyk soos 'n engel van God, en ek het baie bang geword. Ek het hom nie gevra van waar hy kom nie, en hy het nie vir my gesê wie hy is nie. Hy het vir my gesê: ‘Jy is swanger en jy sal 'n seun kry, maar nou mag jy nie wyn of bier drink nie en jy moenie iets eet wat onrein is nie, want die seun sal 'n nasireër van God wees vandat hy gebore word totdat hy sterf.’ ” Manoag het gebid en vir die Here gevra: “Asseblief, Here, laat daardie man wat U gestuur het, weer na ons toe kom. Hy moet vir ons leer wat ons moet doen met die seun wat gebore sal word.” God het gedoen wat Manoag gevra het. Die Engel van God het weer na die vrou toe gekom. Sy het in die veld gesit en haar man Manoag was nie by haar nie. Die vrou het vinnig na haar man toe gehardloop en vir hom gesê: “Die man wat na my toe gekom het, het nou weer gekom.” Manoag het saam met sy vrou gegaan. Toe hy by die man kom, het hy vir die man gevra: “Is jy die man wat met my vrou gepraat het?” En die Engel het gesê: “Ja, Ek is.” Toe vra Manoag: “Wanneer die seun gebore word, hoe moet hy lewe en wat moet hy doen?” Die Engel van die Here het vir Manoag gesê: “Jou vrou moet oppas en sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het. Sy moet niks eet wat uit die wingerd kom nie, sy moenie wyn of bier drink nie en sy moenie iets eet wat onrein is nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.” Manoag sê toe vir die Engel van die Here: “Jy moet asseblief by ons bly, net 'n kort tydjie. Ons wil vir jou 'n bokkie gereedmaak om te eet.” Die Engel van die Here het vir Manoag gesê: “Ek sal 'n kort tydjie bly as jy dit wil hê, maar Ek sal nie iets eet nie. Maar as jy vir die Here 'n brand-offer wil gereedmaak, dan kan jy dit doen.” Dit was die Engel van die Here, maar Manoag het dit nie geweet nie. Manoag het vir die Engel van die Here gevra: “Wat is jou Naam, want wanneer die dinge gebeur wat jy gesê het, dan wil ons jou eer.” Toe sê die Engel van die Here vir hom: “Hoekom vra jy wat my Naam is? Jy sal nie my Naam verstaan nie.” Manoag het die bokkie en 'n koring-offer geneem en hy het dit op die rots neergesit. Dit was 'n offer vir die Here. En toe het die Here 'n wonderwerk laat gebeur. Manoag en sy vrou het dit gesien. Die vlam het van die altaar opgegaan in die lug, en die Engel van die Here het ook in die vlam opgegaan. Manoag en sy vrou het dit gesien, en hulle het laag gebuig, hulle gesigte was teen die grond. Die Engel van die Here het nie weer na Manoag en sy vrou toe gekom nie. Maar Manoag het toe geweet dit was die Engel van die Here. Daarom het Manoag vir sy vrou gesê: “Ons sal sterf, dit is seker, want ons het God gesien.” Maar sy vrou het vir hom gesê: “Nee, die Here wil ons nie laat sterf nie, want Hy het ons brand-offer en ons koring-offer aanvaar. Hy het ook vir ons al hierdie dinge laat sien en laat hoor. Hy sou dit nie gedoen het as Hy ons wou laat sterf nie.” Die vrou het 'n seun gekry en sy het hom Simson genoem. Hy het grootgeword en die Here het hom geseën. Die Gees van die Here het in Simson begin werk toe hy in Magane-Dan was, tussen Sora en Estaol.
RIGTERS 13:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank. En daar was 'n man uit Sórea, uit die geslag van die Daniete, met die naam van Manóag; en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie. Maar die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en 'n seun baar. Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie. Want kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar, en geen skeermes mag op sy hoof kom nie; want die seun sal van die moederskoot af 'n nasireër van God wees, en hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne. Daarop kom die vrou in en spreek met haar man en sê: 'n Man van God het na my gekom, en sy voorkoms was soos die voorkoms van die Engel van God, baie vreeslik; maar ek het Hom nie gevra waar Hy vandaan was nie, en sy naam het hy my nie meegedeel nie. Maar Hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar; drink dan nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; want die seun sal 'n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood toe. En Manóag het tot die HERE gebid en gesê: Ag, Here, laat tog die man van God wat U gestuur het, nog 'n keer na ons toe kom, dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word. En God het geluister na die stem van Manóag, sodat die Engel van God nog 'n keer na die vrou gekom het terwyl sy in die veld sit en haar man Manóag nie by haar was nie. En die vrou het haastig geloop en haar man dit vertel en vir hom gesê: Kyk, die man het aan my verskyn wat die ander dag na my gekom het. Toe staan Manóag op en loop agter sy vrou aan, en hy kom by die man en vra hom: Is U die man wat met dié vrou gespreek het? Toe sê Hy: Ja. Daarop vra Manóag: As u woorde nou uitkom, wat moet die leefwyse en die werk van die seun wees? Toe sê die Engel van die HERE aan Manóag: Vir alles wat Ek aan die vrou gesê het, moet sy haar in ag neem. Van alles wat van die wingerdstok afkomstig is, mag sy nie eet nie; en geen wyn of sterk drank moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou. Manóag sê aan die Engel van die HERE: Laat ons U tog ophou, dat ons 'n bokkie vir U kan berei. En die Engel van die HERE antwoord Manóag: Al hou jy My op, Ek sal nie van jou brood eet nie; maar as jy 'n brandoffer wil berei, offer dit dan aan die HERE. Want Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die HERE was nie. Daarop vra Manóag die Engel van die HERE: Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord uitkom? En die Engel van die HERE sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is? Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die HERE terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou: toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval. En die Engel van die HERE het verder nie meer aan Manóag en sy vrou verskyn nie. Daarop bemerk Manóag dat dit die Engel van die HERE was. En Manóag sê vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het. Maar sy vrou sê vir hom: As die HERE ons wou laat sterwe, sou Hy nie uit ons hand 'n brandoffer en 'n spysoffer aangeneem en ons al hierdie dinge laat sien en ons nou sulke dinge laat hoor het nie. En die vrou het 'n seun gebaar en hom Simson genoem; en die kind het groot geword, en die HERE het hom geseën. En die Gees van die HERE het hom begin drywe in die laer van Dan tussen Sórea en Estáol.
RIGTERS 13:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle veertig jaar lank oorgegee in die mag van die Filistyne. Daar was 'n man uit Sora uit die stam van Dan. Sy naam was Manoag. Sy vrou was kinderloos. Die Engel van die Here het aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy is nou kinderloos, maar jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink nie en ook nie iets onreins eet nie. Trouens, jy is reeds swanger en jy sal 'n seun in die wêreld bring. Sy hare mag nie geskeer word nie, want die kind sal van sy geboorte af aan God gewy wees. Hy sal die Israeliete begin red uit die mag van die Filistyne.” Die vrou het toe vir haar man gaan sê: “Daar het 'n man van God by my gekom. Hy het gelyk soos 'n engel van God, 'n man met gesag. Ek het hom nie gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het my nie gesê wat sy naam is nie. Hy het vir my gesê: Kyk, jy is swanger en sal 'n seun in die wêreld bring. Jy mag voortaan nie wyn of bier drink nie en ook nie enigiets onreins eet nie, want die kind sal van sy geboorte af tot met sy dood aan God gewy wees.” Toe het Manoag tot die Here gebid: “Here, laat die man van God vir wie U gestuur het, asseblief weer na ons toe kom dat hy ons kan leer wat ons moet doen met die kind wat gebore sal word.” God het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom. Sy het in die veld gesit, en haar man Manoag was nie by haar nie. Toe hardloop sy gou en sê vir haar man: “Die man wat nou die dag na my toe gekom het, het weer aan my verskyn.” Manoag is toe dadelik agter sy vrou aan. Hy het by die man gekom en vir hom gevra: “Is u die man wat met my vrou gepraat het?” Die Man het geantwoord: “Ja, Ek is.” Manoag het vir hom gevra: “Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen?” Die Engel van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet alles doen wat Ek vir haar gesê het. Sy mag nie die opbrengs van 'n wingerdstok eet nie, en sy mag nie wyn of bier drink nie. Sy mag ook nie iets onreins eet nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.” Toe sê Manoag vir die Engel van die Here: “Wag tog 'n rukkie, dan maak ons vir u 'n bokkie gaar.” Die Engel van die Here sê toe vir Manoag: “Al laat jy My 'n rukkie wag, sal Ek nie jou kos eet nie. Maar as jy 'n brandoffer wil bring, moet jy dit vir die Here bring.” Manoag het nie besef dat dit die Engel van die Here is nie, en toe sê Manoag vir die Engel: “Wat is u naam? Wanneer u belofte waar word, wil ons aan u eer betoon.” Hy het vir Manoag geantwoord: “Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek.” Toe vat Manoag die bokkie, en hy sit dit saam met 'n graanoffer op 'n klip as offer vir die Here. Terwyl Manoag en sy vrou staan en kyk, het die Here 'n wonder laat gebeur. Die vlam het van die altaar af opgegaan hemel toe en die Engel van die Here het in die altaarvlam opgestyg. Manoag en sy vrou het dit gesien en hulle het platgeval op die grond. Die Engel van die Here het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie, maar Manoag het besef dat dit die Engel van die Here was. Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan beslis sterf, want ons het God gesien,” maar sy sê vir haar man: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie die brandoffer en graanoffer van ons aangeneem het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike ding laat sien het en ons vandag hierdie nuus meegedeel het nie.” Die vrou het 'n seun in die wêreld gebring en sy het hom Simson genoem. Die kind het groot geword en die Here het hom geseën: die Gees van die Here het hom in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, begin lei.
RIGTERS 13:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Die HERE het hulle toe veertig jaar lank oorgegee in die hand van die Filistyne. Daar was 'n sekere man uit Sora, uit 'n familiegroep van Dan; sy naam was Manoag. Sy vrou was onvrugbaar en kon nie kinders kry nie. Die •Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: “Kyk, jy is onvrugbaar en kan nie kinders kry nie, maar jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Daarom, wees nou versigtig; moenie wyn of sterk drank drink nie en moenie enigiets •onreins eet nie. Ja, kyk, jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. 'n Skeermes mag nie naby sy kop kom nie, want die seun sal 'n •nasireër van God wees van die moederskoot af. Hy sal begin om Israel te red uit die hand van die Filistyne.” Die vrou gaan toe na binne en sê vir haar man: “'n Man van God het na my gekom; en sy voorkoms was soos die voorkoms van die •Engel van God en was vreesaanjaend. Maar ek het hom nie gevra waarvandaan hy is nie; en wat sy naam is, het hy my nie vertel nie. Hy het vir my gesê, ‘Kyk, jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Daarom, moenie wyn of sterk drank drink nie, en moenie enigiets onreins eet nie, want die seun sal 'n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood.’ ” Manoag het toe by die HERE gepleit en gesê: “Asseblief, my Heer! Die man van God wat U gestuur het, laat hy tog weer 'n keer na ons kom, sodat hy ons kan leer wat ons moet doen met die seun wat gebore gaan word.” God het geluister na die versoek van Manoag. Die Engel van God het weer na die vrou gekom terwyl sy in die veld gesit het; maar haar man, Manoag, was nie by haar nie. Die vrou hardloop toe vinnig en gaan vertel dit vir haar man. Sy het vir hom gesê: “Kyk, die man wat nou die dag na my gekom het, het aan my verskyn!” Daarop staan Manoag op en gaan agter sy vrou aan. Toe hy by die man kom, vra hy vir hom: “Is u die man wat met die vrou gepraat het?” Hy het geantwoord: “Dit is ek.” Manoag sê toe: “Mag u woorde dan nou waar word! Watter reëls moet vir die seun geld, en wat is sy taak?” Die Engel van die HERE het Manoag geantwoord: “Van alles wat Ek vir die vrou genoem het, moet sy haar weerhou. Enigiets wat van die wingerdstok af kom, mag sy nie eet nie. Wyn en sterk drank moet sy nie drink nie. Enigiets wat onrein is, moet sy nie eet nie. Alles wat Ek haar beveel, moet sy nakom.” Manoag sê toe vir die Engel van die HERE: “Mag ons U ophou, sodat ons vir U 'n bokkie kan voorberei?” Maar die Engel van die HERE sê vir Manoag: “As jy My ophou, sal Ek nie van jou kos eet nie; maar as jy 'n •brandoffer wil bring, moet jy dit vir die HERE bring.” Manoag het immers nie besef dat dit die Engel van die HERE is nie. Toe vra Manoag vir die Engel van die HERE: “Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord vervul word?” Die Engel van die HERE het hom geantwoord: “Waarom vra jy nou my naam? Dit is iets onbegrypliks.” Manoag neem toe die bokkie en die •graanoffer, en offer dit vir die HERE op 'n rots. Die HERE het 'n wonder laat gebeur terwyl Manoag en sy vrou toekyk. Toe die vlam van die altaar af na die hemelruim opstyg, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgegaan terwyl Manoag en sy vrou dit sien. Hulle het neergeval met hulle gesigte teen die grond. Die Engel van die HERE het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie. Toe besef Manoag dat dit die Engel van die HERE was. Manoag het vir sy vrou gesê: “Ons sal beslis sterf, want ons het God gesien.” Maar sy vrou het vir hom gesê: “As die HERE ons wou laat sterf, sou Hy nie uit ons hand 'n brandoffer en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ons nie al hierdie dinge laat ervaar het nie, en Hy sou nie juis nou aan ons so iets bekend gemaak het nie.” Die vrou het toe 'n seun in die wêreld gebring en hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die HERE het hom geseën. Die Gees van die HERE het hom begin aanvuur by Magane-Dan, tussen Sora en Estaol.
RIGTERS 13:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE; en die HERE het hulle in die hand van die Filistyne gegee, veertig jaar lank. En daar was 'n sekere man uit Sore, uit die geslag van die Daniete, wie se naam Manóag was; en sy vrou was onvrugbaar en het nie gebaar nie. En die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk tog, jy is onvrugbaar en baar nie, maar jy sal swanger word en 'n seun baar. Pas julle dan nou tog op en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie. Want kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie, want die seun sal van die moederskoot af 'n Nasireër vir God wees; en hy sal begin om Israel uit die hand van die Filistyne te verlos. Toe kom die vrou en vertel haar man en sê: 'n Man van God het na my gekom, en sy voorkoms was soos die gesig van 'n engel van God, baie verskriklik; maar ek het hom nie gevra waar hy vandaan is nie, en hy het my nie sy naam vertel nie. Maar hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar; en drink nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; want die seuntjie sal 'n Nasireër vir God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood. Toe het Manoag die HERE gesmeek en gesê: My HERE, laat die man van God wat U gestuur het, na ons terugkom en ons leer wat ons met die kindjie wat gebore sal word, moet doen. En God het geluister na die stem van Manóag; en die engel van God het weer na die vrou gekom terwyl sy in die veld sit, maar haar man Manóag was nie by haar nie. En die vrou het gou gemaak en gehardloop en haar man te kenne gegee en vir hom gesê: Kyk, die man het aan my verskyn wat nou die dag na my gekom het. En Manoag het opgestaan en sy vrou agterna gegaan en by die man gekom en vir hom gesê: Is jy die man wat met die vrou gespreek het? En hy sê: Ek is. Toe sê Manóag: Laat jou woorde nou gebeur. Hoe sal ons die kind beveel, en hoe moet ons aan hom doen? Toe sê die Engel van die HERE vir Manóag: Laat haar oppas vir alles wat Ek aan die vrou gesê het. Sy mag niks eet wat van die wingerdstok kom nie, en sy mag ook geen wyn of sterk drank drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou. Toe sê Manóag vir die Engel van die HERE: Laat ons jou tog ophou totdat ons vir jou 'n bokkie gereed gemaak het. Toe sê die Engel van die HERE vir Manóag: Al hou jy My aan, Ek sal nie van jou brood eet nie; en as jy 'n brandoffer wil bring, moet jy dit aan die HERE bring. Want Manoag het nie geweet dat hy 'n engel van die HERE was nie. Toe sê Manóag aan die Engel van die HERE: Wat is u naam, dat ons u eer kan betoon as u woorde gebeur? En die Engel van die HERE sê vir hom: Waarom vra jy so na my Naam, aangesien dit geheim is? Daarop het Manóag 'n bokkie saam met 'n spysoffer geneem en dit op 'n rots aan die HERE geoffer, en die engel het wonderbaarlik gedoen; en Manoag en sy vrou het gekyk. Want toe die vlam van die altaar af na die hemel opgaan, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar. En Manóag en sy vrou het daarna gekyk en met hul aangesig op die grond geval. Maar die engel van die HERE het nie meer aan Manoag en sy vrou verskyn nie. Toe het Manoag geweet dat hy 'n engel van die HERE was. Toe sê Manoag vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, want ons het God gesien. Maar sy vrou sê vir hom: As die HERE dit behaag het om ons dood te maak, sou Hy geen brandoffer en spysoffer van ons hand ontvang het nie, en sou Hy ons al hierdie dinge nie laat sien het nie, en ook nie soos in hierdie tyd gesê het nie ons sulke dinge soos hierdie. En die vrou het 'n seun gebaar en hom Simson genoem; en die kind het groot geword, en die HERE het hom geseën. En die Gees van die HERE het hom soms begin beweeg in die laer van Dan tussen Sorea en Estaol.
RIGTERS 13:1-25 Die Boodskap (DB)
Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle vir 40 jaar in die mag van die Filistyne oorgegee. Daar was ’n man uit Sora uit die stam van Dan met die naam Manoag. Hy en sy vrou was kinderloos omdat sy nie swanger kon raak nie. Daar het toe ’n Boodskapper van die Here aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy kon nog nooit swanger word nie, maar binnekort gaan jy wel swanger word en geboorte gee aan ’n seun. Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie. Soos ek gesê het, jy sal geboorte gee aan ’n seun. Sy hare mag nooit gesny word nie, want dié kind sal van sy geboorte af net vir God se diens opsy gesit wees. Dit sal hy wees wat die Israeliete uit die mag van die Filistyne red.” Die vrou het toe vir haar man gesê: “Daar het ’n Boodskapper van God by my aangekom. Hy het net soos ’n engel van God gelyk. Om die waarheid te sê, ek was nogal bang vir hom. Ek het nie vir hom gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het ook nie vir my gesê wat sy naam is nie. Maar hy het vir my gesê: ‘Jy is swanger en jy gaan geboorte gee aan ’n seun. Jy moet van nou af nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie, want die kind sal van sy geboorte tot sy dood aan God toegewy wees.’” Manoag het toe gebid en vir die Here gesê: “Here, stuur asseblief weer die man van God na ons toe sodat hy vir ons kan verduidelik hoe ons die kind moet grootmaak.” Die Here het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom waar sy alleen in die veld gesit het. Manoag was nie by haar nie. Daarom het sy vinnig na hom toe gehardloop en vir hom gesê: “Die man wat nou die dag met my gepraat het, is weer hier!” Manoag is toe dadelik saam met sy vrou daar weg. By die man aangekom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat nou die dag met my vrou gepraat het?” “Ja, dit is ek,” het hy geantwoord. Manoag vra toe vir hom: “As jou belofte waar word, hoe moet die kind optree?” Die Boodskapper van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet seker maak dat sy alles doen wat Ek vir haar gesê het om te doen. Sy mag nie druiwe eet of wyn en sterk drank drink nie. Sy mag ook nie enige verbode kos eet nie. Sy moet net doen wat Ek vir haar gesê het.” Manoag sê toe vir die Boodskapper van die Here: “Bly nog so ’n rukkie hier, dan maak ons vir jou ’n bokkie gaar.” Die Boodskapper van die Here sê toe vir Manoag: “Al bly ek nog ’n ruk hier, sal ek in elk geval nie jou kos eet nie. Gebruik eerder die bokkie as ’n brandoffer vir die Here om vir Hom dankie te sê.” Manoag het nie besef dat dit die Here se Boodskapper is nie, en hy vra toe vir hom: “Wat is jou naam? Ek vra dit sodat ons aan jou eer kan bewys wanneer jou woorde waar word.” “Hoekom vra jy my Naam?” het die Boodskapper van die Here gevra. “In elk geval, al sê ek dit ook vir jou, sal jy dit nie verstaan nie.” Manoag het toe ’n bokkie saam met ’n bietjie graan as ’n offer op ’n klip neergesit. Toe doen die Here ’n wonder voor hulle oë. Terwyl die vlam van die altaar af opvlam die lug in, het die Boodskapper van die Here in die vlamme teruggegaan hemel toe. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle plat op die grond neergeval. Die Boodskapper het nie weer na hulle toe gekom nie, en Manoag het besef dat die Boodskapper ’n Engel van die Here was. Toe sê Manoag vir sy vrou: “Nou sal ons sekerlik doodgaan, want ons het God gesien!” Maar sy het hom geantwoord: “As die Here van plan was om ons dood te maak, sou Hy nooit ons offers aanvaar het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike goed laat sien het en vir ons sulke goeie nuus gebring het as dit sy plan was nie.” Toe haar seun gebore is, het sy hom Simson genoem. Die kind het ouer geword en die Here het hom geseën. Die Gees van die Here het in hom begin werk in die omgewing van Magane-Dan, tussen Sora en Estaol.
RIGTERS 13:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Israeliete het weer voor die HERE kwaad gedoen. Hy het hulle vir 40 jaar lank aan die Filistyne onderwerp. Daar was ’n man in Sora met die naam Manoag. Hy was uit die stam van Dan. Sy vrou kon nie kinders hê nie. Die engel van die HERE het by haar gekom en vir haar gesê: “Jy kon nie tot dusver kinders kry nie, maar jy sal binnekort verwag en ’n seun hê. Wees versigtig. Moenie wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie. Jy gaan binnekort geboorte gee aan ’n seun. Jou seun se hare mag nooit geskeer word nie. Hy sal van geboorte af ’n nasireër van God wees. Hy sal die Israeliete uit die hand van die Filistyne bevry.” Die vrou het vir haar man gaan vertel: “Daar het ’n man van God na my toe gekom. Dit was vreeslik. Hy het gelyk of hy ’n engel van God kan wees. Ek het nie vir hom gevra waar hy vandaan kom nie. Hy het ook nie vir my gesê wie hy is nie. Hy het vir my gesê: ‘Kyk, jy gaan verwag en ’n seun hê. Jy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie. Die seun sal van sy geboorte tot sy dood aan God gewy wees.’” Manoag het toe tot die HERE gebid: “Here, laat asseblief tog die man van God wat U na ons gestuur het, weer na ons toe kom. Laat hy vir ons meer kom sê oor wat ons moet doen met die kind wat gebore gaan word.” God het Manoag se gebed verhoor. God se engel het weer na die vrou toe gekom. Sy was op daardie oomblik in die veld. Haar man, Manoag, was toe nie by haar nie. Sy hardloop toe gou terug na haar man toe en sê vir hom: “Die man wat nou die dag by my was, het nou weer gekom.” Manoag het saam met sy vrou teruggehardloop. Toe hy by die man kom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat met my vrou gepraat het?” Die man het geantwoord: “Dit was ek, ja.” Manoag het vir hom gevra: “Wanneer jou belofte waar word, hoe moet die kind lewe en wat moet hy doen?” Die Engel van die HERE het vir Manoag geantwoord: “Sorg dat jou vrou alles doen wat Ek vir haar gesê het. Sy mag nie iets eet wat van druiwe af kom nie. Sy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Sy mag niks eet wat onrein is nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.” Toe sê Manoag vir die Engel van die HERE: “Wag ’n bietjie hier. Ek wil vir jou ’n bokkie gaan gaarmaak om te eet.” “Ek sal hier wag,” sê die Engel van die HERE vir Manoag. “Maar Ek sal niks eet nie. Jy kan wel ’n brandoffer gereedmaak en dit vir die HERE bring.” Manoag het nie agtergekom dat dit die Engel van die HERE was nie. Manoag vra toe vir die Engel: “Wie is jy? Wanneer dit gebeur soos jy gesê het, wil ons graag jou naam vereer.” Hy het vir Manoag geantwoord: “Hoekom wil jy weet wie Ek is? Dit is te groot vir jou.” Manoag het toe ’n bokkie gereed gekry en dit saam met ’n graanoffer op ’n klip vir die HERE geoffer. Terwyl Manoag en sy vrou so staan en kyk, het iets wonderliks gebeur. Toe die vlamme uit die altaar opskiet die lug in, het die Engel van die HERE in die vlamme opgestyg. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle vooroor met hulle gesigte teen die grond neergeval. Manoag en sy vrou kon die Engel nie meer sien nie. Manoag het toe besef dat dit eintlik die Engel van die HERE was. Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan sekerlik nie bly leef nie. Ons het dan vir God gesien.” Sy sê vir haar man: “As die HERE ons wou doodmaak, sou Hy nie ons brandoffer en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ook nie aan ons verskyn het en ons al hierdie wonderlike dinge vertel het nie.” Die vrou het ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die HERE het hom geseën. Die Gees van die HERE het in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, in hom begin werk.