RIGTERS 10:1-5
RIGTERS 10:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Ná Abimelek het Tola die Israeliete gered. Hy was die seun van Pua, seun van Dodo, van die Issaskar-stam, en hy het gewoon in die stad Samir in die Efraim-berge. Hy was 23 jaar lank die leier van die Israeliete. Hy het gesterf, en hulle het hom in Samir begrawe. Ná Tola was Jaïr van Gilead 22 jaar lank die leier van die Israeliete. Hy het 30 seuns gehad wat op 30 donkies gery het. Hulle het 30 stede gehad, en die mense noem die stede vandag nog die Jaïr-kampe. Die kampe is in die land Gilead. Jaïr het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad Kamon.
RIGTERS 10:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ná Abiméleg het Tola, die seun van Pua, die seun van Dodo, 'n man uit Íssaskar, opgetree om Israel te verlos; en hy het gewoon in Samir op die gebergte van Efraim. En hy het Israel drie-en-twintig jaar lank gerig; en hy het gesterwe en is in Samir begrawe. En ná hom het Jaïr, die Gileadiet, opgetree, en hy het Israel twee-en-twintig jaar lank gerig. En hy het dertig seuns gehad, wat op dertig jong esels gery en dertig stede gehad het; dié word tot vandag toe die Jaïrsdorpe genoem wat in die land Gílead lê. En Jaïr het gesterwe en is in Kamon begrawe.
RIGTERS 10:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na Abimelek het Tola na vore gekom om die Israeliete te red. Hy was 'n seun van Puwwa, seun van Dodo uit Issaskar, en hy het in Samir op die Efraimsberge gewoon. Hy was drie en twintig jaar lank die leier van Israel. Hy het gesterf, en hy is in Samir begrawe. Na hom het Jaïr uit Gilead na vore gekom en hy was twee en twintig jaar lank die leier van Israel. Jaïr het dertig seuns gehad en elkeen het op 'n jong donkie gery. Hulle het dertig dorpe besit en dit word nou nog die tentdorpe van Jaïr genoem. Die dorpe is in Gilead geleë. Jaïr het gesterf, en hy is begrawe in Kamon.
RIGTERS 10:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná Abimeleg het Tola, seun van Puwwa, seun van Dodo, 'n man uit Issaskar, opgestaan om Israel te verlos. Hy het by Samir, in die heuwelland van Efraim, gewoon. Hy het Israel drie-en-twintig jaar lank gerig. Toe hy gesterf het, is hy in Samir begrawe. Ná hom het Jaïr, 'n man uit Gilead, opgestaan en Israel twee-en-twintig jaar lank gerig. Hy het dertig seuns gehad wat op dertig donkiehingste gery en dertig dorpe gehad het. Dit word vandag nog Gawwoot-Jaïr genoem, en is in die Gileadstreek geleë. Jaïr het gesterf, en is in Kamon begrawe.
RIGTERS 10:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ná Abiméleg het Tola, die seun van Pua, die seun van Dodo, 'n man van Issaskar, opgestaan om Israel te verdedig; en hy het gewoon in Samir, op die gebergte van Efraim. En hy het Israel drie-en-twintig jaar gerig en gesterwe en is in Samir begrawe. En ná hom het Jaïr, 'n Gileadiet, opgestaan en Israel twee en twintig jaar gerig. En hy het dertig seuns gehad wat op dertig eselvulsels gery het, en hulle het dertig stede gehad wat tot vandag toe Havot-Jair genoem word, wat in die land Gílead is. En Jaïr het gesterwe en is in Kamon begrawe.
RIGTERS 10:1-5 Die Boodskap (DB)
Na Abimelek se dood het Tola seun van Puwwa, die kleinseun van Dodo, tot Israel se redding gekom. Hy was ’n lid van die stam Issaskar en het in die dorp Samir in die berge van Efraim gebly. Hy was 23 jaar lank die leier van Israel. Na sy dood is hy in Samir begrawe. Na Tola se dood het Jaïr uit Gilead 22 jaar lank as leier in Israel opgetree. Jaïr het 30 seuns gehad wat elkeen op ’n jong donkie rondgery het. Hulle het ook 30 dorpe in die gebied van Gilead gehad wat steeds bekend staan as die tentdorpe van Jaïr. Na sy dood is Jaïr in Kamon begrawe.
RIGTERS 10:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ná Abimelek was Tola Israel se rigter. Hy was die seun van Puwwa, die seun van Dodo, uit die stam Issaskar. Hy het in Samir in die heuwels van Efraim gebly. Hy het Israel 23 jaar lank gelei. Hy is dood en is in Samir begrawe. Ná hom het Jaïr uit Gilead Israel 22 jaar lank gelei. Sy 30 seuns het elkeen op ’n donkie gery. Hulle het 30 dorpe in Gilead gehad. Dit word vandag nog die tentdorpe van Jaïr genoem. Toe Jaïr sterf, is hy in Kamon begrawe.