JAKOBUS 2:6-11
JAKOBUS 2:6-11 Bybel vir almal (ABA)
Maar dit is júlle wat arm mense verneder het. Julle het dit gedoen, maar julle weet goed dat dit die ryk mense is wat vir julle laat swaarkry en dat dit húlle is wat vir julle na die hof toe vat. En julle weet ook goed dat dit die ryk mense is wat die mooi Naam van God laster, God aan wie julle behoort. Die hemelse Koning sê in sy wette in die Ou Testament: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” As julle dit doen, dan het julle 'n goeie ding gedoen. Maar as julle dink een persoon is belangriker as 'n ander persoon, dan doen julle sonde, en die wette wys dan dat julle nie gehoorsaam is nie. Wanneer 'n mens nie doen wat een van die wette van God sê nie, maar hy doen wat al die ander wette sê, dan is hy so skuldig soos iemand wat verkeerd gedoen het teen al die wette van God. Want God het gesê: “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” Hy het ook gesê: “Jy mag nie iemand doodmaak nie.” As jy nie egbreuk pleeg nie, maar jy maak iemand dood, dan doen jy nie wat die wette sê nie.
JAKOBUS 2:6-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie? As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed. Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf. Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword.
JAKOBUS 2:6-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.
JAKOBUS 2:6-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy 'n oortreder van die wet.
JAKOBUS 2:6-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar julle het die armes verag. Verdruk rykes jou nie en trek hulle jou nie voor die regterstoele nie? Laster hulle nie daardie waardige naam waarheen julle uitgeroep is nie? As julle die koninklike wet vervul volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, doen julle goed. Maar as julle vir die persoon respek het, doen julle sonde en is julle as oortreders oortuig van die wet. Want elkeen wat die hele wet onderhou en tog in een opsig aanstoot neem, hy is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het: Moenie egbreuk pleeg nie, het ook gesê: Moenie doodslaan nie. En as jy geen egbreuk pleeg nie, maar as jy doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword.
JAKOBUS 2:6-11 Die Boodskap (DB)
Maar julle behandel juis hierdie arm, onbelangrike mense sleg. Dink weer mooi daaroor na. Wie is die rykes voor wie julle so kruip? Is dit nie hulle wat nie omgee om op julle te trap en julle soos vloerlappe te behandel nie? Is dit nie dieselfde mense wat vir julle so maklik voor almal van allerhande lelike dinge beskuldig nie? Is dit nie ook hulle wat omdraai en Hom beledig wat vir julle so belangrik is nie? As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê. As julle egter party mense begin voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangrik lyk, doen julle nie wat God van julle vra nie. Volgens die wet van die Koning is julle dan niks beter as tronkvoëls wat nie wil luister na sy wet nie. Dit help nie dat ’n mens die meeste van God se wette presies hou, maar jou aan een van hulle nie steur nie. Al is dit net daardie één wat jy nie wil doen nie, is dit so goed of jy die rug draai vir alles wat God van jou vra. Dieselfde God wat gesê het: “Moenie ’n verhouding met iemand anders buite jou huwelik aangaan nie,” het ook gesê: “Moenie iemand doodmaak nie.” Al bly jy hoe getrou aan jou huweliksmaat, maar jy maak iemand dood, het jy God se wet gebreek. Dan is jy ’n wetbreker.
JAKOBUS 2:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie? Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie? Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders. Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree. Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat getrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree.