JAKOBUS 2:5-8
JAKOBUS 2:5-8 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moet luister na my. Die mense van die wêreld dink miskien dat party mense arm is, maar júlle weet dat God arm mense gekies het om ryk te wees. Hulle is ryk omdat hulle in Hom glo en omdat Hy belowe het dat Hy die Koning sal wees van die mense wat lief is vir Hom. Maar dit is júlle wat arm mense verneder het. Julle het dit gedoen, maar julle weet goed dat dit die ryk mense is wat vir julle laat swaarkry en dat dit húlle is wat vir julle na die hof toe vat. En julle weet ook goed dat dit die ryk mense is wat die mooi Naam van God laster, God aan wie julle behoort. Die hemelse Koning sê in sy wette in die Ou Testament: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” As julle dit doen, dan het julle 'n goeie ding gedoen.
JAKOBUS 2:5-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Luister, my geliefde broeders — het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie? As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed.
JAKOBUS 2:5-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg.
JAKOBUS 2:5-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed.
JAKOBUS 2:5-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Luister, my geliefde broeders, het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies, ryk in geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die armes verag. Verdruk rykes jou nie en trek hulle jou nie voor die regterstoele nie? Laster hulle nie daardie waardige naam waarheen julle uitgeroep is nie? As julle die koninklike wet vervul volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, doen julle goed.
JAKOBUS 2:5-8 Die Boodskap (DB)
Luister mooi na wat ek sê. Vir wie het God gekies om sy goeie vriende te wees? Vir wie het God sy kinders gemaak sodat alles wat aan Hom behoort ook hulle s’n kan word? Hy het dit alles mos beloof aan mense wat vir Hom lief is. Hy het dit aan diegene gedoen wat in die oë van mense onbelangrik lyk; mense op wie ander neersien. Maar julle behandel juis hierdie arm, onbelangrike mense sleg. Dink weer mooi daaroor na. Wie is die rykes voor wie julle so kruip? Is dit nie hulle wat nie omgee om op julle te trap en julle soos vloerlappe te behandel nie? Is dit nie dieselfde mense wat vir julle so maklik voor almal van allerhande lelike dinge beskuldig nie? Is dit nie ook hulle wat omdraai en Hom beledig wat vir julle so belangrik is nie? As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê.
JAKOBUS 2:5-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie? Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie? Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”