JAKOBUS 2:5-6
JAKOBUS 2:5-6 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moet luister na my. Die mense van die wêreld dink miskien dat party mense arm is, maar júlle weet dat God arm mense gekies het om ryk te wees. Hulle is ryk omdat hulle in Hom glo en omdat Hy belowe het dat Hy die Koning sal wees van die mense wat lief is vir Hom. Maar dit is júlle wat arm mense verneder het. Julle het dit gedoen, maar julle weet goed dat dit die ryk mense is wat vir julle laat swaarkry en dat dit húlle is wat vir julle na die hof toe vat.
JAKOBUS 2:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Luister, my geliefde broeders — het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie?
JAKOBUS 2:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie?
JAKOBUS 2:5-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie?
JAKOBUS 2:5-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Luister, my geliefde broeders, het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies, ryk in geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die armes verag. Verdruk rykes jou nie en trek hulle jou nie voor die regterstoele nie?
JAKOBUS 2:5-6 Die Boodskap (DB)
Luister mooi na wat ek sê. Vir wie het God gekies om sy goeie vriende te wees? Vir wie het God sy kinders gemaak sodat alles wat aan Hom behoort ook hulle s’n kan word? Hy het dit alles mos beloof aan mense wat vir Hom lief is. Hy het dit aan diegene gedoen wat in die oë van mense onbelangrik lyk; mense op wie ander neersien. Maar julle behandel juis hierdie arm, onbelangrike mense sleg. Dink weer mooi daaroor na. Wie is die rykes voor wie julle so kruip? Is dit nie hulle wat nie omgee om op julle te trap en julle soos vloerlappe te behandel nie?
JAKOBUS 2:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie?