JAKOBUS 2:1-13
JAKOBUS 2:1-13 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, julle glo in die Here Jesus Christus wat die Koning is. Daarom moet julle nie dink dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie. Miskien kom daar in julle vergadering 'n man wat 'n goue ring aan sy vinger het en wat mooi klere dra. En miskien kom daar ook 'n arm man wat vuil en stukkende klere dra. As julle dink die man wat die mooi klere dra, is belangrik en julle sê vir hom: “Kom sit hier op die goeie sitplek,” maar julle sê vir die arm man: “Gaan staan daar agter” of “Sit hier by my voete,” dan dink julle dat die een persoon belangriker is as die ander persoon. Dan is julle soos regters wat verkeerd besluit omdat hulle verkeerd dink. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moet luister na my. Die mense van die wêreld dink miskien dat party mense arm is, maar júlle weet dat God arm mense gekies het om ryk te wees. Hulle is ryk omdat hulle in Hom glo en omdat Hy belowe het dat Hy die Koning sal wees van die mense wat lief is vir Hom. Maar dit is júlle wat arm mense verneder het. Julle het dit gedoen, maar julle weet goed dat dit die ryk mense is wat vir julle laat swaarkry en dat dit húlle is wat vir julle na die hof toe vat. En julle weet ook goed dat dit die ryk mense is wat die mooi Naam van God laster, God aan wie julle behoort. Die hemelse Koning sê in sy wette in die Ou Testament: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” As julle dit doen, dan het julle 'n goeie ding gedoen. Maar as julle dink een persoon is belangriker as 'n ander persoon, dan doen julle sonde, en die wette wys dan dat julle nie gehoorsaam is nie. Wanneer 'n mens nie doen wat een van die wette van God sê nie, maar hy doen wat al die ander wette sê, dan is hy so skuldig soos iemand wat verkeerd gedoen het teen al die wette van God. Want God het gesê: “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” Hy het ook gesê: “Jy mag nie iemand doodmaak nie.” As jy nie egbreuk pleeg nie, maar jy maak iemand dood, dan doen jy nie wat die wette sê nie. Wanneer julle praat of iets doen, dan moet julle altyd onthou dat God julle sal oordeel. God sal julle oordeel met die wette wat vir mense vrymaak. Want wanneer God oordeel, dan sal Hy nie jammer wees vir mense wat nie goed was vir ander mense nie. Maar as mense goed was vir ander mense, dan sal God nie vir hulle straf nie.
JAKOBUS 2:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MY broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers, met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit — het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie? Luister, my geliefde broeders — het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie? As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed. Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf. Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word. Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel.
JAKOBUS 2:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. Sê nou daar kom in julle samekoms 'n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook 'n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak 'n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet. Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vrymaak. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.
JAKOBUS 2:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
My broers, julle geloof in ons Here Jesus •Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie. As daar 'n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook 'n arm man met vuil klere aan, en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op 'n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie? Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy 'n oortreder van die wet. Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.
JAKOBUS 2:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My broeders, moenie die geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, met respek vir die persoon hê nie. Want as daar 'n man met 'n goue ring na julle vergadering kom, in mooi kleed, en daar kom ook 'n arm man in met gemene klere; En julle moet ag gee op hom wat die vrolike klere dra, en sê vir hom: Sit hier op 'n goeie plek; en sê vir die armes: Staan daar of sit hier onder my voetbank. Is julle dan nie partydig in julleself en het regters van bose gedagtes geword nie? Luister, my geliefde broeders, het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies, ryk in geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die armes verag. Verdruk rykes jou nie en trek hulle jou nie voor die regterstoele nie? Laster hulle nie daardie waardige naam waarheen julle uitgeroep is nie? As julle die koninklike wet vervul volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, doen julle goed. Maar as julle vir die persoon respek het, doen julle sonde en is julle as oortreders oortuig van die wet. Want elkeen wat die hele wet onderhou en tog in een opsig aanstoot neem, hy is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het: Moenie egbreuk pleeg nie, het ook gesê: Moenie doodslaan nie. En as jy geen egbreuk pleeg nie, maar as jy doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword. So spreek julle en doen so, soos hulle wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word. Want hy sal sonder barmhartigheid geoordeel word wat geen barmhartigheid bewys het nie; en barmhartigheid is bly teen die oordeel.
JAKOBUS 2:1-13 Die Boodskap (DB)
Christene, niemand is of kan so belangrik wees soos ons Here Jesus Christus nie. Moenie nou sê julle is hierdie Here s’n en dan omdraai en gaan kruip voor mense met baie geld of status nie. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Veronderstel twee mans kom by julle aan terwyl julle kerk hou. Die een man het geld soos bossies. Dit kan jy sommer aan sy klere sien. Hy is ook een van die belangrikste mense in die dorp. Die ander man is egter arm. Sy klere is oud en stukkend. Niemand in die dorp steur hulle aan hom nie. Nou kom die twee saam daar by julle aan. Vir die ryk, belangrike man sê julle: “Kom sit hier op die beste en lekkerste plek.” Vir die arm, onbelangrike man sê julle: “Sit sommer hier op die grond of kry maar vir jou ’n ander plekkie.” Wat dink julle het julle dan gedoen? Het julle dan nie eintlik gesê dat party mense (oor wat hulle besit of wie hulle is) belangriker as ander is nie? Dis tog verkeerd! As julle party beter as ander behandel omdat hulle vir julle ryker of belangriker lyk, tree julle nie soos Jesus op nie. Dan doen julle presies wat ’n klomp slegte mense sou doen. Luister mooi na wat ek sê. Vir wie het God gekies om sy goeie vriende te wees? Vir wie het God sy kinders gemaak sodat alles wat aan Hom behoort ook hulle s’n kan word? Hy het dit alles mos beloof aan mense wat vir Hom lief is. Hy het dit aan diegene gedoen wat in die oë van mense onbelangrik lyk; mense op wie ander neersien. Maar julle behandel juis hierdie arm, onbelangrike mense sleg. Dink weer mooi daaroor na. Wie is die rykes voor wie julle so kruip? Is dit nie hulle wat nie omgee om op julle te trap en julle soos vloerlappe te behandel nie? Is dit nie dieselfde mense wat vir julle so maklik voor almal van allerhande lelike dinge beskuldig nie? Is dit nie ook hulle wat omdraai en Hom beledig wat vir julle so belangrik is nie? As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê. As julle egter party mense begin voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangrik lyk, doen julle nie wat God van julle vra nie. Volgens die wet van die Koning is julle dan niks beter as tronkvoëls wat nie wil luister na sy wet nie. Dit help nie dat ’n mens die meeste van God se wette presies hou, maar jou aan een van hulle nie steur nie. Al is dit net daardie één wat jy nie wil doen nie, is dit so goed of jy die rug draai vir alles wat God van jou vra. Dieselfde God wat gesê het: “Moenie ’n verhouding met iemand anders buite jou huwelik aangaan nie,” het ook gesê: “Moenie iemand doodmaak nie.” Al bly jy hoe getrou aan jou huweliksmaat, maar jy maak iemand dood, het jy God se wet gebreek. Dan is jy ’n wetbreker. Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets. Die wet help ’n mens om die grypende kloue van die kwaad te systap. Iemand wat ander mense sonder werklike liefde en gevoel behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar. As iemand egter liefdevol en sensitief teenoor ander optree, beteken dit dat daar by die oordeel niks teen so ’n persoon gesê sal word nie.
JAKOBUS 2:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer? Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet. As julle dan ’n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom: “U moet asseblief hier gemaklik kom sit,” maar vir die arm man sê julle: “Jy kan maar daar anderkant gaan sit,” of: “Kom sit hier op die vloer,” sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie? Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie? Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders. Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree. Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat getrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree. Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van liefde. Wie sonder ontferming optree, sal sonder ontferming geoordeel word. God se ontferming is sterker as sy oordeel.