JESAJA 65:17-19 - Compare All Versions

JESAJA 65:17-19 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie. Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan 'n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê. Ek sal jubel oor Jerusalem, Ek sal bly wees oor my volk. Daar sal in Jerusalem nie meer iemand gehoor word wat huil of om hulp roep nie.

JESAJA 65:17-19 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Want kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees. En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.

JESAJA 65:17-19 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Kyk, Ek skep ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Die vorige dinge sal nie meer onthou word nie en nie in die gedagte opkom nie. Wees bly en jubel oor wat Ek gaan skep. Ek skep ’n Jerusalem waaroor mense bly sal wees, en sy inwoners sal ’n bron van vreugde wees. Ek sal bly wees oor Jerusalem, My verheug oor my volk. In die stad sal jy nooit weer hoor hoe mense huil of om hulp roep nie.

JESAJA 65:17-19 DB (Die Boodskap)

Kyk, Ek gaan ’n hemel en aarde maak wat heeltemal nuut is. Niemand sal meer aan die ou een dink nie. Niemand sal daarna terugverlang nie. Julle moet juig en sonder ophou bly wees oor wat Ek gaan doen. Ek gaan Jerusalem ’n plek van blydskap maak waarin mense bly wat gelukkig en tevrede is. Ek gaan vreugde hê aan Jerusalem. Ek gaan bly wees oor die mense wat daar woon. Daar sal nooit weer in die stad iemand gehoor word wat huil of iemand wat treur nie.

JESAJA 65:17-19 ABA (Bybel vir almal)

“Ek sal nou 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde maak. Niemand sal weer dink aan hierdie hemel en aarde wat nou hier is nie, niemand sal dit onthou nie. Maar julle moet vrolik wees en altyd juig oor wat Ek nou wil doen, want Ek sal nou 'n nuwe Jerusalem maak, 'n Jerusalem wat juig. Sy mense sal vrolik wees. Ek sal ook juig oor Jerusalem, Ek sal vrolik wees oor my volk, want hulle sal nie meer huil en skree nie, hulle sal nie vra dat iemand hulle moet help nie.

JESAJA 65:17-19 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“ Ja, Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie. Maar wees bly en juig vir altyd oor wat Ek gaan skep. Ja, kyk, Ek gaan Jerusalem skep as iets om oor te juig, en haar volk tot 'n vreugde. Ek sal oor Jerusalem juig en oor my volk bly wees. In haar sal die klank van gehuil nie weer gehoor word nie, ook nie die klank van 'n geroep om hulp nie.

JESAJA 65:17-19 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Want kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die voriges sal nie gedink word en nie in die gedagtes opkom nie. Maar wees bly en verheug julle vir ewig oor wat Ek skep, want kyk, Ek skep Jerusalem tot vreugde en sy volk tot vreugde. En Ek sal juig in Jerusalem en jubel oor my volk