JESAJA 55:1-3
JESAJA 55:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Julle almal wat dors is, julle moet kom na die water. Julle wat nie geld het nie, julle moet kom koop en eet, julle moet wyn en melk kom koop, maar dit kos niks. Hoekom betaal julle vir iets wat nie regtig kos is nie? Hoekom werk julle vir iets wat julle nie volmaak nie? Julle moet goed na my luister sodat julle iets kan eet wat goed is, sodat julle lekker kan eet van die beste kos. Luister en kom na My toe, luister sodat julle kan lewe. Ja, Ek wil 'n verbond maak met julle, 'n verbond wat vir altyd sal wees. Ek wil aanhou lief wees vir julle soos Ek lief was vir Dawid.
JESAJA 55:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
O ALMAL wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.
JESAJA 55:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.
JESAJA 55:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig. Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef! Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid.
JESAJA 55:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ag, elkeen wat dors het, kom na die waters, en hy wat geen geld het nie; kom julle, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys wyn en melk. Waarom gee julle geld uit vir wat nie brood is nie? en julle arbeid vir wat nie versadig is nie? Luister ywerig na My en eet wat goed is, en laat julle siel hom verlustig in vettigheid. Neig jou oor en kom na My toe; luister, en jou siel sal lewe; en Ek sal 'n ewige verbond met jou sluit, die vaste ontferminge van Dawid.
JESAJA 55:1-3 Die Boodskap (DB)
Laat almal wat dors het, hier na die water toe kom. Ook dié wat nie geld het nie, kan kom. Kom koop en kom eet. Julle hoef selfs nie eens geld te hê nie. Kom kry wyn en melk verniet. Waarom betaal julle vir iets wat julle nie krag kan gee nie? Waarom span julle julleself in vir iets wat julle nie versadig kan maak nie? Luister baie goed na My sodat julle iets kan inkry wat goed is vir julle. Luister na wat Ek sê sodat julle voedsame kos kan inkry. Spits julle ore en kom na My toe. Luister mooi dat julle kan lewe. Ek wil met julle ’n vaste ooreenkoms sluit. Ek wil vir julle alles gee wat Ek vir Dawid belowe het.
JESAJA 55:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Almal wat dors is, kom na die water toe. Selfs al het jy geen geld nie, kom, koop en eet. Kom, koop wyn en melk sonder prys en geld. Hoekom spandeer julle julle geld op dit wat nie brood is nie? Hoekom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister mooi na My, dan sal julle eet wat goed is, en versadig kan word met die beste wat te kry is! Luister tog, kom na My toe. Luister na My dat julle kan lewe. Ek is gereed om ’n ewige verbond te sluit. Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos Ek aan Dawid belowe het.