JESAJA 50:4-11
JESAJA 50:4-11 Bybel vir almal (ABA)
Die dienaar van die Here sê: “Die Here het vir my geleer om goed te praat. Ek weet wat om te sê sodat mense wat moeg is, weer sterk kan voel. Die Here laat my elke oggend wakker word en Hy maak my ore oop sodat ek goed kan luister. Die Here het vir my geleer om te luister, en ek was gehoorsaam aan Hom, ek was nie opstandig nie. Die mense het my op my rug geslaan en hulle het my baard uitgetrek, maar ek het stil gestaan. Hulle het probeer om my te verneder en hulle het in my gesig gespoeg, maar ek het nie my gesig weggedraai nie. Ja, die Here help my, daarom kon die mense my nie verneder nie. Die Here help my, daarom het ek my gesig hard gemaak soos klip. Ek weet hulle sal my nie verneder nie. Die Here sal wys dat ek reg is en dat Hy naby my is. Wie wil my hof toe vat? Kom ons gaan saam daarnatoe. Wie wil my beskuldig? Hy moet kom en dit doen. Julle moet dit weet, die Here help my. Wie is dit wat wil sê ek is skuldig? Dit sal sleg gaan met al my vyande. Hulle sal word soos klere wanneer motte dit vreet. “Daar is ook mense wat die Here dien en wat luister na my, sy dienaar. Dit gaan sleg met my, dit is donker rondom my, maar daardie mense moet glo in die Here, hulle moet weet dat Hy sal help. Maar julle wat vure aansteek om my te brand, julle wat my skiet met brandpyle, julle sal self brand in die vuur wat julle aansteek. Die brandpyle sal in julle steek. Die Here sal dit doen. Julle sal op die grond lê en rol, want julle sal baie pyn hê.”
JESAJA 50:4-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE Here HERE het My 'n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge. Die Here HERE het my oor geopen, en Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie agteruitgewyk nie. Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie. Maar die Here HERE help My; daarom kom Ek nie in die skande nie; daarom het Ek my aangesig gemaak soos 'n keisteen, en Ek weet dat Ek nie beskaamd sal staan nie. Hy is naby wat My reg verskaf. Wie wil met My 'n regsaak begin? — laat ons saam optree! Wie is my teëparty? — laat hom nader kom na My toe! Kyk, die Here HERE help My: wie is dit wat My kan veroordeel? Kyk, hulle sal almal verslyt soos 'n kleed; die mot sal hulle eet. Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! Kyk, julle almal wat 'n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord — wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.
JESAJA 50:4-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie. Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie. Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby; wie wil 'n aanklag teen my inbring? Laat ons elkeen sy saak stel. Wie wil my aankla? Laat hom vorentoe kom. Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar? Dit is verby met almal wat my beskuldig, soos met 'n lap wat deur motte gevreet word. Wie van julle dien die Here en luister na sy dienaar? Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun. Maar julle wat vure aansteek, wat brandpyle gereed maak, julle sal in julle eie vuur brand, deur julle eie brandpyle sal julle doodbrand. Dit is my mag wat dit oor julle bring, julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie.
JESAJA 50:4-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is my Heer, die HERE, wat aan my 'n vaardige tong gegee het, sodat ek kan weet hoe om vermoeides met 'n boodskap op te beur. Elke oggend maak Hy my wakker; Hy wek my oor om soos 'n leerling te luister. My Heer, die HERE, het my ore oopgemaak, en ek, ja, ek was nie opstandig nie; teruggedeins het ek nie. My rug het ek gehou vir hulle wat slaan, en my wange vir hulle wat baard uitpluk. My gesig het Ek nie verberg vir beledigings en spuug nie. Dit is my Heer, die HERE, wat my te hulp kom; daarom voel ek nie verneder nie; daarom het ek my gesig soos vuurklip gemaak. Ek het geweet dat ek nie beskaamd sou staan nie. Hy wat my reg handhaaf, is naby. Wie sal teen my 'n regstryd voer? Laat ons saam plek inneem! Wie is die teenstander in my saak? Laat hy nader kom! Kyk, my Heer, die HERE, kom my te hulp. Wie is dit wat my skuldig sal verklaar? Kyk, hulle sal almal soos 'n kleed verslyt, motte sal hulle wegvreet. Wie is daar onder julle wat ontsag het vir die HERE, wat luister na die stem van sy dienskneg? Hy wat in duisternis verkeer, wat geen lig het nie, moet op die Naam van die HERE vertrou, moet op sy God steun. Kyk, julle almal wat vure aansteek, wat julle met brandpyle bewapen, loop dan in die gloed van julle vuur, ja, tussen die brandpyle wat julle aangesteek het! Deur my hand het dit met julle gebeur; in 'n plek van pyniging sal julle lê.
JESAJA 50:4-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE HERE het My die tong van die geleerde gegee, dat Ek kan weet om 'n woord op die regte tyd te spreek tot die vermoeide; Die HERE HERE het my oor geopen, en ek was nie wederstrewig en het nie teruggedraai nie. Ek het my rug vir die slaan gegee, en my wange vir die wat die hare afruk; ek het my aangesig nie verberg vir skaamte en spoeg nie. Want die HERE HERE sal my help; daarom sal ek nie beskaamd staan nie; Hy is naby wat my regverdig; wie sal met my stry? laat ons saamstaan: wie is my teëstander? laat hom na my toe kom. Kyk, die HERE HERE help my; wie is dit wat my sal veroordeel? kyk, hulle sal almal soos 'n kleed oud word; die mot sal hulle opvreet. Wie is onder julle wat die HERE vrees, wat luister na die stem van sy kneg, wat in duisternis wandel en geen lig het nie? laat hy op die Naam van die HERE vertrou en op sy God bly. Kyk, julle almal wat 'n vuur aansteek, wat julle met vonke omring: wandel in die lig van julle vuur en in die vonke wat julle aangesteek het. Dit moet julle uit my hand hê; julle sal in droefheid gaan lê.
JESAJA 50:4-11 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir my die vermoë gegee om mense wat neerslagtig is, weer moed in te praat. Elke oggend spits ek my ore om verder by die Here te leer. Die Here het my bereid gemaak om na Hom te luister. Ek is nie opstandig teen Hom nie. Ek is ook nie ver van die Here af nie. Ek het my rug gehou dat hulle my maar kan slaan. Ek het my gesig gehou dat hulle maar my baard kan probeer uitpluk. Ek het nie my hande voor my gesig gehou toe hulle my in die gesig gespoeg het om my te beledig nie. Omdat die Here my help, sal ek nie verneder word nie. Ek byt op my tande, want ek weet dat ek nie in die skande sal kom nie. Die Here is aan my kant. Hy bewys ek is reg. Wie wil my hof toe vat? Hy moet maar kom dat ons saam in die hof kan gaan staan. Wie wil regter speel oor my? Laat hy hier na my toe kom. Die Here help my. Wie sal dit waag om te sê dat ek skuldig is? Hulle sal almal verwoes word soos klere wat die motte stukkend vreet. Dié wat respek het vir die Here, luister wat sy dienaar sê. Dié wat in onsekerheid is en geen duidelikheid het oor sy lewe nie, moet op die Here vertrou. Hy moet op God staatmaak. Elkeen van julle wat net op homself staatmaak en by sy eie vuur wil staan, sal daarvan brand. Ek sal julle pyn laat voel wat nooit ophou nie.
JESAJA 50:4-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die oppermagtige HERE het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat. Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ’n leerling betaam. Die oppermagtige HERE het my ore oopgemaak. Ek was nie teen Hom opstandig nie. Ek was nie ontrou aan Hom nie. Ek het my rug gehou sodat hulle my kon slaan, my wang sodat hulle my baard kon uittrek. Ek het nie my gesig weggedraai toe hulle my gespot en in die gesig gespoeg het nie. Omdat die oppermagtige HERE my help, sal ek nie in die skande kom nie. Ek het my gesig hard soos vuurklip gemaak. Ek weet ek sal nie in die verleentheid kom nie. Hy wat my sal verdedig, is naby. Wie sal dit waag om ’n aanklag teen my te lê? Laat ons elkeen sy saak stel! Wie is my aanklaer? Laat hom vorentoe kom. Die oppermagtige HERE is aan my kant! Wie kan my skuldig verklaar? Almal wat my beskuldig, sal vergaan soos ’n kledingstuk wat deur motte gevreet is! Wie van julle dien die HERE en doen wat sy dienaar sê? Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die HERE, en staatmaak op sy God! Maar julle wat vure aansteek, wat brandende fakkels gereed kry, in julle eie vuur sal julle brand. Julle eie fakkels sal julle doodbrand. Dit is wat julle uit my hand sal ontvang. In smart sal julle gaan lê.