JESAJA 42:17-25
JESAJA 42:17-25 Bybel vir almal (ABA)
Die mense wat dink dat beelde hulle kan help, en wat vir die beelde sê: ‘Julle is ons gode,’ daardie mense sal teleurgesteld wees, hulle sal nie weet wat om te doen nie.” “Julle wat nie wil hoor nie, julle moet luister, julle wat nie wil sien nie, julle moet kyk en sien. My dienaars, my boodskapper wat Ek stuur, is blind en doof, niemand is so blind en so doof soos hulle nie. Niemand is so blind soos die volk wat Ek gestraf het nie, niemand is so blind soos die dienaars van die Here nie. Hulle het baie gesien en gehoor, maar hulle het gemaak of hulle niks sien of hoor nie. Die Here wou hê hulle moet doen wat Hy wil hê. Daarom is sy wette belangrik, Hy het dit vir hulle verduidelik. Maar hulle het 'n volk geword wat uit hulle land moes gaan, die vyande het hulle toegesluit in gate en tronke. Die vyande het hulle weggevat, en niemand het dit gekeer nie, niemand het gesê dat die vyande hulle moet teruggee nie. Is daar iemand wat luister? Hoor iemand wat Ek nou sê? Wie het gesê die vyande kan ons, die Israeliete, wegvat? Ons is die nageslag van Jakob. Dit is die Here wat dit gesê het. Ons het sonde gedoen teen Hom, ons het nie gelewe soos Hy wil hê nie, ons het nie gedoen wat Hy vir ons geleer het nie. Daarom het die Here baie kwaad geword vir die Israeliete. Hy het vyande laat kom om oorlog te maak teen sy volk. Die vlamme het hulle gebrand van al die kante, maar hulle het nie besef hoekom dit gebeur nie.”
JESAJA 42:17-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode — dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan. HOOR, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien. Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die HERE? Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie. Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak. En tog is dit 'n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het 'n buit geword sonder dat iemand red, 'n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug! Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms? Wie het Jakob oorgegee as 'n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die HERE teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie. Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.
JESAJA 42:17-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié wat op afgode vertrou, wat vir beelde sê: “Julle is ons gode,” sal op die vlug moet slaan, teleurgestel in hulle verwagting. Luister, julle dowes, kyk, julle blindes, dat julle kan sien. Is daar iemand so blind soos my dienaar, so doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Is daar iemand so blind soos die een wat vir sy sonde gestraf is, so blind soos die dienaar van die Here? Julle het baie gesien, maar julle slaan nie ag daarop nie, julle het gehoor, maar julle luister nie. Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees, Hy laat sy woord roem en eer ontvang. Maar sy volk is as 'n stuk buit weggevoer, hulle word almal in gate gevange gehou, hulle is in gevangenisse opgesluit. Hulle het buit geword, en niemand red hulle nie, hulle het gevangenes geword, en niemand sê: “Laat hulle teruggaan!” nie. Wie van julle neem dit waar? Wie van julle gee aandag en luister met die oog op wat voorlê? Wie het van Jakob 'n gevangene gemaak, wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord luister nie. Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van oorlog. Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie verstaan nie; dit het hulle gebrand, maar hulle wou dit nie ter harte neem nie.
JESAJA 42:17-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle sal terugdeins, en hulle sal grootliks beskaamd staan – dié wat op afgodsbeelde vertrou, wat vir gegote beelde sê, ‘Julle is ons gode!’ “ Dowes, luister! Blindes, kyk, sodat julle kan sien! Wie is blind, behalwe my dienskneg, en doof, soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die een wat vergelding ontvang het, en blind soos die dienskneg van die HERE? Jy het baie dinge gesien, maar nie daaraan aandag gegee nie. Die ore is oop, maar hy luister nie.” Ter wille van sy geregtigheid, het die HERE behae daarin om sy wet as groot en glorieryk te laat geld. Maar dié is 'n geplunderde en beroofde volk. Hulle is almal vasgekeer in gate, en in tronke word hulle weggesteek. Hulle het buit geword, en daar is niemand wat kan red nie; hulle is 'n beroofde volk, en niemand sê, “Gee terug!” nie. Wie onder julle gee hieraan aandag, slaan daarop ag en hoor dit met die oog op die toekoms? Wie het Jakob as buit oorgegee, en Israel aan die plunderaars? Is dit nie die HERE nie, Hy teen wie ons gesondig het? Hulle wou nie op sy paaie loop nie, en het nie na sy wet geluister nie. Hy het sy brandende toorn en die geweld van oorlog oor hulle uitgestort. Dit het hulle aan alle kante geskroei, maar hulle het dit nie besef nie. Dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.
JESAJA 42:17-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hulle sal teruggedraai word, hulle sal grootliks beskaamd staan, wat op gesnede beelde vertrou, wat vir die gegote beelde sê: Julle is ons gode. Luister, julle dowes! en kyk, julle blindes, dat julle kan sien. Wie is blind behalwe my dienaar? of doof, soos my boodskapper wat ek gestuur het? wie is blind soos die volmaakte, en blind soos die kneg van die HERE? terwyl jy baie dinge sien, maar jy let nie op nie; die ore oopmaak, maar hy hoor nie. Die HERE het 'n welbehae ter wille van sy geregtigheid; hy sal die wet groot maak en dit eerbaar maak. Maar dit is 'n volk wat beroof en geplunder is; hulle is almal in gate verstrik, en in gevangenisse is hulle verborge; hulle is 'n buit, en niemand red nie; vir 'n buit, en niemand sê: Maak terug nie. Wie van julle sal hierna luister? wie sal luister en hoor vir die tyd wat kom? Wie het Jakob as buit gegee, en Israel aan die rowers? het die HERE nie Hy teen wie ons gesondig het nie? want hulle wou nie in sy weë wandel nie en was nie gehoorsaam aan sy wet nie. Daarom het Hy oor hom uitgegiet die grimmigheid van sy toorn en die sterkte van die stryd, en dit het hom rondom aan die brand gesteek, maar hy het dit nie geweet nie; en dit het hom verbrand, maar hy het dit nie ter harte geneem nie.
JESAJA 42:17-25 Die Boodskap (DB)
Aan die ander kant sal die mense wat op afgode staatmaak en vir afgodsbeelde sê: “Julle is ons god” op hulle neus kyk. Hulle gaan sleg daarvan afkom. Julle wat julle so doof hou en maak of julle blind is, moet nou ’n bietjie aandag gee. Die volk wat My moet dien, het mos oë wat nie wil sien nie. Die boodskapper wat Ek stuur, het mos ore wat glad nie wil hoor nie. Wie is so blind soos die volk van die Here? Julle het so baie dinge gesien, maar dit het geen indruk op julle gemaak nie. Julle luister, maar julle hoor eintlik niks. Die Here het uitdruklik gesê hoe belangrik sy wet is. Hy wil graag hê dat daar geregtigheid onder mense moet wees. Maar sy volk is beroof en kaal gesteel. Hulle sit almal in gate en in tronke opgesluit. Toe daar op hulle toegeslaan is, was daar niemand om hulle te red nie. Toe hulle gevange geneem is, kon niemand dit keer nie. Wie van julle het werklik gehoor wat hier gebeur het? Wie het fyn genoeg geluister om te verstaan wat dit vir die toekoms beteken? Wie het Jakob uitgelewer aan die mense wat hom beroof het? Was dit nie die Here self wat dit gedoen het nie? Ons het teen Hom oortree. Israel wou nie leef soos die Here van hulle gevra het nie. Hulle wou nie luister na wat die Here gesê het hulle moet doen nie. Die Here het sy woede soos vuur teen hulle laat vlam vat. Hy het hulle in die oorlog laat beland. Selfs toe dit rondom hulle gebrand het, het hulle dit nie verstaan nie. Hulle het nie besef hoe ernstig dit was nie.
JESAJA 42:17-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar hulle wat op afgode vertrou, wat vir afgode sê: ‘Julle is ons gode,’ sal neerval en skaam kry.” “Luister, julle wat doof is! Kyk, julle blindes, en sien! Wie is so blind soos die HERE se dienaar? Wie is so doof soos die boodskappers wat Ek stuur? Wie is so blind soos my uitverkore volk, blind soos die dienaar van die HERE? Julle sien en julle weet wat reg is, maar weier om daarop te reageer. Julle ore is oop, maar julle hoor niks.” Die HERE se vreugde lê daarin om sy gebooie groot en heerlik te maak. Maar kyk hoe lyk sy volk! Hulle is geplunder en gebuit. Hulle is in vanggate gehou, of in gevangenisse opgesluit. Hulle het ander se buit geword met niemand om te red nie. Hulle is geplunder sonder iemand wat sê: “Gee hulle terug!” Is daar niemand onder julle wat aandag gee aan wat gebeur het nie, sodat julle kan luister en verwoesting vermy? Wie het Jakob oorgelewer om buit te word? Wie het Israel oorgegee aan die verwoesters? Is dit nie die HERE teen wie ons gesondig het nie? Hulle wou nie doen soos Hy vereis het nie. Hulle wou nie na sy woord luister nie. Daarom het Hy sy gloeiende woede teen hulle laat ontvlam deur die geweld van oorlog. Hulle het in vlamme opgegaan, maar geweier om te verstaan. Dit het hulle verteer, maar hulle het nog nie hulle les geleer nie!