JESAJA 40:3-5
JESAJA 40:3-5 Bybel vir almal (ABA)
Iemand het geskree: “Julle moet in die woestyn 'n pad gereedmaak vir die Here, julle moet die pad gelykmaak vir ons God! Julle moet al die valleie toegooi met grond en julle moet al die berge plat maak, julle moet die heuwels wegvat sodat die grond gelyk is. Dan sal die Here verskyn en Hy sal vir almal wys Hy is die Koning. Die Here self het gesê dat Hy dit sal doen.”
JESAJA 40:3-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word. En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.
JESAJA 40:3-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Iemand roep: “Maak vir die Here 'n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God! Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet 'n gelykte word en elke koppie 'n vlakte. Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê.”
JESAJA 40:3-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Stem roep: “Maak in die woestyn die pad van die HERE gereed; maak in die Araba 'n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak. Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet 'n vallei word. Die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word; alle mense sal dit gelyktydig sien, want die mond van die HERE het gespreek.”
JESAJA 40:3-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die stem van hom wat in die woestyn roep: Berei die weg van die HERE, maak reguit in die woestyn 'n grootpad vir onse God. Elke dal sal verhewe word, en elke berg en heuwel sal laag gemaak word; en die krom plekke sal reguit gemaak word en die ruwe plekke gelykte; En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees sal dit saam sien, want die mond van die HERE het dit gespreek.
JESAJA 40:3-5 Die Boodskap (DB)
Luister, daar is ’n stem wat uitroep: “Bou ’n pad vir die Here deur die woestyn. Maak vir ons God ’n breë, reguit pad dwarsdeur die veld. Vul die leegtes op. Stoot die berge en die heuwels plat. Maak die draaie reguit. Maak die klipperige grond glad. Dan sal die Here kom. Almal saam sal sien hoe wonderlik die Here is. Die Here het self belowe dat Hy sal kom.”
JESAJA 40:3-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister! Ek hoor die stem van iemand wat roep: “Bou ’n grootpad vir die HERE deur die woestyn. Maak ’n reguit pad vir ons God deur die wildernis. Vul die valleie op! Maak elke berg en heuwel gelyk, elke ruwe plek ’n gelykte, elke koppie ’n vlakte. Dan sal die heerlikheid van die HERE bekend word en alle mense sal dit sien. Die HERE self het so gesê.”