JESAJA 36:1-2
JESAJA 36:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Koning Sanherib van Assirië het al die sterk stede in die land Juda aangeval en hy het hulle oorwin. Dit was in die veertiende jaar nadat Hiskia koning geword het. Die koning van Assirië het 'n hoof-offisier gestuur van die stad Lakis na Jerusalem. Saam met die hoof-offisier was daar baie soldate. Die hoof-offisier het gaan staan by die watersloot uit die boonste dam. Dit was langs die pad na die plek waar die mense altyd die wol gewas het.
JESAJA 36:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower. Toe stuur die koning van Assirië die rábsake uit Lagis na Jerusalem, na koning Hiskía met 'n swaar leër; en hy het gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld.
JESAJA 36:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower. Daarna het die koning van Assirië sy hoofadjudant met 'n groot leër uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe.
JESAJA 36:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia, het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en hulle verower. Die koning van Assirië stuur toe die rabsakee vanaf Lagis na Jerusalem met 'n groot leërmag na koning Hiskia. Hy het stelling ingeneem by die watervoor van die boonste dam, wat aan die pad na die Bleikveld geleë is.
JESAJA 36:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die verdedigende stede van Juda en dit ingeneem. En die koning van Assirië het die rábsake van Lagis na Jerusalem na koning Hiskia gestuur met 'n groot leër. En hy het gestaan by die kanaal van die boonste dam, op die grootpad van die veld van die voller.
JESAJA 36:1-2 Die Boodskap (DB)
In die veertiende jaar van koning Hiskia se regering het koning Sanherib van Assirië al die versterkte stede van Juda aangeval en hulle ingeneem. Hy het toe sy persoonlike assistent met ’n groot leër van Lakis af na Jerusalem toe gestuur met die bedoeling om koning Hiskia te dwing om oor te gee. Die Assiriërs het stelling ingeneem by die waterkanaal wat die water van die boonste dam af na die stad toe gelei het. Dit was langs die pad by die stuk grond waar die mense gewerk het wat die materiaal vir die klere gekleur het.
JESAJA 36:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die veertiende jaar van koning Hiskia se regering het koning Sanherib van Assirië al die versterkte stede van Juda aangeval en dit verower. Toe het die koning van Assirië sy persoonlike verteenwoordiger met ’n groot leër uit Lakis gestuur om koning Hiskia in Jerusalem te konfronteer. Die Assiriërs was langs die kanaal wat water na die boonste dam lei, naby die pad waar klere gebleik is.