JESAJA 18:1-7

JESAJA 18:1-7 Bybel vir almal (ABA)

Dit sal sleg gaan met die land waar daar so baie insekte is, daar by die riviere in die land Kus. Die mense van Kus het mense na Jerusalem gestuur, hulle het oor die water gekom in papirus-bote. Maar hierdie mense wat so vinnig gekom het, moet teruggaan na hulle eie volk toe, na die lang mense met die blink velle, die mense vir wie almal bang is, die mense wat sterk is en wat maklik ander mense aanval. Baie riviere vloei deur daardie mense se land. Julle almal wat in die wêreld woon, julle wat op die aarde woon, julle sal sien wanneer iemand op die berge 'n vlag in die lug hou, julle sal hoor wanneer iemand die ramshoring blaas. Want die Here het vir my gesê: “Ek sal stil uit my woonplek na alles kyk, stil soos die warm son in die middag, soos 'n miswolk in die somer. Maar voordat die mense begin koring afsny, het die wingerdstokke opgehou blom en die groen druiwe begin ryp word. Dan sny die boer die nuwe jong takkies af met 'n snoeimes, hy knip die takkies af wat later gegroei het en hy gooi dit weg. Hy los die takkies vir die wilde voëls van die berge en vir die wilde diere. In die somer sit die wilde voëls daar en in die winter lê die wilde diere daar. In daardie tyd sal die lang mense met die blink velle weer kom, die mense vir wie almal bang is, die mense wat sterk is en wat maklik ander mense aanval. Baie riviere vloei deur daardie mense se land. Hulle sal presente bring vir die Here wat oor alles regeer, hulle sal dit bring na Sionsberg, die plek van die Here wat oor alles regeer.”

JESAJA 18:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ellende wag vir die land met die insekteplae, die land aan die riviere van Kus! Hy stuur gesante oorsee, hy stuur hulle in papirusbote oor die water. Gaan terug, gesante wat so haastig is, gaan terug na julle lang mense toe, hulle met die blink velle, julle volk wat wyd en syd gevrees word, wat gewoond is om alles met mag plat te trap, en wie se land deur riviere deursny word. Julle almal wat in die wêreld woon, julle bewoners van die aarde, kyk wanneer die vaandel opgesteek word op die berge, luister wanneer die ramshoring blaas! So het die Here vir my gesê: Ek sal rustig uit my woonplek ondertoe kyk, ongestoord soos die hittegolwe op 'n warm dag, soos 'n miswolk in die somerhitte. Voor die tyd van die graanoes, wanneer die bloeityd van die wingerd verby is, en die blomme druiwe geword het wat besig is om ryp te word, word die wingerdlote met snoeimesse afgesny en die ranke afgebreek en weggegooi. Die ranke word oorgelaat aan die roofvoëls uit die berge en aan die wilde diere. In die somer sit die roofvoëls op die ranke, in die winter lê die wilde diere daarop. In dié tyd sal daar geskenke aan die Here die Almagtige gebring word uit die land wat deur riviere deursny word. Dit sal kom van die lang mense met die blink velle, die volk wat wyd en syd gevrees word, die nasie wat gewoond is om alles met mag plat te trap. Hulle sal die geskenke bring na Sionsberg toe, na die plek toe waar die Here die Almagtige geroem word.

JESAJA 18:1-7 Die Boodskap (DB)

Daar wag swaarkry op die land wat aan die voet van die Nyl lê, die land vol insekplae. Hulle stuur ambassadeurs met die Nyl in hulle papirusbote. Maar hulle word teruggestuur met die boodskap: Gaan terug na julle eie land toe, die land wat deur riviere deurkruis word. Vat hierdie boodskap vir julle lang mense met die blink vel wat wyd en syd gevrees word omdat hulle so sterk is dat hulle enige volk kan platloop. Wanneer ek op die berg die teken vir die oorlog gee, moet die mense van die wêreld kennis neem. Luister as ek die trompet blaas wat die begin van die oorlog aankondig, want die Here het vir my gesê: Ek sal dinge eers rustig uit my blyplek dophou sonder om in te meng. Ongestoord soos die hittegolwe wat op ’n warm dag uit die grond uit opslaan, soos die mis wat in die somerhitte gedurende die nag in die boorde vorm as dit oestyd is en in die stilte van die môre oor die lande hang. Etiopië sal soos ’n wingerd wees waarvan die bloeityd verby is en die druiwe al begin ryp word. Maar voor hulle kan vrugte dra, word die wingerdlote met ’n snoeimes afgesny en die ranke afgebreek en weggegooi. Soos die afgebreekte takke sal die lyke van jou magtige leër net daar op die grond gelos word vir die roofvoëls uit die berge en die wilde diere om te vreet. In die somer sal die aasvoëls die vleis wegskeur en in die winter sal die wilde diere aan die bene lê en kou. Maar daar kom ’n tyd wanneer die Here die Almagtige geskenke sal ontvang van hierdie lang mense met die blink vel wat in die land bly wat deur die riviere deurkruis word en vir wie almal bang is. Hulle sal die geskenke vir Hom Jerusalem toe bring, op daardie plek waar Hy gesê het Hy aanbid moet word.