JESAJA 14:9-16
JESAJA 14:9-16 Bybel vir almal (ABA)
Die doderyk onder die aarde bewe wanneer jy kom, die geeste van die leiers van die aarde word wakker. Die leiers wat gesterf het, die konings wat dood is, klim af van hulle trone. Hulle praat almal, hulle sê: ‘Jy het nou ook swak geword soos ons, jy is nou soos ons. Jy het altyd mooi dinge gekry en jy het geluister na musiek van 'n harp, maar nou is jy dood, en die wurms vreet jou. Jy was soos die môrester, maar jy het uit die lug geval, jy het ander volke oorwin, maar jy het op die grond geval.’ Jy het gedink: Ek sal opklim tot in die hemel en ek sal my troon neersit bo die hoogste sterre, ek sal sit in die vergadering van die gode, daar ver in die noorde. Ek sal opklim tot bo die wolke en ek sal word soos die Hoogste God self. Maar nou gaan jy af na die doderyk, na die diepste plek in die doderyk. Almal wat jou daar sien, sal nader kom en hulle sal kyk na jou. Hulle sal sê: ‘Is dit die man vir wie die mense in al die lande bang was?
JESAJA 14:9-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as 'n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?
JESAJA 14:9-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die doderyk daaronder kom in beroering omdat jy soontoe kom. Dié wat reeds daar is, word wakker gemaak, almal wat leiers op aarde was; almal wat konings van nasies was, moet van hulle trone af opstaan. Almal begin praat, hulle sê vir jou: “Jy is nou net so swak soos ons, jy het soos ons geword!” Jy het met jou hoogmoed, met die klank van jou harpmusiek en al in die doderyk beland. Jy lê tussen die maaiers, jy is oortrek van die wurms. Jy wat die helder môrester was, het uit jou hemel geval. Jy wat 'n oorwinnaar van nasies was, is in die grond in verpletter. En dit jy, jy wat gedink het: ek klim op hemel toe, ek gaan my troon neersit bokant die hoogste sterre, ek gaan my plek inneem op die berg waar die gode mekaar ontmoet, ver in die noorde; ek klim op tot bokant die wolke, ek word soos die Allerhoogste self. Maar jy stort af in die doderyk, af tot in sy diepste deel. Dié wat jou daar sien, sal jou aangaap, hulle sal jou bekyk en vra: “Is dit die man wat die aarde laat bewe het, wat koninkryke laat wankel het
JESAJA 14:9-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die •doderyk daaronder is in beroering oor jou, om jou te ontmoet by jou aankoms. Dit maak die skimme wakker oor jou; al die voorbokke van die aarde, al die konings van die nasies staan op van hulle trone. Hulle almal reageer en sê vir jou, ‘Ook jy is so swak gemaak soos ons, net soos ons het jy geword. Jou hoogmoed is afgebring na die doderyk, ook die geluid van jou harpe. Onder jou vorm maaiers 'n bed, wurms bedek jou.’ ” Hoe het jy geval uit die hemelruim, môrester, seun van die daeraad! Hoe is jy tot op die grond neergekap, jy wat nasies verslaan het! Jy is die een wat in jou hart gesê het: Na die hemel wil ek opgaan; hoog bo die sterre van God wil ek my troon oprig. Ek wil gaan sit op die berg van samekoms, in die afgeleë noorde. Ek wil opgaan tot bo die rûe van wolke, my gelykstel aan die Allerhoogste. Jy is egter na die doderyk afgebring, tot in die afgeleë put. Hulle kyk na jou, hulle staar na jou, hulle beskou jou aandagtig: “Is dit die man wat die aarde laat beef het, koninkryke laat sidder het?
JESAJA 14:9-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die hel van onder word vir jou in beweging gebring om jou te ontmoet by jou koms; dit het al die konings van die nasies uit hulle trone laat opstaan. Hulle sal almal spreek en vir jou sê: Het jy ook swak geword soos ons? het jy soos ons geword? Jou prag is in die doderyk neergedaal, en die geraas van jou viooltjies: die wurm is onder jou uitgesprei, en die wurms bedek jou. Hoe het jy uit die hemel geval, o Lucifer, seun van die môre! hoe is jy op die grond afgekap, wat die nasies verswak het! Want jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, Ek sal my troon verhef bo die sterre van God; Ek sal ook sit op die berg van samekoms, in die uithoeke van die noorde. Ek sal opklim bo die hoogtes van die wolke; Ek sal wees soos die Allerhoogste. Tog sal jy na die hel neergebring word, na die kante van die kuil. Die wat jou sien, sal jou noukeurig aanskou en jou aanskou en sê: Is dit die man wat die aarde laat bewe het, wat koninkryke laat bewe het?
JESAJA 14:9-16 Die Boodskap (DB)
Die doderyk is in rep en roer soos hulle regmaak vir jou koms. Dié wat daar is, kan skaars hulle opgewondenheid bedwing. Die wêreldleiers wat alreeds daar in die donkerte van die dood is, spring van opgewondenheid op om jou te verwelkom. In ’n koor klink dit: “En toe, nou is jy net so ’n swakkeling soos enigeen van ons! Ja-nee, jy is een van ons! Jy was gewoond aan pragtige musiek en eerbetoon waar jy vandaan kom. Welkom in die doderyk, hier is jou bed van goggas gemaak en daar is vir jou ’n kombers van wurms!” Koning van Babel, jy wat gedink het jy is soos die môrester wat hoër sit as al die ander sterre, kyk nou net hoe het jy uit die hemel geval! Kyk hoe hulpeloos lê jy hier op die grond, en dit nogal jy, die een wat soveel ander nasies op hulle knieë gedwing en platgeloop het. In jou gedagtes het jy mos vir jouself gesê: “Ek gaan uitstyg bokant God se hoogste sterre. Ek gaan my troon in die hoogste hoogtes maak. Daar ver in die noorde op die hoë berge waar die gode mekaar ontmoet, dit is waar ek gaan bly en soos ’n koning op my troon sit en die wêreld bekyk. Ek gaan bokant die wolke uitklim en soos die allerhoogste God self word!” Maar kyk wat het nou met jou gebeur. Hier is jy in die bodemlose put van die doderyk. Almal wat jou daar sien, sal jou oopmond aangaap en wonder: “Is dit die man wat die hele wêreld geskud het en hulle konings aan die bewe gehad het?
JESAJA 14:9-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“In die doderyk is daar opwinding oor jou aankoms. Die dooies, ook wêreldleiers en magtige heersers staan op om jou te verwelkom. Hulle roep almal met een stem uit: ‘Nou is jy net so swak soos ons. Jy het net soos ons geword! Jou mag en krag het verdwyn. Dis saam met jou begrawe. Die vrolike musiek in jou paleis het opgehou. Die bed onder jou is maaiers, jy maak jou toe met wurms.’ “Hoe het jy uit die hemel geval, blink ster, seun van die môre! Jy is op die aarde neergegooi, jy wat die nasies van die wêreld verpletter het. Jy het mos vir jouself gesê: ‘Ek sal na die hemel toe opklim en my troon bo God se sterre neersit. Ek sal regeer op die godeberg ver in die noorde. Ek sal opklim tot in die hoogste hemele. Soos die Allerhoogste sal ek word.’ Maar in plaas daarvan sal jy in die doderyk beland, in sy diepste deel. Almal daar sal jou aangaap en vra: ‘Kan dit die man wees wat die aarde met sy koninkryke geskud het?