HOSEA 2:5-16

HOSEA 2:5-16 Bybel vir almal (ABA)

Daarom sal Ek nou doringtakke in haar pad gooi, en Ek, die Here, sal 'n klipmuur om haar bou. Ek sal haar pad toemaak, sy sal nie kan rondloop nie. Sy sal probeer om by haar afgode te kom, maar sy sal dit nie regkry nie. Sy sal hulle soek, maar sy sal hulle nie kry nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my God, want toe ek Hom gedien het, was dit beter as nou.’ “Ja, sy wou nie glo dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olyf-olie gee nie, en ook baie silwer en goud. Sy het 'n beeld gemaak van die silwer en goud, 'n beeld van die afgod Baäl. “Daarom sal Ek nou my koring en my wyn terugvat, daar sal nie koring wees om af te sny of druiwe om wyn te maak nie. Ek sal ook my wol en my vlas wegvat wat Ek vir haar gegee het om haar kaal lyf toe te maak. Nou sal Ek haar klere uittrek, en haar afgode sal sien sy is kaal, maar hulle sal haar nie kan red nie. Sy sal nie meer bly kan wees oor iets nie. Daar sal nie meer Hutte-feeste, Nuwemaan-feeste, Sabbatdae of ander feeste wees nie. Ek sal haar wingerde en haar vyebome verwoes. Hulle sal soos die bosse word, die wilde diere sal hulle vreet. Sy het gesê: ‘Dit is presente wat my afgode vir my gegee het.’ “Ek sal haar straf, want sy het baie maal offers gebring vir die Baäls. Die mense van Israel is soos slegte vroue wat hulleself mooi maak met ringe en juwele en wat rondloop en ander mans soek. Maar vir My het hulle vergeet.” Dit sê die Here. Die Here het gesê: “Maar Ek sal aanhou mooi praat met die mense van Israel totdat hulle weer my volk wil word. Ek sal hulle terugneem na die woestyn en Ek sal mooi dinge vir hulle sê. Ek sal weer vir hulle wingerde gee, en hulle sal daar in die Akor-vallei wag om in die land in te gaan. Hulle sal daar weer praat soos in die tyd toe hulle 'n jong volk was, toe hulle uit Egipte gekom het.” Die Here het ook gesê: “Daardie dag sal die mense van Israel sê: ‘U is ons God.’ Hulle sal nie meer sê: ‘U is ons Baäl’ nie. Ek sal die Baäls se name wegvat uit die mense van Israel se mond, hulle sal nie meer oor die Baäls praat nie.

HOSEA 2:5-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarom, kyk, Ek sal jou weg met dorings toemaak en om haar 'n muur bou, sodat sy haar paaie nie sal vind nie. En sy sal haar minnaars agternaloop, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou. Ja, sy het nie erken dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het. Daarom sal Ek my koring terugneem in die oestyd en my mos op die bepaalde tyd, en wegneem my wol en my vlas wat dien om haar naaktheid te bedek. Ek sal dan nou haar skaamte ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie. En Ek maak 'n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar sabbatte, ja, aan al haar feestye. En Ek sal haar wingerdstok en haar vyeboom verwoes waarvan sy gesê het: Hierdie dinge is my hoereloon wat my minnaars my gegee het; en Ek sal dit tot 'n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit opeet. So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die HERE. Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek. Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot 'n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het. En in dié dag, spreek die HERE, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl nie. Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.

HOSEA 2:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarom gaan Ek haar pad versper met doringtakke en haar afkamp sodat sy nie haar planne kan uitvoer nie, en as sy dan haar minnaars probeer opsoek en hulle nie raakloop nie, hulle soek en nie kry nie, sal sy dalk sê: “Ek sal na my eie man toe teruggaan, want ek was by hom beter versorg as nou.” Sy wou nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olie en baie geld gee nie, geld wat sy in elk geval vir Baäl gebruik het. Daarom gaan Ek die koring en wyn wat sy by My kry, terughou in die oestyd. Ek gaan ook die wol en die vlas terugvat wat Ek haar gegee het om haar naaktheid te bedek. Ek gaan haar nou kaal uittrek voor die oë van haar minnaars. Nie een sal haar kan help nie. Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde, haar huttefeeste, haar nuwemaansfeeste en haar sabbatsfeeste, al haar feeste. Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes, die dinge waarvan sy sê: “Dit is my beloning wat my minnaars my gee vir my dienste.” Ek gaan dit 'n boskasie maak en die wilde diere sal dit opvreet. Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here. Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het. Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as 'n Baäl beskou nie. Ek sal sorg dat jy die name van die Baäls nie weer noem nie en dat jy hulle nooit weer aanroep nie.

HOSEA 2:5-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Daarom, kyk, Ek gaan haar pad met doringtakke afsper, 'n muur om haar bou, sodat sy haar paaie nie vind nie, sodat sy agter haar minnaars aangaan, maar hulle nie bereik nie, hulle soek, maar hulle nie vind nie. Dan sal sy sê, ‘Ek wil teruggaan na my eerste man, want toe was dit vir my beter as nou.’ Maar sy het nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring, •nuwe wyn en olie gegee het nie; silwer het ek vir haar in oorvloed gegee, ook goud. Hulle het dit vir Baäl gebruik. Daarom, Ek gaan weer my koring terugvat in die oestyd, my nuwe wyn in die feestyd. Ek gaan my wol en vlas, wat bedoel is om haar naaktheid te bedek, wegruk. “ Daarom gaan Ek haar skaamdele ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand wegruk nie. Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde: haar pelgrimsfeeste, haar nuwemaansfeeste en haar Sabbatte, ja, elkeen van haar feesgeleenthede. Ek gaan haar wingerde en haar vyeboorde verwoes, waarvan sy gesê het, ‘Dit is 'n geskenk aan my wat my minnaars my gegee het.’ Ek sal dit 'n ruigte maak, en die wilde diere sal dit opvreet. Ek gaan van haar rekenskap eis oor die feesdae vir die Baäls waarop sy vir hulle geoffer het, toe sy haar versier het met ringe en juwele, en agter haar minnaars aangeloop het. Maar My het sy vergeet,” is die uitspraak van die HERE. “ Daarom, kyk, Ek gaan haar oorhaal, haar na die woestyn laat gaan, en mooi met haar praat. Ek sal daarna haar wingerde vir haar teruggee, en die vallei van Agor as 'n poort van hoop. Daar sal sy antwoord soos in haar jong dae, soos in die tyd toe sy uit Egipteland opgetrek het. “ Op daardie dag,” is die uitspraak van die HERE, “sal jy My noem, ‘my Man’. Jy sal My nie weer ‘my Baäl’ noem nie. Ek sal die name van die Baäls uit haar mond verwyder; hulle name sal nie weer in herinnering geroep word nie.

HOSEA 2:5-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want hulle moeder het gehoereer; sy wat hulle verwek het, het skandelik gehandel; want sy het gesê: Ek sal agter my minnaars aan loop, wat vir my my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee. Daarom, kyk, Ek sal jou weg met dorings toemaak en 'n muur maak, dat sy haar paaie nie sal vind nie. En sy sal haar minnaars agtervolg, maar hulle sal hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie; dan sal sy sê: Ek sal gaan en na my eerste man terugkeer; want toe was dit beter met my as nou. Want sy het nie geweet dat Ek vir haar koring en wyn en olie gegee het en haar silwer en goud vermeerder het wat hulle vir Baäl berei het nie. Daarom sal Ek teruggaan en my koring wegneem op sy tyd en my wyn op sy tyd, en my wol en my vlas wat gegee is om haar naaktheid te bedek, terugkry. En nou sal Ek haar skandelikheid ontdek voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie. Ek sal ook al haar vreugde laat ophou, haar feesdae, haar nuwemane en haar sabbatte en al haar feestye. En Ek sal haar wingerde en haar vyebome vernietig waarvan sy gesê het: Dit is my belonings wat my minnaars aan my gegee het; en Ek sal dit 'n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit eet. En Ek sal op haar die dae van die Baäls besoek, waarin sy vir hulle reukwerk laat opgaan het, en sy haar versier het met haar oorringe en haar juwele, en sy het agter haar minnaars aan gegaan en My vergeet, spreek die HERE. Daarom, kyk, Ek sal haar aanlok en haar na die woestyn bring en met haar gemaklik spreek. En Ek sal haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Akor as 'n deur van hoop; en sy sal daar sing soos in die dae van haar jeug en soos op die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het. En in dié dag, spreek die HERE, sal jy My Ishi noem; en jy sal my nie meer Baäl noem nie.

HOSEA 2:5-16 Die Boodskap (DB)

“Ek pak doringtakke rondom haar. Ek bou ’n klipmuur rondom haar om haar by die huis te hou. Sy sal agter ander mans wil aangaan. Dit sal haar niks help nie, want sy sal hulle nie in die hande kry nie. Sy sal soek waar hulle is, maar sy sal hulle nie opspoor nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my eie man toe. Dit was beter toe ek by hom was.’ Sy het nooit raakgesien dat dit Ek was wat vir haar koring en wyn en olie en geld gegee het om van te leef nie. Selfs die goud wat sy vir die afgod Baäl gegee het, het sy by My gekry.” “Ek gaan sorg dat daar nie koring is om te oes in die oestyd nie. Daar sal ook nie druiwe wees om te pluk nie. Ek gaan die wol en die materiaal terugvat wat Ek vir haar gegee het om vir haarself klere te maak. Ek gaan haar kaal laat staan voor die mans met wie sy deurmekaar is, dat sy kan skaam kry. Niemand sal lus wees om weer iets met haar te doen te hê nie. Ek gaan haar rinkinkery stopsit. Ek maak ’n einde aan haar partytjies wat sy vir die afgode hou. Die feeste op die nuwemaan en op die sabbat sal op ’n einde kom. “Sy het gespog dat die mans wat by haar gekuier het, haar betaal het deur vir haar druiwe- en vyebome te plant. Ek gaan dit wortel en tak uitroei. Ek gaan dit bosse maak waar die wilde diere sal kom vreet. Ek gaan haar straf oor die tyd toe sy vir die Baäls offers gebring het. Ek gaan haar laat betaal vir die tyd toe sy haar mooi gemaak het en juwele aangesit het om agter die mans aan te loop en My net so laat staan het,” sê die Here. “Kyk net wat Ek gaan doen. Ek gaan haar ompraat om saam met My na die woestyn toe te gaan. Ek gaan daar vir haar mooi dinge sê wat sy graag wil hoor. As ons daar is, gaan Ek haar wingerde vir haar teruggee. Ek gaan die Akorlaagte verander. Daar waar sy hartseer was oor wat gebeur het, daar gaan Ek vir haar hoop gee vir die toekoms. Sy gaan weer vir My lief word soos vroeër toe sy nog jonk was. Dit gaan wees soos in die dae toe Ek haar uit Egipte gered het. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy vir My sê: ‘Jy is my man.’ Jy sal My nie weer ‘My leier Baäl’ noem nie. Jy sal nie eens meer die naam van Baäl noem nie. Jy sal skoon vergeet wat sy naam was.

HOSEA 2:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Daarom sal Ek haar pad met doringtakke ontoeganklik maak, dit met ’n klipmuur toebou sodat sy nie haar paaie kry nie. Wanneer sy agter haar minnaars aan loop, sal sy hulle nie kan inhaal nie. Sy sal na hulle soek, maar hulle nie kry nie. Dan sal sy dink: ‘Ek moet maar na my man toe teruggaan, want by hom het dit beter met my gegaan as nou.’ Sy besef nie dat dit Ek is wat haar alles gegee het wat sy het nie: koring, wyn en olie – selfs die goud en silwer wat sy vir die afgod Baäl geoffer het! “Daarom sal Ek my koring en my wyn wat Ek elke oestyd vir haar gegee het, terugneem. Ek sal my wol en my vlas wegneem, dit wat Ek vir haar gegee het om daarmee haar naaktheid toe te maak. Ek sal haar in die openbaar kaal uittrek terwyl haar minnaars toekyk. Nie een van hulle sal haar uit my hand kan red nie. Ek sal ’n einde maak aan haar jaarlikse feeste, haar Nuwemaanfeeste en haar Sabbatsfeeste – trouens al haar vasgestelde feeste. Ek sal haar wingerde en vyebome verwoes, dinge waarvan sy sê: ‘Dis betaling wat my minnaars vir my gegee het.’ Ek sal dit tot ’n ruigte maak sodat net wilde diere daarvan sal vreet. Ek sal haar straf vir al die kere dat sy wierook vir die beelde van die Baäls gebrand het, haar behang het met oorringe en juwele, en uitgegaan het om haar minnaars te soek. Maar aan My het sy nie gedink nie,” sê die HERE. HERE “Daarom sal Ek haar naderlok en weer terugwen. Ek sal haar na die woestyn toe lei en daar teer dinge vir haar sê. Ek sal daar haar wingerde aan haar teruggee. Dan sal die Akorvlakte verander in ’n deur van hoop. Daar sal sy weer Myne word soos lank gelede toe sy nog jonk was en Ek haar uit slawerny in Egipte bevry het. “Op daardie dag,” sê die HERE, “sal jy My noem ‘my man’ en nie meer ‘my meester’ nie. Israel, Ek sal sorg dat jy jou Baälbeelde sal vergeet. Jy sal selfs hulle name nie meer noem nie.