HABAKUK 1:12-17
HABAKUK 1:12-17 Bybel vir almal (ABA)
Habakuk het gesê: “Here, U was nog altyd God. U is my God, U is my heilige God. Ons sal nie sterf nie. Here, U is die Rots wat ons beskerm, maar U het die Galdeërs gekies om ons te straf en U het hulle sterk gemaak. Ek weet U wil nie sien dat mense sonde doen nie. U wil nie kyk hoe mense verkeerd doen nie. U hou niks daarvan dat mense ander mense laat swaarkry nie. Hoekom sien U wat die Galdeërs doen, maar U doen niks? Hulle is slegte mense. Hoekom bly U stil wanneer hulle mense doodmaak wat beter is as hulle? Die mense het nie leiers gehad nie, U het hulle gemaak soos die visse in die see en soos die klein diertjies wat op die aarde kruip. Die Galdeërs vang die mense soos 'n mens visse vang met 'n hoek of in 'n net, en dan is hulle bly en hulle juig. Hulle bring dan offers en hulle brand wierook vir hulle nette, want die nette help hulle om ryk te word en lekker te eet. Here, is dit reg as die Galdeërs aanhou om mense dood te maak? Is dit reg as hulle nie jammer is vir die mense nie?”
HABAKUK 1:12-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IS U dan nie uit die voortyd nie, o HERE, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. HERE, tot 'n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot 'n tugroede het U hom bestem! U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie — waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy? So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie. Hy trek hulle almal op met die hoek, sleep hulle in sy net en vergader hulle in sy seën; daarom is hy vrolik en juig. Daarom offer hy aan sy net en laat rook opgaan vir sy seën; want deur hulle is sy aandeel vet en sy spys weelderig. Sal hy daarom sy net uitskud en gedurigdeur nasies doodmaak sonder verskoning?
HABAKUK 1:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf. U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is? Die Galdeërs vang mense met hoeke, trek hulle vas in nette, maak hulle bymekaar in treknette, en juig en jubel oor die vangs! Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette, brand wierook vir hulle treknette, want deur die nette leef hulle in weelde en het hulle volop kos! Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud, om nasies meedoënloos om die lewe te bring?
HABAKUK 1:12-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Bestaan U dan nie van altyd af nie, HERE, my God, my Heilige? Ons gaan tog nie sterf nie? HERE, het U hom bestem as oordeel? O Rots, het U hom beskik as teregwysing? U wie se oë te rein is om boosheid te aanskou, wat nie kan toekyk waar daar leed is nie – waarom kyk U toe as mense verraderlik optree; waarom swyg U wanneer goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle? U maak mense soos visse van die see, soos krioelende seediere wat nie 'n heerser het nie. Met sy hoek trek hy hulle almal uit; hy sleep hulle uit in sy skepnet en versamel hulle in sy fuik. Daarom is hy bly en juig; daarom offer hy vir sy skepnet en brand hy reukwerk vir sy fuik; want danksy sy nette is sy deel van die buit vet en is sy maaltyd ryk. Sal hy sy skepnet so bly uitskud en aanhou om nasies genadeloos uit te moor?
HABAKUK 1:12-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Is U nie van ewigheid af nie, HERE my God, my Heilige? ons sal nie sterf nie. O HERE, U het hulle aangestel tot oordeel; en, o magtige God, U het hulle bevestig tot teregwysing. Jy het suiwerder oë as om onheil te aanskou, en jy kan die ongeregtigheid nie aanskou nie; waarom kyk jy na die wat troueloos handel, en hou jou tong wanneer die goddelose die man opeet wat regverdiger is as hy? En maak mense soos die visse van die see, soos die kruipende diere wat geen heerser oor hulle het nie? Hulle neem hulle almal op met die hoek, hulle vang hulle in hulle net en versamel hulle in hulle sleep; daarom is hulle bly en juig. Daarom offer hulle vir hulle net en laat rook opgaan vir hulle sleep; want by hulle is hulle deel vet en hulle vleis volop. Sal hulle dan hul net leegmaak en nie gedurigdeur spaar om die nasies dood te maak nie?
HABAKUK 1:12-17 Die Boodskap (DB)
Here, U was van altyd af daar en sal altyd daar wees. My God, U is volmaak, ’n mens kan nie anders nie as om U te aanbid. Here, by U het ons ook nog altyd veilig gevoel, maar nou het U die Babiloniërs aangestel om te wys dat ons skuldig is. U gebruik hulle om ons te straf vir alles wat ons verkeerd gedoen het. U is so volmaak dat dit onmoontlik is om te dink dat U sulke verkeerde dinge sal sien gebeur en dit doodgewoon sal aanvaar. Hoe is dit dan moontlik dat U sien wat hierdie boosdoeners aanvang en stilbly daaroor? Hulle wis mense uit wat beter as hulle leef. Hoe kan U mense so sonder beskerming los soos visse in die see wat enigeen sommer kan vang of soos ’n swerm insekte wat nie ’n leier het nie? Visse word met ’n hoek gevang of in nette bymekaargemaak en weggesleep. Die Babiloniërs werk net so gevoelloos met mense en dan is hulle baie in hulle skik met wat hulle regkry. Hulle maak soos vissers wat hulle nette en hengelgereedskap aanbid asof dit gode is. Hulle bring vir die gereedskap offers en brand wierook omdat dit hulle ryk maak en sorg vir ’n oorvloed kos. Here, gaan U toelaat dat hierdie vyand vir altyd so aanhou om genadeloos met volke te werk en hulle dood te maak?
HABAKUK 1:12-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
O HERE my God, my Heilige, U is daar van altyd af. Sekerlik is dit tog nie u plan om ons uit te wis nie! O HERE, ons Rots, U het die Babiloniërs aangestel om ons te straf. U is te regverdig om onreg te duld. Maar is dit vir U moontlik om met gevoeligheid te sien hoe hulle ons verswelg? Is dit reg dat U stilbly terwyl goddeloses dié verslind wat meer regverdig is as hulle? Is ons maar soos visse wat gevang en doodgemaak word? Is ons soos kruipende insekte, sonder iemand om hulle te lei? Moet ons aan hoeke gevang en met nette uitgetrek word? Hulle versamel ons met sleepnette en juig daaroor. Hulle bring offers vir hulle nette en brand wierook ter ere van hulle. Hulle sê: “Die nette laat ons in weelde leef en voorsien ons van volop kos!” Gaan U toelaat dat hulle altyd hiermee wegkom? Gaan hulle vir altyd suksesvol wees met hulle gevoellose oorwinnings?