HABAKUK 1:1-4
HABAKUK 1:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het gepraat. Die Here het vir die profeet Habakuk gewys wat sal gebeur. Habakuk het gesê: “Here, hoe lank moet ek nog bid? Hoe lank moet ek nog soebat dat U ons moet help? U luister nie na ons nie, U help ons nie teen die mense wat ons laat swaarkry nie. Hoekom wys U vir my dat mense verkeerd doen aan ander mense? U sien hulle kry swaar maar U doen niks. Ek sien hoe mense slegte dinge doen aan ander mense en nie reg doen aan hulle nie. Daarom is die Wette van Moses nie meer belangrik vir al die mense nie, en daarom doen hulle nie reg aan ander mense nie. Dit gaan beter met mense wat verkeerd doen as met mense wat reg doen. Mense gaan kla in die poort, maar wanneer hulle daar weggaan, dan het niemand daar reg gedoen aan hulle nie.”
HABAKUK 1:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE Godspraak wat Hábakuk, die profeet, gesien het. Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! — maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin. Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn.
HABAKUK 1:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het. Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.
HABAKUK 1:1-4 Die Boodskap (DB)
Die Here het Habakuk as profeet gebruik. Wat volg, is wat die Here vir hom gesê het. Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie.
HABAKUK 1:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die boodskap wat die profeet Habakuk in ’n visioen ontvang het. HERE, hoe lank moet ek nog roep om hulp? U luister nie na my nie. “Geweld!” roep ek baie hard, maar U red my nie. Waarom laat U my die onreg en die ellende om my sien? Waar ek ook al kyk, sien ek vernietiging en geweld. Ek is omring deur mense wat daarvan hou om te stry en te baklei. Die wet het sy krag verloor en is onbruikbaar. Reg seëvier ook nie in die howe nie. Daar is baie meer goddelose mense as dié wat reg doen. Daarom is die regsuitsprake verdraaid.