GENESIS 9:8-17
GENESIS 9:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het met Noag en sy seuns gepraat: “Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag, asook met die diere wat saam met julle is: die voëls en mak diere en wilde diere, met almal wat uit die ark gekom het. Ek onderneem dat Ek nooit weer ’n vloed sal stuur om alles wat lewe dood te maak en die aarde te verwoes nie.” God het bygevoeg: “Om dit te bevestig, gee Ek aan julle en alle lewende wesens ’n teken van hierdie onderneming wat vir altyd sal geld. Die reënboog wat Ek in die wolke gesit het, sal die teken wees van hierdie blywende ooreenkoms met die aarde. Wanneer Ek die wolke in die lug laat saampak en die reënboog verskyn, sal dit My herinner aan my verbond met julle en alle lewende wesens dat daar nooit weer ’n vloed sal wees wat alle lewe vernietig nie. “Sodra Ek die reënboog in die wolke sien, sal Ek herinner word aan die blywende verbond tussen My en alle lewende wesens op aarde.” God het dit vir Noag herhaal: “Dit is die teken van my verbond wat Ek met alle lewende wesens op aarde aangegaan het.”
GENESIS 9:8-17 Bybel vir almal (ABA)
God het ook vir Noag en sy seuns gesê: “Ek maak 'n verbond met julle en met julle nageslag. Ek maak ook 'n verbond met alles wat lewe, alles wat saam met julle uit die ark gekom het, die voëls, die mak diere en die wilde diere. Ek belowe vir julle: Daar sal nooit weer 'n watervloed wees wat die aarde sal verwoes en al die mense en diere sal doodmaak nie.” God het ook gesê: “Ek gee vir julle 'n teken om te wys dat Ek 'n verbond met julle gemaak het. Ek het dit belowe, en dit sal altyd waar wees. Ek maak my reënboog in die wolke. Die reënboog sal 'n teken wees om te wys dat Ek 'n verbond met julle gemaak het. Wanneer Ek wolke oor die aarde stuur, en die reënboog is in die wolke, dan sal Ek onthou dat Ek 'n verbond gemaak het met julle en met al die diere. Ek het belowe dat daar nie weer 'n watervloed sal wees wat al die mense en diere sal doodmaak nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, dan sal Ek daaraan dink dat Ek 'n verbond gemaak het met almal op die aarde, 'n verbond wat vir altyd sal wees.” God het vir Noag gesê: “Die reënboog is die teken wat vir almal op die aarde wys dat Ek 'n verbond gemaak het met hulle.”
GENESIS 9:8-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Verder het God met Noag en sy seuns by hom gespreek en gesê: Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle, en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle — al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde. En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
GENESIS 9:8-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: “Kyk, Ek sluit 'n verbond met julle en julle nageslag en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer 'n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.” Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.” God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”
GENESIS 9:8-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê God vir Noag en sy seuns by hom: “ En Ek, kyk, Ek sluit my verbond met julle en julle nageslag ná julle, en met alle lewende wesens wat by julle is – voëls, mak diere, al die wilde diere van die aarde by julle – met alles wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere op die aarde. Ek sluit my verbond met julle: Nooit weer sal alle vlees deur die waters van die vloed uitgeroei word nie; ja, daar sal nie weer 'n vloed wees om die aarde te verdelg nie.” God het gesê: “Dit is die verbondsteken wat Ek plaas tussen My en julle en al die lewende wesens by julle, vir toekomende geslagte: My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke laat saampak oor die aarde, en die boog verskyn in die wolke, sal Ek my verbond onthou wat daar is tussen My en julle en elke lewende wese, ja, alle vlees. Die waters sal nie weer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie. Wanneer die boog in die wolke is, sal Ek dit sien, om so herinner te word aan die ewigdurende verbond tussen God en alle lewende wesens, alle vlees wat op die aarde is.” God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek gesluit het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.”
GENESIS 9:8-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En God het met Noag en sy seuns saam met hom gespreek en gesê: Kyk, Ek vestig my verbond met jou en met jou nageslag ná jou; En met al die lewende wesens wat by julle is, van die voëls, van die vee en van al die diere van die aarde by julle; van almal wat uit die ark uitgaan, tot al die diere van die aarde. Ek sal my verbond met jou oprig; en alle vlees sal nie meer deur die waters van 'n vloed uitgeroei word nie; en daar sal geen vloed meer wees om die aarde te vernietig nie. God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en jou en al die lewende wesens wat by jou is, vir ewige geslagte. Ek stel my boog in die wolk, en dit sal wees as 'n teken van 'n verbond tussen My en die aarde. En as Ek 'n wolk oor die aarde bring, sal die boog in die wolk gesien word; Ek sal dink aan my verbond wat tussen My en julle en al die lewende wesens van alle vlees is; en die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te vernietig nie. Die boog sal in die wolk wees; en ek sal daarna kyk, dat ek kan dink aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens van alle vlees wat op die aarde is. God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
GENESIS 9:8-17 Die Boodskap (DB)
God het toe vir Noag en sy seuns gesê: “Ek maak ’n ooreenkoms met julle en julle kinders en met al die diere wat saam met jou in die ark was: die voëls, die vee en elke wilde dier, met al die diere wat saam met jou by die ark uitgestap het en op aarde leef. Nooit weer sal ’n watervloed alle mense en diere doodmaak nie. Nooit weer sal ’n vloed die hele aarde heeltemal verwoes nie. Ek sal my ooreenkoms met julle hou.” God het verder gesê: “Ek gee vir julle ’n teken van my ooreenkoms, die ooreenkoms wat Ek sluit met alle mense en diere tot in die verre toekoms. Kyk, hoog bo in die wolke sit Ek ’n reënboog. Dit is die teken van die ooreenkoms tussen My en die aarde. Elke keer wanneer dit reën en jy die boog in die wolke sien, sal Ek aan die ooreenkoms dink tussen My en jou en elke lewende wese, dat hulle nooit weer deur ’n watermassa vernietig sal word nie. Telkens wanneer die boog verskyn, sal Ek dit sien en onthou van die ewige ooreenkoms tussen God en elke lewende wese op aarde.” God het toe vir Noag gesê: “Hierdie helder boog is dan die teken van die ooreenkoms wat Ek met almal op aarde gemaak het.”
GENESIS 9:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het met Noag en sy seuns gepraat: “Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag, asook met die diere wat saam met julle is: die voëls en mak diere en wilde diere, met almal wat uit die ark gekom het. Ek onderneem dat Ek nooit weer ’n vloed sal stuur om alles wat lewe dood te maak en die aarde te verwoes nie.” God het bygevoeg: “Om dit te bevestig, gee Ek aan julle en alle lewende wesens ’n teken van hierdie onderneming wat vir altyd sal geld. Die reënboog wat Ek in die wolke gesit het, sal die teken wees van hierdie blywende ooreenkoms met die aarde. Wanneer Ek die wolke in die lug laat saampak en die reënboog verskyn, sal dit My herinner aan my verbond met julle en alle lewende wesens dat daar nooit weer ’n vloed sal wees wat alle lewe vernietig nie. “Sodra Ek die reënboog in die wolke sien, sal Ek herinner word aan die blywende verbond tussen My en alle lewende wesens op aarde.” God het dit vir Noag herhaal: “Dit is die teken van my verbond wat Ek met alle lewende wesens op aarde aangegaan het.”