GENESIS 9:4-6 - Compare All Versions
GENESIS 9:4-6 ABA (Bybel vir almal)
Maar wanneer julle vleis eet, dan mag julle nie die bloed daarmee saam eet nie. Die lewe van die dier is in sy bloed. “As iemand julle doodmaak en julle bloed laat vloei, dan sal Ek hom straf en sy bloed ook laat vloei. As 'n dier 'n mens doodmaak, dan sal Ek die dier doodmaak. Iemand wat 'n ander mens doodmaak, moet ook sterf. God het mense gemaak om in sy plek te regeer en hoof te wees oor die aarde. Daarom mag niemand 'n ander mens doodmaak nie. As iemand 'n ander mens doodmaak, dan moet die mense hom ook doodmaak.
GENESIS 9:4-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie. Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.
GENESIS 9:4-6 AFR83 (Afrikaans 1983)
Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie. Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe: van 'n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van 'n mens, en van 'n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens. “Wie die bloed van 'n mens vergiet, deur 'n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger.
GENESIS 9:4-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Slegs vleis met sy lewe in, met sy bloed in, mag julle nie eet nie. Maar julle bloed, naamlik julle lewens, sal Ek eis: Van elke dier sal Ek dit eis; van die hand van die mens, die hand van een mens teenoor die ander, sal Ek die lewe van 'n mens eis. “ Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, deur die mens sal sy bloed vergiet word; want na die beeld van God het Hy die mens gemaak.
GENESIS 9:4-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Maar vleis met sy lewe, wat sy bloed is, mag julle nie eet nie. En waarlik, julle bloed van julle lewe sal Ek eis; van die hand van elke dier sal Ek dit eis, en van die hand van die mens; uit die hand van elkeen se broer sal Ek die lewe van die mens eis. Wie die bloed van die mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word, want na die beeld van God het hy die mens gemaak.
GENESIS 9:4-6 DB (Die Boodskap)
Julle mag net nie bloederige rou vleis eet nie, want in die bloed lê die lewe. Net so is julle lewe ook vir My belangrik. Wie julle bloed laat vloei, sal moet rekenskap gee, of dit nou ’n dier of ’n mens is. As ’n mens iemand doodmaak, sal Ek van hom rekenskap eis. “Wie iemand doodmaak, sal doodgemaak word. God het die mens so gemaak dat hy na God lyk. Daarom mag mense mekaar nie doodmaak nie.
GENESIS 9:4-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Maar geen dier mag geëet word sonder dat die lewensbloed eers uitgeloop het nie. Wanneer ’n mens doodgemaak word, eis Ek rekenskap, of dit nou ’n dier is of ’n medemens wat dit veroorsaak. Elkeen wat sy medemens doodmaak, moet met die dood gestraf word. Iemand wat ’n mens doodmaak, moet beslis self ook doodgemaak word omdat God die mens na sy beeld gemaak het.