GENESIS 45:1-28
GENESIS 45:1-28 Bybel vir almal (ABA)
Josef kon nie meer vir die mense wegsteek hoe hy voel nie. Hy het gesê al die ander mense moet weggaan van hom. Net sy broers het by hom gebly. Toe het hy vir sy broers gesê wie hy is. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se huis dit gehoor het. Josef het vir sy broers gesê: “Ek is Josef. Lewe Pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was te bang vir hom. Toe sê Josef vir sy broers: “Kom asseblief nader na my toe.” Hulle het nader gekom, en hy het vir hulle gesê: “Ek is julle broer Josef, julle het my verkoop, en die mense wat my gekoop het, het my na Egipte gebring. Julle moenie sleg voel en vir julleself kwaad wees omdat julle my verkoop het nie. God het my gestuur om voor julle hiernatoe te kom sodat ek mense se lewens kan red. Dit is nou die tweede jaar dat daar hongersnood in die land is. Dit sal nog vyf jaar lank so droog wees dat die mense nie sal kan ploeg en plant nie. God het my vóór julle gestuur om julle te help sodat daar van julle mense in die land kan aanhou lewe en sodat ek baie mense kan red. Dit was nie júlle wat my hiernatoe laat kom het nie, dit was Gód. Hy het my gekies om vir die farao te sê wat hy moet doen. Ek is ook die hoof van die farao se hele huis, en die hoof oor die hele Egipte. “Gaan nou dadelik na Pa toe en sê vir hom sy seun Josef sê: ‘God het my die hoof oor die hele Egipte gemaak. Pa moet na my toe kom, moenie wag nie. Pa kan in Gosen woon en naby my wees, jy en jou kinders en jou kleinkinders en jou skape en bokke en beeste, alles wat aan Pa behoort. Dan kan ek vir Pa hier sorg, want daar sal nog vyf jaar lank min kos wees. As Pa na my toe kom, dan sal Pa nie arm word nie, jy en jou seuns en almal by jou.’ “Julle kan sien dit is ek, en Benjamin kan ook sien dit is ek, Josef, wat met julle praat. Gaan vertel vir Pa ek is 'n belangrike man in Egipte. Vertel vir hom van alles wat julle hier sien, en maak gou, bring Pa na my toe.” Toe sit Josef sy arms om sy broer Benjamin se nek en hy huil. Benjamin het ook vir Josef omhels en gehuil. Josef het al sy broers gesoen en hy het by hulle gestaan en huil. Daarna het sy broers met hom gepraat. Die mense in die farao se huis het hiervan gehoor en gesê: “Josef se broers het hiernatoe gekom.” Die farao en sy amptenare was bly daaroor. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers hulle moet in Egipte kom woon. Hulle moet hulle goed op hulle donkies laai. Hulle moet kos saamneem en eers teruggaan na Kanaän. Hulle moet hulle pa en hulle families gaan haal en dan na my toe kom. Ek sal vir hulle die beste plek in Egipte gee, en hulle sal hier lekker kan lewe. Jou broers moet waens uit Egipte saamneem vir hulle kinders en vroue. Hulle pa moet ook daarop ry en hiernatoe kom. Hulle moenie hartseer wees oor hulle goed wat daar sal agterbly nie, want hier sal hulle die beste kry wat hier in Egipte is.” Die seuns van Jakob het toe gedoen wat die farao gesê het. Josef het vir hulle waens gegee soos die farao gesê het, en ook padkos. Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy 300 stukke silwer en vyf maal meer klere gegee. Josef het tien donkies vir sy pa gestuur waarop hulle die beste goed van Egipte gelaai het, en ook tien donkie-merries met koring en brood en kos. Dit was padkos vir sy pa. Josef het sy broers teruggestuur na Kanaän en hy het vir hulle gesê: “Moenie vir mekaar kwaad word en stry op die pad nie.” Hulle het weggegaan uit Egipte en hulle het in Kanaän aangekom by hulle pa Jakob. Hulle het vir hom vertel dat Josef nog lewe en dat hy die hoof is oor die hele Egipte. Jakob het groot geskrik en hy was baie ontsteld. Hy het hulle nie geglo nie. Jakob se seuns het vir hulle pa alles vertel wat Josef gesê het. Toe Jakob die waens sien wat Josef vir hom gestuur het om op te ry, het hy opgewonde geword en gesê: “Ek is tevrede. My seun Josef lewe nog. Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.”
GENESIS 45:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom. Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot 'n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my 'n raadsman van Farao gemaak en 'n gebieder oor sy hele huis en 'n regeerder in die hele Egipteland. Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my 'n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie! En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit. En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort. En kyk, julle oë sien dit, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek. Vertel my vader dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af. Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween. En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek. Toe die gerug in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom het, was dit goed in die oë van Farao en van sy dienaars. En Farao het met Josef gespreek: Sê aan jou broers: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kanaän. En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land. Jý kry dan bevel — doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom. En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s'n. Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis. Hy het aan hulle almal, man vir man, 'n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin het hy driehonderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee. En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis. Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het aan hulle gesê: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie. En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob. Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog — en dat hy regeerder is in die hele Egipteland — het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie. Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword. En Israel het gesê: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.
GENESIS 45:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’ Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.” Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat. Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.” Die farao en sy amptenare het dit goedgevind, en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe. Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet. Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op 'n wa ry en kom hierheen. Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.” Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee. Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en 'n half kilogram silwer gegee. Vir sy pa het hy tien donkies gestuur waarop die beste ware van Egipte gelaai was en tien donkiemerries waarop die beste koring en graan en kos gelaai was. Dit moes dien as padkos vir sy pa. So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.” Hulle is toe uit Egipte weg en het in Kanaän by hulle pa Jakob aangekom. Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog. Hy regeer oor die hele Egipte.” Jakob was stomgeslaan. Hy het hulle nie geglo nie. Toe vertel hulle vir hulle pa alles wat Josef vir hulle gesê het, en eers toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy begin belang stel. En hulle pa Israel het gesê: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.”
GENESIS 45:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josef kon hom nie langer bedwing voor almal wat langs hom staan nie, en roep toe uit: “Stuur almal uit, weg van my af!” Daar het niemand anders by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het hardop begin huil. Die Egiptenare het dit gehoor, ja, ook die huis van die farao het dit gehoor. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef my pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle het verbysterd voor hom gestaan. Josef sê toe vir sy broers: “Kom tog nader na my!” Hulle het nader gegaan, en toe sê hy: “Ek is Josef, julle broer; julle het my verkoop om na Egipte geneem te word. Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het. Ja, daar was nou al twee jaar lank hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle nakomelinge te vestig op aarde, en om julle in die lewe te hou met die oog op 'n groot uitredding. Dus, dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my as 'n vader vir die farao aangestel, as 'n heer vir sy hele huishouding en 'n regeerder oor die hele Egipteland. Maak gou en trek op na my pa. Sê vir hom, ‘So sê u seun Josef: “God het my aangestel as heer oor die hele Egipte. Trek af na my toe. Moenie talm nie! Kom woon in die Gosenstreek, sodat pa naby my kan wees – pa en pa se kinders en kleinkinders, en ook pa se kleinvee en beeste en alles wat aan pa behoort. Ek sal pa daar van kos voorsien, want daar gaan nog vyf jaar lank hongersnood wees. Anders verarm pa – pa, pa se huis en almal wat aan pa behoort.” ’ Kyk, julle sien nou self, en my broer Benjamin sien dit ook, dat dit my eie mond is wat met julle praat. Vertel vir my pa van al die aansien wat ek in Egipte geniet, en van alles wat julle gesien het. Maak net gou en bring my pa af hierheen.” Toe val hy sy broer Benjamin om die nek en huil, en Benjamin het op sy skouer gehuil. Hy het al sy broers gesoen en by hulle gehuil. Daarna het sy broers met hom gepraat. Toe die nuus “Josef se broers het gekom!” die farao se paleis bereik, was dit goed in die oë van die farao en sy dienaars. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers, ‘Doen die volgende: Laai julle pakdiere en gaan dan na die land Kanaän. Kry julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe! Ek sal vir julle die beste deel van Egipteland gee, sodat julle die vettigheid van die land kan geniet.’ En jy self het die opdrag om vir hulle te sê, ‘Dit moet julle doen: Neem vir julle waens uit Egipteland vir julle kinders en vroue, en gaan haal julle vader en kom! Moenie trane stort oor julle besittings nie, want die beste van die hele Egipteland sal daar wees vir julle.’ ” Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het hulle, volgens die opdrag van die farao, van waens voorsien. Hy het ook vir hulle padkos vir die reis gegee. Hy het aan hulle almal, elkeen van hulle, 'n bykomende stel klere gegee, maar vir Benjamin het hy driehonderd silwerstukke en vyf stelle klere gegee. Net so het hy vir sy vader tien donkiehingste gestuur, gelaai met van die beste produkte uit Egipte, en ook tien donkiemerries, gelaai met graan, brood en kosvoorraad vir sy vader vir die reis. So het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie bang wees op die pad nie.” Hulle het toe van Egipte af opgetrek en in die land Kanaän by hulle vader Jakob aangekom. Hulle het hom ingelig, “Josef leef nog!” en ook dat hy heers oor die hele Egipteland. Maar dit het hom koud gelaat, want hy het hulle nie geglo nie. Hulle dra toe aan hom al Josef se woorde oor wat hy vir hulle gesê het; en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom op te laai, het Jakob, hulle vader, se gemoed opgeflikker. Israel sê toe: “Genoeg! My seun Josef leef nog! Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.”
GENESIS 45:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe kon Josef hom nie weerhou voor almal wat by hom gestaan het nie; en hy het uitgeroep: Laat elkeen van my af weggaan. En niemand het by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. En hy het hardop geween, en die Egiptenaars en die huis van Farao het dit gehoor. Toe sê Josef aan sy broers: Ek is Josef; lewe my vader nog? En sy broers kon hom nie antwoord nie; want hulle was ontsteld voor sy aangesig. Toe sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En hulle het nader gekom. En hy sê: Ek is julle broer Josef, wat julle na Egipte verkoop het. Wees dan nou nie bedroef en nie kwaad vir julleself dat julle my hierheen verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om die lewe te bewaar. Want hierdie twee jaar was daar hongersnood in die land, en nogtans is daar vyf jaar waarin daar geen versnyding of oes sal wees nie. En God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n nageslag op die aarde te bewaar en julle lewens te red deur 'n groot verlossing. En nou was dit nie U wat my hierheen gestuur het nie, maar God; en hy het my 'n vader vir Farao gemaak en heer oor sy hele huis en 'n owerste oor die hele Egipteland. Gaan gou op na my vader en sê vir hom: So sê jou seun Josef: God het my aangestel as heer oor die hele Egipte; kom af na my toe, moenie vertoef nie. En jy sal in die land Gosen woon, en jy moet naby my wees, jy en jou kinders en jou kindskinders en jou kleinvee en jou beeste en alles wat jy het. En daar sal Ek jou voed; want daar is nog vyf jaar van hongersnood; dat jy en jou huisgesin en alles wat jy het, nie in armoede kom nie. En kyk, julle oë sien, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek. En julle moet my vader vertel van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het; en julle moet gou my vader hierheen afbring. En hy het sy broer Benjamin om die nek geval en geween; en Benjamin het om sy nek geween. Verder het hy al sy broers gesoen en oor hulle geween; en daarna het sy broers met hom gepraat. En die gerug daarvan is in die huis van Farao gehoor en gesê: Josef se broers het gekom, en dit het Farao en sy dienaars goed behaag. Toe sê Farao vir Josef: Sê aan jou broers: Doen dit; laai julle vee op en gaan na die land Kanaän; En neem julle vader en julle huisgesinne en kom na My toe, en Ek sal julle die goeie van Egipteland gee, en julle sal die vet van die land eet. Nou is aan jou bevel gegee, doen dit; neem vir julle waens uit Egipteland vir julle kindertjies en vir julle vroue, en bring julle vader en kom. Ook nie ag op jou goed nie; want die goeie van die hele Egipteland behoort aan jou. En die kinders van Israel het so gedoen: en Josef het vir hulle waens gegee volgens die bevel van Farao, en vir hulle kos gegee vir die pad. Aan hulle almal het Hy aan elkeen ander klere gegee; maar aan Benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf onderklere gegee. En hy het op hierdie manier na sy vader gestuur; tien esels gelaai met die goeie dinge van Egipte, en tien esels gelaai met koring en brood en vleis vir sy vader op die pad. Hy het toe sy broers weggestuur, en hulle het weggetrek, en hy het vir hulle gesê: Pas op dat julle nie op die pad uitval nie. En hulle het uit Egipte opgetrek en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob. En hy het hom meegedeel en gesê: Josef leef nog, en hy is goewerneur oor die hele Egipteland. En Jakob se hart het beswyk, want hy het hulle nie geglo nie. En hulle het hom al die woorde van Josef vertel wat hy aan hulle gesê het; en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van hulle vader Jakob herleef. Toe sê Israel: Dit is genoeg; My seun Josef leef nog: Ek sal hom gaan sien voordat ek sterf.
GENESIS 45:1-28 Die Boodskap (DB)
Josef kon dit nie meer langer hou nie en het vir die ander gesê om uit te gaan. Niemand anders was by nie toe Josef begin praat. Na ’n paar woorde het hy in trane uitgebars. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het. Selfs die mense in die farao se huis het dit gehoor. Na ’n ruk het hy weer probeer: “Ek is Josef! Leef Pa werklik nog en is dit waar dat hy nog gesond is?” Sy broers was totaal en al stomgeslaan. “Kom ’n bietjie nader,” het hy vir hulle gesê. Stadig en bang het hulle nader geskuifel. Toe het hy weer gepraat: “Ek is julle broer Josef. Julle onthou nog die dag toe julle my verkoop het? Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help. Twee verskriklike jare van hongersnood is al verby en vyf moeilike jare lê nog voor. Niemand sal op die lande werk nie en daar sal ook geen oes wees nie. God het my solank Egipte toe gestuur sodat ek vir julle kos kon bêre. So kon julle en ook Pa eet en bly leef. Hoe wonderlik werk die Here tog nie! My broers, dit is nie julle wat my hierheen laat kom het nie, maar God. Hy het my Egipte toe laat kom om vir die farao amper soos ’n pa te wees. Hy het my toe die hoof van sy hele administrasie gemaak en my oor die hele land laat regeer. Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: U seun Josef sê: Pa, ek leef nog! God het my oor die hele Egipte aangestel en ek wil hê Pa moet onmiddellik na my toe kom. Ek wil hê Pa moet sommer hier naby my by ’n plek wat ons Gosen noem, kom bly. Al Pa se kinders en kleinkinders moet saamkom. En bring ook al die vee en alles wat Pa besit saam. Hierdie hongersnood het nog skaars begin en dit sal nog vyf jaar aanhou, maar ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’ Julle moet al hierdie dinge vir Pa gaan vertel. Julle almal en ook Benjamin het self gesien dat ek leef en dat dit ek is wat met julle praat. Sê vir Pa ek is onderkoning en vertel hom van al die wonderlike dinge wat julle hier gesien het. Julle moet reguit huis toe gaan en vir Pa gaan haal.” Josef het Benjamin toe omhels en begin huil. Benjamin het Josef ook omhels en op sy skouer gehuil. Toe het hy al sy broers omhels en hulle gesoen. Josef was baie bewoë. Die broers het tot verhaal gekom en met Josef begin praat. Gou het die goeie nuus van Josef se broers versprei en die farao het dit ook gehoor. Hy en al sy mense was baie bly daaroor. Die farao het Josef toe laat kom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou broers sê hulle moet die diere pak en reguit Kanaän toe gaan. Hulle moet jou pa en hulle families vat en sonder versuim na Egipte toe terugkom. Ek sal hulle die beste deel van die land gee. Daar kan hulle lekker bly en daar sal altyd volop kos vir almal wees.” Die farao het voortgegaan: “Jou broers moet ook van ons Egiptiese waens saamneem sodat hulle die vroue en kinders daarop kan laai. Jou pa moet hulle ook op ’n wa sit en dan gou terugkom. Al hulle besittings kan hulle maar daar los, want die beste van Egipte wag hier vir hulle.” Die broers het toe gemaak soos die farao gesê het. Josef het hulle die Egiptiese waens gegee asook genoeg kos vir die pad. Vir elke broer het Josef ook nuwe klere gegee. Benjamin het meer gekry. Josef het vir hom 300 stukke silwer gegee asook vyf pakke nuwe klere. En vir sy pa het Josef sommer ’n klomp goed gestuur: tien swaargelaaide donkies met die allermooiste goed uit Egipte. Op tien donkiemerries was daar genoeg graan, brood en ander kos vir sy pa se reis na Egipte. Josef het sy broers gegroet en vir hulle gesê: “Gaan nou reguit Kanaän toe en moenie op pad aan’t stry raak nie!” Die broers is daar weg en het die kortste pad Kanaän toe gevat. Hulle wou so gou moontlik by hulle pa, Jakob, uitkom. By die huis aangekom, het hulle dadelik vir Jakob gaan sê: “Pa, Josef leef nog! En hy is die man wat oor die hele Egipte regeer.” Jakob was stomgeslaan en wou hulle eers nie glo nie. Hulle moes hom toe alles oor en oor vertel. Toe hy al die waens sien wat Josef saamgestuur het om hom te kom haal, het hy hulle begin glo. En dit was of hy ’n nuwe mens geword het. Tot dié mate dat hy gesê het: “Ons het nou genoeg gepraat. My seun leef en ek wil hom nog sien voor ek sterf. Kom, laat ons onmiddellik Egipte toe gaan.”
GENESIS 45:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe kon Josef dit nie meer voor al sy personeel uithou nie. “Gaan uit, almal van julle!” beveel hy hulle. Daar was niemand anders teenwoordig toe Josef hom aan sy broers bekendstel nie. Toe bars hy in trane uit. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het en ook die mense in die farao se paleis. “Ek is Josef!” sê hy vir sy broers. “Leef Pa nog?” Maar sy broers was stomgeslaan, want hulle het baie bang geword. “Kom nader na my toe,” sê hy. Hulle kom toe nader. Hy sê toe weer: “Ek is Josef, julle broer wat julle destyds verkoop het en na Egipte toe gebring is. Maar moenie julleself verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word. Twee jaar hongersnood is verby, maar daar lê nog vyf jaar voor. In dié tyd sal daar nie geploeg en geoes kan word nie. God het my voor julle uit gestuur om voorsorg te tref dat julle en julle gesinne aan die lewe kan bly en sodat julle ’n groot nasie kan word. Ja, dit is God wat my gestuur het en nie julle nie! Hy het gesorg dat ek as Farao se raadgewer aangestel word, en ook as bestuurder van sy hele huishouding en heerser oor die hele Egipte. “Maak nou gou. Gaan terug na my pa toe en sê vir hom: ‘Dit is wat Pa se seun Josef sê: God het my heerser van die hele Egipte gemaak. Kom dadelik hierheen! Pa kan in die streek van Gosen woon sodat Pa naby my kan wees saam met Pa se kinders en kleinkinders, kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. Ek sal daar vir Pa sorg, want daar is nog vyf jaar hongersnood oor. Anders sal Pa en almal saam met Pa totaal verarm.’” Josef sê verder: “Julle kan nou self sien, en ook my broer Benjamin kan sien, dit is regtig ek, julle broer Josef wat met julle praat! Gaan vertel my pa hoe geëerd ek in Egipte is. Vertel hom wat julle alles gesien het en bring hom so gou moontlik hiernatoe.” Terwyl hy huil van vreugde, omhels hy vir Benjamin, wat ook begin huil het. Daarna het Josef elkeen van sy broers omhels en by hulle gehuil. Toe eers het hulle met hom begin praat. Die nuus het die farao baie gou bereik: “Josef se broers het gekom!” Die farao en sy amptenare was baie bly om dit te hoor. Die farao sê vir Josef: “Sê vir jou broers om hulle donkies op te saal en terug te gaan na Kanaän toe en julle pa en hulle gesinne na my toe te bring. Sê vir hulle: ‘Farao sal die beste deel van Egipte aan julle gee. Van die room van die land sal julle geniet!’ Verder beveel ek jou dat hulle waens uit Egipte moet saamvat om daarop hulle vroue en kinders en hulle pa hierheen te bring. Julle moenie eers bekommerd wees oor die besittings wat julle agterlaat nie, want die beste van Egipte behoort aan julle.” Jakobse seuns het toe so gemaak. Josef het waens aan hulle verskaf soos die farao beveel het. Hy het ook vir hulle genoeg voorrade vir die reis gegee. Boonop het hy vir elkeen van hulle nuwe klere gegee. Benjamin het egter vyf stelle klere gekry en ook 300 stukke silwer. Vir sy pa stuur hy tien donkies saam, gelaai met die beste ware uit Egipte, en tien donkiemerries wat met graan en allerlei kos gelaai was as padkos vir sy pa. Hy het sy broers afgesien, en toe hulle vertrek, sê hy vir hulle: “Moenie langs die pad begin stry nie!” Hulle is daar weg en het by hulle pa, Jakob, in die land Kanaän aangekom. “Josef lewe nog!” sê hulle vir hom. “Hy is die heerser van die hele land Egipte!” Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie. Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom. Toe sê Jakob: “Dit moet waar wees! My seun Josef lewe regtig! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterf.”