GENESIS 4:13-16 - Compare All Versions
GENESIS 4:13-16 ABA (Bybel vir almal)
Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra. U jaag my nou weg, en daar is nie meer plek vir my op die aarde nie. Ek moet ook vir U wegkruip. Ek moet rondswerf en ek het nie 'n huis waar ek kan woon nie. Elkeen wat my kry, sal my wil doodmaak.” Die Here het vir Kain gesê: “Nee. As iemand jou doodmaak, dan sal Ek hom baie swaar straf.” Die Here maak toe 'n merk op Kain. Die merk het almal gewaarsku om nie vir Kain dood te maak nie. Kain het weggegaan van die Here. Hy het gaan woon in die land Nod. Dit was oos van Eden.
GENESIS 4:13-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra. Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan. Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het 'n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie. Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.
GENESIS 4:13-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.” Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.” Toe gee die Here vir Kain 'n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie. En Kain het van die Here af weggegaan. Hy het gaan woon in Nod , oos van Eden.
GENESIS 4:13-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Kain het vir die HERE gesê: “My straf is te swaar om te dra. Kyk, U verdryf my vandag van die grond af, en vir U sal ek moet wegkruip. Ek sal 'n doellose swerwer word op die aarde, en elkeen wat my teëkom, sal my doodmaak.” Maar die HERE het hom geantwoord: “Goed dan, enige een wat Kain doodmaak – dit sal sewe maal gewreek word.” Die HERE het toe op Kain 'n merkteken gesit, sodat niemand wat hom teëkom, hom sou doodslaan nie. Kain het toe uit die HERE se teenwoordigheid weggegaan en in die land Nod gaan woon, oos van Eden.
GENESIS 4:13-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe sê Kain vir die HERE: My straf is groter as wat ek kan dra. Kyk, U het my vandag van die aarde af verdryf; en vir U aangesig sal ek verborge wees; en ek sal 'n vlugteling en 'n swerwer op die aarde wees; en elkeen wat my kry, sal my doodmaak. Toe sê die HERE vir hom: Daarom sal elkeen wat Kain doodmaak, sewevoudig op hom gewreek word. En die HERE het 'n merk op Kain gemaak, dat niemand wat hom vind, hom sou doodmaak nie. En Kain het weggegaan van die aangesig van die HERE en gaan woon in die land Nod, oos van Eden.
GENESIS 4:13-16 DB (Die Boodskap)
Kain het toe gesê: “My straf is te swaar. Ek kan dit hoegenaamd nie alleen dra nie. U het my vandag van die grond af verban. Ek moet wegkruip voor U. Dag vir dag sal ek rusteloos op die aarde moet rondswerf. En enigeen wat my raakloop, sal my ook wil doodmaak.” “Nee,” het die Here gesê, “dit sal nie gebeur nie. Enigeen wat vir Kain doodmaak, sal self ’n wrede dood sterf.” Die Here het toe ’n merk op Kain se voorkop gemaak. Dit moes mense afskrik om hom dood te maak. Kain het toe weggegaan, weg van sy grond en die teenwoordigheid van die Here af. Hy het gaan bly in die land Nod, duskant die tuin van Eden.
GENESIS 4:13-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Kain antwoord die HERE: “My straf is te groot om te dra! U het my verban van my grond af en uit u teenwoordigheid. U het my ’n swerwende vlugteling op aarde gemaak. Elkeen wat my teëkom, sal my wil doodmaak!” Die HERE antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie, want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die HERE God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie. Kain het van die HERE God se teenwoordigheid af weggegaan en in die land Nod, oos van Eden, gaan woon.