GENESIS 4:1-4 - Compare All Versions
GENESIS 4:1-4 ABA (Bybel vir almal)
Die mens het seks gehad met sy vrou Eva. Sy het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Die seun se naam was Kain. Eva sê toe: “Die Here het my gehelp om 'n seun in die wêreld te bring.” Later het sy weer 'n seun gekry. Sy naam was Abel, en hy was Kain se broer. Abel het met skape en bokke geboer. Kain was ook 'n boer, hy het koring gesaai. Eendag het Kain van sy koring geneem en hy het 'n offer vir die Here gebring. Abel het ook 'n offer vir die Here gebring. Hy het die eerste lammers vir die Here gegee en die lammers se vet ge-offer. Die Here was tevrede met Abel en sy offer.
GENESIS 4:1-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het 'n man verkry met die hulp van die HERE. Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het 'n skaapherder geword, en Kain 'n landbouer. En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien
GENESIS 4:1-4 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die mens het met sy vrou Eva gemeenskap gehad, en sy het swanger geword. Sy het vir Kain in die wêreld gebring en uitgeroep: “Ek het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!” Sy het weer 'n kind gekry, Abel, 'n broer vir Kain. Abel was 'n veeboer en Kain 'n saaiboer. Na verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land 'n offer aan die Here gebring. Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem
GENESIS 4:1-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die mens het met Eva, sy vrou, gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Kain geboorte gegee. Sy het gesê: “Ek het van die HERE 'n man verkry. ” Sy het weer geboorte gegee – aan sy broer, aan Abel. Abel was 'n herder van kleinvee, en Kain 'n landbouer. Ná verloop van tyd het Kain van die vrug van die grond 'n offer vir die HERE gebring. En Abel, ook hy het 'n offer gebring uit die eersgeborenes van sy kleinvee, van hulle vet. Die HERE het Abel en sy offer met guns beskou.
GENESIS 4:1-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En Adam het sy vrou Eva geken; en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het 'n man van die HERE gekry. Sy het weer sy broer Abel gebaar. En Abel was 'n veewagter, maar Kain was 'n landbouer van die grond. En met verloop van tyd het Kain van die vrugte van die grond 'n offer aan die HERE gebring. En Abel, hy het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee en van die vet daarvan gebring. En die HERE het ag geslaan op Abel en sy offer.
GENESIS 4:1-4 DB (Die Boodskap)
Adam het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het ’n kind verwag. Haar eerste kind was ’n seun en sy het hom Kain genoem. Sy het trots gesê: “Met die Here se hulp het ek ’n man in die lewe gebring.” Haar tweede kind was ook ’n seun en sy het hom Abel genoem. Abel was ’n herder wat skape aangehou het. Kain was ’n boer wat die aarde bewerk het. Op ’n dag het Kain ’n offer vir die Here gebring. Hy het van die produkte van die land geneem en dit vir die Here geoffer. Abel het dieselfde gedoen. Hy het van die lammers gevat en hulle vet vir die Here geoffer. Die Here het baie van Abel se offer gehou.
GENESIS 4:1-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die mens het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het swanger geword. Sy het geboorte gegee aan Kain. Sy sê toe: “Met die hulp van die HERE het ek ’n man voortgebring!” Daarna het sy geboorte gegee aan sy broer Abel. Toe hulle groot was, het Abel ’n veeboer geword en Kain ’n landbouer. Toe oestyd aanbreek, het Kain uit die opbrengs van sy landerye ’n offer vir die HERE gebring. Abel het die beste uit sy lammers, die eerstelinge van die seisoen, en van hulle vet as offer gebring. Die HERE het Abel en sy offer aanvaar