GENESIS 39:2-5 - Compare All Versions

GENESIS 39:2-5 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly. Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag, was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas. Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld.

GENESIS 39:2-5 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En die HERE was met Josef, sodat hy 'n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly. En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak, het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee. En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.

GENESIS 39:2-5 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Die HERE was met Josef sodat dit met hom goed gegaan het in die huis van sy Egiptiese meester. Toe Potifar dit raaksien en besef die HERE is met Josef aangesien hy suksesvol was in alles wat hy doen, was Potifar hom goedgesind. Hy het Josef as sy persoonlike sekretaris aangestel en sy hele huishouding en selfs sy saketransaksies aan hom toevertrou. Van toe af het die HERE Potifar geseën ter wille van Josef. Die huishouding het glad verloop en sy boerdery het vooruitgegaan.

GENESIS 39:2-5 DB (Die Boodskap)

Die Here was baie naby aan Josef en dit het goed met hom gegaan. Hy het in Potifar se huis gewoon en ook daar gewerk. Potifar het agtergekom die Here is naby Josef, want hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Potifar het naderhand baie van Josef begin hou. Hy het hom toe as hoof van sy huis aangestel en al sy besittings aan Josef se sorg oorgelaat. Vandat Josef die hoof van sy huis en besittings geword het, het dit met Potifar ook goed begin gaan. Die Here het alles binne en buite sy huis ter wille van Josef geseën.

GENESIS 39:2-5 ABA (Bybel vir almal)

Die Here was by Josef, en dit het baie goed gegaan met alles wat hy gedoen het. Hy het in die huis van sy eienaar in Egipte gewoon. Potifar het gesien dat die Here by Josef is. Hy het gesien dat die Here dit goed laat gaan met alles wat Josef doen. Daarom was Potifar baie vriendelik met Josef, en Josef moes self vir Potifar kos bedien. Hy het vir Josef die hoof gemaak oor sy hele huis en alles wat hy het. Nadat Potifar vir Josef gekies en aangestel het oor sy huis en oor alles wat hy het, het die Here hom en sy huis geseën. Die Here het alles geseën in Potifar se huis en in sy boerdery.

GENESIS 39:2-5 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die HERE was met Josef, en hy was 'n suksesvolle man. Hy was werksaam in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar. Toe sy eienaar merk dat die HERE met Josef is, en dat die HERE alles wat hy doen, laat slaag deur sy hand, het Josef guns gevind in sy oë en sy persoonlike bediende geword. Hy het hom aangestel oor sy huishouding, en alles wat aan hom behoort, het hy onder Josef se beheer geplaas. Vandat hy hom in sy huishouding en oor alles wat hy besit, aangestel het, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef. Die seën van die HERE het gerus op alles wat hy besit, in die huis en in die veld.

GENESIS 39:2-5 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die HERE was met Josef, en hy was 'n voorspoedige man; en hy was in die huis van sy heer, die Egiptenaar. En sy heer het gesien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy gedoen het, in sy hand voorspoedig gemaak het. En Josef het genade in sy oë gevind, en hy het hom gedien; en hy het hom as opsiener oor sy huis aangestel, en alles wat hy gehad het, het hy in sy hand gegee. En van die tyd af dat hy hom as opsiener oor sy huis aangestel het en oor alles wat hy het, het die HERE die Egiptenaar se huis geseën ter wille van Josef; en die seën van die HERE was op alles wat hy gehad het in die huis en in die veld.