GENESIS 3:17-19
GENESIS 3:17-19 Bybel vir almal (ABA)
Daarna het die Here God vir die mens gesê: “Jy het na jou vrou geluister en jy het geëet van die vrugte van die boom wat jou kan help om te weet wat goed is en wat sleg is. Ek het vir jou gesê jy moenie daarvan eet nie. Daarom vervloek Ek die grond waarin jy moet werk. Jy sal baie swaar kry en jy sal jou hele lewe lank hard werk om genoeg kos te kry. Daar sal dorings en bossies uit die grond groei, en jy sal veldplante eet. Jy sal hard werk en sweet om kos te kry. Jy sal aanhou werk totdat jy sterf en teruggaan na die grond, want jy kom uit die grond. Ja, jy is stof en jy sal weer stof word.”
GENESIS 3:17-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
GENESIS 3:17-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, “is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”
GENESIS 3:17-19 Die Boodskap (DB)
Vir die man het Hy gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en van die verbode vrugte geëet het, sal die grond vervloek wees ter wille van jou: jy sal jou lewe lank bitter hard moet werk. Niks groei van nou af meer vanself uit die aarde nie. As jy iets wil oes, sal jy hard, baie hard, daarvoor moet werk. “En dan sal daar ook nog oral dorings en onkruid groei. Jy sal die plante van die veld moet eet. Met sweet en met harde werk sal jy ’n lewe uit die grond moet maak. So sal jy moet aanhou totdat jy dood is, totdat jy geword het soos die stof waaruit jy gemaak is. Onthou, jy is van stof gemaak en eendag sal jy ook maar weer net stof word.”
GENESIS 3:17-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vir die mens sê Hy: “Jy het jou deur jou vrou laat ompraat en van die vrugte geëet wat Ek jou verbied het om te doen. Daarom vervloek Ek die grond. Jou hele lewe lank sal jy met swaarkry sukkel om ’n bestaan daaruit te maak. Dit sal vir jou dorings en dissels oplewer en jy sal van die plante van die veld eet. Jou hele lewe lank, tot die einde van jou dae, sal jy met moeite werk om iets te hê om te eet. Aan die einde van jou lewe sal jy weer terugkeer na die grond waaruit jy geneem is. Want jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word.”